So Hop-hop oor Afrika


Net verlede week spoor ‘n langlaas skoolvriendin my op met vandagse elektroniese sosiale-media foefies. Haar boodskap lui ons tweetjies moet gaan koffie drink in die Ooste van Pretoria, (my tuisdorp) en effe opvang om die spasie van 28 jaar in te kleur. My eerste gedagte is dat sy pas geskei is en mylpale of skatte wil vergelyk. Alternatief het haar tiener-kinders haar gewys hoe om mense in Bakkiesboek uit te krap. Kwansuis lyk ek net dieselfde as op-skool maar ek is vermoed die molle en is te ydel om bril te dra. Ek reken sy is ‘n nuuskierige beginner-sluiploerder [stalker] anders het sy mos gesien ek het lánkal my vlerkies gespan en wilde woeste Afrika gaan tem!

Haar reaksie is een honderd persent voorspelbaar. “Haai sies tog, shame” sê sy toe ek haar sagkens meedeel dat ek in Accra woon, maar as sy dié kant toe kom, kan ons beslis ‘n planmaak en die koffie-ding doen. Met die wind eensklaps uit haar seile – vergeet sy van Google en haar nuutgevonde rekenaar vaardighede. Ek verduidelik dis in Wes-Afrika, Ghana en verlam van skok; verdwyn sy netdaar vanaf die sosiale netwerk. Daar gaat haar fyn Oos-Pretoria grootgeword-oppi-skultbult se maniere met die waswater uit. ‘n Hele drie dae later skalerlag ek kliphard toe haar enkele eenlyn-vragie op my rekenaarskerm verskyn: “Is jy getroud met ‘n swart Ghana-aan?” (SIC) [Die regte spelling is Ghanaian]. Sy is vir eers op die agterplaat, en ek sal haar uithonger vir my antwoord maar heimlik hoop ek sy toetsbestuur weer haar sleutelbord en bekyk van ons fotos want my antwoord is voor die handliggend. My getroude van is dan “Bezuidenhout”! Nogals vreemd en onuitspreekbaar in Ghana.

Vele ander se gedagtegang bokspring as hulle my gesin ontmoet. Ons is daardie malkop Afrikaanse mense wat sonder trompette gejuig, rustig hier tussen al die ander Ghanaians woon. Hierdie lewe is normaal soos witsous met kaas daarin. Elke oggend soek my Kobus sy boeretroos – moerkoffie, ons braai lamsvleis (maar dis solank as wat die vleisvoorraad hou wat tussen die klere ingebring is van Namibia op die laaste vlug) en luister Radio Jakaranda en Radio Wave (Windhoek) via die internet. Kinders moet rondgetaxi word agter maats aan, sakgeld bly ‘n besprekingspunt aan die ontbyttafel en DSTV se sportkanaal is iewers in die agtergrond aan.

My man het toenterjare (’91) die uitdaging aanvaar om projekte aanmekaar te sit in ‘nuwe markte’, vir die oningeligtes: dis diep Afrika. Sy verhale van eensaamheid, vreemde tale, vêrafgeleë dorpies, rakbrak winkeltjies het my nie veel geskeel nie – ek was smoorverlief en wou soos ‘n gedetermineerde sperm saamrits en die vreemde verken. Twintig jaar later wip-wip ons nog steeds regoor Afrika. Uganda (2xkeer), Nigerië, Kenia (2xkeer), Namibië en Ghana (3xkeer) het ons reeds ‘huis’ genoem. Ons kontrak het nie ‘n vervaldatum nie. Solank as wat my manlief en sy base wedersyds gelukkig is, dan bly ons aan. (wispelturige immigrasie altyd in die potspel)

Van die oomblik wat jou kinders gebore is, wonder jy wat die donker wêreld aan hulle gaan doen-malaria, polio, salmonella en vigs is in ons gesig – elke dag. My familie was meer bekommerd oor wat ék met my kinders aanvang en waaraan ek hulle ontbloot. Die beste ding wat ek vir my kinders kon doen was om hulle deur Afrika te laat fladder. My seun was 2 weke oud met ons aanland in Uganda en my dogter net 10 dae met haar eerste vlug na Kenia. In dié lande het ons twee pragtige goed aangepasde tiener kinders grootgemaak. Hulle is nou 18 en 17 jaar oud, Afrikaans, Engels geskool, selfversekerd, wêreldwys, uitgesproke en verdragsaam. My kinders het in sowat twaalf Internasionale en/of privaatskole ‘n ding of twee geleer. Ten eindelaaste het hulle op die Britse Cambridge sisteem hulle skoolloopbaan met tuisonderrig voltooi. In ons swerfsels het ons ‘n Afrika wees-pleegkind ook grootgekry. [yip hý ís pikswart]

Die hartseer ding is dat soveel ‘Expat”-vrouens ‘n beroep moet opgee om huis en haard bymekaar te hou. Dit gebeur soms dat vrouens wat soos aanhangsels stukkies van haarself verloor want die mans versmoor in werk en haar kinders absorbeer die skool en maats-ding. Oor vrou-wees hierso sal ek dikke boeke kan skrywe. Die drama is dat Afrika verstringel is in burokrasie. Werkspermitte is duur en skaars, so vroulief mag nie werk –anders pluk sy fisies die kossies uit ‘n lokale bloedjie se mond! Ga! Die skuiwergat is dat sy haar eie besigheid moet bedryf, of haar belangstelling of tuisbedryf nuwe hoogtes in te neem.

In Kenia het ek binneshuis versierings gemaak en kinderkamers opgetooi, in Uganda het ek skoolboeke geset in kleur en vir ‘n publikasiehuis gekonsulteer, in Nigerië het ek houtkindermeubels gemaak en vir die Britse Konsulaat gewerk en so ook in Ghana. In Namibië het ek ‘n haarsalon gehad en kiste gebou (ja vir begrafnisse). Tyd vir op ‘n knop sit en jammer voel oor wat ek mis in Namibië was daar ook. Tussendeur is ek bang daar is plekke wat ek nog nie gesien het nie – dinge wat ek nog nie beleef het nie… Ons vermaak onsself met vriende en braaivleis en teeuitnodigings en potjiekos kompetisies en soek interessante plekke om te bly buite Accra. Filmteaters is hier nou – maar die etiket van die mense hier sal onse mense gekdryf.

Ons het gekom om te bly. Te beleef. Te kuier, want voordat ons ons oë uitvee, is onse tyd vir sports en plesier op.

Advertisements

8 thoughts on “So Hop-hop oor Afrika

  1. Net Ek

    Sjoe, dit klink soos een hengse avontuur!

    Ek dink jy is vreeslik braaf, ek wil so graag Kaap toe trek (en dis in dieselfde LAND), maar ek kan dit net nie regkry nie! Ek is so bang ek ontwrig my kinders ens ens ens.

    Ek wens so ek kon soos jy ‘n avontuur leef. Jy is voorwaar gelukkig.

    Ek sien uit na jou volgende inskrywings!

    Like

    Reply
    1. thulanana Post author

      Die kinders is die heel maklikste! Hulle pas aan waar ookal. Gee hulle die kans om verandering te leer handteer, en in die proses leer ‘n mens baie van jouself. Die Kaap klink hemels. My eie moeder het na baie jare na Langebaan verhuis na ‘n paar wegbreek jare na Panama, en ns amper 2 jaar raak sy nog die wind gewoond.

      Like

      Reply
  2. Imke Rust

    Ai, ek geniet dit so om van jou te lees, bietjie meer van jou en jou lewe te hoor en die afrikaanse taal oor my tong te laat gly, wat jy so wonderlik skryf. (en ja, ek het nou 3 van jou posts haardop vir myself gelees… al is ek nie afrikaans nie, mis ek die mooi taal nogal hier in Duitsland.) 😉 Dankie, Daniel!

    Liked by 1 person

    Reply
      1. Imke Rust

        Ek is baie dankbaar, dat ons op skool geforsier was om 3 taale te leer. En al is afrikaans nie wyd versprei nie, is ek bly om dit geleer te he, want dit is so n mooi en lekker taal. Veral as iemand dit goed kan gebruik! So, dankie vir jou wonderlike uitdrukkingsvermoe!

        Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s