o-BLACK-AND-WHITE-SAD-OLDER-WOMAN- www.huffingtonpost.com - photo just for illustration

Kies nuwe Kaktusdorings …


Mense kom oor jou lewenspad; party as heuning en ander as bye. Sommiges leer jou ‘n lewensles, ander leer jou so ietsie van jouself, die wonderlikes laat herinneringe wat jy koester. Daar is ook dié wat soos kaktusdorings jare kan neem om uit jou gestel te sweer.

Van ons wat gelukkig genoeg was om in moederskoot gewieg te word, verstaan daar is Engele op Aarde wat jou vir ‘n wyle in ‘n palmholte koester. Op skool en tussen familie leer jy waarvan jy as mens van hou, en skaaf sommige goete jou hoeke rond en jou punte skerper. Op kampus besef jy hoe wonderlik vriende kan wees, en hoe skadelik verkeerde geselskap en -keuses jou kan brand. En dan stoot jy aan in die grootmens wêreld en navigeer jy self jou kompas.

Ek glo nie in toeval nie, ek glo my pad is vir my uitgelê lank voordat ek ‘n roering in my Pa se lies was. Hoe ek deel met elke dag se seën en reën het ‘n vyftig-vyftig uitslag. Ek lees raak; as ek ‘n jons koester, huur ek spasie in my gedagtes gratis uit, aan die een wat ek nie vergeef en vergeet nie. Die bitterbal-soort gee mens mos lewenslesse wat jou jare later, rede gee, om kopdokters skatryk te maak. Onder hulle tel ek ou liefdes en die gevaarlike malletjies wat net wag of gesertifisseer te word. Die kêns-soort beweeg skaamteloos vry tussen ons rond; trap modderspore deur ons harte, vermorsel ons menswees en tuimel jou menswees-balans.

‘n Goeie vriendin gaan na jare deur ‘n onvermydelike egskeiding. Op ‘n afstand lyk die huwelik soos ‘n goeie uitbroei eier; maar in ons tyd besef ons dit was so effe dundop en gekraak. Een knyp ‘n kat in die donker, en skelmstreke soek ‘n maat agter die deur. Soms weet jy daar is ‘n slang in die gras, maar in tyd raak mens tog maar vertroud met ‘n situasie. Ons kompliseer gebeure en rafel gevoelens uit tot net klossies oorbly. Jare lank moes ek haar help, haar laste dra.   Maar ek het vroeg besluit om nié haar laste vír haar te dra nie. Sy is nader aan vyftig as veertig, haar lyfie soos ‘n uurglas met baie extra minute gelaai, en haar hart vol splinters wat sy pynlik een vir een uittrek.

Ek wil haar toevou in tweelaag sneespapier. Dis nie vir my om te oordeel nie. Sy het haar keuses gemaak. Sy het vir jare lank gekies tussen heuning en bye, haar hart ondersoek en vergeef. Ek vra myself moeilike vrae – dis nie vir my om te besluit of sy iets meer of minder verdien nie. Jare lank was dit my plig om my maat se las te help lig, die gebroke hartjie te help lap.

Noudat haar huwelik verby is, besluit sy dit was tog ‘n beplande bepalende hooftuk in haar lewe. Sy het tog geleef, beleef, geleer, gelief, gegroei en aanbeweeg. Saam besluit ons sy is nou wyser en sal nooit weer, oor haar ouman trane stort nie. Na baie trane beginner my vriendin tuinmaak. My hart lig, mense wat grou en plant, belê tog in ‘n belofte van môre. Oor die werf hoor ek haar klokkielag eers gedemp en eendag uit die maag.

Dit maak nie saak wat ander vergeef nie, net wat ek myself vergeef. Vandag huil ek my oë droog want my vriendin en haar ouman trou weer voor die Landros. Dis mos onnodig om twee keer dieselfde fout te begaan, daar is dan soveel nuwes om van te kies.

Advertisements

One thought on “Kies nuwe Kaktusdorings …

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s