Toutrap

Kerktannies se fluisters…


Destyds is ons sommer baie tyd gegun om smoorverlief te wees.  Ons het ons knieë nerwe deurval vir die krieketspelers met ‘n kuiltjie en so, wip in sy kuif. Te ougat as hy jou eendag met so rasperstem vra om te gaan fliek. Daaityd se manne het gewéét hoe om vlerk te sleep. Sien; TV en rugby en krieket en play-stations het nie bestaan nie en hulle hormone het die res gedoen. Nou, in onse tyd was daar nog inry-flieks.  Die manne het nie veel gebodder met melkskommels in daglig, as hulle jou vir vier-ure  sterrenag ‘date’ kon vat nie.  Hulle het staaldraad durf gehad om my Ma en Pa toestemming te vra vir my te vat op ‘n inry-date.  Pa wou net sy lisensie sien en my Ma het sy skoene uitgekyk en hom met die dood gedreig as ek na twaalfuur oor die drumpel sou stap.  Vandag nog verstaan ek nie watse boosaardighede beval meisiekinders na Aspoerstertjietyd nie?

As jy vakansies by jou Ouma gekuier het, was jou ore rooiwarm gewaarsku teen manne se slimmigheid.  Ouma het bly sê vry is betaamlik en lekker solank al jou onnerkleertjies aanbly.  “Wees net fatsoenlik” hoor ek haar nog sê; ons het dalkies die vat en soen gedeelte effe letterlik opgeneem, maar reëls was reëls.  My Pa het nie ydelike beloftes gemaak nie. As ek skande oor sy huis sou bring was die anner skuldige skepsel se dae getel.

Op skool het ons se meisiekinners geweet wie was die koeke en wie was die terte.  Koek-se-kind het nie eens tyd gekry om hulle neuse tussen die boekblaaie uit te haal nie, en nooit vir die outjies geloer nie.  Terte was soos brommers om ‘n nat misbol vir die eerstespan se manne, en oor Johan, wie se Pa ‘n Porche gery het.   Hulle skoolrokke was te kort, en hulle naels altyd te lank, hulle truie slonsig gerek en hulle het ‘eyeliner’ skooltoe gedra met sliert kuiwe!  Die res was so in die bondel, seker deeg; nog nie besluit om as koek of tert uit te bak nie?

Daars hierdie ding onder Afrikaanse tannies wat hulle na asems laat snak. Hulle loer skielik tussen skrefie ogies  vir jou, praat met sulke demp stemme.  Hulle leun in, om seker te wees hulle hoor al die feite reg, eerste keer.  Die ding is elke jong meisietjie met rooihakkies vind een of ander tyd uit hoe om daai jeuk gekrap te kry.  As die Kerktannies eers praat oor iemand se dogter dan reken hulle sy’t skielik ‘ontwikkel’.  Verliefdes weet mos nie hoe om ‘n gevryery weg te steek nie.  Geskiedenis herhaal homself soos horlosietyd. Mens sou nou dink ons leer van ander wat oor die tou getrap het, maar nee, hormone klits ons breine soos jellie op.

Een skoolmaat van my se pa was ‘n wafferse apteker. ‘n Groot belangrike man in ons gemeenskap. Hulle het in ‘n paleis-huis gewoon en die nuutste blinkste mouters gery.  Ons skool het immers op die skultbult gestaan, en daar was lang waglyste vir leerlinge wat daar wou kom skool.  Marié was nie slim nie en haar Pa se belangstelling in haar het beginne kwyn toe sy in standers ses, reeds wiskunde druip.   Marié was mooier as ‘n mens, maar geen tert nie.  Donker lang hare en viooldiep bruin oë, met ‘n klokkielag en fyn enkeltjies soos ‘n wildsbokkie.  Haar Pa het meer en meer sakgeld gegee soos Marié harstallig geword het. Sy was baie gewild by partytjies en almal het gehang om haar soos bye óm ‘n blom.

Pragtige Marié se persoonlikheid het oornag verander na standerd nege se Paasvakansie.

Met rooigehuilde oë is die kat later uit die sak: mooie Marié was skielik diep swanger. Ek het haar gekyk en gekyk, maar sy het bokkie-fyntjies  soos altyd gelyk, niks ‘ontwikkel’ soos die kerktannies gesê het nie.

Die kerktannies se gedempte gefluister oor huise vir ongehude moeders het die rondtes gedoen.

Op haar apteek-Pa se orders; woerts warts, vlie Marié en haar Ma na Parys, soos in Frankryk, doer anderkant se land.  Marié is een week later terug, kindloos en met ‘n see se trane.  Sy het geswyg soos die dood oor hoe sy skielik veilig kindloos was.  Iets oor Marie Stopes kliniek het haar genees maar ek het niks gekop nie, gedink dis Marié se tannie in Parys. My kop was daai tyd vol muisneste en niks anders nie.  Pragtige Marié was stiller en woester as ooit.  Haar Pa het gesê sy hoef nie eens wiskunde in matriek te skryf nie, Marié het summier wiskunde gelos en tik gevat.

Mooiste Marié, kliek ek gister op bakkiesboek raak. Sy staan alleen in die middel van die vertrek van familiemense, armpies styf teen die sye, popmooi porselein gessiggie en lang swart boshare.  Op die volgende foto sien ek haar klokkielag, kop agteroor gegooi, sys wydsbeen oor ‘n super groot mouterbaaik.  Pragtige Marié met wind in die hare, nie een dag ouer as op skool nie, bokkie-fynties.

Willer as woes..stiller as ooit!

Advertisements

4 thoughts on “Kerktannies se fluisters…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s