Vrot Tamaties

Tyd vir Kommapunt


Lank tyd terug het ‘n baie slim gryskop Omie my vertel, mense het so nou en dan kommapunte nodig. Doeityd het ek gedink die Gryskoppie was reeds oor die kop geslaan met sy kenz-stepie. Oor die jare bly die woorde knoei in my gedagtes; los ek weer so effe dat die idee weer uitrys.

Akkra rasper als aan jou stomp na so vier maande in die vreemde. My geduld drup uit, my gemoed demp en my hart brand klipsteen hard. Ek gooi my gat in ‘n krul vir die derde graad, vrot tamaties wat hulle goudpryse voor vra. Taai sweet handjies wat so strepe trek op die mouter se vensters word een dag skielik nét te veel. Drupkraan vra almal; met oop handpalms; heeltyd.

Een van die eerste dinge wat jou op die voorkop vasslaan is dat ALLE expats in Accra blykbaar bewegende kontantkitsmasjiene is. Die tweede ding wat jy besef is dat die klomp hierso diep annerste-kerklik is. Maar nie onse soort Calvinistiese Kerklike soort wat sê werk jou gat af en in die ‘sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien nie’. Die pastore en priesters dié kant van die Guinee goudkuslyn hammer op ‘n preek dat in die Bybel staan geskrywe “VRA en jy sal Ontvang”! Alle lokale inwoners was by daai preek of die luigatte op die preekstoel doen nie huiswerk nie en herhaal daai preek oor en oor.

Terug tuis, hou bedelaars hulle lywe Aasvoël op straat- en verkeershoeke. Passief, maar die bedelaars van Akkra vra en vat en trek aan jou, soos roof afkrap. Bedel is in Akkra groot besigheid en die kompetisie is styf. In druk verkeer is lammes op skaatsplanke tussen die mouters se wiele deur- ek hou asem op, doodsgevaarlik– maar hulle bly klop-klop vir ‘n aalmoesie. By die groentestalletjie sit ‘n kaalgat verlepte krom ene met net ‘n nerf skaamlappie en vra met beide handpalms. Buite die restaurant skuifel ‘n oorlamse flenter een tussen jou en die mouter se oopdeur, en druk ‘n growwe handpalm onder jou neus in.

Almal; ook huisbediendes, drywers, sakkiepakkers, bly net skaamteloos vra. Met oop handpalms en nie met palms teenmekaar gedruk in gebed nie.

In die kompleks waar ons woon, dra ek ‘n sonsambreel van die mouter na my huis. So hanne oorvol, dra ek my mos eerder morsdood, maar vrek eerder voordat ek ‘n tweede keer loop. Net soos ‘n wafferse son salamander verskyn die hekwag en trek die sambreel uit my arms. Die koffiebeker spat onder ‘n ander mouter in en die koffiebeker se afbreek-oor lê as aandenking vir my dooddra tussen my voete. Die hekwag is nes ‘n Jack Russel agter ‘n tennisbal; hande viervoet onder die mouter in. Hy hou die afoor koppie triomfantelik uit na my, bekyk die ding en steek die koppie terug in die waai van sy arm. “Give me” sê hy; hy vra nie. Daar en dan slaat my stompgeit deur. Nee, verduidelik ek, Bostick of Super glue sal die ding ‘n tweede lewe gee. Sonder ‘n oomblik se huiwering sê hy: “…then give me the umbrella,” en klou die sambreel teen sy bord soos ‘n nagapie sy ma sou vasklou. Ek gluur hom aan, vat die sambreel terug en stoom sonder ‘n verdere woord huistoe.

Duidelik is my nerwe dun. Tyd om huistoe te gaan en my menswees weer te gaan opvul met mooi bekostigbare tamaties. Ek beplan my vakansie reeds maande lank al om lekker braaivleis, blou hemellug en my te verlustig in my eie mense en my eie taal.

Nou dink ek weer aan daai Omie se slimmigheid.

Tyd vir my om te gaan kommapunt, en my batterye te laai met menswees.

Advertisements

6 thoughts on “Tyd vir Kommapunt

  1. perdebytjie

    Hier in SA raak dit al erg,veral by die verkeersligte.Hier blerts hulle jou ruite met vuil water en vra geld vir die “was”.Dit klink vir my baie erg daar by julle.

    Like

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s