Harmattan Sunset

Lipstiek en stof


As jy jou lyf salamander in ‘n wintersonnetjie gehou het, sal jy ergerlik raak as iemand in jou sonnetjie kom staan. In die Noord- en Suidpool is daardie wegraak van die sonnetjie drasties erger. Soos die wêreld aankarring op sy skewe aksel, is daar duisternis vir meer as negentig dae. Daai mense se skrefie oë het niks te make met sonkyk nie. Dis koue wat hulle so toevrommel.

Een van Moses-tyd se tien plae was duisternis. Kleintyd in Sondagskool het ek nie gedink duisternis as plaag, was nie te erg nie. So draai die wiel en beland ek en manlief in Wes-Afrika, duskant die Ghana-Goudkus in Akkra. Jaar-in en –uit, beleef ons eerstehands; vyf van Moses se tien Egiptiese plae. Vloed – wanneer die tropiese storms die oseaan kom teruggooi op droogland. Plaag – niks wil groei nie, als vrot in suur-brakgrond, en horingdroog bees en skaap se ribbes kan jy uittel. Springkane – wat al jou plantjies afvreet tot op die wortel. Vlieë – toemond is beste; braai jy buite dan oortrek hulle jou. Maar die langsdurigste plaag is Duisternis. Drie maande se duisternis laat my smag na die son.

Jaarliks waai daar ‘n wrede woestynwind oor die Saharawoestyn. Twee ander lande tussen die dorre Saharawoestyn is nie genoeg om die Hammatan se rug te breek nie. Só verbete is die Harmattan seisoen dat die fynstof die hele Akkra se sonskyn verduister – vir ‘n hele drie maande lank! Heeldag kan jy die son se vlamsirkel ‘n boog sien trek van Oos na Wes.

Hierdie stof lyk soos digte mis, jy kan net klipgooi vêr voor jou buitelyne en beweging raakkyk. Die sielle met twee breinselle, ry met mouters se ligte aan in die dag, sodat ander hulle kan raakkyk en misry. In die aande lyk als spokerig, en selfs die geraasvlakke daal soos die stof dit ook opslurp. Die stikhitte val vanuit diep dertigs na ‘n skrale agtien-grade. Die inwoners van Akkra verbeel hulle dis winter en hulle loop rond met regte woltruie. In die eerste weke praat almal met verligting van hoe heerlik koel dit is.

Harmattan- driving

Harmattan- driving

Basta met die nônsies! Die swembad is skielik yswater. Die huis-mémme begin vroegdag reeds afstof; heeldag mop sy sulke vaal modderstrepe oor die teëlvloere. Ek sit en teken stokmannetjies in die middagstofsel van die eettafelblad. Nat spierwit wasgoed haal jy droog en grys van die lyn af. Lugversorgers verstop, swembadpompe pak op waterkrane spoeg roesstrepe en almal se humor droog op.

Vaal, is ‘n ondier met vele gesigte. Net soos die bont stad om my, vervaal almal om my in die tweede maand van ons Duisternisplaag. Hulle rokke se some sleep en swiep deur die stof. Weggepak is die wip-wip mini rokkies met windpompprentjies. Almal praat nou net oor die verwagte reën wat sekerlik sal kom en die Hammatan gaan wegwas. Nog ses weke of so, Sussa. Nêrens sit niemand buite by koffietafeltjies nie. Lipstiek het nie ‘n okkasie nodig nie maar mense sit in hulle huise en uitdroog soos biltong in ‘n droogkas.

In ‘n land van miljoene Afrikane, groet jy maklik landsgenote want jy kan hulle nie miskyk nie. Hierdie Duisternisplaag bring die donkie vreemheid in mense na vore. Gedienstig onder ‘n boom staan hulle oopbek in die stof en wag vir beter dae. As hulle vaal-verlep nie reaggeer, kan hulle jou sekerlik nie raakkyk deur die stoflaag oor die donkerbril nie.

In die derde maand – word jy wakker voor die wekker skree. Hemelhoog is die wolke moedswillig aan die skommel. ‘n Mal stormwind pluk gedurende die reënstorm aan jou dak. Tyd vir ‘n nuwe plaag, vloed. In my hart juig ek. Na die reën kom langverwagte sonskyn.

Vandag glimlag ek met helder lipstiek, almal morsdood!

Advertisements

10 thoughts on “Lipstiek en stof

    1. Daniel Bezuidenhout Post author

      Werk is werk. Ek fladder maar agter my man aan. Die Delillah’s daai kant is pragtige langbeen goete. So ek moet maar vasbyt want ek het ‘n oulike man gekry. Wat ek die meeste mis is om self te kan werk maar dis verbode en die enigste rede waarvoor hulle jou oornag uitsmyt uit Ghana. Om te werk is soos om die broodmorseltjie letterlik uit die lokale bloedjies se bekkies uit te pluk! En mens gee maar so stukkie van jou siel prys, elke dag. So Mammoth lok ons daarheen….maar sy greep gly. Ons wil net huistoe en kom ‘kommapunt’.

      Liked by 1 person

      Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s