Motte fladder na die lig

As die kasdeure oophang


My se gatvelle het gebrand as ek na donker nog op straat gespeel het. Doei tyd was kinnertjies veilig om te speel totdat die straatligte aangekom het. Dis nou lank voor Zuma ons straatligte afgeskakel het. Praat van ligte aan- en afskakel – annerkand die seewater brand blink liggies soos glinsterende diamante. Is mense maar net soos motte? Fladder ons ook blindelings na blink liggies? Is dit in ons gene om te kies wie fladder weg en wie hang tuis aan Ma se rokspante en vreet motgate in al wat ‘n lap is?

Ons lewenspaadjies is reeds in Moederskoot vir ons uitgelê. In die kraamsaal was my Moeder, grootoog, en aan die kloek. My Moeder het my aangeraai om my kinders na aan die hart te koester terwyl ek hulle nog onder my eie dak grootkry, want as hulle eers hulle vlerke sprei is dit te laat. Wyse ou siel wat sy saamdra want toe sy dit kwytraak; woon ons toenterjare reeds op verskillende kontinente vanaf mekaar. Soos sand aandra; het tyd deur my vingers geglip.

Die klein kind se hik en omdop wat ek maande lank onder my hartklop saamgedra het soos ‘n groot geheim het al skreeuend sy verskyning gemaak. Daarna moes ek my kind deel met my man, oumas en oupas, skooljuffrouens, maats, listige Delillah-meisietjies en tegnologie. Niks maak my só bevonkfaai wanneer ek oor wasgoed oppie vloer gil dat die kleintongetjie in die keel tril en hy kalmpies sy vingers oor die selfoon se platpêns streel om sy sms klaar te maak. Waar is die tyd heen, gehasie?

Vanaand brand die rys aan want my slimfoon brrr-brrr en my kind se gesig is oor die hele skerm. Die ene baard en houtrasper stem, hallo Ma! Hy sit in Windhoek, en ek in Akkra – ons praat oor hý wat telekommunikasie installasies op staaltorings doen en aardige kliente en karakters waarmee hy daagliks deel. My hart blom, so in die gesels is hy aan die bredie-kook, voer hy sy kat en kom druk die hond ‘n nat neussoen op die foonskerm. Agter hom sien ek ‘n bondel wasgoed netjies gestryk en opgevou, daar is vrede in my hart. Laataand speel ek ons gesels oor en oor in my kop soos ‘n ou grammafoonplaat. Voordat Klaasvakie kom sandstrooi stuur ek my laaste skiedgebed – Laat U heil geskied, daar is soveel waarvoor ek dankbaar is, vannaand is daar vrede in Afrika.

Vanoggend bliep my epos vir ‘n nuwe boodskap – sy het ‘n nuwe video opgelaai en ek moet kyk. Hare wat waai in die wind en ‘n klokhelderlaggie; ek staar oopbek vir my Fielies-meisiekind. Sy’s malkop van blydskap; nog net vyf maande op haar betrokke kursus – sy’s aanvaar en in September gaan sy in Dublin verder swot. Asem, waars my asem? Hoe skerp is die liggies daai kant van die seewater? Sal my mot-kind haar pad terugvind na Namibië?

Die wêreld loop snaakse draaie en kinkels met ons. Annerdag was ek ‘n kaalvoet plaaskind, kleilat innie hand. Nou-die-dag staan ek as bruid voor die kansel, blink troupand aan die hand. So onthou ek die stamp en stoot van Afrika-immigrasie rye, staan ek paspoort innie hand en kindwip op die heup. Ons giggel nou eers oor ek wat vasstaan – paplepel in die hand oor kasdeure wat aldag oophang. Die beklemming vat-vat aan my hart – so skeur my hand die kinners se finale skool resultate oop.

Was dit so moeilik vir my Ma? Was sy dan so braaf om haar kinners weg te laat fladder? Sy het dit dan so maklik laat lyk. Vandag gooi ek al die kasdeure oop, hulle kan heeldag so oopstaan.

Advertisements

10 thoughts on “As die kasdeure oophang

  1. Searching For Ironman

    Baie, baie mooi geskryf. Ek dink ons ma’s was baie braaf, soos jy sê. Ek het nog al my kinders onder een dak maar ek begin nou al ys as ek dink aan die dag wanneer hulle hulle vlerke sprei. Sterkte, jy het goed gedoen as hulle gebalanseerde en gelukkige mense is.

    Liked by 1 person

    Reply
  2. Rob Alberts

    Mooie foto bij een mooi verhaal.
    Ik herinner mij de afspraak; thuis zijn als de lantaarnpalen aan gaan.
    Soms was ik dan te laat.
    Maar veilig en gezond ben ik toch groot geworden.

    Vriendelijke groet,

    Like

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s