Hier langs my, hang ‘n verlepte tiener in in die bank van KFC; sy kop hang onder neon-kleurige bobbel oorfone – dis nie ingeprop nie want die punt hang op die teëlvloer. Die kind kan enige oomblik smelt in sy stoel, en afglip tot ‘n bondel wasgoed op die vloer. Sy oë staar maar sien niks. Sy geel vingerpunte vroetel ‘n groen Checkers sigretaansteker, om-en-om. Oorkant hom sit sy Ouma hom en beloer. Daai kyk het my eie Ouma my ook eendag lank terug gegee… toet se jare terug; onder ietwat ander omstandighede.

Destyds had ek ook so paar oorfone gedra – sommer sulke swartes. Ingeprop in my Pa se Pioneer Hi-Fi. Plat op die mat, voor die luidsprekers– daar het ek huiswerk gedoen, sommer so op die pêns met die lerieke van sy Springbok plate wat blêr in my ore. Ouma het kom kuier in Pretoria vanaf Warmbad met haar ligblou Dutsin moutertjie, en my daar op die mat die Leviete voorgelees. Sien, flussies-se-dae het die ou-mense gedink oorfone sal jou doof maak lank voor jou tyd. Seker maar soos ek vandag voel oor dieselfde Scull Candy-oorproppies wat my eie kinders deesdae dra?

Ai waar is die dae? Vandag sou ek wat wou gee om daai versameling plate te kon luister, om weer in my Pa se huis op die mat te kon lê…Groot-oog voor my Ouma staan sodat sy my berispe.

Daars natuurlik geen rede om heeltyd die verlede terug te deins nie – maar so sweempie nostalgie maak my dankbaar. Dankbaar vir eenvoudige lewenslesse. Goeie herinneringe en ‘n tyd van onskuld en snoep tegnologie.

Die verskil was onse generasie was “ingeprop”. In alles – letterlik. Jy moes net deelneem in als, want dit was skoolreëls. Geen uitsondering is gemaak nie – niemand se gevoelens was in ag geneem nie. Jy was in sekere goete en klere ingeprop: skool musiekblydspele, konserte, jeugkampe, kuiers by Ouma en Oupa, Volkspele, Kerk Basaars en Familie pieknieks. Van al daai dinge was daar geen verbykom kans nie. Vriende was nie belangriker as familie nie, en jy moes maar net jou sosiale lesse so terloops byleer.

Vandag se ouer-garde moet hare op hulle tande hê om by modern tye en tegnologie te hou. Die oomblik wat hulle geleer het fakse is vinniger as briewe met posseëls op, moet hulle die tikmasjiene wegpak en e-posse leer stuur. Na die Rock Hudson-skok, kan hulle eventueel nagmaal toe sonder hoedjies en sykouse. Dikbrille word vervang deur ooglens-operasies, plooie platgestryk met Botox. Gooi uit Playtex se Cross-your-heart bra’s en koop Woolies se Wonder Bra en dra-jou-kralestring-horisontaal. Hulle moes opgradeer van plaaslyne se trieng-trieng luie na Nokia’s en nou weer na slimfone. Vergeet van perd en fietsry, dis nou tyd vir liksensies en Koreaanse moutertjies met lugimpakkussings en elektroniese venstertjes.

Onlangs het my seun sy Oupa se motorhuis help skoonmaak. ‘n Taak kammatig benede vandag se tieners, maar ook nie vir Oumense met jig in die hande en krom rûens nie. In ‘n dik laag stof ontdek hulle ‘n paar amateur-videos op 9mm filmrolle, ‘n paar kasset klankbane en ‘n klomp skyfies in ‘n Tupper-bak. Na verdere ondersoek, baie afstof en ‘n gevroetel met die masjiene sit hulle aand vir aand en tuisvideo’s en skyfies deurkyk. Ek hoor my seun sing die woorde van van Gé Korsten se liedjies in die stort. Oupa het my sopas ge-Whatsapp…sy kleinseun reken hy is über cool, en Oupa wil hê ek moet die woord Google, want Oupa leer nog elke dag die taal uit sy kleinkinners se mond.

Nou loer ek weer vir die Oumatjie en die slap-gat-tiener hier langs ons tafeltjie. Ek het haar onderskat. Sy gaat hom nou in ‘n ding inprop, of hy nou wil of nie…

Advertisements

5 thoughts on “Oumense wat jou ‘inprop’…

  1. elizevdm

    Sjoe, daar bring jy soveel herinneringe terug! Ek het ook smiddae met oorfone na my ma se Springbok plate gelê en luister en was dit nie ‘n gemors hoe die onnies my by al wat ‘n sportsoort probeer inprop nie! Ouma ook, sy het vanmelewe tennis gespeel, so ek moes tennis ster word. Ek is nou nie regtig aangelê vir sport nie. Kan nie eens ordentlik fietsry nie. Hulle moes maar opgee… en ek kom agter ek hardloop agter die kinders aan om tred te hou met die tegnologie en nuwe dinge se name. Ek voel amper soos Oupa 😉

    Liked by 1 person

    Reply
  2. coetzee2014

    Ja, die oupa moet ook baie leer. Met die nuwe fone, sê ek nou die dag vir ouma. Dit voel of ons standerd 3 uit die skool is,(het nog een van die ou plat Nokiatjies gehad) nou is ons in die matriekklas. Nou weet ek ook wat is ´n “airbag”, lugimpakkussing. Dít moet ek onthou. Dankie!

    Liked by 1 person

    Reply
    1. Daniël Bezuidenhout Post author

      Ek weet nie hoe my Ouma reggekom het nie. Met haar geboorte het hulle op kers en lanternlig aangekap. Teen die tyd wat sy gegroet het was daar lankal Maanlandings en laserlig! Ek weet nie of my kinders so hectic tegnologie ontploffing gaan beleef nie.

      Like

      Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s