Stokstyf…


Om ‘n expat te wees in enige ander land as jou geboorteland klink misterieus, en dramaties eksoties vir my familie en vriende. Vir die een of ander rede het hulle hierdie verwronge idee dat ek vliegtuie nader wink soos taxi’s, en vlinderagtig gaat net waar en wanneer my gemoedsbevlieging my neem? Miskien omdat ons nooit ooit met ’n ander vorm van reis tuis aanland nie? Daar is min wat ons hier in Akkra in gemeen het met die leefwyse in Windhoek. My hartklop verloor sommer ritme wanneer ek besef hoeveel ons uitmis op goete soos Kermis, vleisfees, filmteaters, boeremarkte, kunstefeeste, straatoptogte, bierfeeste, reënruik, rugby en krieket ondersteun langs die veld en sterre tel vanaf die stoep.

 

Nou in Desember-vakansie snuffel Lena en ek, in dieselfde supermark, vir sonbrandroom. “Haai sjoe” koer Lena, “jy’s my mees exotic-maaitjie wat ek ken.” Slaat my met ‘n nat vis, stokstyf! My Vrystaat-man bloos hom roos-rooi as ek hom vertel sy vrou is ‘eksoties’ gereken. Lena en ek het in die laaste ses jaar een keer kontak gehad; toe sy ‘n teks gestuur het om haar seun se skoolkermis kaartjies wou smous. Daai einste seun gaan nou graad vang, as die Universiteit nog nie afgebrand is nie. Ek besef almal van my vriende het aanbeweeg, verjaardae en Kersfees gevier en gebraai en kinders groot gemaak en kontak verloor met ons. Vriendskappe se hande – het vashou verloor. Uit die oog en uit die hart. Iewers lê ‘n groot verlies waarmee ek moet somme maak.

 

Geen mens kom na Akkra vir ‘n jollietyd of vakansie nie. Jy’s hier want daar is nie werk in RSA vir jou nie, of jy beskik oor ‘n talent wat hier te kort skiet. Al daai bloedjong ronde Amerikaners met hulle loop-kieries, wat bulder soos oumense met gehoor probleme –kom om hulle ‘African roots’ te soek. Dit tel nie vir toerisme in Akkra nie. Dis net domgeit, hulle word behendig verlig van hulle dik dollar rolle, elke keer as hulle driekeer meer betaal sonder om te kibbel oor pryse. Mens bly nuwe gesinne ontmoet en gou kuier almal oor en weer. Die enigste konstant hier langs is verandering. Ons het nou opgehou tel hoeveel keer ons vriende moes groet wanneer ‘n kontrak klaarmaak, en hulle na ‘n ander land verhuis.

Screenshot 2016-03-07 23.05.30

Ek maak dit nie ‘n gewoonte om met Karma te lol nie, maar Akkra het so bekruip manier om jou wieletjies af te blaas. Vanoggend is ek is so boos ek kan ‘n krokodil oopbek soen! My Vrystaat-seun se nuwe spierwit hemp is nou vaal grys, met ‘n tint van kots-groen. Onse Kombuis-feëtjie wys my trots sy het onthou om die kraag en voorarms met ‘n blik stysel by te kom. Dis juis hoe sy die geen-stryk hemp se kreukels permanent stokstyf gekry het. Hier is nie ‘n Trappers Trading of Cape Union winkel waar ek sy splinternuwe hemp kan vervang nie. Ek byt my onderlip tot ek bloed proe. Enige iets om die trane te keer. Laat aand vra Vrystaat-lief of dit trane van hartseer of woede was. Ek onthou nie nou nie; deesdae is dit meer gereeld dat ek bars om groot emosie wat my oorweldig, terug te hou van vreemdes.

 

Ouma Henna se wyse woorde steek laatnag iewers in die newels vas. Mens mog nooit iemand ignoreer wat jou lief het, vir jou omgee of na jou verlang nie. Eendag skrik jy wakker en besef jy het jou hele Maan verloor terwyl jy tyd gemors het om sterre te tel.  Maar tel iemand jou ster?  Dit voel al hoe meer soos igroneer…

 

Slaap is my nie beskore nie. Ek lê stokstyf en tel my seëninge op die koue badkamervloer. Dis die koelste deel van die huis want vanaand is die krag weer af. Dis donker Afrika, misterieus – niemand het voorsiening gemaak vir diesel vir die kragopwekker nie. Eksoties…

Advertisements

16 thoughts on “Stokstyf…

  1. de Wets Wild

    Dit verstom my altyd dat mense hulself so vinnig gekwalifiseerd ag om n ander se lewe te beoordeel, sonder dat hulle eintlik eers n blik op n duisendste daarvan gehad het, of self n paar myle op die pad wat jou tot daar gebring het gestap het…

    Liked by 2 people

    Reply
    1. Daniël Bezuidenhout Post author

      As dit die eerste keer was – het ek haar vergewe…maar dis die hoeveelste keer. Op ‘n ander geleentheid het ‘n kledingstuk net verdwyn – ‘never to be seen agin’. Elke keer as sy nou iets breek – maar ek haar soek vir daai ‘weg-ding’…!

      Liked by 1 person

      Reply
  2. Karin

    Vrou, jy is die voortrekker vrou van ouds, wat op die oosgrens moed opereer, jou vertellings is so pragtig. Al is dit meeste van die tyd nie lekker nie, moet ek jou sê dit lyk en klink eksoties😜, 😘. Staan sterk

    Like

    Reply
  3. scrapydo2.wordpress.com

    Daardie magtelose gevoel is soms so oorweldigend dat n mens nie kan help om boos te raak nie. Sulke “vreemde” gebeure laat n mens darem rerig huistoe verlang. Jy het n manier van vertel. Sterkte maar daar vir jou, moenie alleen voel nie hoor. Staan sterk teen die buitlandse aanslae.

    Like

    Reply
  4. Biltong & Pot-roast

    Ek wou sê “Jaaa Swaer…” maar nou sal ek maar sê Jaaaa vrou, so gaan dit – ek ken dit. En dit is niks beter of anders in ‘n Europese land nie. As daai verlange en hunkerings en goete jou beetkry, help net ‘n kussing en kombers vir ‘n middag of so om jou batterye weer te laai. Ek is tans besig om ou video’s na digitale formaat oor te skakel en die nostalgie en herinneringe kom soos taai stroop oor jou gemoed loop wanneer lank gelede se beelde saam met familie en vriende op die skerm verskyn.

    Liked by 1 person

    Reply
  5. Rob Alberts

    Uiteindelijk heb ik mijn hulp uit Accra ontslagen.
    Ik ben nog op zoek naar een nieuwe hulp.
    Te makkelijk werd mijn hulp, terwijl ik toch iets meer van haar verwachte.

    Vriendelijke groet,

    Like

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s