Hulle eet muskiete…


In opdrag van Toeka-Tokkel no 9: Verbeelding

Naeldekokers kan dans op water met hulle blink vlerkies – hulle skep  water vir feetjies. My Pa sê hulle eet muskiete. Anders as bye, steek hulle jou nie. Jy moet net regtig stilsit, dan kom al hulle maats om jou dans. Hoe meer daar om jou dans – hoe gelukkiger is jy.

Melissa was Juffrou van Rooyen se pokkeldogter wat geklik het oor als by haar Juffrou-mammie. Niemand wou Klikkiebek Melissa se pousemaatjie wees nie. Pouses het ons haar vermei – oor die skoolheining agter die pawiljoen gespring waar die heining op sy laagste was. Dan het ons daar naby langs die spruit gaan stilsit, voete in die water en naeldekokers tel. Wanneer die pouseklok gelui het, het ons teruggespaander; uitgelate teruggebondel in die van Rooyen-klas.

 

Melissa se Ma, Juffrou van Rooyen het ‘n harige moesie op haar knobbel neus gehad; Lexinton sigarette gerook en haar krimpelien romp het om haar lyf gedraai as sy stap. Doei tyd het jy sommer baie lesse gehad by jou klasjuffrou. Haar stemtoon het gewissel tussen skril en die druis van ‘n muskiet.  Ek onthou niks wat sy my geleer het nie, net dat haar onderrok ‘n bruinvaal kantrandjie met motgate en toiings uitgehang het.

 

Daar was twee Graad-2 klasse, en in die aande het ek in my bed gelê en bid dat ons klasjuffrou moes vrek in haar slaap of verdrink in haar bad, sodat Juffou Moolman ons kon leer. Vanuit ons klas het ons die ander klas gereeld hoor lag, handeklap, giggel en sing. Anders as mooie Juffrou Moolman, was Juffrou van Rooyen sweterig – vandaar haar bynaam: Bloukaas. Wanneer jy langs Bloukaas se tafel gestaan het, het sy hard asemgehaal terwyl sy jou binnebeen blou-knyp. Melissa het my gespot, gesê ek’s ‘n pisgat omdat ek gesnik, maar nooit gehuil het nie. Dan moes ek pouses binnebly en die vloer uitvee terwyl Melissa rondsit en smalend vir my kyk. Vir die kleinste onbenulligheid was Bloukaas se gunsteling straf, om jou in die hoekie te laat kniel met jou knieë op ‘n netjiese ry potlote. Daar het jy gebly totdat jy gehuil het, en gesoebat of gesmeek het. Ek het niks van daai dinge gedoen nie – net gebly kniel. Soveel so dat daai potlote blou strepies oor my knieë getreep het. Ek kon nie stap sonder om te hop-hobbel nie. Dit was oestyd en my Pa was vroeg uit en terug na bedtyd. Dae lank was ek gevangene op die speelgrond wat nie vir Melissa kon weghardloop nie.

 

Naby die snoepwinkel was ronde baksteen mure om die watertenks gebou waardeur die wind getrek het. Met water wat iewers van bo af gedrup het – met wind wat deurgetrek het –was die water altyd heerlik koel. Noudat ek nie kon weghol van Melissa af nie, het ek agter die watertenks gaan wegkruip.

 

Dit het nie lank geneem vir die naeldekokers om my te vind nie. Ek het doodstil gesit – en hulle het vir my kom dans.

 

Maar die speelgrond was maar klein en Melissa het my ontdek. Daar het sy gestaan – nes haar Ma: wydsbeen met vuisbolletjies geplant in haar sye. Wange twee bar opgepomp, haar donker slang ogies op skrefies getrek, besig om haarself op te werk in ‘n kenz-streep.

 

Toe begin sy gil. Nie ‘n kwaai malkop gil nie, maar ‘n beserk gil. Oor en oor gegil, beangs geval op haar knieë en haarself sopnat gepiepie. Al daai bohaai  oor blink-vlerk; ‘n ‘helikopter’ – daar het ek besluit naeldekokers was my gelukbringers!

 

Bloukaas het my aan die arm gepluk en in die stoorkamer geslinger. Daar in die donker het sy my ‘n snotklap so hard gegee dat ek die naeldekokers hoor dans het om my kop. So kwaad was sy – sy het soos ‘n hittegolf gesweef. Buite die deur het sy iets gehis van my ouers wat sal moet kom verduidelik en dat die skoolhoof hulle sou skakel.

 

Niemand antwoord plaaslyne in die middel van die dag, in oestyd nie.

 

Lank na die ander skoolkinders huistoe is, het Juffrou Moolman die stoorkamer kom oopsluit. My voorarm het ‘n snaakse buiging gehad en my hand was agterstevoor om-gebuig. Bloukaas se handmerk het blousel oor my gesig gewys. Ek het nooit gehuil of gekerm of gesoebat nie. Juffrou Moolman het gesnik en gehuil die hele pad hospitaal toe.

 

My Pa het die volgende dag nie gaan oes nie, hy’s skool toe.  Ek was in gips met harsingskudde en ‘n gebarste oordrom.  My klasmaats het my vertel, hulle het Juffrou van Rooyen hoor soebat, snik en tjank. Hulle het ook vertel hulle het ‘n klap gehoor, soos muskiet doodklap.

 

En toe is sy weg.

 

Juffrou Moolman het al die graad twee’s oorgeneem. Parykeer het sy die hele klas na die spruit geneem en ons het daar gesit en lees, gedigte geleer en geleer van groot woorde soos ekosisteme. Ek het als geleer, als opgeslurp soos ‘n spons.  Almal het gegiggel, hande geklap en gesing.

 

By die spruit was meer naeldekokers as ooit te vore. Niemand was bang vir naeldekokers nie. Ek was nog nooit gelukkiger nie.

 

 

(PS: Hierdie skrywe is fiksie.  Dis als net ‘n verbeeldingsvlug – -in opdrag van Scrappy – (Toeka-Tokkel,;sien die skakel heelbo)

 

 

Advertisements

18 thoughts on “Hulle eet muskiete…

  1. Biltong & Pot-roast

    Dit is ‘n buitengewoon mooi storie hierdie – netjies geskryf (kort enkele redaksionele wysigings). Ek is mal oor die detail en die beskrywing van situasies en gebeure wat die leser midde-in die storie plaas. Knap gedaan! As ek by jou was, het ek jou ‘n klop op die skouer gegee – nou moet jy dit maar self doen.

    Liked by 1 person

    Reply
  2. scrapydo2.wordpress.com

    Amper glo ek jou, so mooi het jy hier vertel. Miskien omdat almal maar so n juffrou v Rooyen iewers langs die pad gekry het. Dankie vir jou mooi verbeeldingsvlug – net soos die naaldekoker! (Ek is op oomblik nie tuis en sal volgende week jou stuk ook aanmeld in my Toeka-Tokkel afdeling!) Geniet jou week verder)

    Liked by 1 person

    Reply
  3. Pingback: Toeka-Tokkel no 11: Vuurwerk – I scrap 2

    1. Daniël Bezuidenhout Post author

      Dankie 🤗 maar ek is wel bewus daarvan almal het iewers so juffrou gehad – miskien net nie op haar slegste dag nie. Dis beter om so iemand op ‘n verbeeldingsvlug weer af te stof en te besef hoe vêr het ons gekom

      Liked by 1 person

      Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s