Oop-oog en spoegbek


Tradisie is iets wat soveel jonngelinge deesdae vanaf wegskroom. Hulle is net te besig om  uit te staan en koelgat voor te kom.  Miskien het al daardie vakansietye by my Ouma my anders gesnaar.   Ons het elke oggend elf-uur deur Warmbad se strate gestap en Ouma het van winkel na winkel gestap. Dan het sy geselsies aangeknoop en teegedrink by almal. As kind het tyd dan gaan stilstaan.  Kalm en gedweë het ek net myself iewers op ‘n trappie tuisgemaak en die wêreld bekyk.  Dit was die tyd waarin kinders gesien en nie gehoor was nie. Vandag – snoep ek gereeld fotos van oumense op straat wat handevashou, oefen of elegant aantrek of saamkuier.

In Akkra het die Suid-Afrikaanse Dames ‘n baie spesiale tradisie wat reeds vir ses jaar die rondte doen. Jaarliks haal die tannies van hulle fyn breekgoedjies en fynste linne tussen die motbolletjies uit en poets die silver tee-vurkies blink.  Die eerste week in Oktober is dit weer tyd vir die jaarlikse  SA Dames Hoog Tee.  Dis nie sommer só tee nie, daar word tema’s uitgedink, opgedollie, kaartjies verkoop en die klomp expat vrouens val oor hulle voete om kaartjies te bekom.

Hilda het vir 5 jaar, met skooljuffrou se presisie die spulletjie seepglad behartig, maar hulle het nou gaan aftreë en sit iewers op ‘n skadu stoep in Paarl. Mense, my senuwees is nerf-af want hierdie jaar is dit ek in die oliepot want ekke, slaat my hand aan die reëlings.  Hilda het die merk aan die kerfstok hoog gekap – ons sal moet fyntrap om kersvas te hou.

Ons 130 kaartjies is binne vier dae uitverkoop.  Die teetafels is beperk tot die grootte van die saal en beskikbare parkeerplek.  Hierdie jaar se gasvrouens het elk nege gaste aan ‘n tafel.  Haar tafel sal iets uniek-Suid-Afrikaans aan die Internationale expat-dames voorstel, en as bonus moet sy ‘n taal element iewers op ‘n manier inweef.  Ons gaste moet elk één Suid-Afrikaanse nuwe woord aanleer, hoe gering ookal.

As jy nou ‘n oggend van oop-oog en spoegbek wil beleef, dan moes jy lank reeds ‘n kaartjie bekom het.  Dink jou in, tema’s soos Sjebeen, Labôla, Kaaps Maleis, ens. gaan as Suid-Afrikaans voorgestel word.  Blikbekers, biltong, krale, mampoer, skonsie en kerrievis en ‘bunny-chows’ is alles iewers op ‘n belaaide tee-tafel.  As bonus gaan die SA-gasvrouens ‘n tradisionele “gum-boot” dans uitskoffel – hulle is almal hard aan die oefen.

My 2016-tema is “Chicken Republic” – eintlik steek ek so effe draak met SA se goeverment, maar dis omdat ek reken ons is almal hoenderkop oor ons geveerde tjommies. As Ouma en die kleintjies nie die slopemmer uitgooi en hulle voer nie, lê die hoender bruingebak Sondag op die tafel, en tand ons hulle.  Dink Nando’s, Chicken Lickein, Rainbow Chicken, KFC, The Rooster, ens.  Kyk, mens moet jou nou nie doodwerk nie.  Die eetgoete moet natuurlik ook inpas by my hoender-tema. Ek bedien klein byt-grootte kerrie vetkoekies,   mieliekoekies, bruin gebraaide hoendervlerkies en boudjies en delikate hoender handpasteitjies.

Op die oomblik reis ek en my Vrystaat-man in Viëtnam. Geduldig stap ons deur Hanoi se strate en snuffel na interessante goete.  Viëtnamese mense eet die heeldag – sekerlik sal Oom Noakes reken dis hoekom hier nie oorgewig mense te vinde is nie.  Wanneer hulle nie eet nie, drink hulle erge suiker-soet tee en koffie.  Tee-winkeltjies is ingeryg soos pêrels, maar mens sit op baksteenhoogte houtstoeltjies met knieëknoppe wat stamp aan mekaar.

Die mense se koffie-lus verbaas my.  Dink jou in “Weasel”-koffie is ‘n koffieboon wat eers deur ‘n soort wasbeertjie se dermsysteem getoer het – vir smaak, en dan word die derm-‘verwerkte’ bone gerooster en ten duurste in piepklein porselynkoppies opgeslurp.  Die tweede groot gunsteling is eier-koffie en waar die mees oorspronklikste resep is – is konstante debat onder die Viëtnamese.

Gister het ek ‘n pragtige opgestopte hoender raakgeloop toe ons ‘n sy-weef gehuggie gaan beleef het.  Ek moes daar en dan die bont ding myne maak – amper handhandig geraak met die winkelier want hierlangs is Engels onverstaanbaar. Pluk my humeurtjie op soos ‘n wafferse kapokhaantjie, druk ‘n geldnoot in haar nat handpalm en stap kordaat weg met stywe beentjies.

IMG_1569.JPG

My rooi-veer-stoffer – perfek vir my tafel se middel vesiering…

Die onderhandeling het my man effe broos gelaat, (geswaai van handgebare) nou het ons eers hier in ‘n koffiewinkeltjie lokale Hanoí-biere kom opslurp.  Hy lyk nou weer effe begeesterd so voorwaarts…

 

Advertisements

8 thoughts on “Oop-oog en spoegbek

  1. ekmyselff

    Heng dit is lekker o weer van jou te hoor – jy was TE stil.
    Klink of jy die relings geniet, dit gaan n lekker en beslis onvergeetlike dag wees. Jy beter kom foto s wys en vertel. Baie stekte met al die relings.
    Daaride “Weasel”-koffie is heerlik, ek het al daarva gedrink. Geniet Viëtnam
    Moet tog nie so skaars wees nie.

    Liked by 1 person

    Reply
    1. Daniël Bezuidenhout Post author

      Dankie Hester. Sal mooi fotos stuur ek belowe. Maar ek moet bieg: ons moet die saai dinge hier opkikker anders sal ons al onse varkies verloor. En boon-op kan oms vir maande weer mekaar ‘bespreek’. 😂 ek hoor dis net ‘bespreek’ as dit die waarheid is maar beskinner as dit ‘opgevlam’ word …

      Liked by 1 person

      Reply
      1. HesterLeyNel

        Hahaa, dit klink nou soos my man wat sulke lekker skinderstories kan aandra. Mans skinder meer as vrouens – dis ‘n feit. “Maar dis mos nie skinder nie; ek vertel net die waarheid”, is sy regverdiging.

        Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s