Opgeneuk en aan die sing


 

 

Dis 1976, ek’s ‘n haasbek sewe-jarige met bokstertjies en woon ons in ‘n grasdakhuis in Lyttleton, in die Jakarandastad, met ‘n pruimboom wat groei in die tuin. Saans kook my Ma twee emmers water vir ‘n bad vol water. Dan jaag sy onse drie deur die bad voor die water koud word. Ek skool by Juffrou De Wet in Fleur Laerskool – sy’s kwaai en nie so mooi soos my Ma nie. Als is eenvoudig, oom Niel het oor die Maan geloop en die lewe is ‘n lied. My Ma slaat my gat aan die brand want my perske-bloeiselkroon verstop die badwater se uitloop.

 

My Pa is ‘n superheld want hy het ‘n televisie in die sitkamer kom neersit. Ons stoei onder mekaar vir die beste plek op die mat. Lank voor ses-uur sit ons blinkgeskrop in pajamas soos drie groen ertjies ingeryg op die mat en asem ophou sodat die programme kan begin. Die lewe is fantasties; Elvis ruk-en-rol en almal leer ‘n paar woorde Engels en om te ‘jive’. Juffrou De Wet stuur ‘n briefie huistoe; ons het die piepklein groen pruimpies skool toe gebring om arlies mee te speel. Al drie van ons se gatte brand voor ons bed toe is.

Saans kry ek nagmerries oor benoudgeid van die Voetskroeiers wat ons op TV gesien het. Hulle is gevaarlike rowers wat jou in die nag besteel en dan jou voetsole voor die kaggel tot blase verskroei sodat jy hulle nie kan agterna sit nie. Deur die dag hol ons deur die tuin met pruimboomtakke aan die arms vasgemaak soos Knerses-die-vlermuis se vlerke. Die lewe se deuntjie karring aan. Juffrou De Wet sê ek slaap in die klas en ons moet nou voor die nuus in die bed wees. My Pa nêuk ons gatte oor die takke wat rondlê in die voortuin.

 

Die polisie het my langs die pad opgelaai en weer by die huis kom aflaai. Met my nagklere en inkleurkryte in my kussingsloop toegeknoop het ek weggeloop om Liewe Heksie en Blommie te gaan soek en haar te besperm teen Geel Gifappeltjies. Juffrou De Wet sê ek leef in ‘n droom wêreld en ken Elvis se liedjies beter as my tafels. As niemand my sien nie sing ek al sy liedjies kliphard onder die holte van die pruimboom se takke wat laag oorhang. Die bye takel my onder die pruimboom en ek vir twee dae nie hoef skool toe te gaan nie.

 

Juffrou De Wet het in die vakansie Kaap toe getrek. Ek huil elke aand om by haar te gaan kuier. My Pa sê dis te ver en sy is weg in ‘n vliegtuig en die kaartjie is duur. Ek spaar al my tannemuisgeld want eendag gaan ek vir haar kuier. Iemand het die lied afgeskakel. My Pa kom huistoe met ‘n kitaar en speel die liedjies van “Four Jacks and a Jill”. Ons oes al die pruime wat oor is op die pruimboom en lê op ‘n kombers en kyk op na die sterre. Eendag wil ek ook op die Maan gaan rondstap, ek dink dis waar die tannemuis woon.

 

Party mense is maar net gebore met ‘n jeukerigheid onder die voetsole. Ek het wel in die Kaap uitgekom want my ouers het na baie rondswerf in die Wes-Kaap gaan vestig. Elvis se legende leef aan, maar my Pa se vlam is lankal uit. Wanneer laas het ek ‘n pruimboom in ‘n tuin gesien? My eie kinners het nog nooit eens één pruim vanuit ‘n boom kon pluk en opeët nie. Jare lank swerf ons gesin heen en weer oor Afrika se bodem. Die lewe speel ‘n heel ander lied. Deesdae sluit hulle jou toe as jy jou kinners neuk oor stoutigheid. Maar as jy dit nié doen nie, jaag hulle so aan dat die polieste, húlle eendag toesluit. So dan eerder ek; ek streep my kroos sodra hulle karring vir ‘n drag slae.

 

Vanmiddag kom my seun huistoe met ‘n kitaar “soos Elvis sin” wat hy so oor die heup swaai.

Hy, speel sy eie lied.

Advertisements

27 thoughts on “Opgeneuk en aan die sing

  1. Vlindersag

    Dit was nou ‘n lekker lees oor die lekker ou dae. Ek het weer elke Sondag na kerk ‘n pak slae gekry want ek kon eenvoudig nooit stilsit in die kerk nie. So, dit was al roetine om in die badkamer te gaan wag sodra die kerk uitkom vir my preek en pak slae 🙂

    Liked by 2 people

    Reply
      1. Vlindersag

        Nee hoor. Omdat my ma koor gesing het, en die predikant se vrou orrel gespeel het, en my pa ouderling, was daar geen ouerlike beheer tydens die kerkdiens nie. So ek en my broer en die predikantskinders het ‘n ‘ball’ gehad tydens kerkdienste. Dit was elke pak slae werd. Hie hie 🙂

        Liked by 2 people

      2. Daniël Bezuidenhout Post author

        Daars hy… die ergste giggel was oor ‘n stil sluiper benoude windjie wat uitglip. 😳 seker al die spanning om stil te sit. En dan het ons sneespapiertjie bolletjies gerol en soos arlies in die tannies se hare en hoede ingeskiet 😂

        Like

      3. Daniël Bezuidenhout Post author

        Ek’s goed opgewarm na Kerk. Gedurig. Dan skop ek die banke voor my, of wikkel op en af of sug en sug. Of kan nie stilsit nie, laat val liedboeke of fluister of gaan aan die giggel. Daar was net altyd iets. Partykeer het ons net die portaal voor die drie trappe na buite gemaak, maar gestreep was ek. Gereeld

        Liked by 2 people

  2. Biltong & Pot-roast

    So baie nostalgie. Alhoewel jy ‘n dekade of wat na my grootgeword het, was baie dinge nog dieselfde (ek het nie TV gehad nie – daai aandstories en verskeidenheidsprogramme op Radio Suid-Afrika was ons groot vermaak). Ek dink jou geslag was dalk die laaste wat sulke tye beleef het. Ons kinders ken dit nie. Is dit jy op die foto?

    Liked by 1 person

    Reply
  3. perdebytjie

    Ons het baie in gemeen…ek het op Lyttelton grootgeword en was in Laerskool Louis Leipoldt…ook pruimbome op ‘n groot erf gehad en sorgvrye dae van boomklim,vars perskes,pere,appelkose,pruime van ons eie bome af.Deesdae is tuine net beplant met fênsie plante en niks wat jy kan eet nie.
    Hierdie is so oulik geskryf,dankie daarvoor!

    Liked by 1 person

    Reply
  4. scrapydo2.wordpress.com

    O maar dis lekker om so terug te dink. Daardie nie stil sit in kerk is maar kinders se probleem, veral as daar nie n ouer is wat darem kan kalmeer nie. Ek het ook sonder TV groot geword maar die aand storie net na die 7 uur nuus was die beste. Springbokradio se hyg romans was ook gewild. Ek moes toe ek al skool gehou het by my suster gaan kuier naweke om die kort TV tye in die begin te kyk! Goeie ou dae, mooi beskryf.

    Liked by 1 person

    Reply
  5. faan_aol

    Ai Daniel – hierdie een het soveel wonderlike herinneringe teruggebring. Baie dankie dit was weereens uitstekend

    Renate

    Like

    Reply
  6. katrina

    Jy skryf so lekkerlees! Ons het sowaar nog ‘n pruimboom – net enetjie – in ons agtertuin. Soos ‘n bruid so mooi wanneer dit blom. Maar kom daai eerste pruimpies, dan ontdek die dekselse apies dit en dan is dit koebaai. Sommige jare kan ons wel ‘n paartjies pluk. Ek sou graag ‘n granaatboom ook wou hê…

    Liked by 1 person

    Reply
    1. Daniël Bezuidenhout Post author

      Daar sê jy dit nou – ‘n granaatboom. Daarvan het ons wel een op die plaaswerf, maar jaar vir jaar kom die blêrrie bobbejane soos klokslag en stroop daai boom kaalgat! Hoe weet hulle dis granaat se ryptyd? Die ou omies soos my oorle Oupa het geweet hoe om vrugte boom stiggies ‘in te sny’ in die wig van ‘n ander vrugteboom en die nuwe boompie so aan die groei te kry. Nou moet jy net iemand met ‘n granaatboom in jou omgewing opspoor. En dan gaan snuffel jy iewers op Google hoe om die boompie ‘in te sny’.

      Ek koop jarelank al saad by iemand in die Republiek. Die ou stuur net die saad vir my in die pos. Miskien sal hy granaat saad het? Moet ek uitvind?

      Like

      Reply
      1. katrina

        Die pruimboom het intussen die gees gegee. Wel, halfpad. Morsmiddel-afgebreek. Hier by my groei net goed wat ‘n sterk drang vir selfbehoud het. Ek het selfs ‘n hele begraafplaas met potplantgeraamtes… so, kry daai granaatpitte en plant hulle daar by jou. Wat van kweperbome? Hmm.. ingelegde kwepers – wanneer laas het ek selfs net daaraan gedink!

        Liked by 1 person

      2. Daniël Bezuidenhout Post author

        Die naaste wat ek kom aan plant is my varing op die stoep wat vrek elkekeer as die kombuisfeëtjie moet water gee sodra ek landverlaat om betterye te laai. Kwepers klink na ‘n droom. Hoe lekker giggel ek oor jou plant-begrafplaas…

        Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s