Mense reken; Afrika nie vir sissies nie. “Watter deel van Afrika?”, vra ek iewers in my agterkop. Natuurlik staan ek nie kaartjie-in-die-hand gereed om Mogadishu te gaan verken nie. Hier op Kotoko Internasionaal, Akkra se lughawe, leun ek in agt-en-twintig grade se warm seebries en bekyk die blinkoog reisigers wat vannaand aanland.
‘n Paar wat hulle aardsbesittings vir ‘n enkele maande soos skilpad saamdra, kom lokaal skoolgee en stowwerige dorpies verken. Hulle is maklik om in die bondel te herken, hulle dra poepvang-broeke versier met pers olivantjies; bont serpe in gister se ongekamde hare. Teen môre sal hulle reeds twee honderd kilometer vêr met ‘n lendelam bussie tussen agttien ander insittendes, oortrek wees met Ghana se rooistof. Hulle flits honderde kiekies vir Instagram en bly soekend na selfoonsein en data. Wonderlike siele daai – hulle gaan eerstehands leer kos koop op die oggendmark in ‘n lokale taal. Binne tien dae dra hulle klere gemaak van Kenté-lap, rubber plakkies en plastiek kraletjies in die hare gevleg. Jare later gaan hulle nog stories vertel van die ongekende saggeaardheid van Ghana se mense. Die diepgewortelde respek teenoor gryskoppies en Afrika-dromme tussen die knieë vasknyp en ‘n ritme trommel wat jou hoendervleis in die nek laat uitslaan. Lees hier van ‘n malkop ou wat dwarsoor Wes-Afrika reis sonder skoene
‘n Ander kleurvolle groep met dik beursies is opvallend minder beweeglik met ‘n dik-eend waggel en kroomwandelstok. Hulle hoor jy gewoonlik voordat jy hulle sien. “Mary-Ann-Jane, is it not a glorious day! …(hyg) …Setting foot on our ancestral soil…(wit sweet sakdoek oor die blink gesig) … we are so blessed … (leun oor mekaar en neem ‘n selfie)…”. Ek gooi ‘n ge-oefende wit-oogrol, en sien die taxi drywer langs my behaaglik lippe aflek en handpalms saamvrywe soos hy naderstaan. Hierdie is tipies Swart-Amerikaners wat hier in Ghana kom snuffel na ‘n sweempie van hulle-se-mense se herkoms. In die volgende paar dae gaan hulle ‘ooh-en-aah’ en ‘OMG’ met regte trane in die oë en handpalm oor die hart geklem. Hulle is te besig om hand te skud en almal te bevriend en mense te soek met dieselfde vanne, om hulle fone te gebruik.

Elmina Slage Kasteel in Cape Coast – Ghana
Ghana se kuslyn is besaai met mosbegroeide murasies van toet-se-tyd se slawe handel kastele. Die mees bekendste kasteel in Elmina, Cape Coast kan verken word met ‘n fooitjie in die hand vir die gids. Niemand kan onaangeraak ‘n slawekasteel verlaat sonder om kopskuddend die gierigheid, ongeregtigheid en wreedheid van die mensdom te betwyfel nie.
Na ‘n paar jaar as inwoner in Wes Afrika, herken ek langsamerhand die ánder minder bekende, maar hoogs unieke seleksie alleen reisigers. Vaal verweerde vrouens aan die anderkant van veertig, kom koekeloer met kalfsoë na die andersgeit van Afrika se manne. Die deursnit jongman speel aktief sokker, leef op vars vis en tropiese vrugte, en pronk fisies soos ‘n wafferse Griekse soldaat. Kyk, ek verstaan dis nie almal se koppie tee nie, maar hier is tannies met Europese paspoorte, wat hierso, nuwe liefde kom vind.
Op daai tannies se fone is kiekies van sokkerspelers op die strand en selfies saammet vissermanne in kuierplekke. Sien; en so gun daai lustige tannies ‘n geleentheid vir ‘n Ghanees, vyftien-jaar haar junior, om sy hele familie na Europa se blink liggies te immigreer.
Annerkant half eeu; weet jy presies wat jou voorkeur as reisiger is. Lank voor hulle voetspore trap in Wes Afrika, het hulle verskeie reisgidse deurgewerk. Hulle is wel belese oor die kultuur, tale en tradisies. Hierdie groep neem duisende fotos, hulle is nie in een van daardie fotos nie. Na ‘n leeftyd se agt tot vyf, is hulle bankbalans van so aard dat hulle kan kies en keur tussen gesogte hotelle, vlieg hulle eerder binnelands eerder as soos nat hoenders in ‘n taxi rond te wip. Daar word die aller prag kiekies vasgelê van Afrika Konings en tradisionele danse met rooistof fyntjies te bespeur in die laaste sonstrale van ‘n fyn beplande dag. Wanneer hulle die markte besoek, kies hulle sorgvuldig die handgemaakte Venisië-glaskrale uit, wat jare lank as skat bewaar word en waardevol genoeg is om in testamente te benoem. Ghana se kultuur is so eie aan Afrika, dat in die keinste dorpie word jy vyfuur wakker met tromme wat vrolik en ritmies die dorpie aan die gang kry. Kinders, hoenders, bokke en ou Gryskoppies op knopkieries is almal oppad iewers heen – groet vriendelik met ‘n hand-swaai in die lug. Almal wil gesels, nooi jou om eers te kom sit en vertel stories met handgebare en eentand-kop agteroor lag. Die gemarineerde reisigers maak tyd om te kuier, proe aan kos uit swart potte, staangemaak onder grashutte.
Kom Sussie, wys my jou reiskiekies, dan weet ek sommer gou wat jy hierlangs in Wes Afrika kom maak.
Ik zie hier toeristen uit Ghana terugkomen als Ghanese Koning.
Mooi verhaal.
Vriendelijke groet,
LikeLiked by 1 person
Baie Dankie Rob.
LikeLiked by 1 person
Jy verf en vleg die wêreld so mooi dat ek als mooi bright kon sien.
LikeLiked by 1 person
Dankie Karin, maar ek kannie so mooi dig soos jy nie, te pragtig.
LikeLiked by 1 person
Ek het myself sommer herken! 😱
LikeLike
Nie die ene met kalfsoë nie, 2e laaste paragraaf met ‘n reisboek in die hand né
LikeLiked by 1 person
!! 😊
LikeLike
My ouderdom gee my weg!
LikeLike
🙂 hie hie ons almal doen daai ding!
LikeLiked by 1 person
Ek het lekker gelees – goed om jou weer te sien.
LikeLike
Ta x
LikeLike
Sjoe -klink maar rof, tog lekker!!
LikeLike
Party keer staan ons net en kopskud
LikeLike
Bly om jou weer hier raak te loop. Ek geniet jou Afrika stories.
LikeLike
Dankie Hester x
LikeLiked by 1 person
Ai, al amper 3 jaar weg uit Ghana maar sien nog alles soos jy vertel
LikeLiked by 1 person
Jy vertel die storie so lekker dat ek wens dit langer was hehehehe Goed geskryf
LikeLiked by 1 person
Dankie
LikeLiked by 1 person