
Ghana se warm strate, mense beweeg per voet vinniger as dié in mouters
In elke groot stad, sal jy baie tyd spandeer in slak-verkeer. In Akkra is meer as 4,5 miljoen mense, en spandeer ons baie sit-sit tyd in ‘n mouter. My oog vang die blink weerkaatsing van ‘n ou wat langs my stop maar sy wieldoppe met kaktus steeksels spin nog verwoed voort. Sy elmboog hang so laag vanuit die venster, ek reken hy kan sy elmboog afskuur om ‘n draai.
Hy’s in ‘n 10-jaar oue taxi, die drywer langs my streel liefderyk oor die blou-wol oortreksel van sy stuurwiel. Hy het moerasgras onder sy vooruit geplak, spoedstrepe op die sypaneel deure, ‘n blomding sonder blare op die lugdraad en ‘n vensterplakker op die agteruit belowe: “lewe na die dood”.
‘n Opge-suupte Corolla in Wes-Afrika kompeteer met enige BMW in Lanasia! Spoed en robot-tot-robot gejaery is nie hierdie petrolkoppe se ding nie, maar hulle kan kersvashou by enige Indiër-taxi of Benoni-boertjie se mouterdekorasie. Hulle kry hulle giggels deur wip-wip in te druk, skoor te soek en lanie 4×4 manne te irriteer met hulle rem-aksie wanneer hulle voor hulle indruk. Blink chroomknoppe op die rathefboom, rooi kunsleer tossels flikvlooi voor die windfiltreerder en wys hulle status. Bont plakkers en kerklike seëninge is beslis die gewildste dekorasies op ou skraap en stampmerke.

Enige iets om uit te staan – hierdie mouter totaal en al met Ghana lap ‘versier’
Taxi ry is goedkoop, so beskikbaar soos sonlig, en vreesaanjaend as jy nie die ding oopkop benader nie. Voordat ek my lewensdraadjie oorlewer aan ‘n taxibestuurder hierlangs, is daar ‘n paar praktiese goete wat ek oorweeg. Alle taxi’s het; volgens wet, kanarie geel geverfde hoekpanele. Hulle sluip stadig op en af in die strate, en toet-toet vir potensieële passasiers. Om ‘n taxi te stop, verbeel jou jy tik ‘n kind op die kop, handpalm na onder, so heuphoogte. As die taxi se remme skree, of die ding eers gestop kry 10-meter verder as waar jy staan, neem die volgende ene! Voordat jy inklouter, loer gou binne-in, of die sitplekke nie vervang is met houtbankies nie, en of jy nie deur die vloerpanele sien nie. Onderhandel met ‘n stywe lip oor die prys, en as jy nie van die man se houding hou, of sy Engels verstaan nie, of vermoed hy het weke laas gestort; sê eenvoudig jy het van plan verander. Hulle buffelagtigheid en minagtige proes deur tuit lippe skrik my lankal nie meer nie. ‘n Volgende taxi sal gou genoeg verbykom.
As jy eers sit, groet die drywer en vind iets in die mouter om hom oor te komplimenteer. Of hy dit nou verdien of nie, daai mouter is sy hele lewe en die inkomste van ‘n huis vol honger bêkkies. Al sweer hy dat hy weet waarheen jy wil gaan, hou maar ‘google maps‘ oop op jou slimfoontjie, en stel voor watter kant toe hy moet afdraai. Sodra die taxidrywer sien jy ken van watter rigting jy in wil gaan, sal hy nie probeer om weer oor die prys te onderhandel nie. Ek weier dat hy enige ander passasiers padlangs optel, en sluit self my eie deure langs my. As jy oppad lus vir ‘n koue bottel water, lugtyd of eetgoed wil koop van die straatsmouse af, vra vir taxidrywer om vir jou te koop, sodoende kry jy dit nog goedkoper.

Almal ry met seëninge al oor die mouter vasgeplak
Die meeste taxi drywers is baie nuuskierig oor onse “Obruni’s” (beskrywende naam vir witmense in Ghana). Hulle het respek vir familie, ander se huwelike, en mense met kinders, so vertel ek in ‘n geoefende drie sinne hoe lekker ons hier woon, en erg ons na Namibië terugverlang, en hoe hard my kinners op universiteit swot. Dan vra ek of hy kinders het en hoe lank hy al taxi ry, en voor ek my oë uitvee is ek by my bestemming. Moenie uitklim voor jy jou kleingeld in die hand het nie, hy ry dalk net weg en “vergeet van jou kleingeld”. Ek groet altyd met “hoop jy kry baie besigheid vandag…”.
In die begin dae het ek in ‘n taxi sonder sleutel beland wat die ou eers blousel draad onder die stuurwiel moes ‘hotwire’ om mee te ry. Ek was ‘n in tonnelbrug toe die een taxi ‘n spogmotor stamp, en almal uitspring en gelyk aan die skree gaan. ‘n Mede passasier het my ‘n lewendige hoender aangegee “om vas te hou” en ene het selfs ‘n dag later my selfoon teruggebring wat op die sitplek uitgeval het.
Vir diegene wat nog steeds skrikkerig is, daar is nou die opsie van vroulike taxidrywers in Accra. Een só spoggerige vrou is: Esenam Nyador aka Miss Taxi. Vir die wat na haar soek: +(233)55 505 0950 – Skype: misstaxi13 …lees hier oor haar

Essenam staan trots by haar Taxi
Met die regte benadering, kan daar waarheid steek in die vensterplakker: “lewe na die dood”, of ‘n lewe na jou eerste taxirit.
Sjoe, hierdie is omtrent ń goeie opsomming van jul taxi wêreld. Indien ek ooit daar sou land, mens weet nooit nie.
LikeLiked by 1 person
Het eerste keer die verkeerde bus gevat tussen Pinetown en Durban sentraal. moes noodgedwonge kombi taxi neem. Ek het dit so geniet dat ek die ou R50.00 gegee het
LikeLiked by 2 people
Dis altyd verrassend hoe almal met mens wil gesels… en vriendelik gesels en waarsku teen ‘tjotsies’!
LikeLike
Ek het met Tswana mense te doen gehad van kleins af maar die taal het nie veel gehelp nie ons het maar Engels gepraat uit self verdediging . Die twee dames tussen wie ek beland het was GROOT …ek het soos stukkie kladpapier gevoel. Hukke raad van koop by die Indiers het my baie geld gespaar Jy laat die indier eerste prys maak. … 9 uit die 10 keer kan jy jou item teen helfte van die prys kry maar moet nooit meer as driekwart betaal nie.
LikeLiked by 1 person
Dit was nou interresant… Pragtige fotos ook 🙂 EK kuier altyd lekker by jou, jy leer my so veel van jou hoekie in Afrika af. Dankie vir wonderlike inhoud soos gewoonlik.
LikeLiked by 1 person
Dankie Wolfie. Soms as ek weer my eie stories gaan lees dink ek my kop raas…
LikeLiked by 1 person
gebeur gereeld met my ook
LikeLike
Jy is ‘n brawe vrou. Hoe lank moes jy toe die hoender troetel?
LikeLike
Ha Hester- gedink ek gaan sy nek stomp afdraai eant die benoude hoennertjie het bly tjorts op my!🤣
LikeLiked by 1 person
Haha, maar nou maak dit so ‘n lekker storie waaroor ons almal saam kan lag. 😀
LikeLike
Klink maar rof.
LikeLiked by 1 person
Nee ons moét maar…
LikeLike
Vrou, jy kan darem skryf!!! Ek lê behoorlik van die lag. Moes die gelees het voor my eerste rit in ‘n taxi in Accra. Met die oopmaaksalg het die deur afgeval en toe het ek nie die moed gehad om te sê ek sal wag vir ‘n ander een nie. Maar nou het jy ‘n paar goeie tips gegee.
LikeLiked by 1 person
Gonda- ek wag jou in vir die volgende besoek! Hierdie taxi manne weet nie wat hulle gaan tref nie!
LikeLike
Hahahahaha Dit was nou uitstekend. Ek sien sommer hoe alles gebeur!!!!
LikeLiked by 1 person
Dankie Renate x
LikeLike
Dis kostelik!
LikeLiked by 1 person
Ta
LikeLike