Die Soet en Suur van Ghana


Verandering is die mees konstante ding in onse lewens. In Akkra het ons kontrak uurglas dan nou ook leeggeloop. Na ses en ‘n half jaar weg uit Namibië, staan ek en my Vrystaatman met drie koffertjies op die lughawe. Voor ek op die aerie klim huistoe, besin ek oor ‘n paar goete van Akkra wat ek sal mis, en ander wat ek geensins weer wil beleef nie.

Goete wat kan verby hou

Muskiete

Langenhoven en ek, het ons muskiete-haat in gemeen. In Ghana vreet muskiete jou letterlik lewendig op, jy spuit en smeer anti-muskiet goete, en dae later stress jy jou vrek oor Malaria. Malaria is so algemeen soos witbrood, uiters gevaarlik, self dodellik. Hierlangs lyk die muskiete asof hulle WP-streepsokkies dra; hulle vlie soos hommeltuie, stadig en lui, en laat ‘n teelepel se bloedvlek as jy hom platklap. Gee my die muggie muskiete tuis wat so dan en wan; hier en daar ‘n bloedmonstertjie vat.

Koebaai sê

Oor die algemeen kom werk die meeste uitgewekene kontrakwerkers in Akkra vir twee- tot drie-jaar. Die gevolg is dat sodra jy iemand goed leer ken, vat hulle weer die pad en ‘n mens bly vasgeval in hallo-sê en koebaai-sê. Vir ‘n paar maande beloer jy hulle op sosiale media, en dan stap die lewe aan en torring die vriendskap draadjie los. Die al ewige Koebaai-sê, dít sal ek nie mis nie.

Burokrasie

Burokrasie is oorgeërf in Ghana vanaf die Britse Koloniale, maar Ghanese het dit verfyn en is vasgespinneweb daarin. Ons staatsdiens se rompslomp lyk soos ‘n 10-stuk legkaart as jy dit wil vergelyk met Ghanese-werksvisas, Ghana id-kaarte en bestuurslisensie aansoeke.

Bakhande

Vyf-minute vanaf die lughawe klop-klop die eerste bakhandjie reeds aan jou venster. Aanvanklik sien jy die wesentjie nie raak as jy uit jou venster kyk nie, maar tjokkertjies net groter as wielgroote, lames op skaatsplanke en halwe mense in rolstoele bedel tussen die voertuie. Trosse en bondels bedelaars kom na Akkra, voel my nuwes land aan, elke naweek. Mens se hart word later klip, en dit gaan baie lank neem om van die dowwe kyke en behoeftigheid te vergeet.

Wisselvallige internet

My Vrystaatman weet as hy tuiskom en ‘n swartwolk hang oor my gemoed, dat die internet konneksie gedood het. Ons mis uit op nuus van babageboortes en laataand skakel my dogter met ‘n piepstemmetjie en vra hoekom ons nie haar studente noodkrete antwoord nie. Jy betaal peperduur vir meer as een internet verskaffer, want almal se kwaliteitdiens is ewe wisselvallig.

 

Goete wat ek sal mis

Smousgoed koop deur die venster

Menigte middae sit jy in sweet vasgeplak aan die moutersitplek, vasgevang met honderde ander in verkeer. Die voordeel is dat jy sommer so deur die moutervenster inkopies kan doen. Toiletpapier, vars gebakte brood, geroosterde grondbone, vars vrugte en groente, wasgoedseep … noem dit maar op, en iewers sal ‘n straatsmous dit aanbied.

Vriendelikheid

Die deursnit Ghaneen kom min in aanraking met uitlanders so wanneer jy skielik by ‘n verlate boswinkeltjie stilhou, is hulle oorval met skok en agterdog. Ons Engels val hulle vreemd op die oor, en mens moet jouself herhaal, arms swaai en beduie wat jy wil aankoop. Wees geduldig en werk ‘n grappie iewers in, dan word jy beloon met die grootste wittandglimlag, die items word met sorg verpak en selfs na jou mouterkar aangedra. Wanneer jy daar wegry, staan die smous lank so in die middel van die pad en waai koebaai tot jy oor die bult of in die niet verdwyn.

Skatte in die mark

Akkra se middestad is een kookpot van straatsmouse met stalletjies ingeryg soos krale, hier koop jy van ‘n garedraad tot ‘n dooie polisieman. As buiteperd kan jy maklik verdwaal, tussen-in kibbel jy oor pryse, dis bloediglik warm en almal stamp en stoot aanmekaar. Maar Boeta; as jy tydsaam en geduldig jou oë oophou kan jy letterlik skatte uitkrap! Van egte silwerteepotjies tot MAC grimeerstelle, leerstewels, kosbare Singer naaimasjiene, reuse visnette, ragfyn geborduurde tafeldoeke, en die nuutste klankstelsels. Met ‘n goeie kopie voel jy die Heelal se weegskaal het effe na jou kant getiep.

Afrika se Kleure

Kyk, Afrika is nie bang vir kleur nie. Die helder wax-kleurlap is die mooiste bont kleur en patrone – waarvan ek koop-en-koop. ‘n Ewige somer, ses-uur saans se vlermuisvlugte, sonsaktyd se helder kleure van soet pynappel en ryp mangoes maak my dol gelukkig.

 

Natuurlik is daar soveel meer goeie herinneringe wat ons sal koester, goeie vriende wat ons agterlaat, Ghana is vir ewig in my hart ingeëts. Vir eers roep Namibië soos Jakkals laataand na sy maat…

Advertisements

22 thoughts on “Die Soet en Suur van Ghana

  1. Toortsie

    Hoe mooi is dit! Dis wonderlik dat jy die land in liefde beleef het. Ek ken nie Afrika regtig nie. Nou die dag is die kaart voir my en ek sien Akkra groot geskryf. Groot was my opwinding, want ek het ‘n blogmaat daar!

    Liked by 1 person

    Reply
      1. Anonymous

        Ja, dit is iets wat mens nie regtig kan beskryf nie. Foto’s en selfs videos kan dit nie wys nie – vlermuise van horison tot horison vir 15 tot 20 minute.

        Liked by 1 person

  2. travel460

    Ek het nou te heerlik hier gelees. Daar is darem niemand wat ń lang lewend kan maak soos iemand wat al ń ruk lank daar bly nie. Dankie vir die deel van ń stukkie van jou hart, Thulana. Hoop julle het ń goeie reis huistoe.

    Liked by 2 people

    Reply
  3. monicahaddad01

    Ai so lekker gelees, my dogter het nou onlangs daar gaan werk vir ‘n week, sy sê daar is klomp Lebanese eetplekke met die heerlikste kos. Sy het baie van Ghana gehou in vergelyking met die ander lande waar sy soms werk. Elke nuwe plek met sy gewoontes maak jou lewe net soveel ryker. LEKKER

    Liked by 2 people

    Reply
  4. Pingback: Laat gaat vir Skillie! | Thulana

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s