Botterblomme en donkiespore


Drie weke na sy haar enigste seun begrawe het, sien Ta’ Ewie die vaal donkie op die kalkrand staan en loer vir haar waar sy met ‘n hand vol Botterblomme stadig aanstap na die hoop sand waarop sy blomme gaan neerlê. Sy het gewonder of daar kuiermense by die volk is, en dit hulle trekdier is wat nuuskierig rondstap. By die graf sien sy bokkerôl van haar vorige botterblomme nie – net donkiespore. ‘Seker maar honger’ dink sy en trek die grafplasie se hekkie styf op knip agter haar.

 

Mieta sê daar is geen niks en niemand aan die kuier by hulle nie – die laaste mense was weke laas hierlangs vir die begrafnis. ‘n Dag later staan die vaal langoor net anderkant die weikamp van haar gaanse, maar staan onseker vas toe sy die kombuis slopemmer uitgooi en die gaanse nader fladder.   Mieta het kom vertel dat Rooi Jan die donkie sien suip het met die skape by die brakwaterpomp, en dat die donkie hinke-pink rondstap.

 

Vir twee weke het Ta’Ewie ‘n paar skywe brood op die gaansweikamp se hoekpaal vir die donkie gelos en met haar sagte stem vir die rondloop donkie vertel hy kan maar nader staan, sy loop ook moeilik na met haar sleg heup.   Een oggend vroeg bring Rooi Jan ‘n blêr hanslam by die plaashuis aan, terwyl sy melk warm maak vir die lam wat nog so skree sien Ta’ Ewie die paar grys langore doodstil en luister by die sinkwasbak se venster. Eers het sy Tone haar brak gaan toemaak in haar slaapkamer en die hanslam op die agterstoep loop voer. Kleintyd het sy op die dorp gesien hoe ‘n donkie ‘n rondloper hond doodskop, en onthou haar Pa het gesê donkies en honne sal nimmers vriende wees, hulle weet beide kompeteer vir mens se beste vriend te wees. ‘Toe die donkie net so vyf treë wegstaan het sy die broodskywe op die rooistoeptrappie neergesit en weggestap om die tevrede lam in die ganshok te gaan toemaak.

 

Lammertyd moet mens regstaan met skoon melktiete en gesteriliseerde koeldrankbottels. Elke keer as Rooi Jan lammers onder die arm aandra, staan donkie nader en bekyk die petalje. Hanslammers gaat so aan die blêr, jy voel kranksinnigheid klop aan jou binneoor. Al om die twee ure, moet warm melk gevoer word. Tyd vir broodsnye uitdeel is min, en Ta’ Ewie raak bewus van die ligte neus stootjie waar die brood al droog word in haar oorrok se sak. Sy staan diep in die donkie se bruin oë en kyk terwyl die donkie uit haar plathand broodvreet. Ta’ Ewie vertel die donkie dat sy na sy hinke-pink sal moet kyk. Daai donkie het doodstil gestaan terwyl ou hande stadig oor sy skouers, boude en pote gly; net ore wat draai en Ta’ Ewie se stem volg. Haar vasvat vingers het speensalf in die draad en doring skrape van die donkievel ingesmeer, steeds het die donkie bly staan. Rooi Jan het swartpik effe opgewarm, terwyl die tante ‘n klip tussen ou droeë modder uit die hoef gekrap het. Ta’ Ewie het die pik laat afkoel en bly vroetel met growwe hande deur die vaal donkiese hare – in die gesels het sy kraak in die donkie hoef toegesmeer.

 

Aanvanklik het sy gedink hy volg haar grafplaas toe omdat sy padlangs Botterblomme pluk, maar die donkie het aandagtig geluister hoe sy daar in die rooisand tussen haar oorle man en seun se grafte sit en plaasnuus vertel. Ta’ Ewie kan nie meer onthou wanneer het die donkie bly vassteek by die hanslammers nie. Toe die tyd aanbreek vir die lammers om veld toe te gaan, het die donkie saam gegaan, en elke aand het die donkie en hanslammers teruggekom skaapkraal toe. Rooi Jan het kom vertel hoe die donkie ‘n groukat met sy hoewe platgekap het en Jakkalse word verjaag. Rooi Jan weet as hy daai donkie in die vertes hoor balk, moet hy uitgooi lammers loop optel. Ta’ Ewie stap elke einde van die dag uit en gaan deel die dag-se-nuus met die donkie wat so ietsie uit haar plathand eet. Mieta kan nie onthou wanneer laas Ta’ Ewie gaan Botterblomme neersit het in die grafplaas nie.

 

Elke slag wat Ta’ Ewie uitry Mariental se kant toe, kom sy terug en kry donkiespore voor die kombuisvenster, en sien al die botterblomme plaashek se kant toe is weggevreet.

11 thoughts on “Botterblomme en donkiespore

  1. HesterLeyNel

    Dis ‘n pragtige storie (wat ek vermoed ‘n ware gebeurtenis is). Donkies is merkwaardige diere en sommige mense het die slag om met diere om te gaan. Ek verlang nou sommer terug na my kinderdae toe donkies in en rondom die dorp ‘n algemene gesig was.

    Like

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s