Kat te huur…


In Lusaka woon ons net buite die Stad, uit op ‘n plaaspad.  As jy hierlangs noem jy woon op ‘n uitdraaipad vanaf ‘Leopardshill pad’, kan jy sien hoe almal se koppies kliek-kliek. Hulle wonder of jy ‘n perde fanatikus is; hulle wonder of jy padkos moet pak wanneer jy pendel tussen die dorp en huis.  Party dink as jy verder op ons pad uitry, sal jy oor die Wêreld se platrant afval.  Die Wêreld hierso is mos maar plat, maar dink daaraan, as dit werklik plat was, sou katte alles reeds oor die rant afgeklap het…

Vanoggend draai ek weer van die pad af, verby Lusaka se begrafplaas en draai af by Petroda vulstasie en stop voor die Nakatomi Hardewarewinkel.  Nog voordat ek die winkel kan binne gaan roep ek: ”wietsie – wietsie” met sulke oordrewe sis-geluide.  ‘n Vaal gemmerkat wip grasieus vanaf die rak; land in die kruiwa, glip verby ‘n rol draad en dy haarself om-en-om my bene. 

Sy’s ‘n vriendelike warm lyfie. Ek voel haar prrrrr tussen die krap en vroetel deur.  Hierdie kat sal enige iemand se hart laat smelt.  Daar is geen einde aan die aandag wat sy uitdeel nie.  Om-en-om draai en glip sy deur my hande.  Sy’s nie te maer nie, en beslis nie dik nie.  Net reg, met ‘n mooi pels wat nie hare afgee nie.

Die eienaar stap van agter die toonbank deur en laat weet gelate “Aah, Belinda is terug!” Ek groet , met die hand, en dan staan hy terug met sy hande in sy sye.  Hy kyk liefdevol na sy kat en gesels land en sand met ‘n lag in sy stem. 

Sien elke jaar verhuur Bwalya, die eienaar van die hardewarewinkel sy vaal gemmerkat Belinda, uit aan die gymnasium, net 2km verder af in die pad.  Gewoonlik vertoef Belinda so 3-weke totdat die mense van die gymnasium reken hulle muisprobleem is weer onder hande.  Hoekom vat Belinda nie die pad terug huistoe nie? Ek reken dis omdat sy ‘n meester muisvanger is, en haar verlustig in haar taak van muisvang.  In my verbeelding, sien ek haar geduldig wag voordat sy ‘n vet grys veldmuis van kant maak.  In my opinie sal sy nie net die muis vang nie, maar in klein biltong-repies skeur en smaaklik opvreet.

Belinda the cat, with Bwalya the owner of the hardwarestore
Belinda die kat, saammet Bwalya einaar van die Hardewarewinkel.

“Wat betaal mens vir die huur van ‘n kat?” wonder ek. Duh, ek gaan nie betaal vir iets wat ek self kan doen nie – vir goete soos grassny, of ‘n kamer in ons huis uitverf, maar daar is vele rykgatte wat betaal vir onbenullige goeters wat hulle self kon doen. Goete soos muise uitroei.  Mense wat self hulle eie hare sny, om geld te spaar, sal nie vir kathuur betaal nie.  Ander sal eerder ‘n boksie koop, 4x AA-batterye inprop en lok die muis met kos in die boksie in, wat automaties toeklap. Maar nou ja, by inspeksie van die toeklapboksie, dan loer twee pienk ogies vir jou, en dít maak jou ‘n muismoordenaar.   As daai boksie die muis ‘n 12 volt pynlose doodskok as bonus wou gee – whoopee ja dan koop ek ook die boksie!  As ek diep daaraan dink – sal ek ‘n kat in my skoot vertroetel, maar nie die muisvangboksie nie.

Natuurlik verstaan ek dat daar hope mense is met een of ander kathaar allergie, maar mens kan sekerlik vir twee weke antihistamine pille sluk om van die muisprobleem ontslae te raak?

Sou daai huurkat vryerig wees, sal ek nie die vry-kat wil teruggee nie.  Ek wonder of mens kan kyk na ‘n huur met die opsie om aan te neem? Muisvalle wat toeklap kom lewer ook nie die dooie muis-geskenk voor jou voete af nie.  Mens moet sekerlik op een of ander manier moet kan meet of jy waarde vir jou geld kry  – jy het immers betaal vir die huurkat?

Belinda is nie enig in haar soort nie.  Ek lees op die Internet dat mens gratis ‘n kietiekat kan huur in London: https://www.mylondon.news/lifestyle/mouse-problem-rent-a-cat-free-rid-9130942 en daar is nogals ‘n app waar mens kan kies en keur tussen “mousers”. Op hierdie stadium weet ek nie van ‘n ander huurkat in Lusaka nie, maar dis ‘n positiewe wegspring op Ghana, waar katte in die kospotte en spyskaarte beland! 

Die res van haar dae lê Belinda, soos elke ander winkelkat, lekker in die sonnetjie wat deur die venster val. Almal ken haar, sy drafstap deur die Apteek en Supermark wat in dieselfde sentrum is. Almal, van die winkeleienaars, sekeuriteitswagte en kliënte ken haar op die naam. Oppad dorp toe, stop ek gereeld en sê eers vir Belinda “hallo” onder die vaandel van kammetag ietsie soek in die hardewrewinkel. Hier en daar het ek al van my vriendinne gaan voorstel aan Belinda, en lekker geskaterlag vir hulle reaksie op die vriendelike muisvanger van formaat.

Al ons ontluikende entrepreneurs kan sommer nóú reeds aan die werk spring – skryf daai selfoon app! Bid jou aan; eersdaags hou ‘n motorfiets voor jou deur stil om jou “Huurkat” af te lewer, knus verpak in ‘n Kietiekat-reisboks – net soos kitskos wat met ‘n app bestel word…

“Huurkat” aflewering, knus verpak in ‘n Kietiekat-reisboks

17 thoughts on “Kat te huur…

  1. vvuureoc

    Ons eerste chow chow “Adoons” het my laat lekker lag. Een dag toe ons gaan stap het daar ‘n kat uit een van die huise se heining gestorm feitlik reg onder sy pote in. Daar staan hy met die kat po sy rug sy bek om haar keel en die vier pose wat lyk soos ‘n mal dormasjien soos hulle probeer krap. Ongelukkig vir die kat kon diepote niks erger regkry as om die dik dubbel laag hare op sy maag effens te kam nie. Ek moes sy aandag aftrek ek toe ky los is die kat soos weerlig terug in sy erf in!

    Liked by 1 person

    Reply
    1. Daniël Bezuidenhout Post author

      Is dit nie weird hoe sommige katte gek is na honde, en ander katte honde lewenslank as die vyand sien? Byt chows? Is hulle enigsins aggressief? Of is hulle maar net soos hulle lyk – soos Teddybere?

      Like

      Reply
      1. vvuureoc

        Chow chows in my ondervinding byt nie maar hulle beskerm wel hulle werf teen katte, eekhorings en geveerde gevare.maar dir loop meestal af op ‘n jaagtog en ‘n uitskel uit.Hulle is baie liefdevol. Ons een dwaal die hele Maandag oggend rond omdat sy “mens-ma” by die skool is. Ek vermoed hy sal tot moord in staat wees as iemand haar iets probeer aandoen,

        Like

    1. Daniël Bezuidenhout Post author

      Wat as daai kat nie mooi toiletmaniere geleer is nie? Of besluit my gordyne is perfek vir sy naels skerpmaak? Of heeltyd op my kombuiskaste of tafel spring sodra ek kosmaak….oh wei, dit sal nie mooi afloop met my nie. Maar ai, as daai kat net effe liefies is – dan sal ek daai kat wil hou, vir altyd!

      Like

      Reply
    1. Daniël Bezuidenhout Post author

      Hester, ek voer skelm my buurvrou se kat…alhoewel ek nie te skuldig voel oor die skelm gedeelte nie. As daai kat genoeg gehad het by sy eie huis om te eet, dan het hy mos nie hier kom kos soek nie? Miskien is dit tyd om jou eie kat te kry?

      Liked by 1 person

      Reply
    1. Daniël Bezuidenhout Post author

      Ek vrek oor haar. Sy het een keer ‘n hele drie maande gebly by die Gymnasium. Aan die anderkant wonder ek hoe haglik moet daardie Gymnasium met sy muisprobleem wees? Die gymnasium is letterlik net 2km verder af in die pad… sy kon enigertyd net weer huistoe gestap het, maar daai muisvangery moet darem net te lekker wees!

      Liked by 1 person

      Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s