Category Archives: Expat Living

Botterblomme en donkiespore

Drie weke na sy haar enigste seun begrawe het, sien Ta’ Ewie die vaal donkie op die kalkrand staan en loer vir haar waar sy met ‘n hand vol Botterblomme stadig aanstap na die hoop sand waarop sy blomme gaan neerlê. Sy het gewonder of daar kuiermense by die volk is, en dit hulle trekdier is wat nuuskierig rondstap. By die graf sien sy bokkerôl van haar vorige botterblomme nie – net donkiespore. ‘Seker maar honger’ dink sy en trek die grafplasie se hekkie styf op knip agter haar.

 

Mieta sê daar is geen niks en niemand aan die kuier by hulle nie – die laaste mense was weke laas hierlangs vir die begrafnis. ‘n Dag later staan die vaal langoor net anderkant die weikamp van haar gaanse, maar staan onseker vas toe sy die kombuis slopemmer uitgooi en die gaanse nader fladder.   Mieta het kom vertel dat Rooi Jan die donkie sien suip het met die skape by die brakwaterpomp, en dat die donkie hinke-pink rondstap.

 

Vir twee weke het Ta’Ewie ‘n paar skywe brood op die gaansweikamp se hoekpaal vir die donkie gelos en met haar sagte stem vir die rondloop donkie vertel hy kan maar nader staan, sy loop ook moeilik na met haar sleg heup.   Een oggend vroeg bring Rooi Jan ‘n blêr hanslam by die plaashuis aan, terwyl sy melk warm maak vir die lam wat nog so skree sien Ta’ Ewie die paar grys langore doodstil en luister by die sinkwasbak se venster. Eers het sy Tone haar brak gaan toemaak in haar slaapkamer en die hanslam op die agterstoep loop voer. Kleintyd het sy op die dorp gesien hoe ‘n donkie ‘n rondloper hond doodskop, en onthou haar Pa het gesê donkies en honne sal nimmers vriende wees, hulle weet beide kompeteer vir mens se beste vriend te wees. ‘Toe die donkie net so vyf treë wegstaan het sy die broodskywe op die rooistoeptrappie neergesit en weggestap om die tevrede lam in die ganshok te gaan toemaak.

 

Lammertyd moet mens regstaan met skoon melktiete en gesteriliseerde koeldrankbottels. Elke keer as Rooi Jan lammers onder die arm aandra, staan donkie nader en bekyk die petalje. Hanslammers gaat so aan die blêr, jy voel kranksinnigheid klop aan jou binneoor. Al om die twee ure, moet warm melk gevoer word. Tyd vir broodsnye uitdeel is min, en Ta’ Ewie raak bewus van die ligte neus stootjie waar die brood al droog word in haar oorrok se sak. Sy staan diep in die donkie se bruin oë en kyk terwyl die donkie uit haar plathand broodvreet. Ta’ Ewie vertel die donkie dat sy na sy hinke-pink sal moet kyk. Daai donkie het doodstil gestaan terwyl ou hande stadig oor sy skouers, boude en pote gly; net ore wat draai en Ta’ Ewie se stem volg. Haar vasvat vingers het speensalf in die draad en doring skrape van die donkievel ingesmeer, steeds het die donkie bly staan. Rooi Jan het swartpik effe opgewarm, terwyl die tante ‘n klip tussen ou droeë modder uit die hoef gekrap het. Ta’ Ewie het die pik laat afkoel en bly vroetel met growwe hande deur die vaal donkiese hare – in die gesels het sy kraak in die donkie hoef toegesmeer.

 

Aanvanklik het sy gedink hy volg haar grafplaas toe omdat sy padlangs Botterblomme pluk, maar die donkie het aandagtig geluister hoe sy daar in die rooisand tussen haar oorle man en seun se grafte sit en plaasnuus vertel. Ta’ Ewie kan nie meer onthou wanneer het die donkie bly vassteek by die hanslammers nie. Toe die tyd aanbreek vir die lammers om veld toe te gaan, het die donkie saam gegaan, en elke aand het die donkie en hanslammers teruggekom skaapkraal toe. Rooi Jan het kom vertel hoe die donkie ‘n groukat met sy hoewe platgekap het en Jakkalse word verjaag. Rooi Jan weet as hy daai donkie in die vertes hoor balk, moet hy uitgooi lammers loop optel. Ta’ Ewie stap elke einde van die dag uit en gaan deel die dag-se-nuus met die donkie wat so ietsie uit haar plathand eet. Mieta kan nie onthou wanneer laas Ta’ Ewie gaan Botterblomme neersit het in die grafplaas nie.

 

Elke slag wat Ta’ Ewie uitry Mariental se kant toe, kom sy terug en kry donkiespore voor die kombuisvenster, en sien al die botterblomme plaashek se kant toe is weggevreet.

Advertisements

Nee nie ekke nie

So gister stap hierdie ou in die koffiewinkel in, seker 10minute gelede uit die bed gerol. Hare staan in elke rigting, en gister se baard op sy ken.

“Koffie, seblief”, bestel hy by die kelnerin wat verby hom skuif terwyl hy ‘n oop sitplek soek.

Ek staar openlik na sy donkerblou T-hemp. Miskien meer direk na die woorde wat duidelik leesbaar is oor sy bors.

Ek bars kliphard uit van die lag en almal òm my volg my blik en lag saam.

Duidelik het hy ‘n goeie sin van humor!

Beslis nie ‘n t-hemp wat ek ooit wil dra nie- maar party dae weet ek presies hoe hy voel!

‘n Vrystater en sy blom

 

Helsinki is so groot soos Windhoek – net heelwat platter en natuurlik is daar ‘n bedrywige seefront. My Vrystaatman en ek reis en kuier gemaklik saam, totdat hy honger en dorstig word. Almal weet wanneer jy reis kan jy óf lekker slaap, óf lekker eet, maar as mens in ‘n vreemde land beide kan aanvang, is die lewe ‘n lied!

 

Die Vereenigte Nasies het Finland onlangs benoem as die ‘Gelukkigste land in die Wêreld’. Ek dink hulle het iets daar beet. Helsinki, Finland se nuwe hoofstad is ‘n bont kusdorp met sprokieagtige rotseilande en reuse groen parke. Die stad het ‘n kalm ritme en terselfdertyd ‘n vervrissende hoeveelheid van kwaliteit restaurante en winkels.

 

Op reis krap ons ou geskiedenis brokkies uit, soek na lokale restaurante se aardse tradisionele kos, en wandel in strate waarin mens vrylik kan afstap sonder ‘n gestamp en stoot. Gewoonlik bespreek ons ‘n woonplek net buite ‘n groot stad, want eintlik is ons kleindorpie mense.

 

Dit is hoogsomer in Finland, met 18-ure se daglig per dag. Almal is uitbundig op straat. helsinki - magic bubblesMense loop en roomys eet in 16-grade se weer, hulle Somerweer is onse Winter temperature. Ons besluit om effe oefening te kry en op die grootste marine fort in die wêreld te gaan verken. Nie net is dit ‘n raaiselagtige bondel van 6-rotsagtige eilande nie, maar ook ‘n hedendaagse moderne militêre museum en woonplek vir sowat 800 Finne wat woon in bont hout huisies.

Screen Shot 2018-07-12 at 11.36.46

Vir dieselfde koste as ‘n busrit in die dorp, onderneem ons vroeg oggend ‘n 20-minute rit per pont na Suomenlinna. Die helfte hiervan werk in Helsinki en hulle reis per pont heen-en-weer. Elke 30-minute vertrek en arriveer die pont met plek vir 2 motors, heelwat fietse en sowat 100 mense.

Screen Shot 2018-07-12 at 11.37.36

‘n Paar uitbundige Britte wat baie dapper aangetrek is, reis ook op ons pont oor die Baltiese see. Een jong mannetjie in besonder is effe groen om die kiewe, en hy is die fokuspunt van die oliekop fotograaf naby hom. Ons lei af dis sy troudag, uiteraard is die ou klipkerk ‘n romantiese plek om die knoop deur te haak.

Screen Shot 2018-07-16 at 09.39.34

 

Op die grootste eiland is ‘n enorme Klip Kasteelfort gebou in rots, wat gedien het as fort om Finland te beskerm teen die Russe se inval.

Screen Shot 2018-07-12 at 11.36.58

Die mure is verskeie meters dik, vol donker vertrekke wat almal verbind met verskeie nou gange.

Vandag is dit ‘n UNESCO Bewarings gebied, maar tot onlangs in 1991 was dit ‘n Finse militêre opleidingskool en basis. Toeriste en Finne het heeldag toegang tot die Kasteel se tonnels, sale, brûe, monumente, tuine, paradegronde, en ons het onbepland ure hier deurgebring. Hierdie Kasteelfort is gebou in 1748, opgebom, herstel en goed onderhou, daar is iets vir oud en jonk, – massiewe ou kanonne, ‘n herstelde duikboot, ringmure en die strategiese uitkykpunte is erg indrukwekkend.

Screen Shot 2018-07-12 at 11.41.53Orals is knus klein huis restaurantjies wat lokale disse offer, koffiewinkels en piekniekmandjies en tafeltjies onder koeltebome.

 

Screen Shot 2018-07-12 at 11.36.11

 

Dis geen sports om net op die aangewese paadjie te bly stap nie, en ons drentel soos stout kinders weg van die toeriste pyltjies en aanwysingbordjies. Ons het selfs ‘n ou fabriek ontdek waar vliegtuie en gemotoriseerde yssleë vir 15 jaar gebou was. Inwoners se fietse leun teen ou houtdeure, lokale mense kom en gaan onverstoord aan met hulle daaglikse gang, en speel krieket op ‘n ou militêre paradegronde.

 

Gou bevind onsself op die rant van die eiland met ‘n asemrowende uitsig, omring met magrietblommetjies en reuse klippe oortrek met groengras. By nadere ondersoek besef ons dit is lokale kabouteragtige huisies wat soos molshope onder die grond ingebou is, met ‘n enkele ronde venster en houtdeur.

This slideshow requires JavaScript.

Noudat ons fyner kyk ontdek ons oorgroeide rots buite mure van die fort, ou ysterbeslane deure wat jare reeds geslote staan. Ai as ou murasies hulle geheime kon fluister. Kanonoorlog was die doodslag van alle ou kastele, en hier wou ek beslis nie in ‘n fort se muur of ondergronds gewoon het toe die Russe wel in 1855 die fort ingeval het nie.

 

 

Deur die loop van die dag het ek myself lepeloog verkyk aan die fotosessies van vele bruidspare wat orals besig was om herinneringe op film vas te lê. Die jong Britse bruidegom op die pont het uitbundig sy bruid soos ‘n veertjie deur die lug geswaai en haar op-en-af oor die houtdek gedra op aandrang van hulle fotograaf.

 

Swak enkels, stywe knieë en knik-heupe hou nie op daardie oneweredige klipsteen paadjies nie, volgende keer huur ons ‘n fiets! Orals langs die waterkanale is kindertjies besig om gaanse en eende met broodstukke te voer. Sommiges speel frisbie en ander skop ‘n sokkerbal rond. Honde en stoorwaentjies met mense op komberse en wilde blomme in die hare is orals oor die eiland.

This slideshow requires JavaScript.

Geen piekniek is kompleet sonder ‘n smaaklike vleisie en biertjie nie. ‘n Mens moet die brouery op die eiland ondersteun as die dorstigheid jou oorval; daar en dan, kommapunt die Vrystater en sy blom, met ‘n koue biertjie en wilde vleis – en die lewe is ‘n lied!

Screen Shot 2018-07-16 at 09.49.43

Onse mense en die Finne het vleistande in gemeen, hulle eet graag wildsvleis soos takbok en wildebosbeer en vis.

Die Soet en Suur van Ghana

Verandering is die mees konstante ding in onse lewens. In Akkra het ons kontrak uurglas dan nou ook leeggeloop. Na ses en ‘n half jaar weg uit Namibië, staan ek en my Vrystaatman met drie koffertjies op die lughawe. Voor ek op die aerie klim huistoe, besin ek oor ‘n paar goete van Akkra wat ek sal mis, en ander wat ek geensins weer wil beleef nie.

Goete wat kan verby hou

Muskiete

Langenhoven en ek, het ons muskiete-haat in gemeen. In Ghana vreet muskiete jou letterlik lewendig op, jy spuit en smeer anti-muskiet goete, en dae later stress jy jou vrek oor Malaria. Malaria is so algemeen soos witbrood, uiters gevaarlik, self dodellik. Hierlangs lyk die muskiete asof hulle WP-streepsokkies dra; hulle vlie soos hommeltuie, stadig en lui, en laat ‘n teelepel se bloedvlek as jy hom platklap. Gee my die muggie muskiete tuis wat so dan en wan; hier en daar ‘n bloedmonstertjie vat.

Koebaai sê

Oor die algemeen kom werk die meeste uitgewekene kontrakwerkers in Akkra vir twee- tot drie-jaar. Die gevolg is dat sodra jy iemand goed leer ken, vat hulle weer die pad en ‘n mens bly vasgeval in hallo-sê en koebaai-sê. Vir ‘n paar maande beloer jy hulle op sosiale media, en dan stap die lewe aan en torring die vriendskap draadjie los. Die al ewige Koebaai-sê, dít sal ek nie mis nie.

Burokrasie

Burokrasie is oorgeërf in Ghana vanaf die Britse Koloniale, maar Ghanese het dit verfyn en is vasgespinneweb daarin. Ons staatsdiens se rompslomp lyk soos ‘n 10-stuk legkaart as jy dit wil vergelyk met Ghanese-werksvisas, Ghana id-kaarte en bestuurslisensie aansoeke.

Bakhande

Vyf-minute vanaf die lughawe klop-klop die eerste bakhandjie reeds aan jou venster. Aanvanklik sien jy die wesentjie nie raak as jy uit jou venster kyk nie, maar tjokkertjies net groter as wielgroote, lames op skaatsplanke en halwe mense in rolstoele bedel tussen die voertuie. Trosse en bondels bedelaars kom na Akkra, voel my nuwes land aan, elke naweek. Mens se hart word later klip, en dit gaan baie lank neem om van die dowwe kyke en behoeftigheid te vergeet.

Wisselvallige internet

My Vrystaatman weet as hy tuiskom en ‘n swartwolk hang oor my gemoed, dat die internet konneksie gedood het. Ons mis uit op nuus van babageboortes en laataand skakel my dogter met ‘n piepstemmetjie en vra hoekom ons nie haar studente noodkrete antwoord nie. Jy betaal peperduur vir meer as een internet verskaffer, want almal se kwaliteitdiens is ewe wisselvallig.

 

Goete wat ek sal mis

Smousgoed koop deur die venster

Menigte middae sit jy in sweet vasgeplak aan die moutersitplek, vasgevang met honderde ander in verkeer. Die voordeel is dat jy sommer so deur die moutervenster inkopies kan doen. Toiletpapier, vars gebakte brood, geroosterde grondbone, vars vrugte en groente, wasgoedseep … noem dit maar op, en iewers sal ‘n straatsmous dit aanbied.

Vriendelikheid

Die deursnit Ghaneen kom min in aanraking met uitlanders so wanneer jy skielik by ‘n verlate boswinkeltjie stilhou, is hulle oorval met skok en agterdog. Ons Engels val hulle vreemd op die oor, en mens moet jouself herhaal, arms swaai en beduie wat jy wil aankoop. Wees geduldig en werk ‘n grappie iewers in, dan word jy beloon met die grootste wittandglimlag, die items word met sorg verpak en selfs na jou mouterkar aangedra. Wanneer jy daar wegry, staan die smous lank so in die middel van die pad en waai koebaai tot jy oor die bult of in die niet verdwyn.

Skatte in die mark

Akkra se middestad is een kookpot van straatsmouse met stalletjies ingeryg soos krale, hier koop jy van ‘n garedraad tot ‘n dooie polisieman. As buiteperd kan jy maklik verdwaal, tussen-in kibbel jy oor pryse, dis bloediglik warm en almal stamp en stoot aanmekaar. Maar Boeta; as jy tydsaam en geduldig jou oë oophou kan jy letterlik skatte uitkrap! Van egte silwerteepotjies tot MAC grimeerstelle, leerstewels, kosbare Singer naaimasjiene, reuse visnette, ragfyn geborduurde tafeldoeke, en die nuutste klankstelsels. Met ‘n goeie kopie voel jy die Heelal se weegskaal het effe na jou kant getiep.

Afrika se Kleure

Kyk, Afrika is nie bang vir kleur nie. Die helder wax-kleurlap is die mooiste bont kleur en patrone – waarvan ek koop-en-koop. ‘n Ewige somer, ses-uur saans se vlermuisvlugte, sonsaktyd se helder kleure van soet pynappel en ryp mangoes maak my dol gelukkig.

 

Natuurlik is daar soveel meer goeie herinneringe wat ons sal koester, goeie vriende wat ons agterlaat, Ghana is vir ewig in my hart ingeëts. Vir eers roep Namibië soos Jakkals laataand na sy maat…

Hand na tand

Natuurlik is daar hope plekke waar mens kan uiteet in Akkra, ‘n reuse verskeidenheid van Nasionaliteite en pryse en als kom neer op hoe vêr mens wil rondrits as jou lus uithang vir aartappel-visballetjies. Met tannie Google byderhand is daar ‘n makliker opsie: vind die resep en oorreed my Vrystaatman hy is ongelooflik sexy in die kombuis. My oorle skoonmoeder het wraggies beide haar seuns handigheid in die kombuis geleer. Iets waarvoor ek haar lewenslank innig dankbaar sal wees. Haar Vrystaatseuns staan g’n treë terug vir ‘n properste kombuis uitdaging nie.

 

Ek is geen bobaas kok nie – maar ek weet hoe om myself met diegene te omring wat ken van bontstaan in die kombuis. Een kyk na my ronde vorm, weet jy sommer ek ken wel van lekker eet. Met hoërskool huishoudkunde en my Ouma se ure se geduld, kán ek gangbare etes opdis en bak wanneer familie kom kuier maar my kobuiskaskenades is beslis uitlewing van verwagting en nie ‘n hartsaak nie.

 

Terug by die aartappel-visballetjies; ek duik in die groenterak rond tussen uie wat weer begin groei het en aartappels met witooguitgroeisels. “Pas gekoop en reeds oud”, sê ek. Maar niks bring my van stryk af nie – ek snipper die skille weg en gee aan sodat als in die resep verwerk kan word. Haal wit seevis uit die vrieskas sodat die vis nuwe lewe kry en rondwip in die pan terwyl dit gaar stoom in melk en botter.

 

Rooiwynglas in die hand, en resep wat vorm aanneem, staan ons en herkou aan die gedagte van Ghanese vrouens wat aartappels en mielies plant word ook Boere genoem? In ‘n olie en goud verrykte land word 50% van hierdie Ghanese ekonomie deur substansie boere aan die gang gehou. Net 5% van al die landbou word kommersieel benut, die res is ‘n hartseer sukkel bestaan vir oorlewing en ‘n vloekskoot as hulle iets kan verkoop wat inkomste genererend is. Menigtal vrouens wat een tot twee akker bewerk, hoop om ten minste 5 sakke per akker, as oes te lewer.

 

Ek steek mos my neus in almal se sake en knoop geselsies aan met vreemdes wat oor my pad kom. Dit is so dat elke tweede persoon buite die groot stede soos Akkra, Kumasie en Tamale, is ‘n bestaansboer.

Screen Shot 2018-03-17 at 16.44.51Deur die bank is almal van hulle iewers met ‘n radiotjie laatmiddag in die sonnetjie besig om aandagtig te luister na Farm Radio, ‘n Internasionale radioprogram wat in lokale tale, jou als leer oor boerdery. Adjoa Kumoa is ‘n so lokale boerin wat na Agro Forum se lokale radioprogram luister. Adjoa vertel sy het aanvanklik ‘sommer orals geplant’, maar dat sy nou in rye plant , minder sade in die grond druk en meer mielies kan oes nadat sy bemesting begin gebruik het. Hierdie jaar het sy dubbel die oes vanuit een akker waar sy voorheen drie akker bewerk het. Sy lag en trek met growwe vinger so swiep-swiep op haar slimfoon; wys haar plaasfotos. Trots staan sy tussen skouerhoogte mielies – en hou een reuse kokoavrug omhoog. Screen Shot 2018-03-17 at 15.40.21Sy het haar foon gekoop met verlede jaar se oes, hospitaalkostes gedek en stuur twee van haar drie kinders skooltoe.

 

Op ons Akkra woonstelstoep het ek ‘n paar pampoenpitte en tamatiepitte in ‘n potplant gedruk. Binne enkele dae het ek behoorlik die reëndans uitgevoer toe ek die groen tweeblaar nekkies deur die potgrond sien druk. Trots het ek fotos geneem en gedroom van my stoep oes en hoe die pampoen en tamaties sou smaak.

Screen Shot 2018-03-17 at 17.22.32Enkele dae later het die pampoen wild en wakker blare gevorm en die rankertjies het orals aan die balkon prieël vasgeklou. Die tamatieplant se blare het in die son geskroei en die plant is na die skadukant geskuif toe die geel blommetjies bod. Ek het sekerlik honderde fotos geneem, en kon nie glo teen watter tempo die plante woeker nie.

Vaderland, wat ‘n terleurstelling toe ek na net een naweek van braai en kuier nie my stoepboerdery onder oë gehad het nie!

 

Een reuse springkaan het homself verlustig in my pampoene, sy makker genooi en die hele karnaval het verwoesting gesaai – en binne drie dae het die pampoenplant swart verkleur en begin vrek.

Screen Shot 2018-03-17 at 17.24.24

Nodeloos om te noem, vermoed ek my Pa se groen vingers is saammet hom graf toe en ek het niks van sy groenigheid geeërf nie. Daar is twee treurige albaster grootte tamaties wat reeds geel verkleur het, en ek oorweeg om die plant uit te pluk as vorm van genade dood.

 

Deesdae probeer ek eerder vars groente en vrugte vanaf straatsmouse en stalletjies aankoop, en sodanig die middelman uitsny. Ek het ‘n heilige respek vir enige boer wat ‘n oes kan lewer, en meesterlike waardering vir sexy kokke wat aartappel-visbolletjies kan optower.

 

** Fotos is vanaf Internet afgelaai

Sing vir ‘n houtpop

 

Vanoggend, toe ek die wasmasjien laai, merk ek ‘n houtpop uitsteek by die skropvrou se oopbek handsak. Nuuskierigheid vat die oorhand en al my maniere vlieg by die deur uit; so loer ek skelmpies hoe lyk husse met lang ore.

 

Al wat ek raaksien is een moeg opgeleeste Bybel en die houtpop. Dis nie sommer so houtpop nie – dis ‘n handgekerfte, platkop ene met ‘n rooistring kraletjies om die middellyf. Heel oggend is ek doenig in die kombuis en betrap myself loer na die houtpop wat my dophou. Teen voormiddag kan ek myself nie meer inhou nie en vra vir Judith-die-skropvrou wat maak sy met die houtpop wat halflyf uit haar handsak hang.

 

Eers is Judith half skaam maar nadat ons elkeen met teebeker in die hand staan en slurp, kom Judith met die houtpop se storie uit.

 

Judith is anderkant van dertig en sy dink dis tyd om ‘n kind te kry. Nou het sy my volle aandag – want ek weet – sy’s nie verlief, verloof of getroud nie. Soos ek die storie vooruit loop, moet iemand haar die bytjies en blommetjies storie vertel.

 

Maar ek staan haar oopbek en aangaap; sy vertel sy is na haar stat se medisyneman wat ná ‘n ritureel vir haar die fertiliteits pop gegee het.

 

Slaat my met ‘n nat vis! Ek is te bang my baie vrae oor die ritureel skrik haar af van haar popstorie, dat ek omtrend verstik soos ek tee opslurp. My kop loop Kaapse draaie met my soos ek wonder.

 

“Nou wat maak jy met die pop? “ wil ek weet. Judith haal haar bontlap uit en wys my hoe sy die pop op haar rug knus vasdraai sodat sy dit kan abba en in privaatheid saamdra. “Seker maar hoekom die kop so plat is, om beter weg te steek”, sê ek. Nee, dis eintlik spesifiek vir mooigeit – sy wys die hoë voorkop en die rondgeit van die kop beloof ‘n slim baba. Sy beskryf die prag van amandelvorm oë, en die halfmaan wenkbroue en die fyn besnyde neus – elke moeder se droombaba. Judith hou die popkop sag in die holte van haar hand en wys dat die houtpop ook speel-speel gevoed kan word. Teen die tyd staar ek met koue beker tee in die hand en vat-vat aan die koue kombuisblad sodat ek weet ek droom nie.

 

Sy wys dat die pop aan die slaap gesus word en ook gebad word net soos ‘n regte baba. Ek trek my oë op skrefies en vra onoortuig of die houtpop dan ‘n naam het. Natuurlik! Hierdie pop is ‘n eg Ashanti fertiliteitspop, genoem “Akua ‘ba” wat beteken ‘meisie gebore op ‘n Woensdag, se kind’. Gedoriewaar, ek is onseker of sy gatvat met hierdie storie, maar sy bekyk die platkoppop met diepe deernis.

 

Hierdie is die meeste wat ek Judith ooit hoor gesels het – seker iets van hoe ek haar aangaap, besluit sy dis genoeg en woeps, droog haar storie op.

 

Na-middag hoor ek haar neurie en sing terwyl sy in die agterkamer stryk. In die gang merk ek op, die pop is vasgebind op die rug – noudat die popstorie op die lappe is, kan pop-se-kind openlik in lap rondgedra en voor gesing word.

 

Ek verwonder my aan hoe onkundig ek is oor die kultuur van Ghana se mense. Op die internet lees ek die houtpoppe is sedert toet se jare deur vrouens in die familie aan hulle dogters en agtersate aangegee. Soms word ‘n pop rondgedra tydens die swangerskap om ‘n gesonde baba te verseker. Partykeer word die houtpop weer teruggegee aan die medisyneman, of in die huis as dekorasie uitgestal wat die gesondheid van kinders beskerm. Hoe dit ookal sy, hierdie stukkie kultuur het sy oorsprong diep in Afrika, lank voordat die sendelinge die Bybel hierlangs kom versprei het. Hierdie poppe word net in Ghana gevind, maar is nie algemeen in die markte verkrygbaar nie. Toeriste koop ten duurste hierdie Ghana poppe as stukkie egte Afrika kuns.

Screen Shot 2018-02-13 at 16.34.04

foto vanaf internet

Skielik sien ek Judith in ‘n ander lig. Sy het ‘n lang plan vir haar toekoms. In Afrika, as sy na dertig kan bewys dat sy wel vrugbaar is, en kinders baar, is dit heelwat makliker om man te vang.

 

Met haar houtpop knus toegewikkel, is Judith is die ene lipstiek en rooswater oppad huistoe!

 

Miskien het iemand al vir haar die bytjie en blommetjies storie vertel?