Category Archives: Zambia

Kat te huur…

In Lusaka woon ons net buite die Stad, uit op ‘n plaaspad.  As jy hierlangs noem jy woon op ‘n uitdraaipad vanaf ‘Leopardshill pad’, kan jy sien hoe almal se koppies kliek-kliek. Hulle wonder of jy ‘n perde fanatikus is; hulle wonder of jy padkos moet pak wanneer jy pendel tussen die dorp en huis.  Party dink as jy verder op ons pad uitry, sal jy oor die Wêreld se platrant afval.  Die Wêreld hierso is mos maar plat, maar dink daaraan, as dit werklik plat was, sou katte alles reeds oor die rant afgeklap het…

Vanoggend draai ek weer van die pad af, verby Lusaka se begrafplaas en draai af by Petroda vulstasie en stop voor die Nakatomi Hardewarewinkel.  Nog voordat ek die winkel kan binne gaan roep ek: ”wietsie – wietsie” met sulke oordrewe sis-geluide.  ‘n Vaal gemmerkat wip grasieus vanaf die rak; land in die kruiwa, glip verby ‘n rol draad en dy haarself om-en-om my bene. 

Sy’s ‘n vriendelike warm lyfie. Ek voel haar prrrrr tussen die krap en vroetel deur.  Hierdie kat sal enige iemand se hart laat smelt.  Daar is geen einde aan die aandag wat sy uitdeel nie.  Om-en-om draai en glip sy deur my hande.  Sy’s nie te maer nie, en beslis nie dik nie.  Net reg, met ‘n mooi pels wat nie hare afgee nie.

Die eienaar stap van agter die toonbank deur en laat weet gelate “Aah, Belinda is terug!” Ek groet , met die hand, en dan staan hy terug met sy hande in sy sye.  Hy kyk liefdevol na sy kat en gesels land en sand met ‘n lag in sy stem. 

Sien elke jaar verhuur Bwalya, die eienaar van die hardewarewinkel sy vaal gemmerkat Belinda, uit aan die gymnasium, net 2km verder af in die pad.  Gewoonlik vertoef Belinda so 3-weke totdat die mense van die gymnasium reken hulle muisprobleem is weer onder hande.  Hoekom vat Belinda nie die pad terug huistoe nie? Ek reken dis omdat sy ‘n meester muisvanger is, en haar verlustig in haar taak van muisvang.  In my verbeelding, sien ek haar geduldig wag voordat sy ‘n vet grys veldmuis van kant maak.  In my opinie sal sy nie net die muis vang nie, maar in klein biltong-repies skeur en smaaklik opvreet.

Belinda the cat, with Bwalya the owner of the hardwarestore
Belinda die kat, saammet Bwalya einaar van die Hardewarewinkel.

“Wat betaal mens vir die huur van ‘n kat?” wonder ek. Duh, ek gaan nie betaal vir iets wat ek self kan doen nie – vir goete soos grassny, of ‘n kamer in ons huis uitverf, maar daar is vele rykgatte wat betaal vir onbenullige goeters wat hulle self kon doen. Goete soos muise uitroei.  Mense wat self hulle eie hare sny, om geld te spaar, sal nie vir kathuur betaal nie.  Ander sal eerder ‘n boksie koop, 4x AA-batterye inprop en lok die muis met kos in die boksie in, wat automaties toeklap. Maar nou ja, by inspeksie van die toeklapboksie, dan loer twee pienk ogies vir jou, en dít maak jou ‘n muismoordenaar.   As daai boksie die muis ‘n 12 volt pynlose doodskok as bonus wou gee – whoopee ja dan koop ek ook die boksie!  As ek diep daaraan dink – sal ek ‘n kat in my skoot vertroetel, maar nie die muisvangboksie nie.

Natuurlik verstaan ek dat daar hope mense is met een of ander kathaar allergie, maar mens kan sekerlik vir twee weke antihistamine pille sluk om van die muisprobleem ontslae te raak?

Sou daai huurkat vryerig wees, sal ek nie die vry-kat wil teruggee nie.  Ek wonder of mens kan kyk na ‘n huur met die opsie om aan te neem? Muisvalle wat toeklap kom lewer ook nie die dooie muis-geskenk voor jou voete af nie.  Mens moet sekerlik op een of ander manier moet kan meet of jy waarde vir jou geld kry  – jy het immers betaal vir die huurkat?

Belinda is nie enig in haar soort nie.  Ek lees op die Internet dat mens gratis ‘n kietiekat kan huur in London: https://www.mylondon.news/lifestyle/mouse-problem-rent-a-cat-free-rid-9130942 en daar is nogals ‘n app waar mens kan kies en keur tussen “mousers”. Op hierdie stadium weet ek nie van ‘n ander huurkat in Lusaka nie, maar dis ‘n positiewe wegspring op Ghana, waar katte in die kospotte en spyskaarte beland! 

Die res van haar dae lê Belinda, soos elke ander winkelkat, lekker in die sonnetjie wat deur die venster val. Almal ken haar, sy drafstap deur die Apteek en Supermark wat in dieselfde sentrum is. Almal, van die winkeleienaars, sekeuriteitswagte en kliënte ken haar op die naam. Oppad dorp toe, stop ek gereeld en sê eers vir Belinda “hallo” onder die vaandel van kammetag ietsie soek in die hardewrewinkel. Hier en daar het ek al van my vriendinne gaan voorstel aan Belinda, en lekker geskaterlag vir hulle reaksie op die vriendelike muisvanger van formaat.

Al ons ontluikende entrepreneurs kan sommer nóú reeds aan die werk spring – skryf daai selfoon app! Bid jou aan; eersdaags hou ‘n motorfiets voor jou deur stil om jou “Huurkat” af te lewer, knus verpak in ‘n Kietiekat-reisboks – net soos kitskos wat met ‘n app bestel word…

“Huurkat” aflewering, knus verpak in ‘n Kietiekat-reisboks

Wag, ekke was nog nie reg nie!

Matewis is ‘n lui swart kat met ‘n selfdood geneigdheid wat met ‘n dik streep getrek is. Hy gaan lê vir die lekkerte in die drom van ons wasgoedmasjien, en die dag gaan kom wanneer hy nog daar binne is as die deur toeklap en ek die masjien aanskakel.

As ek nou Matewiskat was – het my aanskakel dag gekom.

Net die ander dag was ek soos onse Matewiskat – lekker snoesig in my lekker lêplek, salig en snoesig onbewus van ‘n masjien wat aangeskakel sal word… My lêplek was Swakopmund, die kusdorpie daarlangs die Namib se koue seë, lekker snoesig. Swakop met sy koffiewinkels en palmbome waar mens talm, wynglas-in-die-hand, vir sonsondergange kyk, laaaank na die son al gesak het, nog kyk en kyk. Die masjien was my man wat weer ‘n konsultasiekontrak aangebied is, ja, woerts daa gaat ons!

Aanvanklik sou hy vir 6-9 maande gou ietsie hier kom regtrek het, maar die Vrystaatman van my is mos deugsaam, en siedaar. Nou het hy vir 2-3 jaar kontrak geteken, en besef ek – eeeek, EK WAS NOGGIE REG NIE! ‘n Paar maande, daarvoor was ek reg, maar ‘n paar jaar is ‘n helemaal ander kopskuif. Mens is so effe uit jou ritme as ‘n trek so skielik oor jou kom. Aan die anderhand is ek diep dankbaar want my Vrystaatman het vernuwe vonk met die nuwe werk, yay!

Kyk hierdie is mos nou nie onse eerste trippie as expat in Afrika in nie, ek skuif nie meubels nie – die plek waar ons woon is reeds gemeublieër, en my man het ‘n driepootpot en braai-ding gaan koop wat reeds op ie stoep staan. Ek het ‘n piep klein waterdruppel grootte moutertjie aangekoop – iemand in Japan se opgeryde moutertjie – so nóú! Nou gaat ek uitbars en alles uitsnuffel en ondersoek.

Drie maande later en ek voel vanoggend vir die eerste keer effe ingeburger hier in Lusaka, Zambië. My koffie proe sommer weer lekker, ek dans oor gladde vloere op my playlist , ek glimlag vir vreemdes in Lusaka, en saans verkyk ek my aan dieselfde sterre wat skyn oor die Namib. Mens kan dié plek ook liefkry.

Dis tyd om weer myself te wees, simpel, nuuskierig, goedhartig en soos Matewiskat, effe ‘anders’.