Category Archives: Living in Africa

Kat te huur…

In Lusaka woon ons net buite die Stad, uit op ‘n plaaspad.  As jy hierlangs noem jy woon op ‘n uitdraaipad vanaf ‘Leopardshill pad’, kan jy sien hoe almal se koppies kliek-kliek. Hulle wonder of jy ‘n perde fanatikus is; hulle wonder of jy padkos moet pak wanneer jy pendel tussen die dorp en huis.  Party dink as jy verder op ons pad uitry, sal jy oor die Wêreld se platrant afval.  Die Wêreld hierso is mos maar plat, maar dink daaraan, as dit werklik plat was, sou katte alles reeds oor die rant afgeklap het…

Vanoggend draai ek weer van die pad af, verby Lusaka se begrafplaas en draai af by Petroda vulstasie en stop voor die Nakatomi Hardewarewinkel.  Nog voordat ek die winkel kan binne gaan roep ek: ”wietsie – wietsie” met sulke oordrewe sis-geluide.  ‘n Vaal gemmerkat wip grasieus vanaf die rak; land in die kruiwa, glip verby ‘n rol draad en dy haarself om-en-om my bene. 

Sy’s ‘n vriendelike warm lyfie. Ek voel haar prrrrr tussen die krap en vroetel deur.  Hierdie kat sal enige iemand se hart laat smelt.  Daar is geen einde aan die aandag wat sy uitdeel nie.  Om-en-om draai en glip sy deur my hande.  Sy’s nie te maer nie, en beslis nie dik nie.  Net reg, met ‘n mooi pels wat nie hare afgee nie.

Die eienaar stap van agter die toonbank deur en laat weet gelate “Aah, Belinda is terug!” Ek groet , met die hand, en dan staan hy terug met sy hande in sy sye.  Hy kyk liefdevol na sy kat en gesels land en sand met ‘n lag in sy stem. 

Sien elke jaar verhuur Bwalya, die eienaar van die hardewarewinkel sy vaal gemmerkat Belinda, uit aan die gymnasium, net 2km verder af in die pad.  Gewoonlik vertoef Belinda so 3-weke totdat die mense van die gymnasium reken hulle muisprobleem is weer onder hande.  Hoekom vat Belinda nie die pad terug huistoe nie? Ek reken dis omdat sy ‘n meester muisvanger is, en haar verlustig in haar taak van muisvang.  In my verbeelding, sien ek haar geduldig wag voordat sy ‘n vet grys veldmuis van kant maak.  In my opinie sal sy nie net die muis vang nie, maar in klein biltong-repies skeur en smaaklik opvreet.

Belinda the cat, with Bwalya the owner of the hardwarestore
Belinda die kat, saammet Bwalya einaar van die Hardewarewinkel.

“Wat betaal mens vir die huur van ‘n kat?” wonder ek. Duh, ek gaan nie betaal vir iets wat ek self kan doen nie – vir goete soos grassny, of ‘n kamer in ons huis uitverf, maar daar is vele rykgatte wat betaal vir onbenullige goeters wat hulle self kon doen. Goete soos muise uitroei.  Mense wat self hulle eie hare sny, om geld te spaar, sal nie vir kathuur betaal nie.  Ander sal eerder ‘n boksie koop, 4x AA-batterye inprop en lok die muis met kos in die boksie in, wat automaties toeklap. Maar nou ja, by inspeksie van die toeklapboksie, dan loer twee pienk ogies vir jou, en dít maak jou ‘n muismoordenaar.   As daai boksie die muis ‘n 12 volt pynlose doodskok as bonus wou gee – whoopee ja dan koop ek ook die boksie!  As ek diep daaraan dink – sal ek ‘n kat in my skoot vertroetel, maar nie die muisvangboksie nie.

Natuurlik verstaan ek dat daar hope mense is met een of ander kathaar allergie, maar mens kan sekerlik vir twee weke antihistamine pille sluk om van die muisprobleem ontslae te raak?

Sou daai huurkat vryerig wees, sal ek nie die vry-kat wil teruggee nie.  Ek wonder of mens kan kyk na ‘n huur met die opsie om aan te neem? Muisvalle wat toeklap kom lewer ook nie die dooie muis-geskenk voor jou voete af nie.  Mens moet sekerlik op een of ander manier moet kan meet of jy waarde vir jou geld kry  – jy het immers betaal vir die huurkat?

Belinda is nie enig in haar soort nie.  Ek lees op die Internet dat mens gratis ‘n kietiekat kan huur in London: https://www.mylondon.news/lifestyle/mouse-problem-rent-a-cat-free-rid-9130942 en daar is nogals ‘n app waar mens kan kies en keur tussen “mousers”. Op hierdie stadium weet ek nie van ‘n ander huurkat in Lusaka nie, maar dis ‘n positiewe wegspring op Ghana, waar katte in die kospotte en spyskaarte beland! 

Die res van haar dae lê Belinda, soos elke ander winkelkat, lekker in die sonnetjie wat deur die venster val. Almal ken haar, sy drafstap deur die Apteek en Supermark wat in dieselfde sentrum is. Almal, van die winkeleienaars, sekeuriteitswagte en kliënte ken haar op die naam. Oppad dorp toe, stop ek gereeld en sê eers vir Belinda “hallo” onder die vaandel van kammetag ietsie soek in die hardewrewinkel. Hier en daar het ek al van my vriendinne gaan voorstel aan Belinda, en lekker geskaterlag vir hulle reaksie op die vriendelike muisvanger van formaat.

Al ons ontluikende entrepreneurs kan sommer nóú reeds aan die werk spring – skryf daai selfoon app! Bid jou aan; eersdaags hou ‘n motorfiets voor jou deur stil om jou “Huurkat” af te lewer, knus verpak in ‘n Kietiekat-reisboks – net soos kitskos wat met ‘n app bestel word…

“Huurkat” aflewering, knus verpak in ‘n Kietiekat-reisboks

Wag, ekke was nog nie reg nie!

Matewis is ‘n lui swart kat met ‘n selfdood geneigdheid wat met ‘n dik streep getrek is. Hy gaan lê vir die lekkerte in die drom van ons wasgoedmasjien, en die dag gaan kom wanneer hy nog daar binne is as die deur toeklap en ek die masjien aanskakel.

As ek nou Matewiskat was – het my aanskakel dag gekom.

Net die ander dag was ek soos onse Matewiskat – lekker snoesig in my lekker lêplek, salig en snoesig onbewus van ‘n masjien wat aangeskakel sal word… My lêplek was Swakopmund, die kusdorpie daarlangs die Namib se koue seë, lekker snoesig. Swakop met sy koffiewinkels en palmbome waar mens talm, wynglas-in-die-hand, vir sonsondergange kyk, laaaank na die son al gesak het, nog kyk en kyk. Die masjien was my man wat weer ‘n konsultasiekontrak aangebied is, ja, woerts daa gaat ons!

Aanvanklik sou hy vir 6-9 maande gou ietsie hier kom regtrek het, maar die Vrystaatman van my is mos deugsaam, en siedaar. Nou het hy vir 2-3 jaar kontrak geteken, en besef ek – eeeek, EK WAS NOGGIE REG NIE! ‘n Paar maande, daarvoor was ek reg, maar ‘n paar jaar is ‘n helemaal ander kopskuif. Mens is so effe uit jou ritme as ‘n trek so skielik oor jou kom. Aan die anderhand is ek diep dankbaar want my Vrystaatman het vernuwe vonk met die nuwe werk, yay!

Kyk hierdie is mos nou nie onse eerste trippie as expat in Afrika in nie, ek skuif nie meubels nie – die plek waar ons woon is reeds gemeublieër, en my man het ‘n driepootpot en braai-ding gaan koop wat reeds op ie stoep staan. Ek het ‘n piep klein waterdruppel grootte moutertjie aangekoop – iemand in Japan se opgeryde moutertjie – so nóú! Nou gaat ek uitbars en alles uitsnuffel en ondersoek.

Drie maande later en ek voel vanoggend vir die eerste keer effe ingeburger hier in Lusaka, Zambië. My koffie proe sommer weer lekker, ek dans oor gladde vloere op my playlist , ek glimlag vir vreemdes in Lusaka, en saans verkyk ek my aan dieselfde sterre wat skyn oor die Namib. Mens kan dié plek ook liefkry.

Dis tyd om weer myself te wees, simpel, nuuskierig, goedhartig en soos Matewiskat, effe ‘anders’.

Waar stof reën slurp

My oulike vriendin is ‘n konsultant vir ‘n kobalt-myn groep wat explorasie werk doen in die Noorde van Namibië. Almal wat my ken weet ek het daardie Maltees-streep ín my; die ene wat in die mouter spring sodra die wiele draai! Dit is hoe ek myself bevind op ‘n properste ‘road trip’ met haar in ‘n wipgat stofkleur Golfie.

Met die wegtrek in Swakopmund het ons noodsaaklikhede soos biltong en fizzy water en kougom, want die pad is lank en die hitte kan ‘n meisie gou laat verlep.

Grondpaaie in hierdie land is pragtig, maar slim-se-kind weet jy vat daai goed net aan, met ‘n properste 4×4. So kies ons om deur dorpies soos Usakos, Omaruru, Outjo, Kamanjab ‘n wegneem koffie en plassieplek te soek. Oppad ry ons deur die reën wat soos ‘n gieter in die hand net hier en daar water gooi. Sulke vet druppels wat opslaan teen die ruit en wegsink in die rooi stof.

Mens moet wakker slaap agter die stuur want duskant die mees Westelike grens draad van die Etosha reservaat het die draadspan se geldjies opgeraak. Daar trippel die wild ligvoetig heen en weer oor die pad en staan blinkoog vir jou diep in die oë en aanstaar, as jy verbyglip in daai Golfie. Koedoekoeie mik om oor te spring, maar van groter belang is die vars olifantmis in die pad en verrinneweerde boompies waaraan hulle netnou net gevreet het. Hierdie keer sien ons nie self die olifante nie – miskien met die terugry slag…

Reën wolke en stof wat deurwaai - met mense op straat  - Shell brandstof stasie op die voorgrond
Met reënwolke wat aanrol oor die heuwels, waai die laaste rooistof vir oulaas deur die dorp.

Opuwo is groter as wat ek verwag het – met ‘n magdom van blikkieshuisies wat blink in die laatmiddag son. Die ouer blikhuise is bont geverf – vele kobalt bloues en sonsak-rooies, donkies, bokke en beeste stap traag deur die dorp. Honde met lang sterte en bont kleure drafstap asof hulle almal op ‘n mission is.

Mense loop op straat in hulle tradisionele klere
Bokke, skape en donkies wei rustig deur die strate
Meer en meer mense trek na die dorp – soveel so dat die vliegtuiglandingstrook dwarsdeur die dorp lê
Met grade duskant dertig – het die dorp sy eie ritme van mense wat kom en gaan

Dan skielik is daar meer mense, sien jy die Himbas. Orals. Ek probeer so normaal as moontlik rondkyk, om als in te neem en te verwerk; my Ma se stem druis in my ore “moenie staar nie”! Vir ons Westerse smaak is hulle maar effe skraps gekleë, en so te sê almal stap kaal-bolyf rond. Yip ja – dit swaai in die wind.

Hierdie mense het kultuur vas gebly en hulle in gesteur aan die ander stamme wat baklei het oor grond en bewind nie. Deur die jare het hulle rustig rondgetrek agter weiding en water aan.

Sien, hier in die Kaokoveld is daar ‘n magdom van Himba, Tjimba, Zemba, Twa en ander kleurvolle Herero mense wat met bokke, skape en beeste boer. Die mees bekendste is ‘n Himba’s (meervoud in lokale taal Ovahimba) .

Ovahimbas leef wyd verspreid aan weeskante van die Kunene rivier in Namibië en in Angola. Met hulle tradisionele drag van gedrapeerde velle en handgemaakte krale en leer versierings kan ek verstaan hoekom toeriste vanoor die hele Wêreld hierheen reis om eerstehands dit te beleef. Hierdie grasieuse mense se Wêreld word meer en meer beïnvloed hoe meer hulle in aanraking kom met die Westerse mense. Hulle loop en klets op piep klein selfone, en vele stuur hulle kinders na skole.

Ek wonder heimlik as hulle my hier langs sou los – of ek meer van hierdie mense wat so na aan die natuur leef, sou assimileer? Sien ek myself op ‘n drafstap dorp toe met ‘n stertswaai brak op die hak, rooigesmeer met ‘n mengsel van okra en bokvet, en ‘n bondel seep in ‘n doek wat balanseer op my kop.

My kans is minder as nul. Die Ovahimba manne loop met 3-4 vrouens in gelid deur die dorp. So te sê elke vrou het ‘n kind op die heup of aan die bors; ooglopend is my baartyd lankal iets van die verlede so ek kan my bras maar vir eers byderhand hou en óp dra …

Nee nie ekke nie

So gister stap hierdie ou in die koffiewinkel in, seker 10minute gelede uit die bed gerol. Hare staan in elke rigting, en gister se baard op sy ken.

“Koffie, seblief”, bestel hy by die kelnerin wat verby hom skuif terwyl hy ‘n oop sitplek soek.

Ek staar openlik na sy donkerblou T-hemp. Miskien meer direk na die woorde wat duidelik leesbaar is oor sy bors.

Ek bars kliphard uit van die lag en almal òm my volg my blik en lag saam.

Duidelik het hy ‘n goeie sin van humor!

Beslis nie ‘n t-hemp wat ek ooit wil dra nie- maar party dae weet ek presies hoe hy voel!

For Fox Sake…

Ai die Namibmense het darem maar ‘n anner manier van die Rooitaal praat.

 

Dis nou die bakoor jakkalsies wat dieselfde kleur van die gondpad is, loop hol mos oor die pad sodra jy aankom met die mouter.

 

Hulle kom orals voor regoor die hele Namibië, eet goggas, knaagdiere, voëtjies, en voëleiers.

Screen Shot 2018-04-28 at 11.19.04

Skaam sagte diertjies

Hulle weeg net so 5kg weeg, bedrywing saans,  mens sien die kleintjies nog minder.

 

Te lekker om die eiesoortige padborde raak te sien!

 

Lees hierso my anderdag se jakkals en kuiken storie

Laat gaat vir Skillie!

 

Gister was kamatag SA se Vryheidsdag. Gmmmpfff, hoe vry voel die Republiek se mense agter hoë mure, alarmstelsels, hekwagte, haak-en-steek roldraad en panieknoodknoppies?

 

Destyds is die SIMS rekenaar speletjie uitgereik, ek het ure lank, vir dae lank stede gebou. Ewentueël was ek as ‘burgermeester’ veilig, totdat my stad se mense my veiligheid as burgermeester bedreig het omdat hulle vir ure in verkeersknope vasgesit het. Daarna het een of ander Godzilla-monster vuurbolle gespuug en mettertyd het my stad tot niet verbrand. Doei tyd het ek gedink die SIMS speletjie het dit darem te vêr gevat, maar na dese was hulle scenario darem bitter na aan die werklikheid! Piepie bang politici jaag van punt A na B met blou-lig begeleiding, dood bang vir Jan-publiek. Wanneer die situasie kookpunt bereik, verbrand en plunder bondels mense net soos Godzilla die SIMS monster.

 

Og, ons het nie raad met hedendaagse se vryheidspolitiek nie. Een ding is seker, elkeen se idee van ‘vry wees’, verskil. Ken julle Yoshi se vryheid storie?

 

Meer as twee dekades gelede het mense nog ‘die regte ding gedoen’ en ‘n beseerde seeskilpad na die Twee Oseane Akwarium, in Kaapstad, geneem. Vandag sal iemand sweerlik die dingetjie opëet… So groot soos ‘n sopbord, word die seeskilpad Yoshi genaam, en spoediglik is daar goeie herstel vanweë die bootlemskade oor Yoshi se kop en die bakteriesegroeisels is van haar lyf verwyder.

 

Yoshi het in meer as twee dekades haar eie aanhangers na die akwarium gelok. Sy het onbeskaamd ander gediertetjies in die reuse tenk geboelie as dit by kos kom, en in meer as twintig jaar gegroei tot 183kg. Haar spesie is bedreig, en as volwasse seeskilpad, is die Free Willie, of laat gaat vir Skillie-ding besluit.

 

Heel gepas, op 16 Desember 2017- ou Dingaansdag, deesdae ‘Versoenigsdag’ genoem, op is Yoshi weer met die see versoen. Hierdie is nie net ‘n uitstappie nie – die besluit is nie ligterlik geneem nie – Yoshi is immers waardevol – en beroemd! Voor haar vrylating, is ‘n satelietsender op haar dop gemonteer, en elke 4-ure wanneer Yoshi kom asemskep, pieng sy haar posisie vir die volgende 3-jaar.

 

So koekeloer hierso waar sy in 20 grade kouewater, 27 seemyl vanaf Houtbaai, terugglip in die see. Te kostelik…

Is die natuur nie die mees fasineerendste konsep nie?  Instink gaan Yoshi terugneem na die strand waar sy gebore is, toe sy die eerste keer die see ingestap het was sy maar so groot soos ‘n eetlepel se kop! Sy woeker met die swemmery en swem net kort van 30km per dag.  Yoshi swem kus-langs en reeds die Republiek se Weskus verbygeswem.

Daarna het sy haar kom dikvreet aan die Namibiese kuslyn se jellievisse, en op die oomblik vreet sy net duskant die verlate eiland van Angolawaters  se Tierbaai.

Screen Shot 2018-04-28 at 09.46.25

Hierdie foto is vanaf TWO OCEANS”S Webblad

Die betrokke eiland is verlate gelaat nadat die laaste inwoner in 1974 weggetrek het.  Tierbaai is besonders ryk aan ‘n groot verskeidenheid seelewe, en baie gewild onder lokale vissermanne.

 

Tans is Yoshi so 10km vanaf die kuslyn, sy het reeds twee gevaarlike areas vermy wat met diepwater langseenette visvang.  Natuurlik is die vissersmense haar grootste gevaar. Volgens Wikipedia; sou sy in een van daardie seetreilernette gevang word, sou sy sekerlik versmoor.

 

Elke paar weke, wil ek weet wat Yoshi aanvang.  Ek verlustig my daarin dat sy vry is om te swem waarheen sy wil, en te vreet wanneer sy wil.  Natuurlikhet ek groot waardering aan die Twee Oseane Akwarium en hulle seelewemikrobioloeë, wat my die geleentheid gee of ook so neffens haar vryheid te belewe.  Hulle is immers toegewyd aan die beskermingsprogram vir vele meer seeskilpaaie. Ai Moeder, miskien het ek die verkeerde beroep gekies – ek verkyk my aan die videomateriaal van hulle versorging.

 

Siende dat ons onlangs hier kom nesskop het langs die Namibiese kuslyn, is die see en sy geheime ‘n heel nuwe ervaring. Ek is vrek nuuskierig oor die gediertjies daarin, veel meer as die Godzilla’s wat landswyd als in vlamme wil laat opgaan ter wille van ‘vryheid’.

 

 

 

 

 

 

Bont lap en baie talent

My vriendin Emsie nooi my op die ingewing saam na Swakopmund se COSDEF sentrum. Wanneer mens Swakop inry vanaf ons binneland se kant, dan kan jy dié plek nie misry nie. Een enorme bont stapel van geboue toring trots asof dit stof van die woestyn afgeskud het en gemaak staan is.

Screen Shot 2018-04-18 at 14.22.15

 

Emsie is reeds ‘n Engel hier op aarde, as sy asem uitblaas word sy net vlerke ge-issue dan is sy oppad! So gaan Emsie en reuse boks ou patrone en borduur goete afgee en ek is net daar want ek ly aan FOMO. (Fear of missing out)

IMG_4869

Vanaf Links: Tilla, Ayumi, Emsie en Naoko besig om die geskenkte goedere te bekyk.

By die kantoor, is die ene miernes van bedrywighede, Michelle //Inixas (Groot Indoena koördineerder) stel ons voor aan Ayumi en Naoko, twee regte egte fyntjies ingevoerde Japanese vrywilligers wat hier kom klasgee. Die Japanese regering belê só op ‘n ander manier in Namibië.

IMG_4863

Vanaf Links: Emsie, Ayumi en Naoko

In ‘n goeie Engels verklaar Ayumi en Naoko beide is reeds gek oor Swakopmund se woestynsand en see. Hulle vertel hulle word nog oorweldig met die weer wat sommer vier seisoene in een dag uitrol.  Die klas is stemmig en spiekeries netjies.  Toevallig sien ek die klasreëls op die muur raak.

Klasreels

Klasreëls – nou verstaan ek als, sonder reëls sou dit chaos wees.

Nou dié wat my ken weet mos in Akkra – Ghana was daar ook die een en ander naaldwerk projek wat mense van die straat af hou – en wys hoe jy inkomste kan genereer. Hierdie projek is in ‘n ander klas. Na een jaar kan jy aankap, maar na twee jaar se kursus is jy ten volle gekwalifiseer as ontwerper wat jou eie patrone kan ontwerp, knip en stik.

 

Wat wou; moet nie dink Tilla Smit gooi die studente net vir die wolve nie, daar word ook formele besigheidsvaardighede en wiskunde lesse tussendeur die ontwerp en patroonknip klasse aangebied. Tilla is ook ‘n leerkrag by dié Modeontwerpskool, sy sê sy neem ‘n student van zero tot gekwalifiseerd.  Sy lê groot klem op die kwaliteit van voltooide projekte.

 

Tilla is nie ‘n groenblaar as dit kom by gemeenskap projekte nie. As aktiewe lid van Bröt für di Welt, en jare se mense kennis agter die blad, offer sy soveel meer as net boekekennis.

 

Ons het ons verlustig in die vrolike Afrika-kleure, waarmee die studente woeker om hulle huidige projek te voltooi. Hulle ywerigheid spreek boekdele, trots wys elkeen waarmee hulle doenig is, Tilla sê dis tyd om ‘n breuk te neem maar niemand roer of staan op nie. Kap net aan … “nie jou tipiese student nie”, dink ek verbaas by myself.

Die studente kom van oor die hele Namibië; plekkies soos Khorigas, Omaruru, Omathia, Mondesa, Odangwa, Opuvu.  Elkeen met ‘n blink idee om eendag sy eie besigheid te bedryf.

Nadat ons wegstap van die modeontwerpers loer ons in by die ander klasse.  My mond hang oop soos ‘n waenhuisdeur; Visuele Kunste, Juweliersmakers en Leerkuns word ook aangebied.  Hierdie studente se handewerk word verkoop teen billike pryse, en afgestudeerde studente kan ‘n ‘Pod’ huur vir net N$200 p/m en heeltyds werk en smous.

Screen Shot 2018-04-18 at 14.38.05

Hierdie is die ‘Pods’ waarvan ‘n afgestudeerde student kan werk en smous.

 

Vir diewat reken woestynland is droog en dor – hulle is verkeerd! Jy moet net rondkyk. So in die wegstap dink ek bymyself: “Orals om my lê talent gesaai – soos klip in die woestyn.

Die Soet en Suur van Ghana

Verandering is die mees konstante ding in onse lewens. In Akkra het ons kontrak uurglas dan nou ook leeggeloop. Na ses en ‘n half jaar weg uit Namibië, staan ek en my Vrystaatman met drie koffertjies op die lughawe. Voor ek op die aerie klim huistoe, besin ek oor ‘n paar goete van Akkra wat ek sal mis, en ander wat ek geensins weer wil beleef nie.

Goete wat kan verby hou

Muskiete

Langenhoven en ek, het ons muskiete-haat in gemeen. In Ghana vreet muskiete jou letterlik lewendig op, jy spuit en smeer anti-muskiet goete, en dae later stress jy jou vrek oor Malaria. Malaria is so algemeen soos witbrood, uiters gevaarlik, self dodellik. Hierlangs lyk die muskiete asof hulle WP-streepsokkies dra; hulle vlie soos hommeltuie, stadig en lui, en laat ‘n teelepel se bloedvlek as jy hom platklap. Gee my die muggie muskiete tuis wat so dan en wan; hier en daar ‘n bloedmonstertjie vat.

Koebaai sê

Oor die algemeen kom werk die meeste uitgewekene kontrakwerkers in Akkra vir twee- tot drie-jaar. Die gevolg is dat sodra jy iemand goed leer ken, vat hulle weer die pad en ‘n mens bly vasgeval in hallo-sê en koebaai-sê. Vir ‘n paar maande beloer jy hulle op sosiale media, en dan stap die lewe aan en torring die vriendskap draadjie los. Die al ewige Koebaai-sê, dít sal ek nie mis nie.

Burokrasie

Burokrasie is oorgeërf in Ghana vanaf die Britse Koloniale, maar Ghanese het dit verfyn en is vasgespinneweb daarin. Ons staatsdiens se rompslomp lyk soos ‘n 10-stuk legkaart as jy dit wil vergelyk met Ghanese-werksvisas, Ghana id-kaarte en bestuurslisensie aansoeke.

Bakhande

Vyf-minute vanaf die lughawe klop-klop die eerste bakhandjie reeds aan jou venster. Aanvanklik sien jy die wesentjie nie raak as jy uit jou venster kyk nie, maar tjokkertjies net groter as wielgroote, lames op skaatsplanke en halwe mense in rolstoele bedel tussen die voertuie. Trosse en bondels bedelaars kom na Akkra, voel my nuwes land aan, elke naweek. Mens se hart word later klip, en dit gaan baie lank neem om van die dowwe kyke en behoeftigheid te vergeet.

Wisselvallige internet

My Vrystaatman weet as hy tuiskom en ‘n swartwolk hang oor my gemoed, dat die internet konneksie gedood het. Ons mis uit op nuus van babageboortes en laataand skakel my dogter met ‘n piepstemmetjie en vra hoekom ons nie haar studente noodkrete antwoord nie. Jy betaal peperduur vir meer as een internet verskaffer, want almal se kwaliteitdiens is ewe wisselvallig.

 

Goete wat ek sal mis

Smousgoed koop deur die venster

Menigte middae sit jy in sweet vasgeplak aan die moutersitplek, vasgevang met honderde ander in verkeer. Die voordeel is dat jy sommer so deur die moutervenster inkopies kan doen. Toiletpapier, vars gebakte brood, geroosterde grondbone, vars vrugte en groente, wasgoedseep … noem dit maar op, en iewers sal ‘n straatsmous dit aanbied.

Vriendelikheid

Die deursnit Ghaneen kom min in aanraking met uitlanders so wanneer jy skielik by ‘n verlate boswinkeltjie stilhou, is hulle oorval met skok en agterdog. Ons Engels val hulle vreemd op die oor, en mens moet jouself herhaal, arms swaai en beduie wat jy wil aankoop. Wees geduldig en werk ‘n grappie iewers in, dan word jy beloon met die grootste wittandglimlag, die items word met sorg verpak en selfs na jou mouterkar aangedra. Wanneer jy daar wegry, staan die smous lank so in die middel van die pad en waai koebaai tot jy oor die bult of in die niet verdwyn.

Skatte in die mark

Akkra se middestad is een kookpot van straatsmouse met stalletjies ingeryg soos krale, hier koop jy van ‘n garedraad tot ‘n dooie polisieman. As buiteperd kan jy maklik verdwaal, tussen-in kibbel jy oor pryse, dis bloediglik warm en almal stamp en stoot aanmekaar. Maar Boeta; as jy tydsaam en geduldig jou oë oophou kan jy letterlik skatte uitkrap! Van egte silwerteepotjies tot MAC grimeerstelle, leerstewels, kosbare Singer naaimasjiene, reuse visnette, ragfyn geborduurde tafeldoeke, en die nuutste klankstelsels. Met ‘n goeie kopie voel jy die Heelal se weegskaal het effe na jou kant getiep.

Afrika se Kleure

Kyk, Afrika is nie bang vir kleur nie. Die helder wax-kleurlap is die mooiste bont kleur en patrone – waarvan ek koop-en-koop. ‘n Ewige somer, ses-uur saans se vlermuisvlugte, sonsaktyd se helder kleure van soet pynappel en ryp mangoes maak my dol gelukkig.

 

Natuurlik is daar soveel meer goeie herinneringe wat ons sal koester, goeie vriende wat ons agterlaat, Ghana is vir ewig in my hart ingeëts. Vir eers roep Namibië soos Jakkals laataand na sy maat…

Hand na tand

Natuurlik is daar hope plekke waar mens kan uiteet in Akkra, ‘n reuse verskeidenheid van Nasionaliteite en pryse en als kom neer op hoe vêr mens wil rondrits as jou lus uithang vir aartappel-visballetjies. Met tannie Google byderhand is daar ‘n makliker opsie: vind die resep en oorreed my Vrystaatman hy is ongelooflik sexy in die kombuis. My oorle skoonmoeder het wraggies beide haar seuns handigheid in die kombuis geleer. Iets waarvoor ek haar lewenslank innig dankbaar sal wees. Haar Vrystaatseuns staan g’n treë terug vir ‘n properste kombuis uitdaging nie.

 

Ek is geen bobaas kok nie – maar ek weet hoe om myself met diegene te omring wat ken van bontstaan in die kombuis. Een kyk na my ronde vorm, weet jy sommer ek ken wel van lekker eet. Met hoërskool huishoudkunde en my Ouma se ure se geduld, kán ek gangbare etes opdis en bak wanneer familie kom kuier maar my kobuiskaskenades is beslis uitlewing van verwagting en nie ‘n hartsaak nie.

 

Terug by die aartappel-visballetjies; ek duik in die groenterak rond tussen uie wat weer begin groei het en aartappels met witooguitgroeisels. “Pas gekoop en reeds oud”, sê ek. Maar niks bring my van stryk af nie – ek snipper die skille weg en gee aan sodat als in die resep verwerk kan word. Haal wit seevis uit die vrieskas sodat die vis nuwe lewe kry en rondwip in die pan terwyl dit gaar stoom in melk en botter.

 

Rooiwynglas in die hand, en resep wat vorm aanneem, staan ons en herkou aan die gedagte van Ghanese vrouens wat aartappels en mielies plant word ook Boere genoem? In ‘n olie en goud verrykte land word 50% van hierdie Ghanese ekonomie deur substansie boere aan die gang gehou. Net 5% van al die landbou word kommersieel benut, die res is ‘n hartseer sukkel bestaan vir oorlewing en ‘n vloekskoot as hulle iets kan verkoop wat inkomste genererend is. Menigtal vrouens wat een tot twee akker bewerk, hoop om ten minste 5 sakke per akker, as oes te lewer.

 

Ek steek mos my neus in almal se sake en knoop geselsies aan met vreemdes wat oor my pad kom. Dit is so dat elke tweede persoon buite die groot stede soos Akkra, Kumasie en Tamale, is ‘n bestaansboer.

Screen Shot 2018-03-17 at 16.44.51Deur die bank is almal van hulle iewers met ‘n radiotjie laatmiddag in die sonnetjie besig om aandagtig te luister na Farm Radio, ‘n Internasionale radioprogram wat in lokale tale, jou als leer oor boerdery. Adjoa Kumoa is ‘n so lokale boerin wat na Agro Forum se lokale radioprogram luister. Adjoa vertel sy het aanvanklik ‘sommer orals geplant’, maar dat sy nou in rye plant , minder sade in die grond druk en meer mielies kan oes nadat sy bemesting begin gebruik het. Hierdie jaar het sy dubbel die oes vanuit een akker waar sy voorheen drie akker bewerk het. Sy lag en trek met growwe vinger so swiep-swiep op haar slimfoon; wys haar plaasfotos. Trots staan sy tussen skouerhoogte mielies – en hou een reuse kokoavrug omhoog. Screen Shot 2018-03-17 at 15.40.21Sy het haar foon gekoop met verlede jaar se oes, hospitaalkostes gedek en stuur twee van haar drie kinders skooltoe.

 

Op ons Akkra woonstelstoep het ek ‘n paar pampoenpitte en tamatiepitte in ‘n potplant gedruk. Binne enkele dae het ek behoorlik die reëndans uitgevoer toe ek die groen tweeblaar nekkies deur die potgrond sien druk. Trots het ek fotos geneem en gedroom van my stoep oes en hoe die pampoen en tamaties sou smaak.

Screen Shot 2018-03-17 at 17.22.32Enkele dae later het die pampoen wild en wakker blare gevorm en die rankertjies het orals aan die balkon prieël vasgeklou. Die tamatieplant se blare het in die son geskroei en die plant is na die skadukant geskuif toe die geel blommetjies bod. Ek het sekerlik honderde fotos geneem, en kon nie glo teen watter tempo die plante woeker nie.

Vaderland, wat ‘n terleurstelling toe ek na net een naweek van braai en kuier nie my stoepboerdery onder oë gehad het nie!

 

Een reuse springkaan het homself verlustig in my pampoene, sy makker genooi en die hele karnaval het verwoesting gesaai – en binne drie dae het die pampoenplant swart verkleur en begin vrek.

Screen Shot 2018-03-17 at 17.24.24

Nodeloos om te noem, vermoed ek my Pa se groen vingers is saammet hom graf toe en ek het niks van sy groenigheid geeërf nie. Daar is twee treurige albaster grootte tamaties wat reeds geel verkleur het, en ek oorweeg om die plant uit te pluk as vorm van genade dood.

 

Deesdae probeer ek eerder vars groente en vrugte vanaf straatsmouse en stalletjies aankoop, en sodanig die middelman uitsny. Ek het ‘n heilige respek vir enige boer wat ‘n oes kan lewer, en meesterlike waardering vir sexy kokke wat aartappel-visbolletjies kan optower.

 

** Fotos is vanaf Internet afgelaai

Sing vir ‘n houtpop

 

Vanoggend, toe ek die wasmasjien laai, merk ek ‘n houtpop uitsteek by die skropvrou se oopbek handsak. Nuuskierigheid vat die oorhand en al my maniere vlieg by die deur uit; so loer ek skelmpies hoe lyk husse met lang ore.

 

Al wat ek raaksien is een moeg opgeleeste Bybel en die houtpop. Dis nie sommer so houtpop nie – dis ‘n handgekerfte, platkop ene met ‘n rooistring kraletjies om die middellyf. Heel oggend is ek doenig in die kombuis en betrap myself loer na die houtpop wat my dophou. Teen voormiddag kan ek myself nie meer inhou nie en vra vir Judith-die-skropvrou wat maak sy met die houtpop wat halflyf uit haar handsak hang.

 

Eers is Judith half skaam maar nadat ons elkeen met teebeker in die hand staan en slurp, kom Judith met die houtpop se storie uit.

 

Judith is anderkant van dertig en sy dink dis tyd om ‘n kind te kry. Nou het sy my volle aandag – want ek weet – sy’s nie verlief, verloof of getroud nie. Soos ek die storie vooruit loop, moet iemand haar die bytjies en blommetjies storie vertel.

 

Maar ek staan haar oopbek en aangaap; sy vertel sy is na haar stat se medisyneman wat ná ‘n ritureel vir haar die fertiliteits pop gegee het.

 

Slaat my met ‘n nat vis! Ek is te bang my baie vrae oor die ritureel skrik haar af van haar popstorie, dat ek omtrend verstik soos ek tee opslurp. My kop loop Kaapse draaie met my soos ek wonder.

 

“Nou wat maak jy met die pop? “ wil ek weet. Judith haal haar bontlap uit en wys my hoe sy die pop op haar rug knus vasdraai sodat sy dit kan abba en in privaatheid saamdra. “Seker maar hoekom die kop so plat is, om beter weg te steek”, sê ek. Nee, dis eintlik spesifiek vir mooigeit – sy wys die hoë voorkop en die rondgeit van die kop beloof ‘n slim baba. Sy beskryf die prag van amandelvorm oë, en die halfmaan wenkbroue en die fyn besnyde neus – elke moeder se droombaba. Judith hou die popkop sag in die holte van haar hand en wys dat die houtpop ook speel-speel gevoed kan word. Teen die tyd staar ek met koue beker tee in die hand en vat-vat aan die koue kombuisblad sodat ek weet ek droom nie.

 

Sy wys dat die pop aan die slaap gesus word en ook gebad word net soos ‘n regte baba. Ek trek my oë op skrefies en vra onoortuig of die houtpop dan ‘n naam het. Natuurlik! Hierdie pop is ‘n eg Ashanti fertiliteitspop, genoem “Akua ‘ba” wat beteken ‘meisie gebore op ‘n Woensdag, se kind’. Gedoriewaar, ek is onseker of sy gatvat met hierdie storie, maar sy bekyk die platkoppop met diepe deernis.

 

Hierdie is die meeste wat ek Judith ooit hoor gesels het – seker iets van hoe ek haar aangaap, besluit sy dis genoeg en woeps, droog haar storie op.

 

Na-middag hoor ek haar neurie en sing terwyl sy in die agterkamer stryk. In die gang merk ek op, die pop is vasgebind op die rug – noudat die popstorie op die lappe is, kan pop-se-kind openlik in lap rondgedra en voor gesing word.

 

Ek verwonder my aan hoe onkundig ek is oor die kultuur van Ghana se mense. Op die internet lees ek die houtpoppe is sedert toet se jare deur vrouens in die familie aan hulle dogters en agtersate aangegee. Soms word ‘n pop rondgedra tydens die swangerskap om ‘n gesonde baba te verseker. Partykeer word die houtpop weer teruggegee aan die medisyneman, of in die huis as dekorasie uitgestal wat die gesondheid van kinders beskerm. Hoe dit ookal sy, hierdie stukkie kultuur het sy oorsprong diep in Afrika, lank voordat die sendelinge die Bybel hierlangs kom versprei het. Hierdie poppe word net in Ghana gevind, maar is nie algemeen in die markte verkrygbaar nie. Toeriste koop ten duurste hierdie Ghana poppe as stukkie egte Afrika kuns.

Screen Shot 2018-02-13 at 16.34.04

foto vanaf internet

Skielik sien ek Judith in ‘n ander lig. Sy het ‘n lang plan vir haar toekoms. In Afrika, as sy na dertig kan bewys dat sy wel vrugbaar is, en kinders baar, is dit heelwat makliker om man te vang.

 

Met haar houtpop knus toegewikkel, is Judith is die ene lipstiek en rooswater oppad huistoe!

 

Miskien het iemand al vir haar die bytjie en blommetjies storie vertel?