Category Archives: Oumense se dinge

Blinde liefde en trou-brille

Op skool in Pretoria het ‘n kranige rugbyspeler vanaf die Landbouskool annerkant Brits my knieë lam gehad.  Naweke en vakansie tye het hy in Pretoria by sy eie Pa kom kuier en dan kon jy die wit van my Ma se oë van vêr raakkyk.  Daardie Landbou-seun het na-skool by die polisiemag aangesluit, maar hy was geweeg en te liggevind.

Skooltyd was daar twee soorte jongmeisies; dié wat oortuig was hulle gaan trou op die Rif woon en twee kinders baar voordat hulle vyf-en-twintig is, en dié wat vêr van die ouerhuis wil gaan swot en reis tot tyd se stof hulle spore uitwis.  Op daardie stadium was ek nogals op die draad oor watter kant ek verkies.

My gryskoppie Pa het geweet sy meisiekind sal eendag op trou staan.  Lank voordat sy silwerdraad geknip is, het my Pa sy eie wysighede met my gedeel.  Noudat ek self groen koring op die land het, herroep ek weer sy slimmigheid.

  • Moenie die nar trou nie, trou die ou wat jou laat skaterlag.

Die kinkel lê daarin dat die nar sy snaaksighede  met die wêreld om hom wil deel, en dat , in tyd, al sy afgesaagde grappies jou sal verveel. Narre verdra nie dat iemand snaakser as hulle voorkom nie, sal jou giggel en lag aftrap en kritiseer.

Die skaterlag ou, sal ingestel wees om ten alle koste, jou klokkie helder lag te hoor.  Hy sal uit sy pad gaan om jou dag op te vrolik, soms ten spyte van homself ‘n aap van homself maak, alles vir die aanhoor van jou lag.  Kies die ou wat jou humorsin snap, wat jou snork-giggel se audio wil vasvang op sy telefoon en oor en oor speel en homself daarin verluister. Soek na die ou wat jou so hard laat lag dat jou sye wil bars, jy jouself wil nat piepie, en lag dat die trane loop.

  • Daar moet merke aan sy hande en kneukels wees.

Straaltjies oor fietskettings en speke wat merke aan sy hande gelaat het wys dat hy darem self iets iewers probeer regmaak het.  Dit sal handig te pas kom wanneer daar muurproppe en stofsuiersakke vervang moet word.  Skrape van skaatsplankry en biltongmessnymerke verraai ‘n buitelewe waar die lewens grense effe getoets is. Niks kan meer vreet aan die siel as ‘n bleeksiel wat net in Jan Tuisbly se karretjie wil ry nie.

Merke oor die kneukels wys daarop dat hy nie geskroom het om iewers sy man te staan nie.  Of hy nou bloedneus weggestap het of nie, is nie ter sprake nie.  Daar sal ‘n dag kom wanneer hy weer sy man moet staan, of dit is om jou eer te beskerm of wat ookal, eerder man as muis.

Growwe hande is nie vir almal nie, maar voordat jy hom trou, moet hy ten minste een groot hoop hout met ‘n byl opkap.  Hoe hy die eelte en blase aan sy hande verdra sal boekdele oor hom as mens verklap.  Is die blase so eina dat hy skielik nie eens ‘n eier kan oopbreek nie? Moet jy moet net troos en troetel en regstaan, Kattie los die slapgat!  As siekte of kwale oor sy lewenspad kom, gaan jy weer bontstaan. Of vat hy die eina soos ‘n regte man, kap aan soos elke dag sonder ‘n gekerm van beendere? As hy ‘n paar dae later eenvoudig die droeë velle sit en aftrek, of bekommerd is die growigheid krap jou sagte vel – is hy die trousoort.  Die lewe is rof, mense skuur aan mekaar van tyd tot tyd.

  • Is hy pou of padda?

Dis nie net in feëverhale dat vrouens paddas soen nie.  Paddas dink daars geen wese in hierdie wêreld wat kan kersvashou met sy prinses nie. Sy’s perfek in elke moontlike manier;  die moesie wat net-net vanuit die sonrokkie loer, die kreukel oor haar voorkop as sy bekommerd is, die sagtheid van haar dy en die knak van haar enkel, als perfek in plek, net soos dit hoort.

Poue is effe meer uitgeslape. Hul pronkvere is aanvanklik verblindend, pragmooi en jy kan jou geluk nie glo dat jy in dié man se visier beland het nie.  Poue het ‘n manier om jou te vertel hoe manlik, pragmooi, slim, wêreldwys en  ambisieus hulle is.  Hulle gee voor vir ‘n wyle jy is pragtig, maar heimlik is hy oortuig met tyd sal hy wel kan verbeter op elke aspek van jou fatsoen.  Eendag uit die bloute wys hy jou daarop dat hy swartknoppies oor jou neusbrug bespeur het, en dat ‘n gesigsbehandeling dit gou kan uitsorteer.  Tussen vriende by ‘n braaivleistafel staar hy openlik met openlike afsku na die tjoppie wat jy ingeskep het en vra sommer kliphard hoe lank jy dink jou boude in die nuwe jeans kan inpas as jy daai bord kos in het.  Poue is self nie altyd perfek nie, maar soos kraai se kind, versamel hy mooi blink goete wat die aandag van hom aflei. Mooi mouter, prag huis en blink toekoms sal als eendag alles aardse goete wees wat hy bô jou verkies.  Mettertyd sal jy net nog ‘n versamelstuk word, wat van tyd afgestof en in publiek vertoon en vertroetel word, maar tuis word jy afgeskeep en word jy heeltyd herinner dat jy jou plek moet ken.  Pasop, my kind – raak ontslae van ‘n pou en pluk sommer byvoorbaat al sy pronkvere uit.

 

Sien die liefde is mos blind, maar trou is die bril.

Ek het toe nie my polisieman getrou nie maar ‘n oulike Vrystaat-man met diep kyk en swaar sugte. Hy’s geen nar nie, en staan gereeld sy vuiste en bol wanneer hy homself inhou. Hy’s beslis my padda-prins!

Nou moet ek net hoop my dogter is ook so kieskeurig soos haar Ma…

 

 

Advertisements

Krismis Kersies in Rum…

 

 

So is dit mos – as jy siekerig of mislik of nostalgies voel, verlang jy na jou Ma se huis. Kerstyd in Akkra is soos sonbrandvelle aftrek, seer maar ook lekker. Alles oor Kersvees voel uit plek uit, omgedop en verkeerd.

 

So stap jy ewe vrolik die eerste Oktober in die winkelsentrum in, en daar staan ‘n man op ‘n lendelam trapleer en hang Kersfeesdekorasies op. Jy voel hoe jou hart kommapunt; ‘n ketting trek ‘n beklemming om jou binnegoeters. Dit kan mos nie wees nie, het die jaar reeds so vêr met jou weggehol, maar dan onthou jy dis nou eers vroeg Oktober.

 

In Akkra is daar baie goete wat jou laat kopskud. Als hierlangs kom wat aweregs voor, en ons wonder of die mense om ons se bont varkies nog op hok is. Miskien is hulle net kinderlik erg opgewonde oor die hele Krismis ding, of is dit dat hulle effe langer vat om op te warm oor ‘n gebeurtenis en meer tyd nodig het. In Ghana is dit ‘n GROOT ding om jou Christenskap in die publiek ten toon te stel. Van reuse plakkers op jou mouter tot dik goue kettings en swaar kruise om die nek, T-hemde met reguit boodskappe in swart dik letters en Krismis dekorasies in jou winkel, jou mouter en op jou werkstafel en in en om jou huis.

 

Die uurglas is veronderstel om nóg ‘n hele twee maande uit te loop voordat Bony-M se plastiek musiek ‘Kersfees’ in die winkelsentrums uitbasuin. In die druk verkeer is dit straatverkopers wat verlepte plastiek opblaas Krismisvaders smous. Daar’s klokkies wat klingel op Rudolf die fluweel-takbok se neus, stringe bont kersliggies en sneeuspuit in ‘n albaster-blik is als op offer. Hierdie jaar, is die dogtertjie kopbande met blinkertjie Engeltjies wat soos antennae rondswaai oor jou kop, ‘n groot verkoper.

 

Ek sit heimlik en wonder hoe hulle die Kersboodskap aan die kindertjies glo-waardig maak? Dis plak warm in hierdie tropiese land; sneeu is net ietsie wat mens hierlangs op ‘n swak tv-beeld sien. Nog nooit het ek ‘n enkele skoorsteen in ‘n huis bespeur nie – waar moet Kersvader inglip om geskenke te kom afgee? Verlede jaar het ‘n Hotelgroep ‘n Kersvader-man kompleet met witbaard en ‘n reuse sak lekkergoed gestuur om die kindertjies by die swembad te verras. Dit was pandemodium soos daai kindertjies weggehol het, in die swemwater gespring het, histeries aan die gil gegaan het. Bestuur het gou die booswig verwyder en vir die res van die dag omverskoning gevra op die publieke uitsaai stelsel, en verskrikte verlore kinders en ouers met mekaar herenig.

 

Nou as jy as expat jouself in Akkra bevind oor Kerstyd het jy drie opsies. Die gewildste en voorkeur opsie is om ten duurste huistoe te vlieg en tussen jou eie mense iewers in die Kalahari, sonder sneeu en sonder koorsteen Krismis te vier langs ‘n koolstoof met warm melktert en rum-versuipte-kersies. “en koue bier” sê my Vrystaat-man hier van die kantlyn af.

 

Opsie nommer twee is minder gewild maar ‘n gemoedelike kuier waarheen almal uitsien en honderde fotos oor bakkiesboek heen gestuur word. Almal is nie beskore om verlof te neem in die blinkertjie seisoen nie. Iemand moet ‘n wakker oog hou op die geldkas, die olieboor, die voorraad op die winkelrakke; en daai makkers staan saam en vier Krismis in styl. Al die Springbok ondersteuners kom bymekaar en vier fees. Jy word gevra om ‘n kosding by te dra, iets soos aartappelslaai, gebaktekool weggesteek onder smeltkaas, reuse bak winkelroomys of melktert vir twintig uitgehongerde Springbok ondersteuners. Webers word aangery en skaapboude word gebak. Geskenke word met ‘n speletjie om die tafel aangegee en uitgedeel. Krismisvader kom aangery op ‘n 4×4 motorfiets en deel Kersgeskenke aan die kinders uit. Daar word geswem en gekuier en fees gevier; almal gemoedelik saam.

 

Opsie nommer drie is vir die oningeligtes, wat nuut in die land kom werk het, wat te suinig is om hulle gemoedelikheid te deel, wat soos ‘n rooiby wag om iemand te steek…hulle sit by die huis en versuip hulle self soos kersies-in-rum.

 

As jy iewers in Januarie uitgespaar is, en weer arriveer in Akkra, dan kan jy jou begewe in die Kersfees gemoedelikheid tot diep in Maartmaand wanneer die blink Kerstooisels eers verwyder word. Vrinne wat jou lanklaas gesien het vertel van sonbrand en brandvelle wat afgetrek moes word.

 

As jou kollegas van Ghana jou eers weer in laat Februarie sien, groet hulle jou vrolik “Merry Krismis” and “A prosperous New Year”!

Oop-oog en spoegbek

Tradisie is iets wat soveel jonngelinge deesdae vanaf wegskroom. Hulle is net te besig om  uit te staan en koelgat voor te kom.  Miskien het al daardie vakansietye by my Ouma my anders gesnaar.   Ons het elke oggend elf-uur deur Warmbad se strate gestap en Ouma het van winkel na winkel gestap. Dan het sy geselsies aangeknoop en teegedrink by almal. As kind het tyd dan gaan stilstaan.  Kalm en gedweë het ek net myself iewers op ‘n trappie tuisgemaak en die wêreld bekyk.  Dit was die tyd waarin kinders gesien en nie gehoor was nie. Vandag – snoep ek gereeld fotos van oumense op straat wat handevashou, oefen of elegant aantrek of saamkuier.

In Akkra het die Suid-Afrikaanse Dames ‘n baie spesiale tradisie wat reeds vir ses jaar die rondte doen. Jaarliks haal die tannies van hulle fyn breekgoedjies en fynste linne tussen die motbolletjies uit en poets die silver tee-vurkies blink.  Die eerste week in Oktober is dit weer tyd vir die jaarlikse  SA Dames Hoog Tee.  Dis nie sommer só tee nie, daar word tema’s uitgedink, opgedollie, kaartjies verkoop en die klomp expat vrouens val oor hulle voete om kaartjies te bekom.

Hilda het vir 5 jaar, met skooljuffrou se presisie die spulletjie seepglad behartig, maar hulle het nou gaan aftreë en sit iewers op ‘n skadu stoep in Paarl. Mense, my senuwees is nerf-af want hierdie jaar is dit ek in die oliepot want ekke, slaat my hand aan die reëlings.  Hilda het die merk aan die kerfstok hoog gekap – ons sal moet fyntrap om kersvas te hou.

Ons 130 kaartjies is binne vier dae uitverkoop.  Die teetafels is beperk tot die grootte van die saal en beskikbare parkeerplek.  Hierdie jaar se gasvrouens het elk nege gaste aan ‘n tafel.  Haar tafel sal iets uniek-Suid-Afrikaans aan die Internationale expat-dames voorstel, en as bonus moet sy ‘n taal element iewers op ‘n manier inweef.  Ons gaste moet elk één Suid-Afrikaanse nuwe woord aanleer, hoe gering ookal.

As jy nou ‘n oggend van oop-oog en spoegbek wil beleef, dan moes jy lank reeds ‘n kaartjie bekom het.  Dink jou in, tema’s soos Sjebeen, Labôla, Kaaps Maleis, ens. gaan as Suid-Afrikaans voorgestel word.  Blikbekers, biltong, krale, mampoer, skonsie en kerrievis en ‘bunny-chows’ is alles iewers op ‘n belaaide tee-tafel.  As bonus gaan die SA-gasvrouens ‘n tradisionele “gum-boot” dans uitskoffel – hulle is almal hard aan die oefen.

My 2016-tema is “Chicken Republic” – eintlik steek ek so effe draak met SA se goeverment, maar dis omdat ek reken ons is almal hoenderkop oor ons geveerde tjommies. As Ouma en die kleintjies nie die slopemmer uitgooi en hulle voer nie, lê die hoender bruingebak Sondag op die tafel, en tand ons hulle.  Dink Nando’s, Chicken Lickein, Rainbow Chicken, KFC, The Rooster, ens.  Kyk, mens moet jou nou nie doodwerk nie.  Die eetgoete moet natuurlik ook inpas by my hoender-tema. Ek bedien klein byt-grootte kerrie vetkoekies,   mieliekoekies, bruin gebraaide hoendervlerkies en boudjies en delikate hoender handpasteitjies.

Op die oomblik reis ek en my Vrystaat-man in Viëtnam. Geduldig stap ons deur Hanoi se strate en snuffel na interessante goete.  Viëtnamese mense eet die heeldag – sekerlik sal Oom Noakes reken dis hoekom hier nie oorgewig mense te vinde is nie.  Wanneer hulle nie eet nie, drink hulle erge suiker-soet tee en koffie.  Tee-winkeltjies is ingeryg soos pêrels, maar mens sit op baksteenhoogte houtstoeltjies met knieëknoppe wat stamp aan mekaar.

Die mense se koffie-lus verbaas my.  Dink jou in “Weasel”-koffie is ‘n koffieboon wat eers deur ‘n soort wasbeertjie se dermsysteem getoer het – vir smaak, en dan word die derm-‘verwerkte’ bone gerooster en ten duurste in piepklein porselynkoppies opgeslurp.  Die tweede groot gunsteling is eier-koffie en waar die mees oorspronklikste resep is – is konstante debat onder die Viëtnamese.

Gister het ek ‘n pragtige opgestopte hoender raakgeloop toe ons ‘n sy-weef gehuggie gaan beleef het.  Ek moes daar en dan die bont ding myne maak – amper handhandig geraak met die winkelier want hierlangs is Engels onverstaanbaar. Pluk my humeurtjie op soos ‘n wafferse kapokhaantjie, druk ‘n geldnoot in haar nat handpalm en stap kordaat weg met stywe beentjies.

IMG_1569.JPG

My rooi-veer-stoffer – perfek vir my tafel se middel vesiering…

Die onderhandeling het my man effe broos gelaat, (geswaai van handgebare) nou het ons eers hier in ‘n koffiewinkeltjie lokale Hanoí-biere kom opslurp.  Hy lyk nou weer effe begeesterd so voorwaarts…

 

‘n Nama se plan…

 

Na ‘n kort vakansie in Namibië, vertel ek graag van die Namib se kleurvolle mense.  Swart-Piet is ‘n legendariese melkboer in die Aries distrik wat sy kannemelk verkoop op die hoofpad tussen Rehoboth an Windhoek.

 

***

Gertruida is ‘n spierwit ganswyfie met die mooiste blou oë en ‘n raasbek wat my wakker gil sonder dat die hoenderhaan sy beurt kry. Net na ses-uur se wintersoggend kom als in rep en roer op onse Klipwerf. ‘n Tydskakelaar druk die sproeiers oor die grasperk in gelid soos soldaatjies en die nat grondreuk laat jou na reën verlang.

 

Ouma bêre ‘n reënboekie in haar kamer. Jaar-vir-jaar word reënmeterlesings in Ouma se reënboekie met potlood neergepen; datum en millimeter. Jare lank bly Ouma geheimsinnig oor haar reënboekie. As kind het ek dit net een keer onder oë gehad, en daar was baie meer syfers en aantekeninge as net reënmeterlesings daarin. Goete soos geboortedatums, troudatums en volle doopname van vêrlange familielede staan ook daarin opgeteken.

 

Matteas is net na ligdag aan die gang. Melkkanne word uitgewas, bindrieme styfgetrek, koeie uitgemelk en skaap word uit die kraal gejaa. Hoenders word gevoer en eiers word uitgehaal en mis uitgevee. Mens hoor die melkemmer se klingel en Matteas se gefluit; die-en-daai-kant van die werf.

 

Hier is ‘n hele bondel opgewonde honne wat nie kan wag totdat die orige leksektjie warm melk vir hulle uitgegooi word nie. Dan word daar ‘n draai gestap, langs die lyndraad af, dam se kant toe. Hierdie gestappery is beslis die hoogtepunt van die honne se oggend. Die okkasie word met ‘n malkop geblaffery aangekondig en hulle trek weg met bokspringe en hol stofstrepe tot anderkant die klipmuur waar hulle my nie meer in sig het nie. Dan kom een vir een en hardloop so sirkel om my te kom haal.

 

Net anderkant die draai kom Swart-Piet met sy donkies en donkiekar my tegemoed gestap. Hy ry self nie bo-op nie want die hele donkiekar staan vol melkkanne. Swart-Piet maak sy bestaan deur varsmelk te smous onder ‘n koelteboom langs die hoofpad. Vanoggend is daar beslis iewers ‘n slang in die gras. Hy groet skaars voordat hy lostrek en met ‘n kiesvol pruimtwak verduidelik hoe die ‘government’ ‘n hardwerkende mens se lewe opvark.

 

Screenshot 2016-07-09 15.51.52Swart-Piet moet deesdae onderdeur ‘n nuwe laagwaterbrug sukkel om sy donkies en donkiekar se melkvrag met die kortste pad by die hoofpad te kry. Voorheen het die grondpad en vlei daardie area modderig en besaai met klip so-te-sê onbegaanbaar gelaat. Selfs vier-by-vier bakkies het al in daai klip en modder driffie vasgeval. Sommige dae het Swart-Piet en sy donkies so gesukkel om deur die drif te kom, dat die melk staat en suur word het op daai donkiekar, lank voordat hy by die grootpad uitkom. So maand gelede het die paaie departement ‘n nuwe laagwater-onder-brug opgerig en die grondpad bo-oor gestoot.

 

Beswaard vertel Swart-Piet dat die nuwe brug net ‘n dure beslommernis vir hom in die lewe veroorsaak het. Oor daai nuwe sement brug het die polieste hom kom arresteer en die magistraat het hom ‘n wrede boete opgelê vir die kamtige beskadiging van staatseiendom.

 

Swart-Piet vertel: “Eerste keer toe die donkies onderdeur die brug moes deurstap kielie die brug se dak so vat-vat aan die Matilda-en-Roeskol-die donkiepaar se ore. Slaat en stoot soos ek wil maar daai ore bly te lank en my donkies wil nie kop laat sak of deurstap nie. Toe maak ek ‘n Nama-plan en kap die nat sement weg met die donkiekar se wiel-spanner. Sien; kap bietjie van die brug weg om virri donkie se ore plek te maak. Terwyl ek nog so kap kom die veediefstal se polieste daar verbygery en gooi my agter-in hulle vêntjie. Reguit dorp toe met my, nog voor tien-uur staat ek voor daai dik magistraat.

Ek verduidelik en verduidelik van die brug wat te laag is want die donkies se ore kielie en dan wil hulle nie deurstap nie. Maar nee, daai kêns-magistraat-vroumens sê “ek moes die riviersand onder die brug uitgeskep het.” “Toe kap sy haar stomp houthamer en beboet my met twee-duisend Nam-dollar.”

Hoogs beswaard spoeg Swart-Piet ‘n natkol pruimtwak vlak voor hom in die stofpad.

“My Nooi, wat weet daai platkop-magistraat? …Sand onder die brug uitgrou, verbeel jou dit!  Dink hulle ek is simpel?  Selfs ‘n kind kan mos sien dissi my donkies se bene wat te lank is nie – dis hulle ore!”

 

 

Oupa Vrystaat en Kakkerlak…

 

My Oupa se sweep het agter die deur aan ‘n hakkie gehang. Een dik en een dun punt het die vloer so kieliestreep getrek wanneer die deur toeswaai. Almal het geweet Oupa se sweep-swiep was vinniger as slangpik en harder as geweerskootklap. Die dorp en Kerkraad het in fluisterstemme geskinder van Oupa wat vir sy volk, grond uitgedeel het.

 

Hy was die kalmte vanself en ek vermoed hy het dit heimlik geniet om anders te wees. Gedorie waar; ek het Oupa nooit een keer hoor skree of vloek nie. Maar Oupa het bees en skaap aanja, vanuit sy bakkie met sy sweep.  Hy het eenslag ‘n perdebynes onder die dakoorhang met die sweeppunt afgepiets. Die werkers was doodsbang vir daai gryskop met sy groen fluweekbroeks en kruisbande. Hy het geruik na Lux seep, Old Spice, Bryl Cream, Kiwi skoenpolitoer en Boxer twak en het Wilsons toffies in sy broeksak gedra.

 

Oupa Vrystaat het altyd na middagete sy pyp gestop en sy hoed op sy kop geplant. Dan vat hy sy sweep in die een hand en geelkierie in die ander hand. Aan die eenkant was sy spikkelhond, hy het met so driebeen wip-stappie met Oupa oor die werf gestap. Kakkerlak was altyd Oupa se skadu, en hulle was orals saam op vendusie. Kakkerlak kon ‘n gemsbok op die volgende rooiduin lank voor almal, eerste raakkyk en spoorvat was sy ding. Kakkerlak se hoed was getooi met ‘n verinneweerde pouveer. Oupa se hoed had ‘n plat groen veertjie in die hoedband wat opstaan in die wind wanneer Oupa sy dieselbakkie bestuur.

 

Kakkerlak was ‘n geel-rimpel Namib boesman wat agterop die bakkie saamgery het, want spikkelhond was voor langs Oupa. Oupa het gesê: “Die dag as sy spikkelhond leer om plaashekke oop te maak, kan sy spikkelhond en Kakkerlak plekke omruil.”

 

As Oupa en Kakkerlak weerskante van die tabakblare se rye gestap het, het hulle net soos daai twee punte van die sweep gelyk, een dik en een dun.

 

Net sy Ma het hom Gogga geroep maar al die ander werkers het gesê dis te mooi vir iemand so lelik, en hom Kakkerlak gekoggel. As Oupa hom so geroep het, het Kakkerlak se pienk tannevleise gewys en het hy met wakker oë als geluister wat Oupa sê. Dan het Kakkerlak geantwoord: “ Ek hoor hom, my Kroon”.

 

Oupa Vrystaat het goeters geweet sonder dat mense dit vir hom kom sê het. Hy het als geweet van beeste en skaap, vendusies en markpryse, oes en plant, van reën en droogte, van die Bybel en van oorlog. Net die regering en belastingman het hom omgekrap.

 

Kakkerlak was Oupa se voorman want hy kon stywe lyndrade span en reguit ploeg met die trekker, en hoor nog Oupa sê: “Ek het Kakkerlak reeds kleintyd na my hand geleer.” Daai voorman het gesnuif, pruim gespoeg, gedobbel en gevloek wanneer hy gedink het Oupa is te vêr om te hoor. Ek dink nie Oupa het hom daarvan geleer nie.

 

Toe klein Miena met ‘n lap oor die oog in die kombuisdeur kom snik het, het Oupa gewéét Kakkerlak was stormdronk en kaalgat aan die dans om die vuur by die stroois. Oupa en sy sweep en my Pa en die spikkelhond is donkernag uit. Miena se gekerm was erger as koei wat kalf, en ek moes laat nag tee maak en lakens opskeur vir bindlappe.

 

Sekerlik het ek daai aand diep geslaap, want ek het niemand met die dieselbakkie hoor terugkom nie.

 

Die volgende oggend het die son lang skadustrepe by die hout tabakstoor geskuif, maar daar was geen teken van Oupa se sweep of van Kakkerlak nie. Inteendeel – geen siel het dit oor die werf gewaag nie. Ouma en Miena het heel oggend die spêns uitgepak en rakke afgewas en uitgelê met Landbouweek se geel advertensieblaaie. Miena se oog en wang het kompleet gelyk soos ‘n dubberdoor eier. Oupa het draadloos geluister en met my Pa oor veilings en reën en wolke gepraat. Daai spikkelhond het ‘n paar keer tussen die stoep en die windpomp gehol en dan op die trap van die rooistoep kom staan, en vir Oupa in die oë kom kyk.

 

Heeldag wou ek weet wat aangaan. Die hele huis het skielik in fluisterstemme gepraat en stil gebly as ek instap. Ek was elf-jaar oud en Ouma het gesê ek moet ophou tanne tel en my heeldag rondgestuur vir eiers uithaal en die hele groente boord nat te lei. Daarna moes ek perd opsaal en ry om vir die bure gaan sê hulle dorpers het draad gespring en wei in Ouma se lusern.

 

Twee dae later het Oupa se sweep weer geswaai vanaf die hakkie agter die voordeur. Wanneer die deur swaai het die sweep se kortpunt geklap soos ‘n droë kareeboomtak wat afbreek. Die kortpunt het oor die jare bly uitrafel en nooit weer het die sweep soos geweerskoot geswiep nie. Daai spikkelhond het nou alleen met Oupa uitgestap en bly sirkels hardloop met sy neus laag in die sand.

 

Miena het oornag witgrys geword, haar gesigswelling het weldrae beginner sak maar haar oog het bly rondspring; boontoe en agtertoe soos ‘n flitslig bome toe, soos wanneer iemand uile jag. Goete het soos pap uit haar hanne bly val, maar Ouma het net bly koppies vervang by die Koöperasie. Party dae het Miena ure lank oor die kombuis se half-deur in die sonnetjie gestaan en uitkyk met een spring-oog en een wat staar na niks.

 

Vir Kakkerlak het ek jare later, net vir een dag weer gesien, tydens Oupa se begrafnis. Met einste Pouveer-in-die-hoed het hy kis gedra tot anderkant die tabakstoor en die sweep op die kis gelê voordat die ding laat sak en toegeskoffel is.

 

Die Kerkmense het gefluister by die begrafnisete dat Oupa mos doeityd vir dronk Kakkerlak aan ‘n Kareeboom in die veld gaan vasbind het met daai einste sweep. Hulle reken Kakkerlak was ‘n gevaar vir homself en ander. Toe Oupa reken Kakkerlak het nugter tot sy sinne gekom, vind hulle net sy sweep daar by die Kareeboom. In sy dronk waansin het Kakkerlak waaragtig die sweep met sy bek sonder tanne deurgekou.

 

Voordat die teedrinkery verby is, hoor ek jare lank het die distrik se polieste ook na Kakkerlak gesoek het, oor Miena se oog-ding. Gereeld het hulle hom kom uitsnuffel op die plaas, maar kon nooit hande lê op Kakkerlak nie.

 

Dis toe dat ek besef; Oupa Vrystaat se andersheid was sy geheim, en Kakkerlak was uit die oog, maar altyd, in armlengte van Oupa af.

Die tydglas drup uit…

Hier binne-in die kas is dit donkerder as wat ek myself voorgestel het. Niemand sal my hier kom soek nie, dis streng verbode om in Ma-en-Pa se slaapkamer in te kom. Die houtvloer het reeds twee keer gekraak waar Nico, my boet, in die deurkosyn kom huiwer het.

 

Seker op sy pensvelle gelê – so in die deur; om my onder die bed te soek. Ek is gedetermineerd om soos die Skim weg te kruip. As iemand na die kasdeur aangesluip kom, sal ek vinnig opstaan en myself toevou in Pa se lang kamerjas, wat tot op die kasvloer hang.

 

Na wat soos ‘n ewigheid voel, met my knieë onder my ken opgetrek; my kaalvoete diep in my Pa se pantoffels, is ek en Klaasvakie aan die stoei.

 

Later hoor ek my broers speel in die gang. Hulle skaats op op-en-af op die gepoetste vloere op hulle grys skoolsokkies. Die wegkruipery, en ek in die kas, is lank vergete. Dis ‘n uitbundige speletjie en ek brand om te deel in die sports.

 

Uiteindelik staan ek om bloedvloei terug te kry in my bene. Lank talm ek; snuffel aan my Pa se baadjie, asof ek hom die eerste keer raakruik. Vir oulaas verwonder ek myself oor die growwe tekstuur van sy gunsteling trui. Die tydglas drup uit, ongesiens glip ek uit my Pa se klerekas.

 

Hier in die grootmens wêreld is dit meer doodgewoon as wat ek myself voorgestel het. Niemand sal die bokstertkind hier kom soek nie. Dis nou taboe om kinders speletjies te speel- maar grootmense speel in mekaar se verbode slaapkamers. Van ons vriende se huwelike het reeds gekraak waar versoeking, geld en jaloesie, in die huwelik kom kuier het.

 

Slim het homself uitoorlê – soek sy maat ook agter die deur; soek sports in ‘n ander bed. Ek is gedetermineerd die Skim het nog nooit weggekruip. As iemand in wolfklere aangesluip kom, bid dat ek vinnig myself toevou in my Man se huweliksbeloftes wat ek as pand, elke dag aan my hand dra.

 

Meer as twintig jaar getroud kan soos doodgewoon voel. My Vrystaatman se rasperstem het by tye nog my knieë lam. As hy reis; loop ek die huis vol in my man se pantoffels. Klaasvakie en ek stoei nie, ek slaap rustig wetende ek is gelief.

 

Ek mis my kinders se speel in die gang. Hulle gatte het gebrand oor skaats op hulle grys skoolsokkies. Die speletjies en lesse van my ouerhuis sal my altyd bybly. Hierdie is ‘n uitbundige lewensdeel en ek is snoep om my gesinstyd te deel met ander.

 

Uiteindelik staan ek op my eie bene. Lank het ek getalm; gewonder of ek hierdie huwelikdeel, regdoen. Vir oulaas verwonder ek myself oor die gunsteling saamkuiers en vakansies van my gesin.

 

Die tydglas drup uit, ongesiens glip hierdie wonderlike lewensdeel verby, die kinders is nou groot.

Luiaard gaan na die mier

click here to translate..

In opdrag van SHARE YOUR WORLD – 2016 WEEK 9

Hierdie gedelery is oorspronklik in Engels, maar ons kan mos die Rooitaal omdop! 


Het jy vandag iets gedoen wat jy vreeslik graag wou doen?

Vanoggend het ek tuisgebakte sjokelade muffins gaan afgee by my Indiese buurvrou.  Sy is soos ‘n besige miertjie, oppad werk toe of besig om haar seuntjie rond te karwei.  Tog maak sy altyd tyd om hallo te sê, altyd vriendelik en tegemoedkomend.

Screenshot 2016-04-10 20.36.34.png

 

Wat kan jy die Wêreld mee help?

As ek iets kon verander sou ek mense meer verdraagsaam wou maak teenoor andere.

Klink simpel en eenvoudig maar ons oordeel so gou.

Onlangs is ons na Thailand waar ek eerstehands met Boedisme te doen gekry het.  Mense se absolute aanvaarding van almal om hulle- het my verstom.  Hulle het ‘n leef en laat leef houding teenoor almal.  Of jy nou ‘n homoseksueel, transvestiet, lesbeen of doodgewoon is, hulle aanvaar almal.

Almal is perfek-God maak nie ‘n fout nie!  Ek verloor dit soms uit die oogpunt. Ek gaan hierop probeer verbeter.

Is dít nou nie ‘n wonderlike uitgangspunt nie?  Almal is perfek geskape.

In onse Kerk voel ek mens spandeer soveel tyd om te besin oor die verlede, vergifnis vir wat ons reeds aangevang en gedink en begeer het.  Boediste spandeer baie tyd in die hede en toekoms. Probeer vandág beter doen as gister, doen vandág iets vir jou medemens, streef, beplan en bid vir ‘n beter môre. Iets wat ek na kan streef… sien – vandág sjokelade muffins gebak en uitgedeel.

Mens moet iewers begin.

 

As die lewe ‘maar net ‘n bak vol kersies was’… watter soort vrug sou jy wees..?

Moerbye, daardie sappige pers soort wat net vir omtrend drie weke in die jaar in seisoen is.

 

Aanhalingslys: Lys drie van jou gunsteling aanhalings?

Om af te breek is geen kuns nie. ‘n Klein babetjie kan ‘n blommetjie verniel wat dit ‘n God gekos het om te maak.~ C.J. Langenhoven

As jy nie kan positief wees nie – wees dan stil – Joel Osteen

Screenshot 2016-04-10 20.38.39.png

Die doel van die lewe is om jou geskenk aan die Wêreld te besef, die sin van die lewe  is om daardie geskenk met die Wêreld te deel – William Shakespear

my gunsteling: Luiaard gaan na die mier – Die Bybel

 

Bonus vraag: Wat van verlede week is jy dankbaar voor?

 Gesondheid – ek neem waar; my Moeder se brose ou-mens lyf. Osteoperose en daaglikse pyn – ek voel so hulpeloos.  Kan ek nie van diepyn help dra nie?
Ek is innig dankbaar vir my eie gesondheid en oefen hard om fiks te bly.
In die komende week, waarna sien jy uit?
My man gaan vir besigheid reis – ek sien uit na sy laat aand gesels-oproepe…
Screenshot 2016-04-10 20.43.46