Category Archives: Skryfoefening

Mielies

Click here to translate this: Copy and paste

In deelname van Share Your World 2016 #14Die uitdaging is in Engels maar ek dop die ding om in Afrikaans.  

Onthou hierdie is ‘n kamma wêreld so die antwoorde weërspieël nie noodwendig my realiteit nie…

 

Sou jy iemand kon huur om jou te help, sou dit wees vir skoonmaak, kook of tuinwerk?

Definitief kook en tuinwerk, miskien skoonmaak so nou en dan.

My Vrystaatman is beslis ‘n “foodie” en sy Ma het ‘n skitterende ding met beide van haar seuns in die kombuis aangevang. Hulle kook en braai en bak en maak en eksperimenteer.  My Ma het destyds een van haar menigte wyshede kwytgeraak en my ore was toevallig oop.  Sy het gesê: “As ‘n man vroetel in die kombuis, maak jou self tuis op ‘n kombuisoppervlak, komplimenteer hom en skink vir hom ‘n glas rooiwyn.” Maar ek hoef hom nie te betaal nie 🙂  Al wat ek moet doen is om seker te maak daar’s iets eksoties soos Volstruisvleissnitte, interessante kaas of witwarm rissies vanaf vreemde plekke. Dan snuffel hy ‘n resep op die internet of vanuit ‘n kookboek. Mens kan letterlik sien hoe die ratte en wiele beginne klik en draai soos wat hy beplan aan iets ‘anders’ in die kombuis.

Ons was gelukkig genoeg om in Nairobi te woon toe my kinders piepklein was.  Ek was ewig dankbaar vir Anthelum ons ‘house-boy’ wat soos ‘n wafferse Butler of huiskneg, gekook en die huis sprankelind gehou het.  Jare later onthou ons hoeveel moeite hy gedoen het met die kinders se kos. Soveel so dat ek nooit die kans gekry het om een enkele botteltjie Purity aan te koop nie.  Hy was elke sent die moeite werd.  Ek sal GROOT geld betaal vir iemand wat wéét hoe om my huishouding te behartig sodat ek meer kwaliteit-tyd met my  kinders en man kan deurbring.  Miskien moet ek die voorstel aan Ouma maak…teen betaling!

Toe ons die plaas koop was Matteas reeds vir agt jaar op die plaas woonagtig.  Hy is ‘n opgeruimde werker wat selfs ‘n besemstok in die grond kan druk en weer aan die groei kan kry.  Groen vingers en vroeë oggende is so reg in sy kraal.  Hy’s op sy gelukkigste as hy iets kan plant en as hy in die grond kan vroetel.  En als wat hy sy hande aanslaan groei welig.  Onlangs het ek hom gevra wat wil hy self graag plant en sonder om te skroom het hy verklaar: “mielies”!  Nou groei daar welige mielies teen die heining af, tussen die tamaties en al om die Yukka plante!

Screenshot 2016-04-10 18.54.48

Groente in die tuin

 

Wat maak jou die hardste en lekkerste lag?

Ons diere op die plaas wat in harmonie probeer saamleef.  Die boerboel het ‘n gunsteling skaap waarmee hy soms speel.  Hy neem sulke halfhartige wol hap byte van die skaap, dan spring die skaap om, en jaag die hond in sirkels. Dis ‘n gekopstampery en gespringery en ‘n gehollery in sirkels.  

Ons het so langhaar wolkat wat die honde lê en inwag op meubels. Sodra die honde niksvemoedend verby stap bespring sy die honde en die gespelery wat dit afgee kan enige iemand se dag ophelder.

Die lammers en jong kalwers het ook mos maar so bokspring ding wat hulle aanvang. Sodra daar ‘n reuk van reën iewers n die lug hang raak almal mos verspot.

Elke nou en dan bekyk ek iets op You Tube wat my aan die giggel het. Ek hou in besonder daarvan as iemand andere se verwagtings uit oortref.

 

As kind, wat was jou gunsteling kos?

Gebraaide geelmielies op die rooster met dik botter en baie sout.

 

Lys vyf van jou gunsteling blomme of plante.

Bloupers krismisrose, Pienk appelkoosbloeisels, Screenshot 2016-04-10 18.43.40

Magnolia blomme, immergroen Ficus bome wat roer in die wind, Bloekombome wat hoogstaan en ‘n tapyt van blare afgegooi het.

 

Bonus vraag:In hierdie week – waarvoor was jy dankbaar? ~ 

Onlangs het ek verfklasse opgeneem – die kunstenaar is baie geduldig en talentvol. Ek is dankbaar om die tyd en geleenthid te hê om iets nuuts aan te leer.

 

~ in die komende week waarna sen jy uit? 

My seun gaan op sy eie reis en vir ‘n vriendin, en sy suster gaan kuier. Beide van hulle is in ander lande as waar hy tans woon.  Ek is dankbaar vir die geleentheid wat hy kry om jonk te wees en iets opwindend na uit te sien.

~ oOo ~

041514-sywbanner

Click on the badge to join the fun!:)

Luiaard gaan na die mier

click here to translate..

In opdrag van SHARE YOUR WORLD – 2016 WEEK 9

Hierdie gedelery is oorspronklik in Engels, maar ons kan mos die Rooitaal omdop! 


Het jy vandag iets gedoen wat jy vreeslik graag wou doen?

Vanoggend het ek tuisgebakte sjokelade muffins gaan afgee by my Indiese buurvrou.  Sy is soos ‘n besige miertjie, oppad werk toe of besig om haar seuntjie rond te karwei.  Tog maak sy altyd tyd om hallo te sê, altyd vriendelik en tegemoedkomend.

Screenshot 2016-04-10 20.36.34.png

 

Wat kan jy die Wêreld mee help?

As ek iets kon verander sou ek mense meer verdraagsaam wou maak teenoor andere.

Klink simpel en eenvoudig maar ons oordeel so gou.

Onlangs is ons na Thailand waar ek eerstehands met Boedisme te doen gekry het.  Mense se absolute aanvaarding van almal om hulle- het my verstom.  Hulle het ‘n leef en laat leef houding teenoor almal.  Of jy nou ‘n homoseksueel, transvestiet, lesbeen of doodgewoon is, hulle aanvaar almal.

Almal is perfek-God maak nie ‘n fout nie!  Ek verloor dit soms uit die oogpunt. Ek gaan hierop probeer verbeter.

Is dít nou nie ‘n wonderlike uitgangspunt nie?  Almal is perfek geskape.

In onse Kerk voel ek mens spandeer soveel tyd om te besin oor die verlede, vergifnis vir wat ons reeds aangevang en gedink en begeer het.  Boediste spandeer baie tyd in die hede en toekoms. Probeer vandág beter doen as gister, doen vandág iets vir jou medemens, streef, beplan en bid vir ‘n beter môre. Iets wat ek na kan streef… sien – vandág sjokelade muffins gebak en uitgedeel.

Mens moet iewers begin.

 

As die lewe ‘maar net ‘n bak vol kersies was’… watter soort vrug sou jy wees..?

Moerbye, daardie sappige pers soort wat net vir omtrend drie weke in die jaar in seisoen is.

 

Aanhalingslys: Lys drie van jou gunsteling aanhalings?

Om af te breek is geen kuns nie. ‘n Klein babetjie kan ‘n blommetjie verniel wat dit ‘n God gekos het om te maak.~ C.J. Langenhoven

As jy nie kan positief wees nie – wees dan stil – Joel Osteen

Screenshot 2016-04-10 20.38.39.png

Die doel van die lewe is om jou geskenk aan die Wêreld te besef, die sin van die lewe  is om daardie geskenk met die Wêreld te deel – William Shakespear

my gunsteling: Luiaard gaan na die mier – Die Bybel

 

Bonus vraag: Wat van verlede week is jy dankbaar voor?

 Gesondheid – ek neem waar; my Moeder se brose ou-mens lyf. Osteoperose en daaglikse pyn – ek voel so hulpeloos.  Kan ek nie van diepyn help dra nie?
Ek is innig dankbaar vir my eie gesondheid en oefen hard om fiks te bly.
In die komende week, waarna sien jy uit?
My man gaan vir besigheid reis – ek sien uit na sy laat aand gesels-oproepe…
Screenshot 2016-04-10 20.43.46

Wat is op jou kassie?

In opdrag van Scrapydo: Week 12 – Slaapkamers

Boekwinkels en biblioteke se reuk toor met my.  Miskien is dit die mot in my want ek word vasgevang om in dowwe sirkels, in sag lig, my draaie deur hulle te drentel.

So kom ek eendag af, op ‘n koffietafel boek vol kiekies wat op mense se bedkassies rondstaan.  Blykbaar kan één kiekie ‘n beeld weergee van jou hele persoon.

Dis so persoonlik.  Bed-opmaak doen ek sodra ek opstaan, maar as Carla gou in my kamer wil instap, wonder ek altyd of my slaapkamer geheime om my bedkassie weggegee word.

Op my kassie is ‘n stapel boeke en parfuum.  Ek lees gereeld meer as een storie op dieselfde tyd.  In die badkamer-terwyl ek wag vir badwater om in te tap, of kombuis-wanneer ek vla omroer; tel ek net ‘n boek op. Onlangs het ek vir Jo Nesbo raakgelees en nou verslint ek al sy skryfsels.  Daar is ook ‘n blink tinfoelie pakkie met bloeddrukpille en ‘n glasbottel drinkwater.  ‘n Ikea leesliggie met ‘n kameelnek en ‘n LED helder bulpie.  ‘n Leesbril en sjokelade.

My Vrystaatman se bedkassie lyk asof hy dit nounet ingeskuif het.  Daar staan net sy leesliggie, sy beursie en sy telefoon wat hy herlaai.  Niks anders nie. Hy’s verwoed minimalisties.

My Ma se bedkassie is dit net pille, poeiers, parfuum en nagrome.  In haar skadu-jare ervaar sy gesondheidsprobleme al is sy nog – in my opinie: die mooiste vrou.

Carla my vriendin se bedkassie vertoon tarrotkaarte, pêrelstringe, bonkige juweliersware, haarrekkies en haarkamme. Telefoon kabels en kougompakkies, simkaarte en ‘n handvol Baht munte. ‘n Malkop wilde sorgvrye reisiger, daardie ene….

Op my seun se bedkassie, in ‘n dik stoflaag is ‘n foto van ‘n meisie, pakkies sigarette, sy pyp, ‘n asbak, beursie, vaal munte en sy telefoon. Niks misterieus omtrend hom nie.

Nou wat sê die slim mense as mens geen bedkassie het nie?

Die huurplek in Akkra se slaapkamer is ruim en prakties. Ek is ‘n regte naguil en hou van laataand lees. My nagliggie se ligstraal pla manlief.  Slaap kom oorval die Vrystater met moeite, en ander halfuur beginne hy rusteloos omdraai – dis my teken vir ligafskakel voordat hy steun en kreun, en ek skuldig voel.  Hy reken ek is die mens wat die ‘gou-aan-die-slaap-val’ rekord hou.  Tussen regopsit en my kop kussing vat, val ek aan die slaap.

‘n Paar jaar gelede het my Vrystaatman een reënmiddag die TV van die muur in die kamer afgehaal en onder die arm mee uitgestap.  Dit was die laaste van ‘n TV in die kamer.  Elke  slim vrou weet watter bekgevegte sy kan wen…

Onlangs het ek my esel en verfkwasse in die kamer kom staanmaak. Die lig is net reg, musiek is altyd aan die speel en die groot vloerteëls hou die kamer lekker koel.  Solank die verfpotte en kwaste netjies weggepak word, is daar geen kommentaar van die kamermaat nie.

As ek my sin kry gaan ek ‘n paar slaapkamer veranderings aanbring as ons eers weer in Windhoek se plaashuis woon. Die klerekaste moet ‘n sagte binnelig aanskakel sodra en die kasdeure ooptrek.  Daar moet ‘n ekstra ligskakel aangebring word wat ‘n sagte lig agter die bed se kopstuk aanskakel sodat ek voor ligdag met kalmte kan wakkerword.  My gordyne gaan ek verander sodat dit pikstikdonker kan wees as dit toegetrek is.  Ek smag na ‘n outydse waskom en wastafel en weet presies waar ek moet gaan snuffel om een te koop.   Miskien moet ek die muurversierings effe opdateer, ek voel ‘n smeulende Marilyn Monroe hoort ‘n ereplek iewers op ‘n muur.

Ons slaapkamer het ‘n deur wat direk op die werf uitloop.  Mos maar ou plaashuis.  Daardie oudeur wil ek vervang met ‘n mooie houtdeur met Franse glaspaneeltjies in.  In die somer staan die deur oop sodat die koellug kan deurtrek.  Op sy tyd sal ek die sekeuriteitslig verder van die kamer skuif om die tarrentale stil te kry.  Dis ‘n nuwe streep van ‘n paar tarrentale wat met skrilstemme mekaar beledig die hele aand.   Die probleem is die dat dieselfde swaeltjies jaar-vir-jaar daar op daardie sekeuriteitslig kom broei en nesbou.  Ons lê vroegoggend en luister die voëltjies.  Beste plan is seker om die lig daar te behou en met die koord af te knip. Daar staan ‘n groot boekrak in die kamer.    Huidiglik het ons ou teekiskassies, op die sy gedraai, met net plek vir ‘n ronde 40 watt vaalbedliggie. O-ja, ek soek  ‘n reuse wit muskietnet wat oor die bed pas… Nie oor muskiete pla nie – ek dink net dis romanties…

Noudat laataand lees uit is, is dit tyd om daai boekrak uit te gooi en meer praktiese bedkassies aan te skaf.  Miskien bring die veranderings nuwe geheime en idees… mens weet nooit.

 

 

Oefening

In opdrag van Toeka-Tokkel nr. 10 :Oefening

 

My oudste boet was altyd geheimsinnig, hy kon homself vermaak en in die proses homself gate uit geniet.  Iewers op die plaaswerf het hy ‘n reuse rondeneus enjinkap opgespoor;  dit met die vaal donkie na die plaasdam gesleep.  In die middae na skool het hy weggesluip en alleen in die enjinkap op die dam rondgeroei.  Natuurlik het ek uitgevind en op die wal gestaan en kerm:” ek wil saam…!” So in die roei het meer en meer water in die enjinkap ingespoel.  In die middel van daai plaasdam het die blerrie ding onder ons gesink en ek het so-te-sê verdrink.  My Pa het ons gatvelle afgetrek.

Na die plaasdam versuipery, was moes ek heeldag aanhoor “Nee, jy kan nie saamspeel nie want jy’s ‘n meisiekind.”  Voordat ek enige in enige gespelery kon deelneem moes ek eers ‘n ‘toets’ slaag wat my ‘waardig’ genoeg sou maak om met die seuns te speel.

Hierdie ‘toetse’ het my meer oor myself en my perke geleer as wat Ouboet ooit kon raai.

Soms moes ek Wilbert-die-beneukte-stoet-bul, bekruip en ‘n klap op die gat gee voor ek laat spaander het en oor die klip kraalmuur moes spring.  ‘n Ander toets het behels ek moes die wit bokram se knatersak ‘n tik met die plathand gee en weghol sonder dat hy my van my voete af kon afstamp.  Sondag middae het ons gewag tot die oumense slaap, dan het ons beeskraal toe gesleep.  Dit was groot sports om ‘n groot kalf aan die stert te gryp en op jou hakke deur die die beesmis strepe in die kraal te ‘ski’.  Daar was ‘n befoeterde mannetjiegans van my ouma genaamd Hansel.  Ons kon net Ouma se aarbeie ge-oes kry as ek net-net vinniger as Hansel kon hardloop voordat hy my ‘n bloukol in die been kon knyp.  Magriet die vaal donkie was hondmak as jy haar eers gevang het.  As ek vandag terugdink dink ek sy het die gevangery vreeslik meergeniet, as ek.

Ouboet se toetse het ek nie altyd met die eerste probeerslag geslaag nie, maar daar was net niemand anders om mee te speel nie.  Die geheim was om te bly oefen…totdat ek dit kon regkry…

 

 

 

Hulle eet muskiete…

In opdrag van Toeka-Tokkel no 9: Verbeelding

Naeldekokers kan dans op water met hulle blink vlerkies – hulle skep  water vir feetjies. My Pa sê hulle eet muskiete. Anders as bye, steek hulle jou nie. Jy moet net regtig stilsit, dan kom al hulle maats om jou dans. Hoe meer daar om jou dans – hoe gelukkiger is jy.

Melissa was Juffrou van Rooyen se pokkeldogter wat geklik het oor als by haar Juffrou-mammie. Niemand wou Klikkiebek Melissa se pousemaatjie wees nie. Pouses het ons haar vermei – oor die skoolheining agter die pawiljoen gespring waar die heining op sy laagste was. Dan het ons daar naby langs die spruit gaan stilsit, voete in die water en naeldekokers tel. Wanneer die pouseklok gelui het, het ons teruggespaander; uitgelate teruggebondel in die van Rooyen-klas.

 

Melissa se Ma, Juffrou van Rooyen het ‘n harige moesie op haar knobbel neus gehad; Lexinton sigarette gerook en haar krimpelien romp het om haar lyf gedraai as sy stap. Doei tyd het jy sommer baie lesse gehad by jou klasjuffrou. Haar stemtoon het gewissel tussen skril en die druis van ‘n muskiet.  Ek onthou niks wat sy my geleer het nie, net dat haar onderrok ‘n bruinvaal kantrandjie met motgate en toiings uitgehang het.

 

Daar was twee Graad-2 klasse, en in die aande het ek in my bed gelê en bid dat ons klasjuffrou moes vrek in haar slaap of verdrink in haar bad, sodat Juffou Moolman ons kon leer. Vanuit ons klas het ons die ander klas gereeld hoor lag, handeklap, giggel en sing. Anders as mooie Juffrou Moolman, was Juffrou van Rooyen sweterig – vandaar haar bynaam: Bloukaas. Wanneer jy langs Bloukaas se tafel gestaan het, het sy hard asemgehaal terwyl sy jou binnebeen blou-knyp. Melissa het my gespot, gesê ek’s ‘n pisgat omdat ek gesnik, maar nooit gehuil het nie. Dan moes ek pouses binnebly en die vloer uitvee terwyl Melissa rondsit en smalend vir my kyk. Vir die kleinste onbenulligheid was Bloukaas se gunsteling straf, om jou in die hoekie te laat kniel met jou knieë op ‘n netjiese ry potlote. Daar het jy gebly totdat jy gehuil het, en gesoebat of gesmeek het. Ek het niks van daai dinge gedoen nie – net gebly kniel. Soveel so dat daai potlote blou strepies oor my knieë getreep het. Ek kon nie stap sonder om te hop-hobbel nie. Dit was oestyd en my Pa was vroeg uit en terug na bedtyd. Dae lank was ek gevangene op die speelgrond wat nie vir Melissa kon weghardloop nie.

 

Naby die snoepwinkel was ronde baksteen mure om die watertenks gebou waardeur die wind getrek het. Met water wat iewers van bo af gedrup het – met wind wat deurgetrek het –was die water altyd heerlik koel. Noudat ek nie kon weghol van Melissa af nie, het ek agter die watertenks gaan wegkruip.

 

Dit het nie lank geneem vir die naeldekokers om my te vind nie. Ek het doodstil gesit – en hulle het vir my kom dans.

 

Maar die speelgrond was maar klein en Melissa het my ontdek. Daar het sy gestaan – nes haar Ma: wydsbeen met vuisbolletjies geplant in haar sye. Wange twee bar opgepomp, haar donker slang ogies op skrefies getrek, besig om haarself op te werk in ‘n kenz-streep.

 

Toe begin sy gil. Nie ‘n kwaai malkop gil nie, maar ‘n beserk gil. Oor en oor gegil, beangs geval op haar knieë en haarself sopnat gepiepie. Al daai bohaai  oor blink-vlerk; ‘n ‘helikopter’ – daar het ek besluit naeldekokers was my gelukbringers!

 

Bloukaas het my aan die arm gepluk en in die stoorkamer geslinger. Daar in die donker het sy my ‘n snotklap so hard gegee dat ek die naeldekokers hoor dans het om my kop. So kwaad was sy – sy het soos ‘n hittegolf gesweef. Buite die deur het sy iets gehis van my ouers wat sal moet kom verduidelik en dat die skoolhoof hulle sou skakel.

 

Niemand antwoord plaaslyne in die middel van die dag, in oestyd nie.

 

Lank na die ander skoolkinders huistoe is, het Juffrou Moolman die stoorkamer kom oopsluit. My voorarm het ‘n snaakse buiging gehad en my hand was agterstevoor om-gebuig. Bloukaas se handmerk het blousel oor my gesig gewys. Ek het nooit gehuil of gekerm of gesoebat nie. Juffrou Moolman het gesnik en gehuil die hele pad hospitaal toe.

 

My Pa het die volgende dag nie gaan oes nie, hy’s skool toe.  Ek was in gips met harsingskudde en ‘n gebarste oordrom.  My klasmaats het my vertel, hulle het Juffrou van Rooyen hoor soebat, snik en tjank. Hulle het ook vertel hulle het ‘n klap gehoor, soos muskiet doodklap.

 

En toe is sy weg.

 

Juffrou Moolman het al die graad twee’s oorgeneem. Parykeer het sy die hele klas na die spruit geneem en ons het daar gesit en lees, gedigte geleer en geleer van groot woorde soos ekosisteme. Ek het als geleer, als opgeslurp soos ‘n spons.  Almal het gegiggel, hande geklap en gesing.

 

By die spruit was meer naeldekokers as ooit te vore. Niemand was bang vir naeldekokers nie. Ek was nog nooit gelukkiger nie.

 

 

(PS: Hierdie skrywe is fiksie.  Dis als net ‘n verbeeldingsvlug – -in opdrag van Scrappy – (Toeka-Tokkel,;sien die skakel heelbo)