Category Archives: Strange things

For Fox Sake…

Ai die Namibmense het darem maar ‘n anner manier van die Rooitaal praat.

 

Dis nou die bakoor jakkalsies wat dieselfde kleur van die gondpad is, loop hol mos oor die pad sodra jy aankom met die mouter.

 

Hulle kom orals voor regoor die hele Namibië, eet goggas, knaagdiere, voëtjies, en voëleiers.

Screen Shot 2018-04-28 at 11.19.04

Skaam sagte diertjies

Hulle weeg net so 5kg weeg, bedrywing saans,  mens sien die kleintjies nog minder.

 

Te lekker om die eiesoortige padborde raak te sien!

 

Lees hierso my anderdag se jakkals en kuiken storie

Advertisements

Laat gaat vir Skillie!

 

Gister was kamatag SA se Vryheidsdag. Gmmmpfff, hoe vry voel die Republiek se mense agter hoë mure, alarmstelsels, hekwagte, haak-en-steek roldraad en panieknoodknoppies?

 

Destyds is die SIMS rekenaar speletjie uitgereik, ek het ure lank, vir dae lank stede gebou. Ewentueël was ek as ‘burgermeester’ veilig, totdat my stad se mense my veiligheid as burgermeester bedreig het omdat hulle vir ure in verkeersknope vasgesit het. Daarna het een of ander Godzilla-monster vuurbolle gespuug en mettertyd het my stad tot niet verbrand. Doei tyd het ek gedink die SIMS speletjie het dit darem te vêr gevat, maar na dese was hulle scenario darem bitter na aan die werklikheid! Piepie bang politici jaag van punt A na B met blou-lig begeleiding, dood bang vir Jan-publiek. Wanneer die situasie kookpunt bereik, verbrand en plunder bondels mense net soos Godzilla die SIMS monster.

 

Og, ons het nie raad met hedendaagse se vryheidspolitiek nie. Een ding is seker, elkeen se idee van ‘vry wees’, verskil. Ken julle Yoshi se vryheid storie?

 

Meer as twee dekades gelede het mense nog ‘die regte ding gedoen’ en ‘n beseerde seeskilpad na die Twee Oseane Akwarium, in Kaapstad, geneem. Vandag sal iemand sweerlik die dingetjie opëet… So groot soos ‘n sopbord, word die seeskilpad Yoshi genaam, en spoediglik is daar goeie herstel vanweë die bootlemskade oor Yoshi se kop en die bakteriesegroeisels is van haar lyf verwyder.

 

Yoshi het in meer as twee dekades haar eie aanhangers na die akwarium gelok. Sy het onbeskaamd ander gediertetjies in die reuse tenk geboelie as dit by kos kom, en in meer as twintig jaar gegroei tot 183kg. Haar spesie is bedreig, en as volwasse seeskilpad, is die Free Willie, of laat gaat vir Skillie-ding besluit.

 

Heel gepas, op 16 Desember 2017- ou Dingaansdag, deesdae ‘Versoenigsdag’ genoem, op is Yoshi weer met die see versoen. Hierdie is nie net ‘n uitstappie nie – die besluit is nie ligterlik geneem nie – Yoshi is immers waardevol – en beroemd! Voor haar vrylating, is ‘n satelietsender op haar dop gemonteer, en elke 4-ure wanneer Yoshi kom asemskep, pieng sy haar posisie vir die volgende 3-jaar.

 

So koekeloer hierso waar sy in 20 grade kouewater, 27 seemyl vanaf Houtbaai, terugglip in die see. Te kostelik…

Is die natuur nie die mees fasineerendste konsep nie?  Instink gaan Yoshi terugneem na die strand waar sy gebore is, toe sy die eerste keer die see ingestap het was sy maar so groot soos ‘n eetlepel se kop! Sy woeker met die swemmery en swem net kort van 30km per dag.  Yoshi swem kus-langs en reeds die Republiek se Weskus verbygeswem.

Daarna het sy haar kom dikvreet aan die Namibiese kuslyn se jellievisse, en op die oomblik vreet sy net duskant die verlate eiland van Angolawaters  se Tierbaai.

Screen Shot 2018-04-28 at 09.46.25

Hierdie foto is vanaf TWO OCEANS”S Webblad

Die betrokke eiland is verlate gelaat nadat die laaste inwoner in 1974 weggetrek het.  Tierbaai is besonders ryk aan ‘n groot verskeidenheid seelewe, en baie gewild onder lokale vissermanne.

 

Tans is Yoshi so 10km vanaf die kuslyn, sy het reeds twee gevaarlike areas vermy wat met diepwater langseenette visvang.  Natuurlik is die vissersmense haar grootste gevaar. Volgens Wikipedia; sou sy in een van daardie seetreilernette gevang word, sou sy sekerlik versmoor.

 

Elke paar weke, wil ek weet wat Yoshi aanvang.  Ek verlustig my daarin dat sy vry is om te swem waarheen sy wil, en te vreet wanneer sy wil.  Natuurlikhet ek groot waardering aan die Twee Oseane Akwarium en hulle seelewemikrobioloeë, wat my die geleentheid gee of ook so neffens haar vryheid te belewe.  Hulle is immers toegewyd aan die beskermingsprogram vir vele meer seeskilpaaie. Ai Moeder, miskien het ek die verkeerde beroep gekies – ek verkyk my aan die videomateriaal van hulle versorging.

 

Siende dat ons onlangs hier kom nesskop het langs die Namibiese kuslyn, is die see en sy geheime ‘n heel nuwe ervaring. Ek is vrek nuuskierig oor die gediertjies daarin, veel meer as die Godzilla’s wat landswyd als in vlamme wil laat opgaan ter wille van ‘vryheid’.

 

 

 

 

 

 

Sing vir ‘n houtpop

 

Vanoggend, toe ek die wasmasjien laai, merk ek ‘n houtpop uitsteek by die skropvrou se oopbek handsak. Nuuskierigheid vat die oorhand en al my maniere vlieg by die deur uit; so loer ek skelmpies hoe lyk husse met lang ore.

 

Al wat ek raaksien is een moeg opgeleeste Bybel en die houtpop. Dis nie sommer so houtpop nie – dis ‘n handgekerfte, platkop ene met ‘n rooistring kraletjies om die middellyf. Heel oggend is ek doenig in die kombuis en betrap myself loer na die houtpop wat my dophou. Teen voormiddag kan ek myself nie meer inhou nie en vra vir Judith-die-skropvrou wat maak sy met die houtpop wat halflyf uit haar handsak hang.

 

Eers is Judith half skaam maar nadat ons elkeen met teebeker in die hand staan en slurp, kom Judith met die houtpop se storie uit.

 

Judith is anderkant van dertig en sy dink dis tyd om ‘n kind te kry. Nou het sy my volle aandag – want ek weet – sy’s nie verlief, verloof of getroud nie. Soos ek die storie vooruit loop, moet iemand haar die bytjies en blommetjies storie vertel.

 

Maar ek staan haar oopbek en aangaap; sy vertel sy is na haar stat se medisyneman wat ná ‘n ritureel vir haar die fertiliteits pop gegee het.

 

Slaat my met ‘n nat vis! Ek is te bang my baie vrae oor die ritureel skrik haar af van haar popstorie, dat ek omtrend verstik soos ek tee opslurp. My kop loop Kaapse draaie met my soos ek wonder.

 

“Nou wat maak jy met die pop? “ wil ek weet. Judith haal haar bontlap uit en wys my hoe sy die pop op haar rug knus vasdraai sodat sy dit kan abba en in privaatheid saamdra. “Seker maar hoekom die kop so plat is, om beter weg te steek”, sê ek. Nee, dis eintlik spesifiek vir mooigeit – sy wys die hoë voorkop en die rondgeit van die kop beloof ‘n slim baba. Sy beskryf die prag van amandelvorm oë, en die halfmaan wenkbroue en die fyn besnyde neus – elke moeder se droombaba. Judith hou die popkop sag in die holte van haar hand en wys dat die houtpop ook speel-speel gevoed kan word. Teen die tyd staar ek met koue beker tee in die hand en vat-vat aan die koue kombuisblad sodat ek weet ek droom nie.

 

Sy wys dat die pop aan die slaap gesus word en ook gebad word net soos ‘n regte baba. Ek trek my oë op skrefies en vra onoortuig of die houtpop dan ‘n naam het. Natuurlik! Hierdie pop is ‘n eg Ashanti fertiliteitspop, genoem “Akua ‘ba” wat beteken ‘meisie gebore op ‘n Woensdag, se kind’. Gedoriewaar, ek is onseker of sy gatvat met hierdie storie, maar sy bekyk die platkoppop met diepe deernis.

 

Hierdie is die meeste wat ek Judith ooit hoor gesels het – seker iets van hoe ek haar aangaap, besluit sy dis genoeg en woeps, droog haar storie op.

 

Na-middag hoor ek haar neurie en sing terwyl sy in die agterkamer stryk. In die gang merk ek op, die pop is vasgebind op die rug – noudat die popstorie op die lappe is, kan pop-se-kind openlik in lap rondgedra en voor gesing word.

 

Ek verwonder my aan hoe onkundig ek is oor die kultuur van Ghana se mense. Op die internet lees ek die houtpoppe is sedert toet se jare deur vrouens in die familie aan hulle dogters en agtersate aangegee. Soms word ‘n pop rondgedra tydens die swangerskap om ‘n gesonde baba te verseker. Partykeer word die houtpop weer teruggegee aan die medisyneman, of in die huis as dekorasie uitgestal wat die gesondheid van kinders beskerm. Hoe dit ookal sy, hierdie stukkie kultuur het sy oorsprong diep in Afrika, lank voordat die sendelinge die Bybel hierlangs kom versprei het. Hierdie poppe word net in Ghana gevind, maar is nie algemeen in die markte verkrygbaar nie. Toeriste koop ten duurste hierdie Ghana poppe as stukkie egte Afrika kuns.

Screen Shot 2018-02-13 at 16.34.04

foto vanaf internet

Skielik sien ek Judith in ‘n ander lig. Sy het ‘n lang plan vir haar toekoms. In Afrika, as sy na dertig kan bewys dat sy wel vrugbaar is, en kinders baar, is dit heelwat makliker om man te vang.

 

Met haar houtpop knus toegewikkel, is Judith is die ene lipstiek en rooswater oppad huistoe!

 

Miskien het iemand al vir haar die bytjie en blommetjies storie vertel?

Oorgeërf

Mense wat my Pa geken het, reken ek lyk soos hy nie, beide my broers lyk defnitief na hom.  Donkerkrul hare het vroeg in hulle twintigs beginne grys word. Hulle het neuse waarop ‘n Jood kan verlief raak en staan soos Napoleon in hulle skoene.  Nie te lank nie maar langer as my Ma.

Ek lyk soos witmuis tussen hulle blasvelle en donkerkrulhare.  Alles aan my is spierwit as kind, wanneer die sonstrale my lyf getref het, dan het ek so goue ‘halo’ wat om my skyn.  Dis ook daar waar die ooreenkoms met my en Engele eindig. Rissiepit en hardgebak, seker maar my Pa se Napoleon-streep in my.

Ek het net enkele kiekies en streke van my Pa oor. Hy’s op 42, skielik oorlede, ek nog in my tienerjare doeityd. Vinnige mouters en nog vinniger vrouens was sy einde.  Daar het ek weer skrams die bootjie gemis, en niks van sy vinnige wilde streke geërf nie.  Wat ek wél het is sy nuuskierigheid in ander mense, en sy bloeiende hart. My vriendin Jean sê ek is te behep met mense wat goete nodig het.

 

Talente, daarvan het ek baie geërf, en handigheid om mense te kry om dinge aan te vang waaraan hulle nooit sou dink nie.  Mense sê my Pa kon ys aan ‘n Eskimo verkoop.  Miskien het ons tog meer ingemeen as wat ek dink.

Wat het jy geërf?

Skeerroom, witgoud en kittiekos

Elke week is dieselfde drie goete op my inkopielys. Skeerroom, toiletpapier en katkos vir ons nuwe katjie. Verlede week staan ek met neute in die hand; gooi dit in my mandjie en vis dit weer uit, en plaas dit beslissend terug op die winkelrak. My inkopielys het nog heelwat items op soos toiletpapier en skeerroom, waarsonder ons nie kan klaarkom nie, en neute was beslis nie ‘n noodsaaklikheid nie.

 

Na vele jare se gekerm oor sonskade het ek my Vrystaat-man niet oortuig om bevogtiger te gebruik. Ga! Eensklaps wat Men’s Magazine, Nivea ‘For Men’ adverteer gaan die lig aan – iewers in my agterkop hoor ek my Vrystaat-man se vermaning, “koop tog net Nivea, want daai Vaselien goete staan nie geskrywe is vir manne nie… “ Ai, Mammie is heel in haar noppies en besnuffel haar Vrystaat-man; diep in die nek, elke kans wat sy kry. Soveel goedkeuring dra die Nivea dat Nivea-se-skeerroom ook op die inkopielysie beland – so ewe in my man se eie krap-handskrif. Barbasol, was seker Noag-se-skeerroom, is op elke rak, volop soos boskak. Nivea se fênsie goete is skaars soos diamante en kos die prys van onwettige nier in diep donker Afrika. Maar my Vrystaat-man ruik blommetjie vars, en Mammie koop, want koop-koop se bêk hang oop.

 

Ek verwonder my aan toiletpapier advertensies – ek bedoel, wie kan daarsonder? Die goed verkoop hulleself, dis tog witgoud, maar enkel laag papier druis in teen my grein. Maar dis ‘n noodsaaklikheid in elke huis, so Mammie koop – smaak my meer toiletpapier as brood.

 

Twee keer ‘n week speel ek tennis by die ‘Lawn Tennis Club’ waar daar nie een grassie groei nie. Ons speel op rooi stowwerige kleibane, en begin ses-dertig in 28 grade celsius en stap nege-uur in 32 grade se hitte van die baan af. Hierlangs moet jy inpas bly met die Akkra reëls en in spierwit bloes op die baan uitstap of hulle weier jou deelname. Niemand lyk pikant in wit nie – boonop is ek drup natgesweet, rooi gesig en kook my brein in die hitte. Sodra ons klaar is glip ek gou badkamer toe en vee die ergste stof en sweet van my lyf af met ‘n klam handdoek. Dis heerlik vervrissend, en natuurlik het ek sommer ‘n rol toiletpapier byderhand in my tennissak wat oopbek op die vloer staan. (Alle publieke badkamers word nie voorsien van toiletpapier nie.) ‘n Klublid stap verby en vra of sy ‘my toiletpapier kan gebruik’ wat sy in die sak bespeur. ‘Natuurlik’ sê ek, en gaan voort met stof afvee. Toe ek terugdraai het sy 5x velletjies nagelaat en is skoonveld met die res van die rol witgoud!

 

Klaar tennis gespeel is ek uit en tuis, stap ek in die koel badkamer in waar my huisfeëtjie besig is om verwoed skoon te maak. Ek vra haar om later weer voort te gaan sodat ek gou kan stort. O weë, terwyl die water warmloop, bespeur ek ‘n berg ‘wit sneeu’ in die toiletbak. Net daar draai ek die stort toe en roep my huisfeëtjie nader en vra hoe nou? Sonder om te blik of bloos verduidelik sy hoe sy die stort se glasblaaie mildelik bespuit met my Vrystaatman se Nivea-For-Men se skeerroom en dan woert warts wegvee met dubbellaag toiletpapier, hoe sy dan die nat bolletjies behendiglik in die toiletbak wegspoel. – en dit laat die badkamer so blommetjie vars en sprankelend nalaat! Vir weke reeds vertel my man my hoe lekker ons badkamer ruik!

 

Vir die tweede keer in dieselfde oggend het Akkra se logika my katswink geslaat dat ek net daar staan en windborrels hap van verbasing.

 

Nou hoe gemaak, sy’s dan so kinderlik trots op haar vernuftige skoonmaak proses, dat al die verduidelikings van prys en bekostigbaarheid haar sleepvoet en dikbek laat. Teen laatmiddag skink ek ‘n koppie tee vir beide van ons en smeer ‘n paar skywe roosterbrood met botter en roep die huisfeëtjie nader. Die voete sleep nog maar die dikbek het ‘n paar bar gesak. Ek weeg bakmeel uit en bly doenig met bakpanne botter smeer toe ek uit die hoek van my oog sien sy is doenig met die oopmaak van ‘n blikkie kittiekos. Ai gônnakie Piet! Voor ek oor die lamheid in my kuitspiere kom, dop sy die piepklein blikkie katkos op haar roosterbrood om en hap smaaklik dat die jellie vanuit die mondhoeke drup.

 

Ek het opgehou tennis speel, ek maak vir eers self huisskoon terwyl ek opnuut adverteer vir ‘n ander huisfeëtjie. Op my inkopielys is ‘grootpak’ neute sommer heelbô opgeskryf.

Veldblom leen ‘n blaadjie

Vanoggend voel ek minder roos en meer veldblommetjie. Net na nege en dis reeds 32 grade selsius, hierdie hitte smelt my grimering en maak dans walms op mouters se bakwerk. Hierdie über moutertjie se lugversorger is lankal kapoet en die vensters hang halfmas oop. In slak verkeer kan ek rustig terugsit en die bont spul van Akkra se strate bekyk.

Screen Shot 2017-10-15 at 8.26.11 AM

Afrika skrik mos nie vir kleur nie, mense se modestyl is die rede vir goeie vermaak. Die jongere geslag se meisiekinners is loshande die voorlopers vir waaghalsigheid. Hulle moor hulle-self deur op absurde hoëhakke en lykra rokke die oneweredige sypaadjies aan te durf. Dit veroorsaak ‘n ketting reaksie van dapper jongmanne op soos wafferse poue te probeer kersvashou. Salmpienk spanbroeke en hemde in helder spatsels van blou en groen, met bygaande punt blink skoene en donkerbrille is algemeen. Die ouer dames dra tradisionele bont Afrika rokke en kopdoeke, en die ouer mans dra vaal formele pakke of netjiese langmouhemde en langbroeke.

Screen Shot 2017-10-15 at 8.34.16 AM

Akkra se ses miljoen plus se mense slaap min. Lank voor sonop, begin die verkeer se druk opbou. Vrouens sit om kospotte op sypaadjies en berei vetkoeke en gebraaide kositems net daar voor. By elke robot, is die gemiddelde 3-minuut wagtyd genoegsame tyd om straatkos, toiletpapier, motorplakkers, Bybels, CD’s, tafeldoeke, kougom, selfoonlugtyd, krafkabels, aan te koop. As dit draagbaar is, kan jy dit sekerlik iewers deur jou venster aankoop. Straatverkopers met ‘n glimlag teen vroegaand verbaas my altyd. Dink jou in hoeveel keer per dag daar vir hulle “nee” gesê word! Daar is honderde van hulle, van voor sonopkoms tot laataand. Elke nou en dan spat en hol hulle dat jy net plakkies sien waai, want dan kom die lokale polisie die smouse verjaag, maar môreoggend is hulle terug, met groot glimlagte.

Screen Shot 2017-10-15 at 8.25.21 AM

Dit neem lank om al die bedelaars gewoont te raak. Blindes word deur jong kinders by verkeersligte rondgelei, hulle klop-klop aan jou venster en prewel ‘n onsamehangende gesanik en druk ‘n bakhand onder jou neus in. Polio is baie algemeen hierlangs, en halwe mense op skaatsplanke rits behendig deur verkeer en klop-klop aan die mouter se bakwerk, bakhand op wiel hoogte. Lammes trek hulleself tussen rye mouters deur met rolstoele wat hulle soos fietstrap voor hulle roei. Na etlike weke herken jy dieselfde Niger-bedelaars. Iewers onder ‘n koeltetjie sal die ouers met skrefie oë sit, terwyl kinders tussen 3 jaar tot so 12-jaar op 4×4 motor’s se opklimtrappe spring en ‘n paar meter saamry. Hulle gryp voetgangers onverwags en slaan hulle arms om hulle bene of hang aan hulle arms. Mense gooi ‘n paar munte en skarrel om weg te kom. Party verskree hulle en ander versnel met ‘n berekende pas en igroneer hulle.

 

Met daaglike druk verkeer sien ek min ernstige ongeluke, mense skraap mekaar se mouters, en soentjie mekaar se buffers. Dan spring die bestuurders uit en gil en skree, soos klokslag vergader ‘n bondel en almal pleid vir vrede, en sodra die bestuurders stoom afgeblaas het, verdwyn die skare en kruip die verkeer weer aan. Groot strate se toestande is beter as wat mens verwag deur die stad, maar die woonbuurte en agterstrate is haglik. Langs elke pad is onooglike diep rioolvore, en hier en daar is daar metaal stawe wooroor mens kan ry. Screen Shot 2017-10-15 at 8.37.07 AM

Dikwels sien jy ‘n lendelam lorrie met ‘n agterwiel vasgeval in so sloot. Daar is geen wetgewing rakende verkeershobbels nie, en elke Jan-Rap-en sy Maat, lê hobbels neer voor sy werksplek, die een hoër en ronder as die vorige ene. Dit verstom my hoe mense Rolls Royse en Ferrari’s rondry want dis verregaande om vinniger as een minuut meer as 70km per uur te ry, of 3km sonder om oor ‘n berg van ‘n hobbel te ry!

 

Praat van mouters, kom na Akkra om uitspattigheid te beleef. As daar ‘n oorvloed van geld iewers is, sal dit gesien wees. Goue glinsterende nuwe modelle is orals te sien. Mouters wat nog net in blink tydskrifte verskyn, sal volgende week in hierdie mal verkeer rondrits.

Mense drapeer hulleself naby en bo-oor en neem kiekies van hulleself by sulke motors. Vir ekstra effek, hoor jy gewoonlik die enjin se gebrul, of die polsende musiek voordat jy die blink motor raakkyk. Aan die ander hand is oorlaaide 1970 lorries met agterbakke van hout gebou en skewe aste wat krap-ry oor twee verkeerslane. My über taxi is in 2015 geregistreer, en ‘n bont plakker dekoreer elke moontlike roeskol, die vere is deurgery maar die radio werk en die drywer sit vroegoggend met die grootste glimlag en groet die bedelaars soos ou vriende.

Screen Shot 2017-10-15 at 9.04.30 AM

Ons kan ietsie leer van verdraagsaamheid en ‘n blaadjie neem uit leef-en-laat-leef se boekie.

Voorvaders, skud wakker!

Aardige goete kom oor jou pad wanneer jy hierlangs in Afrika kerjakker. Tien teen een het die meeste gevalle iets te make met ‘n lokale tradisie wat ons oorbluf en nederig laat. Dis ‘n groot eer om vir ‘n geweide tradisionele begrafnis genooi te word en ‘n erge sosiale blaps om so iets van die hand te wys.

 

Sien, desjare; in Namibië, het ek my brood verdien deur kiste te bou. Sekerlik daar vandaan my beheptheid met begrafnis goete.

 

‘n Goeie vriendin word uitgenooi na die begrafnisdiens van ‘n kollega se afgestorwe moeder. Haar uitnodiging is in boekvorm, ‘n hele agt-en-veertig blaaie boek, gedruk in volkleur! Daar binne is skoolfotos, en name en kontak nommers van haar alumni, studentejare fotos, familiefotos, werksplek-en-kollega fotos, ‘n opsosommende biografie, handgeskrewe finale groetbriewe van haar kinders en kleinkinders, kerkliedere en die drie-daagse begrafnisprogram.

 

Hierdie ter aardestellingbesigheid begin met ‘n huisbesoek van die afgestorwene. Daar is geen parkeerspasie opstraat, menigte sekeuriteitswagte wat almal arms swaai en jou uitbundig welkom heet. Statig met ‘n arm vol blomme hoor jy die musiek voordat jy die huis met kermistente om die draai raaksien. Al die ander besoekers het enorme groetekaartjies, daai ou soort te vinde in onse Ouma se kartonboks op die solder met blinkertjies op. Die gaste is uitgedos in hulle beste vere en Europese leër handsakke.

 

Begrafnisse is nie stil stemmige affêrtes nie. Daar word oorverdowende pols musiek gespeel sodat die voorvaders wakker kan skud en ‘n plekkie regmaak vir nog ‘n familielid. Die grootste ontnugtering is beslis om die bejaarde afgestorwene kierts regop in die sitkamer se hoek aan te tref. Uitgedos in ‘n spierwit klok-uitskop trourok, sit sy; stok styf. Oë bot toe met erge blou eye shadow op die toe-ooglede en bloedrooi lipstiek merkbaar onder ‘n kantsluier. Gansvel-in-die-nek en hand-oor-die-mond kan jy nie help die petalje sylings met swak kieë aan te staar nie. Kennisse en familielede gaan sit langs die afgestorwene, lê ‘n hand sag neer op haar hand in spierwit satyn handskoentjie, en groet met ‘n grappie, sagte piksoentjie of fluister boodskap aan ‘n weggevalle voorvader. Daar word rondgestaan met paierborde, en glase geskink en ys bygegooi. Mens knik en loer piering-oog want die musiek blêr meëndoonloos.

 

Die volgende oggend, hervat die program in ‘n reuse kerk. Kompleet met besige waaiers, en reuse vertoon skerms waarop die fotos flits en liedere vertoon. My vriendin dra haar begrafnisgesig, uitgedos in fraai pienk, en pikante handsakkie vol sneesdoekies. Sy word heel voor as eregas tussen vreemdes in ‘n kerkbank geplaas, en steek uit soos ‘n seer vinger. Tradisie bepaal dat jy swart, rooi of wit, of ‘n kombinasie daarvan aantrek wat gepaard gaan met die afsterwe ouderdom van die afgestorwene.

Screen Shot 2017-07-18 at 12.08.31 PM

Rooi en Swart waks-lap vir begrafnisse

Mense links en regs van haar groet haar vriendelik en vra uit na haar naam en familie se welstand. Tydens die Engelse erediens sing mense uit volle bors. Kore sing, haar skoolkoor, kerkkoor, vriendinne sing-koor, kollegas sing-koor, en na elke optrede kom iemand met ‘n karton dosie om, en kollekteer bydraes vir die begrafnis onkostes.

 

Kindertjies sluip na buite en hol soos goggatjies uitgelate op die grasperk rond. Neffe later word die groetbriewe in die program voorgelees deur die kinders en kleinkinders. My vriendin huil nou onbeskaamd vir die beker, die mense om haar stuur snesies aan, en gee die rukskouertjies elke dan en wan ‘n ondersteunende drukkie. Almal óm haar huil. Mans, vrouens en jongmense blaas en vee almal in reuse spierwit sakdoeke.

 

Daar word ordelik, ry-vir-ry opgestaan en statig verby die oop kis gestap. Die meeste huiwer vir ‘n oomblik, en prewel ‘n laaste seëngroet, sommiges staar, kink en stap aan. Die afgestorwene lê sag en vreedsaam in ‘n groot grys krulpruik, en sagte ligpers kiskleed. My vriendin huil nou oop-ketel en maak op vir al haar vorige woerts warts begrafnisse wat sy bygewoon het. Twee-ure later word die kis voor in die kerk deur die seuns dig gesluit. ‘n Goue sleuteltjie word plegtig aan haar wewenaar oorhandig. Die familie lyn-op en begelei die kis na die wagtende lykswa. Kalm en geweid staan die gaste op en stap ry-vir-ry na waar die kindertjies jillend op en af hol. Uitgehuil is die sonlig die mooiste ding om te sien.

 

Vandaar beweeg net die naaste familie vir die ter aardestelling, terwyl die gaste die boem-boem partytjie begin by die huis met al die krismistente en kreunende kostafels. Hier volg ‘n uitgelate deurnag okkasie, hanne in die lug gegooi, gesing en toesprake gelewer, gedans en gekuier.

Screen Shot 2017-07-18 at 12.10.13 PM

Begrafnis partytjie in wit – vir ‘n 75+ jarige

 

Tradisie gee die meeste mense hierlangs ‘n lang meetstok: soms piets die stok jou katswink maar daardie selfde stok hou andere kierts regop.