Category Archives: Woestynkoors

Bont lap en baie talent

My vriendin Emsie nooi my op die ingewing saam na Swakopmund se COSDEF sentrum. Wanneer mens Swakop inry vanaf ons binneland se kant, dan kan jy dié plek nie misry nie. Een enorme bont stapel van geboue toring trots asof dit stof van die woestyn afgeskud het en gemaak staan is.

Screen Shot 2018-04-18 at 14.22.15

 

Emsie is reeds ‘n Engel hier op aarde, as sy asem uitblaas word sy net vlerke ge-issue dan is sy oppad! So gaan Emsie en reuse boks ou patrone en borduur goete afgee en ek is net daar want ek ly aan FOMO. (Fear of missing out)

IMG_4869

Vanaf Links: Tilla, Ayumi, Emsie en Naoko besig om die geskenkte goedere te bekyk.

By die kantoor, is die ene miernes van bedrywighede, Michelle //Inixas (Groot Indoena koördineerder) stel ons voor aan Ayumi en Naoko, twee regte egte fyntjies ingevoerde Japanese vrywilligers wat hier kom klasgee. Die Japanese regering belê só op ‘n ander manier in Namibië.

IMG_4863

Vanaf Links: Emsie, Ayumi en Naoko

In ‘n goeie Engels verklaar Ayumi en Naoko beide is reeds gek oor Swakopmund se woestynsand en see. Hulle vertel hulle word nog oorweldig met die weer wat sommer vier seisoene in een dag uitrol.  Die klas is stemmig en spiekeries netjies.  Toevallig sien ek die klasreëls op die muur raak.

Klasreels

Klasreëls – nou verstaan ek als, sonder reëls sou dit chaos wees.

Nou dié wat my ken weet mos in Akkra – Ghana was daar ook die een en ander naaldwerk projek wat mense van die straat af hou – en wys hoe jy inkomste kan genereer. Hierdie projek is in ‘n ander klas. Na een jaar kan jy aankap, maar na twee jaar se kursus is jy ten volle gekwalifiseer as ontwerper wat jou eie patrone kan ontwerp, knip en stik.

 

Wat wou; moet nie dink Tilla Smit gooi die studente net vir die wolve nie, daar word ook formele besigheidsvaardighede en wiskunde lesse tussendeur die ontwerp en patroonknip klasse aangebied. Tilla is ook ‘n leerkrag by dié Modeontwerpskool, sy sê sy neem ‘n student van zero tot gekwalifiseerd.  Sy lê groot klem op die kwaliteit van voltooide projekte.

 

Tilla is nie ‘n groenblaar as dit kom by gemeenskap projekte nie. As aktiewe lid van Bröt für di Welt, en jare se mense kennis agter die blad, offer sy soveel meer as net boekekennis.

 

Ons het ons verlustig in die vrolike Afrika-kleure, waarmee die studente woeker om hulle huidige projek te voltooi. Hulle ywerigheid spreek boekdele, trots wys elkeen waarmee hulle doenig is, Tilla sê dis tyd om ‘n breuk te neem maar niemand roer of staan op nie. Kap net aan … “nie jou tipiese student nie”, dink ek verbaas by myself.

Die studente kom van oor die hele Namibië; plekkies soos Khorigas, Omaruru, Omathia, Mondesa, Odangwa, Opuvu.  Elkeen met ‘n blink idee om eendag sy eie besigheid te bedryf.

Nadat ons wegstap van die modeontwerpers loer ons in by die ander klasse.  My mond hang oop soos ‘n waenhuisdeur; Visuele Kunste, Juweliersmakers en Leerkuns word ook aangebied.  Hierdie studente se handewerk word verkoop teen billike pryse, en afgestudeerde studente kan ‘n ‘Pod’ huur vir net N$200 p/m en heeltyds werk en smous.

Screen Shot 2018-04-18 at 14.38.05

Hierdie is die ‘Pods’ waarvan ‘n afgestudeerde student kan werk en smous.

 

Vir diewat reken woestynland is droog en dor – hulle is verkeerd! Jy moet net rondkyk. So in die wegstap dink ek bymyself: “Orals om my lê talent gesaai – soos klip in die woestyn.

Advertisements

‘n Nama se plan…

 

Na ‘n kort vakansie in Namibië, vertel ek graag van die Namib se kleurvolle mense.  Swart-Piet is ‘n legendariese melkboer in die Aries distrik wat sy kannemelk verkoop op die hoofpad tussen Rehoboth an Windhoek.

 

***

Gertruida is ‘n spierwit ganswyfie met die mooiste blou oë en ‘n raasbek wat my wakker gil sonder dat die hoenderhaan sy beurt kry. Net na ses-uur se wintersoggend kom als in rep en roer op onse Klipwerf. ‘n Tydskakelaar druk die sproeiers oor die grasperk in gelid soos soldaatjies en die nat grondreuk laat jou na reën verlang.

 

Ouma bêre ‘n reënboekie in haar kamer. Jaar-vir-jaar word reënmeterlesings in Ouma se reënboekie met potlood neergepen; datum en millimeter. Jare lank bly Ouma geheimsinnig oor haar reënboekie. As kind het ek dit net een keer onder oë gehad, en daar was baie meer syfers en aantekeninge as net reënmeterlesings daarin. Goete soos geboortedatums, troudatums en volle doopname van vêrlange familielede staan ook daarin opgeteken.

 

Matteas is net na ligdag aan die gang. Melkkanne word uitgewas, bindrieme styfgetrek, koeie uitgemelk en skaap word uit die kraal gejaa. Hoenders word gevoer en eiers word uitgehaal en mis uitgevee. Mens hoor die melkemmer se klingel en Matteas se gefluit; die-en-daai-kant van die werf.

 

Hier is ‘n hele bondel opgewonde honne wat nie kan wag totdat die orige leksektjie warm melk vir hulle uitgegooi word nie. Dan word daar ‘n draai gestap, langs die lyndraad af, dam se kant toe. Hierdie gestappery is beslis die hoogtepunt van die honne se oggend. Die okkasie word met ‘n malkop geblaffery aangekondig en hulle trek weg met bokspringe en hol stofstrepe tot anderkant die klipmuur waar hulle my nie meer in sig het nie. Dan kom een vir een en hardloop so sirkel om my te kom haal.

 

Net anderkant die draai kom Swart-Piet met sy donkies en donkiekar my tegemoed gestap. Hy ry self nie bo-op nie want die hele donkiekar staan vol melkkanne. Swart-Piet maak sy bestaan deur varsmelk te smous onder ‘n koelteboom langs die hoofpad. Vanoggend is daar beslis iewers ‘n slang in die gras. Hy groet skaars voordat hy lostrek en met ‘n kiesvol pruimtwak verduidelik hoe die ‘government’ ‘n hardwerkende mens se lewe opvark.

 

Screenshot 2016-07-09 15.51.52Swart-Piet moet deesdae onderdeur ‘n nuwe laagwaterbrug sukkel om sy donkies en donkiekar se melkvrag met die kortste pad by die hoofpad te kry. Voorheen het die grondpad en vlei daardie area modderig en besaai met klip so-te-sê onbegaanbaar gelaat. Selfs vier-by-vier bakkies het al in daai klip en modder driffie vasgeval. Sommige dae het Swart-Piet en sy donkies so gesukkel om deur die drif te kom, dat die melk staat en suur word het op daai donkiekar, lank voordat hy by die grootpad uitkom. So maand gelede het die paaie departement ‘n nuwe laagwater-onder-brug opgerig en die grondpad bo-oor gestoot.

 

Beswaard vertel Swart-Piet dat die nuwe brug net ‘n dure beslommernis vir hom in die lewe veroorsaak het. Oor daai nuwe sement brug het die polieste hom kom arresteer en die magistraat het hom ‘n wrede boete opgelê vir die kamtige beskadiging van staatseiendom.

 

Swart-Piet vertel: “Eerste keer toe die donkies onderdeur die brug moes deurstap kielie die brug se dak so vat-vat aan die Matilda-en-Roeskol-die donkiepaar se ore. Slaat en stoot soos ek wil maar daai ore bly te lank en my donkies wil nie kop laat sak of deurstap nie. Toe maak ek ‘n Nama-plan en kap die nat sement weg met die donkiekar se wiel-spanner. Sien; kap bietjie van die brug weg om virri donkie se ore plek te maak. Terwyl ek nog so kap kom die veediefstal se polieste daar verbygery en gooi my agter-in hulle vêntjie. Reguit dorp toe met my, nog voor tien-uur staat ek voor daai dik magistraat.

Ek verduidelik en verduidelik van die brug wat te laag is want die donkies se ore kielie en dan wil hulle nie deurstap nie. Maar nee, daai kêns-magistraat-vroumens sê “ek moes die riviersand onder die brug uitgeskep het.” “Toe kap sy haar stomp houthamer en beboet my met twee-duisend Nam-dollar.”

Hoogs beswaard spoeg Swart-Piet ‘n natkol pruimtwak vlak voor hom in die stofpad.

“My Nooi, wat weet daai platkop-magistraat? …Sand onder die brug uitgrou, verbeel jou dit!  Dink hulle ek is simpel?  Selfs ‘n kind kan mos sien dissi my donkies se bene wat te lank is nie – dis hulle ore!”

 

 

Marsmannetjies op die brein

Ek neem deel aan: SHARE YOUR WORLD – 2016 WEEK 2 Dis natuurlik in Engels maar ons kan dit mos omdop in Afrikaans.

 

Glo jy aan die bestaan van ruimtewesens en lewe op ander planete?

Nee, nada, daai spulletjie is te dik vir ‘n daler.  My man is gek na al die films oor ruimtewesens en is beslis ‘n “Trekkie” maar my verbeelding is maar beknop en reik nie so vêr nie.

Screenshot 2016-03-09 23.06.39.png

Ek sukkel om die ding gesluk te kry.  Miskien het ek die Dikboek net te naby aan die hart, en glo ek eenvoudig net daar’s nie so iets moontlik nie.  Verstommend hoeveel mense beweer dat marsmannejies hulle ontvoer en wille dinge met hulle aangevang het. Ja sure! Gmfffff.  Waar’s daai ontvoerders as die taksman by my deur kom aanklop?  Hulle moet hulle lippe aflek en die stront proe wat hulle praat – of die slim twakkies vir eers laat staan.  Verklaar dan hoekom is daar soveel meer van daai ontvoerings in Amerika as in Japan?  Eniger dag  reken die gemiddelde Japanees is meer weird as elke ander Amerikaner – maar dis net my opinie.  Japanese is hopeloos te behep met ‘Animė‘ en Lotus blommetjies.  Dan begin ek nie eens met hulle utvindsels en medisyne nie…

Ja, ek glo dat Amstrong wel op die Maan rondgestap het, en dat dit nie ‘n Amerikaanse tv oë verblindery was nie.  Nee ek dink nie die ‘buitenstewesens’ het vir ons rits-gits (velcro) kom deel nie.  Natuurlik kan ek nie verklaar waar die “marsmannetjies” vandaan gekom wat die Amerikaners in groot geheimhouding vir meer veertig jaar ‘bestudeer’ het nie.   Maar daar word elke dag natuurfratse soos hoenders met twee koppe gebore…so ek sit dit maar net dáár doer buite…

Oor lewe op ander planete verloor ek nie veel slaap nie. Miskien steek ek kop soos ‘n volsruis in die sand oor die ding, maar ek kan myself nie, in my leeftyd, sien in ‘n plastiekborrel klim en veertig jaar reis om die rooi planeet se ‘water’ te drink nie. Nee dankie – daar is soveel plekke in hierdie Wêreld wat ek nog wil gaan bekyk, dat ek na Mars en Saturn in die tydskrifte by die tandaarts sal loer.

Buite op ‘n kampbedjie onder die sterre, is hoe ek die sterre en planete wil beleef.

 

In hoeveel plekke het jy al gewoon? Kan jy deel in hoeveel huise/dorpe of stede het jy al gewoon?

Die wat my ken weet iemand moet my voete een of andertyd afkap sodat my onrustige reis dwang tot rus kan kom.

Ek het deur dertien skole geskool voordat ek gaan swot het.  Nee – dit was nie ‘n dom ding nie – eks op sestien klaar geskool.  My Pa was ‘n boer en motorverkoopsman.  Ons het meer rondgetrek as Army-mense. Twee en twintig keer getrek voordat ek in ’98, met my man, uit RSA  is.

Mens se plan is mos al in Moederskoot vir jou uitgeplan.  Al daardie rondgetrekery was net voorbereiding op wat nog moes kom.

Daarnaas het ons soos kleilatgooi oor en weer oor Afrika getrek agter my man se werk aan. Nog ‘n stuks van sestien keer verhuis vandat ons getroud is.

Deesdae verhuis ek nie meer met huisraad opgeboks in skeepshouers nie. Nee wat, ek verkoop als, en trek met ‘n klere tas, ‘n skootrekenaar en ‘n paar kiekies.  Als wat ek  nodig sal kry, sal ek in die volgende land of dorp weer uitsnuffel en aankoop.  Sekerlik help dit dat ek geen stukkie materialisme of sentiment heg aan aardse goete nie.

 

Sou jy 22 miljoen (enige geld denominasie) gegee word, wat is die eertse ding wat jy sal doen?

Skandes maak. Ek nooi almal om saam te kom partytjie!  As mens erg malkop raak moet jy beslis seker maak almal is ewe skuldig in jou pret.  Miskien sal ek soos ‘n Rockstar voel, oh Griet…sê nou net ek verbeel my ek’s Robert Mugabe…of Donald Trump?  Nee gônna Piet, skrap daai idee.

Dan moet ek eerder my naam verander en die grootste deel Mulah diep in ‘n slim belegging wegbêre en vir ten minste die eerste jaar al om en óm die Wêreld gaan reis. Miskien sal mens na baie baie maande die idee van malkop geld gewoond raak?  En dan sommer weer om en óm die Wêreld gaan reis.

En dan – seker dan het almal wat bakhand staan seker amper van jou vergeet?  Maar dit sal sekerlik nie vir altyd genoeg wees nie. Mens sal spandeer en uitdeel.  Mens sal dit nie slim genoeg spandeer nie, en eendag blaai mens weer koerante deur en sal sekerlik moet uitspring en gaan werk…

 

Jou nog nooit lys: Wat is die dinge wat jy nog nooit gedoen het nie? Of die dinge wat jy nooit sal doen nie?

Nog nooit gewaag om van ‘n brug af, te reksprong nie.  Nie dat ek hoogtevrees het nie, ek’s sekerlik net te banggat!  Miskien sal ek nog skandes maak voor die sprong en als en almal van banggeit be-plas!  Daar is net te veel goete wat ek nog wil aanvang – sê nou die jongklomp knoop die rekke verkeerd of bind my nie styf genoeg vas nie. Dan hop ek sekerlik soos ‘n rubberbol doer onder rond, en dan? Wat as ek my stem wegskrik, vir altyd, of oornag spierwit grys word. Nee wat, ek sal maar net kyk.

Screenshot 2016-03-09 23.03.53.png

Nooit sal ek op ‘n realiteidsprogram toelaat dat harige spinnekoppe oor my loop. Defnitief sal ek vir geen geld ‘n happie van ‘n spinnekop vat nie – yuck, ga-sies!  Slange vrees ek nie maar oor harige spinnejakels voel ek nie myself nie.  Net te veel bene.  Oggg julle moet die rooi of deurskynende Roman spinnekoppe in Namibiē sien!

Hand-grootte, hulle hol nie, maar het so manier om soos ‘n tolbos re rol, binne-in die vuur.  Screenshot 2016-03-09 23.49.08.pngEn as jy badkamer toe sluip met ‘n lanternlig, lig die twee voorpote op soos antennae, en die blêrrie goed kan spring.  Dis my dood….

Kyk; my hart trek met ‘n punt na Windhoek, maar daai goed weet ek wag my in, selfs die huiskatte en boerboel is katvoet vir daardie spinnejakels.  ‘n Kollega van my, het eendag gesê hy’s seker daarvan die spinnekoppe kom agter my stem aan. Ek dink hopeloos te veel daaraan.

Ek sal beslis nie kaalgat voor kammeras wil parradeer nie. (Pun intended). My boud-dimpel wil niemand bekyk nie.  Daar is net nie genoeg geld in hierdie Wêreld wat my soos ‘n dikgevrete Eva op ‘Naked and Afraid‘ programme sal verskyn nie.

Haaie reken ek, sal my lekker sappig vind.  Ek het na Jaws nog nooit weer na haaie of die see dieselfde gekyk nie. Haaie lyk net altyd honger met glas ogies en dan reken ek hulle is baie vinniger as ek  die water.  So ek bly op die land en laat hulle in vrede in die see.   Sal nooit oorweeg om in ‘n hok in water soos lokaas te sit, en kokkodille of haaie te terg nie.

Screenshot 2016-03-09 23.01.50.png

Foto van : scubaverse.com

 

Bonus vraag: Wat van verlede week is jy dankbaar voor? In die komende week, waarna sien jy uit?

Verlede week: Ek is dankbaar vir vriendinne se kuier met ‘n goeie dosis humor.  Natuurlik vertel ek hulle nie gereeld genoeg hoe hulle my absolute behoud is nie.  Alhoewel ek oor die algemeen vrolik van geaardheid is, is ek blykbaar vriendelik maar neem dit lank om ‘vriende’ te wees.  Miskien skryf ek makliker as wat ek diep dinge gesels – en ek neem waar. So onderlangs beloer en beluister ek fyn na als en almal om my…

Screenshot 2016-03-09 22.44.23.png

Waarna sien ek uit: Ons beplan ‘n wegglip -iewers rêrig eksoties; maar moet eers die visas uitgesorteer kry.  Ek het mos nou ‘n nuwe paspoort – lekker uitgehonger vir nat doanne stempels…

 

‘n Nes of Holte?

Die oorspronklike artikel foto kom vanaf: Camping – WebEcoist 

 

Share your World Week 1 – Hierdie gedelery is oorspronklik in Engels, maar ons kan mos die Rooitaal omdop!

 

 

As kind, wie onthou jy as jou gunsteling familielid?

Loshande wen my Tannie Lollo hierdie ene.  My Pa se jongste en enigste sussie was ook my Peetma en moeder van my twee jongste niggies.  Ek was dankbaar dat sy my nie eners as my Engelse niggies aangetrek het wat altyd soos Vinkel en Koljander getooi was nie.  Tannie Lollo het klapperolie deur my hare gekam en die haredos met ‘n tulband toegesool.  Dan het ek soos ‘n wafferse Turkse prinses in die appelkoosboom gaan klouter en my verbeel ek vlieg op ‘n tapyt bo die grond rond.  Nadat my ouers geskei is, het ons familie kontak verloor en ek het vir baie jare skuldig gevoel dat ek iets verkeerd gedoen het.

Verlede jaar, na twee-en-dertigjaar spoor sy my op met Bakkiesboek.  Nou kuier ek elke paar maande vir haar en bederf haar wanneer die geleentheid hom voordoen.

 

Sou jy ‘n boom of plant wees, wat sou jy wees?

Mmmm hierdie ene is moeilik. ‘n Namib se Kokerboom in die Namib woestyn, dít wil ek wees nie.  So alleen rondstaan in dorre wind en weer is sekerlik nie vir my nie.

Screenshot 2016-03-08 22.10.25.png

Namibiese Kokerboom

Miskien ‘n Lourierboom, met lekkerruik swier takke wat waai in die wind.

Wag, nou weet ek, ‘n Kremetartboom! Ene wat stewig en reusagtig staan, met kalmte oor jare kalm en gedwee wortelskied en skadu gooi. Maar ‘n lower groen Bamboesbos vol voëls kan ook aangenaam wees.

Sou ek ‘n plant wees wil ek ‘n Wilde Kaapse klim-op wees. Lowergroen winter en somer, wat uitklouter teen vaal mure.Screenshot 2016-03-08 22.19.56

 

Die idee van ‘n Lelie in ‘n dam of Orgideē klink mooi idillies. Maar om paddas te hê wat heeldag oor jou klouter of om net te leef vanaf lug en steenkool moet maar ‘n saai bestaan wees.

 

Wat verkies jy, om wakker te word voor sonopkoms, of om wakker te word laat middag? 

Ek is gewoonlik lank voor sonop wakker en aan die gang. Sekerlik een van daardie goete van my Pa. Hy reken hy het ‘n hele leeftyd langer geleef as die standaard man, omdat hy elke oggend ‘n paar ure voor hulle op en aan die gang was.  Nou sit ek vroeg oggend op my stoep en luister na die voëls en slurp koffie.

Natuurlik was dit ‘n heel ander saak toe ek student was, laataand gekuier het en heeldag in die kooi wou bly.

Screenshot 2016-03-08 23.02.48.png

Sou jy daarvan hou om te slaap in ‘n mensgrootte nes in ‘n boom, of eerder in ‘n mensgrootte holte knus in die grond?

Rondomtaliedraai se Sondagkopies het die oulikste Knoffelhuis tentjie waarin ek maklik kan nesskop. Klink my maar net soos ‘n knus idee van ‘n luukse boomhuis.  Maar in die grond, nee dankie.  Daar kan hulle my toeskoffel as dit my tyd is om blommetjies op te stoot.

 

Bonus vraag: Wat van verlede week is jy dankbaar voor? In die komende week, waarna sien jy uit?

Verlede week het die Dep. van Binnelandesake my paspoort binne net vier dae hernu.  Dit is mos nou diens reken ek – iets waarvoor ek innig dankbaar is.

KobusDanielbf1Hierdie week vier my man sy halfeeu verjaarsdag en ook is ons een-en-twintig-jaar gelede met mekaar getroud!  ‘n Deugsame en hardwerkende man is waarvoor ek dankbaar is hierdie week, en die res van my lewe.

Volgens Toeka-tokkel no2: Skryf ons oor vakansie

 

Meer kosbaar as diamante is vakansie herinneringe.

 

In my eerste foto van my as baba, sit ek op Durban se strand en sand eet. Op die kiekie dra Ouma ‘n swemkappie met bont rubberblommetjies, my Ma in ‘n sexy bikini en my ouboet staan ongeduldig met ‘n drup –roomys onder die sambreel.

 

Op ‘n volgende kiekie staan ek met ‘n skoothondjie in die arms by die Taalmonument. My Ma en ouboet is ook in die foto, en ‘n kleinboet is ook nou in die prentjie. Ek onthou ‘n kampvakansie met ‘n vaal groen tent langs ‘n vlak breë rivier. Ons wat in die koel water speel en ‘n waterslang wat kalmpies tussen ons deurswem. My Ma se ontsteltenis toe die apies van die kosvoorraad wegdra. Kleintyd onthou ek my Pa se uitbundigheid toe hy, ons met ‘n helder geel “Beech buggy” teen ‘n duin uitjaag. Ek onthou die hitte om oop kampvure op die strand en ons Doberman se nat swem lyf, saam op vakansie.

 

Kampvure, “Beech buggies” en honde is deesdae verbode op strande.

Screenshot 2016-01-23 17.43.30

So onthou ek ook, twee nagmerrie vakansies. Een daarvan ry drie gesinne al die pad na Mosambiek. Die voorafbetaalde woonplek is niks soos dit op die Internet geadverteer is nie. Geen lugversorging, geen krag, muskiete en sandvlieë wat ons lewendig opvreet, bamboes-beddens sonder matrasse en dronk studente met net een cd die hele vakansie. Daar word in die bakkies ingebreek en kontant gesteel, genadiglik los die boggers die paspoorte uit. Die kersie op die koek is ‘n man en vrou van verskillende gesinne wat sonder sweempie van skaamte ‘n verhouding aangaan en almal skielik op eierdoppe rondstap. Wat ‘n gemors van ‘n vakansie!

Die ander goor vakansie was in Swakopmund toe frats-weer ‘n hele tien dae opklits. Ons ouers en my broers met beide se families kom al die pad van die Republiek af deurgery, en skielik reën dit in millimeters in Swakop. Daai plek kry maar gemiddeld 3mm reën per jaar en in twee dae kry die kus dorpie skielik 10mm!

 

Almal sak winkels toe vir iets warms om aan te trek want die seestorms se winde woed in die strate. Geen visvang kans nie, almal bibber en beef en sit soos nat hoenders in ‘n bondel. Die gemoedere loop hoog en almal is vies en byterig. Niemand kan sonbruin of raak-rugby op die strand speel nie. Die fênsie blink mouters uit die Republiek gly en sit vas in die sout-strate wat oornag in modder en snot verander het. ‘n Ongeluk met 4×4 duine motorfietse in die duine het ‘n duur hospitaal besoek op hande. Almal vra heeltyd wanneer sal die weer draai en tien dae later is die familie druipstert en mislik weer terug na die Republiek.

 

Jy kan nie by die huis vakansie hou nie. Na twintig-jaar moes my man volgens sy firma se personeel reëls op ‘n ‘sabatsbreuk’ gaan vir 12 weke.   Die kinders moes skooltoe gaan en ek moes werk, daarom het hy nie weggegaan nie. Op die 4de week het hy vir die eerste keer effe later geslaap. Hy het elke dag die kinders skooltoe geneem en koerant gelees in koffiewinkels. Meestal het hy lostakies op die dorp verrig vir my en sy ma. Na drie weke is sy verveeldheid op breekpunt en is hy terug werk toe, en hy ‘bank’ toe die verdere drie weke.

 

Vakansies hoef nie duur te wees nie. Net anders. As jy in die stad woon, gaan kuier in die Karoo op ‘n plaas. As jy op die Rigtersveld woon, gaan ry die Gautrein en gaan ysskaats.

 

Elke ander reisagentskap offer gedurig spesiale aanbiedings. Ek reken ‘n mens moet uitvind wat is die goedkoopste manier om die verste te reis. Reis na vreemde plekke, klim, klouter, skie, grou, swem, duik, snorkel, vang, fotografeer skryf en onthou, maar gaan. Dis brood soos vars gebakte brood vir jou siel.

Film Resensie: An Infinite Scream

 

 

Elkeen van ons wat soos ‘n volstruis met sy kop in die sand staan, en vertrou die regering sal na al jou belange omsien, moet ‘n slag staan en wonder hoe goed dit uitgewerk het vir die Boesmans.

 

In ‘n aangrypende artistiese dokumentêr, “An Infinite Scream”, kry die Imke Rust jou kop uit die sand.

 

Die produksie is behartig deur haar talentvolle man, Musikant en Filmvervaardiger, Steffen Holzkamp – tans woonagtig in Berlyn. Hera Lindholm en Kema Migal se klankbaan laat jou nekhare by tye regopstaan. Die musiek is perfek in lyn met die broosheid van die Namib woestyn.

Dornen_C

Sholgololo Nest. Naukluft Reserve. Namib. Imke Rust (c) photographed and assisted by Steffen Holzkamp (Photos by Imke Rust)

Hierdie 45-minute gordynwegtrek bied jou ‘n glimps van die kunstenaar se kreatiewe denkproses, trek jou in – met die voetval in die woestyngruis en die hittegolwe wat saam speel in die duine, voel jy die seelug en sout in jou neus optrek.

 

My Gradering: 4/5.

 

Wat “An infinite scream” so suksesvol maak is hoe kalm die kyker terugsit en die kreatiewe proses volg, amper soos ‘n mak lam, voordat hy geslag word. Reg voor jou oë, besef jy die impak wat die kunstenaar se tema en fokus het op Swakopmund en Namibië se gemeenskap.

 

Een oomblik verwonder jy jou aan die gevoel van spier wit, onskuldige growwe sout in jou hande, verluister jy jou aan die ritmiese saai en strooi geluid soos klippies wat reën. Die volgende oomblik sit jy kierts regop wanneer ‘n media debakel voor jou oë afspeel, jy sit vasgenael, te bang om ‘n enkele feit misleidend op te neem.

 

Steffen se film en klank tegniek laat jou met ‘n intense waardering vir die denkproses, analisering, tydspan en realiseëring van Imke se kunstalent. Kunsstukke maak hulleself nie – in ‘n rare tydsgleuf deel Imke haar passie, verstaan jy skielik hoe elke kunsstreep van haar, ‘n deel van haar binneste is wat sy aan die Wêreld bloodstel.

Screenshot 2016-01-12 16.19.53

Waterberg Wilderness Lodge, Namibia. Medium: Masking Tape on rock. Artist: Imke Rust (c) photographed and assisted by Steffen Holzkamp (Photos by Imke Rust)

‘n Babbeloniese gebabbel van dialoog oorweldig nie elke tydgleuf en raam van die film nie. Die film strek oor twee kontinente en drie tale word behartig meestal Engels, Duits en Afrikaans met onderskrifte in Engels. Jy word intiem toegelaat om elke griesel kreatiewe proses te beleef saam met Imke; die pluk van die wind, die brand van son en die steek van kameeldorings.

Screenshot 2016-01-12 16.14.29

Imke Rust busy making the SubRosa Artwork. Photo by Steffen Holzkamp (c)

 

Aan die einde van die dag besef jy watter impak ‘n kunstenaar se kuns op die politieke hoi-poloî en ekonomiesespelers kan hê.

Dan is daar die vraag wat jy jouself vra; “staan ek kop in die sand?”

Daardie vraag bly met jou, soos ‘n klip in jou skoen.

 

As jy jouself in Windhoek bevind, moet die vertoning nie misloop nie.

Datum: 14e of Januarie 2016

Tyd: 19h15 (Durasie: 45min)

Plek: Goethe Institut, 1-5 Fidel Castro Straat

Gratis Ingang

Kunstenaar: Imke Rust en die filmvervaardiger Steffen Holzkamp sal beide teenswoordig wees.

 

Ons weet nog nie waneer die film vrygestel gaan word op Internet nie. Almal wat belangstel is welkom om in te skryf op die film se bladsy vir nuus, waar dit bekendgestel sal word. Dit is die plan om dit hopenlik in die vroeë toekoms vry te stel. Kliek hier langs om in te teken: https://aninfinitescream.wordpress.com/news/

 

 

 

Gaan lees hier oor Uranium Myne in Namibië, en waarom ons die regte vrae moet vra.

Gaan lees Adam Hartman – The Namibian se skrywe omtrend die media debakel rondom Imke se kontroversiële kuns.

Gaan lees hier verder die media artikels van Imke Rust

 

woestyn se mooi

Dertig-rand se verskil.

Op langpad moet mens aftrek en op die bossies piepie.  Woestynlangs is nie veel koelte nie.  Ek skrik sommer my piepie droog want langs die draad is neffens ‘n roering.  Daar waar ons afgetrek het, sit reeds ‘n ouman. In die gruisklip tussen sy vlenter skoene lê ‘n blikbord met paar klipkristalle.  Mense uit ‘n dor Namibiese woestynveld het nie blink aan hulle nie.  Niks blink onder ‘n permanente stoflaag nie. Nam se mense is sonder grênd goudstrepe in hulle tanne.  Skiewie tandaartse is volop. Tannemekênieks by die kliniek is bekend vir tanne trek.  Dit kos dertig-rand vir ‘n tandtrek by die kliniek.  Jy arriveer in die wêreld sonder tanne, en groet ook uit; tanneloos.

Heeldag loer mense vir vrinne, kliënte of vreemdes onder plooihand met skyfie oë. Hulle kyk uit vir mouterstofstrepe oor rooidsanduine.

“Is Krismis, Meneer, koop my Kristalle. Allemal is genie-oun, ‘k het self uitgehaal” rasper sy stem onder ‘n laphoed.  Ek staar na die ou blikbord.

Tyd staan; ek kyk sy ou veldskoene.  Skeefuitgetrap en ‘n geel verdik-toonnael loer vir my.

Dis sy werk, kerk, stap, dans en enigte skoene; reeds vir etlike jare .  My voetsole verbrand deur my plakkies. Tussen ou plooie  loer sy blousel oë vir my plakkies.   Wat weet ek tog van Kristalle? Dor mense het ‘n tydsame kalmte in hulle.  Die plooieman bly net so gekreukel sit.  Om my is hittespieëlings wat dans.  Tyd staan stil, ek trap rond op die brandsel onder my plakkiesole.

Terug in die skadu van die mouterkar sit ek met ‘n skurwe kristal in die hand, en die dertig rand lê nog netso innie blikbord.   Daai dor man loer lank in ons rigting, op skrefie oë toe ons daar wegtrek.

‘Watse verskil kan dertigrand nou aan hom maak?’ wonder ek.

Wat sal ek nou maak met ‘n woestynklip?

Krismistyd het woestynkinners nie blink liggies en Chinese geeltintsel vir plêstiek winkel bome nie. Onse groen Kameeldorings is vannerselwe getooi met goudgeel mossineste.  Sandkinders belê in tyd.  Tyd deel hulle met mekaar. Ons deel tyd annerkant Goghas, vêr annerkant Mariental, in ‘n koel plaashuis wat ruik na parafien.  Lekkerste kuier is onder die sterre in die rooisand buite die agterdeur.

Die stroois is ‘n klipgooi van ons af.  Sit-sit onder die geelmaan met hoog vlamme in ‘n konkadrom hoor jy rustige stemme tot laatnag. Hulle tandelose lag klink soos roesblik wat die wind rondstoot.

Laphoed en ou hanne

Laphoed en ou hanne

‘n Paar dae na Krismis koop ons vars proviant op Goghas. Dis ‘n vaal plekkie, net ‘n Hotel, drankwinkel, Kerk, poskantoor, kliniek en Hotel.  Klein; as jy vir ‘n hoender uitswaai, ry jy die dorp mis.  Almal groet en knik.

Daars mense met Job se geduld wat net rondstaan en dié wat beweeg, bekyk.  Voor die kliniek hang ‘n paar tydsame siele.  Ek kyk ‘n paar ou veldskoene raak, daars ‘n toon met ‘n dikgeel toonnael wat vir my loer.

“Koop ‘n Kristal vir Nuwe’djaar!” se die ouman met rasperstem onder sy laphoed.  Ek sien nie sy oë nie, net sy glimlag met ‘n nuwe “passion gap“.

Terug op die stofpad kyk ek weer die woestynkristal.

Iewers bank ‘n tannemekêniek sy nuwe  dertig-rand.