Category Archives: Woestynkoors

woestyn se mooi

Dertig-rand se verskil.

Op langpad moet mens aftrek en op die bossies piepie.  Woestynlangs is nie veel koelte nie.  Ek skrik sommer my piepie droog want langs die draad is neffens ‘n roering.  Daar waar ons afgetrek het, sit reeds ‘n ouman. In die gruisklip tussen sy vlenter skoene lê ‘n blikbord met paar klipkristalle.  Mense uit ‘n dor Namibiese woestynveld het nie blink aan hulle nie.  Niks blink onder ‘n permanente stoflaag nie. Nam se mense is sonder grênd goudstrepe in hulle tanne.  Skiewie tandaartse is volop. Tannemekênieks by die kliniek is bekend vir tanne trek.  Dit kos dertig-rand vir ‘n tandtrek by die kliniek.  Jy arriveer in die wêreld sonder tanne, en groet ook uit; tanneloos.

Heeldag loer mense vir vrinne, kliënte of vreemdes onder plooihand met skyfie oë. Hulle kyk uit vir mouterstofstrepe oor rooidsanduine.

“Is Krismis, Meneer, koop my Kristalle. Allemal is genie-oun, ‘k het self uitgehaal” rasper sy stem onder ‘n laphoed.  Ek staar na die ou blikbord.

Tyd staan; ek kyk sy ou veldskoene.  Skeefuitgetrap en ‘n geel verdik-toonnael loer vir my.

Dis sy werk, kerk, stap, dans en enigte skoene; reeds vir etlike jare .  My voetsole verbrand deur my plakkies. Tussen ou plooie  loer sy blousel oë vir my plakkies.   Wat weet ek tog van Kristalle? Dor mense het ‘n tydsame kalmte in hulle.  Die plooieman bly net so gekreukel sit.  Om my is hittespieëlings wat dans.  Tyd staan stil, ek trap rond op die brandsel onder my plakkiesole.

Terug in die skadu van die mouterkar sit ek met ‘n skurwe kristal in die hand, en die dertig rand lê nog netso innie blikbord.   Daai dor man loer lank in ons rigting, op skrefie oë toe ons daar wegtrek.

‘Watse verskil kan dertigrand nou aan hom maak?’ wonder ek.

Wat sal ek nou maak met ‘n woestynklip?

Krismistyd het woestynkinners nie blink liggies en Chinese geeltintsel vir plêstiek winkel bome nie. Onse groen Kameeldorings is vannerselwe getooi met goudgeel mossineste.  Sandkinders belê in tyd.  Tyd deel hulle met mekaar. Ons deel tyd annerkant Goghas, vêr annerkant Mariental, in ‘n koel plaashuis wat ruik na parafien.  Lekkerste kuier is onder die sterre in die rooisand buite die agterdeur.

Die stroois is ‘n klipgooi van ons af.  Sit-sit onder die geelmaan met hoog vlamme in ‘n konkadrom hoor jy rustige stemme tot laatnag. Hulle tandelose lag klink soos roesblik wat die wind rondstoot.

Laphoed en ou hanne

Laphoed en ou hanne

‘n Paar dae na Krismis koop ons vars proviant op Goghas. Dis ‘n vaal plekkie, net ‘n Hotel, drankwinkel, Kerk, poskantoor, kliniek en Hotel.  Klein; as jy vir ‘n hoender uitswaai, ry jy die dorp mis.  Almal groet en knik.

Daars mense met Job se geduld wat net rondstaan en dié wat beweeg, bekyk.  Voor die kliniek hang ‘n paar tydsame siele.  Ek kyk ‘n paar ou veldskoene raak, daars ‘n toon met ‘n dikgeel toonnael wat vir my loer.

“Koop ‘n Kristal vir Nuwe’djaar!” se die ouman met rasperstem onder sy laphoed.  Ek sien nie sy oë nie, net sy glimlag met ‘n nuwe “passion gap“.

Terug op die stofpad kyk ek weer die woestynkristal.

Iewers bank ‘n tannemekêniek sy nuwe  dertig-rand.

Advertisements
Desert Marathons

Mauro Prosperi …fluister sy naam – hy het woestynkoors.

Partykeer lees ek van mense, en dit laat my stil. Soms vir dae lank.

So lees ek van Mauro Prosperi. Mal Italianer, ‘n tienkamp atleet wat daarvan hou om aan Ultra Maratons deel te neem.

Toe hy nege-en-dertig jaar oud was (1993), – in die Sahara woestyn, gedurende Marathon des Sables tref ‘n sandstorm. En hy raak weg.

186km van koers af, en 10 dae later en 16kg ligter kry hulle hom toe.

Die atleet in hom, het besluit hy moet aangaan en weer sy kinders sien.

Net die Tuareg kon so iets regkry.

Hy is nou sestig jaar oud. En hy hol nog steeds.

Sederdien het hy die einste marathon reeds agt keer voltooi.

Hy en sy vrou is uitmekaar – hulle is beter vriende as ooit.  Hy het ‘n nuwe liefde, een wat weet hy het woestynkoors.

Volgende jaar gaan hy 7000km van Morocco na Egipte hardloop deur die Sahara.  Het ek gesê hy’s malkop?

Woestynkoors is REAL.

Dis ongeneeslik.

60-Jarige tienkamp atleet, met woestynkoors

60-Jarige tienkamp atleet, met woestynkoors

Lees hier van sy woestyn maraton: http://www.bbc.com/news/magazine-30046426