Krismis Kersies in Rum…

 

 

So is dit mos – as jy siekerig of mislik of nostalgies voel, verlang jy na jou Ma se huis. Kerstyd in Akkra is soos sonbrandvelle aftrek, seer maar ook lekker. Alles oor Kersvees voel uit plek uit, omgedop en verkeerd.

 

So stap jy ewe vrolik die eerste Oktober in die winkelsentrum in, en daar staan ‘n man op ‘n lendelam trapleer en hang Kersfeesdekorasies op. Jy voel hoe jou hart kommapunt; ‘n ketting trek ‘n beklemming om jou binnegoeters. Dit kan mos nie wees nie, het die jaar reeds so vêr met jou weggehol, maar dan onthou jy dis nou eers vroeg Oktober.

 

In Akkra is daar baie goete wat jou laat kopskud. Als hierlangs kom wat aweregs voor, en ons wonder of die mense om ons se bont varkies nog op hok is. Miskien is hulle net kinderlik erg opgewonde oor die hele Krismis ding, of is dit dat hulle effe langer vat om op te warm oor ‘n gebeurtenis en meer tyd nodig het. In Ghana is dit ‘n GROOT ding om jou Christenskap in die publiek ten toon te stel. Van reuse plakkers op jou mouter tot dik goue kettings en swaar kruise om die nek, T-hemde met reguit boodskappe in swart dik letters en Krismis dekorasies in jou winkel, jou mouter en op jou werkstafel en in en om jou huis.

 

Die uurglas is veronderstel om nóg ‘n hele twee maande uit te loop voordat Bony-M se plastiek musiek ‘Kersfees’ in die winkelsentrums uitbasuin. In die druk verkeer is dit straatverkopers wat verlepte plastiek opblaas Krismisvaders smous. Daar’s klokkies wat klingel op Rudolf die fluweel-takbok se neus, stringe bont kersliggies en sneeuspuit in ‘n albaster-blik is als op offer. Hierdie jaar, is die dogtertjie kopbande met blinkertjie Engeltjies wat soos antennae rondswaai oor jou kop, ‘n groot verkoper.

 

Ek sit heimlik en wonder hoe hulle die Kersboodskap aan die kindertjies glo-waardig maak? Dis plak warm in hierdie tropiese land; sneeu is net ietsie wat mens hierlangs op ‘n swak tv-beeld sien. Nog nooit het ek ‘n enkele skoorsteen in ‘n huis bespeur nie – waar moet Kersvader inglip om geskenke te kom afgee? Verlede jaar het ‘n Hotelgroep ‘n Kersvader-man kompleet met witbaard en ‘n reuse sak lekkergoed gestuur om die kindertjies by die swembad te verras. Dit was pandemodium soos daai kindertjies weggehol het, in die swemwater gespring het, histeries aan die gil gegaan het. Bestuur het gou die booswig verwyder en vir die res van die dag omverskoning gevra op die publieke uitsaai stelsel, en verskrikte verlore kinders en ouers met mekaar herenig.

 

Nou as jy as expat jouself in Akkra bevind oor Kerstyd het jy drie opsies. Die gewildste en voorkeur opsie is om ten duurste huistoe te vlieg en tussen jou eie mense iewers in die Kalahari, sonder sneeu en sonder koorsteen Krismis te vier langs ‘n koolstoof met warm melktert en rum-versuipte-kersies. “en koue bier” sê my Vrystaat-man hier van die kantlyn af.

 

Opsie nommer twee is minder gewild maar ‘n gemoedelike kuier waarheen almal uitsien en honderde fotos oor bakkiesboek heen gestuur word. Almal is nie beskore om verlof te neem in die blinkertjie seisoen nie. Iemand moet ‘n wakker oog hou op die geldkas, die olieboor, die voorraad op die winkelrakke; en daai makkers staan saam en vier Krismis in styl. Al die Springbok ondersteuners kom bymekaar en vier fees. Jy word gevra om ‘n kosding by te dra, iets soos aartappelslaai, gebaktekool weggesteek onder smeltkaas, reuse bak winkelroomys of melktert vir twintig uitgehongerde Springbok ondersteuners. Webers word aangery en skaapboude word gebak. Geskenke word met ‘n speletjie om die tafel aangegee en uitgedeel. Krismisvader kom aangery op ‘n 4×4 motorfiets en deel Kersgeskenke aan die kinders uit. Daar word geswem en gekuier en fees gevier; almal gemoedelik saam.

 

Opsie nommer drie is vir die oningeligtes, wat nuut in die land kom werk het, wat te suinig is om hulle gemoedelikheid te deel, wat soos ‘n rooiby wag om iemand te steek…hulle sit by die huis en versuip hulle self soos kersies-in-rum.

 

As jy iewers in Januarie uitgespaar is, en weer arriveer in Akkra, dan kan jy jou begewe in die Kersfees gemoedelikheid tot diep in Maartmaand wanneer die blink Kerstooisels eers verwyder word. Vrinne wat jou lanklaas gesien het vertel van sonbrand en brandvelle wat afgetrek moes word.

 

As jou kollegas van Ghana jou eers weer in laat Februarie sien, groet hulle jou vrolik “Merry Krismis” and “A prosperous New Year”!

2016 Waar lees jy lekker? Thulana se keuse

Baie dankie Toortsie vir die raaklees, en benoeming!

 

Hierdie is ‘n blogspeletjie wat ten doel het om ons blogs, verkieslike Afrikaanse blogs, ‘n bietjie blootstelling te gee.

Hoe dit werk:

  1. Dis totaal vrywillig. Jy hoef net deel te neem as jy regtig wil.
  2. Dit sal baie lekker wees as jy deelneem.
  3. Word jy benoem? Hartlik geluk! Dit beteken iemand lees graag by jou!
  4. Noem jou bloginskrywing: 2016 Waar lees jy lekker? (jou naam) se keuse.
  5. Bedank die persoon wat jou benoem het en tag die bloginskrywing waarin jy benoem is. (Omdat soveel mense vra: Kliek op bloginskrywing se opskrif, kleur die URL in, regskliek, copy; Dan in jou beheerpaneel waar jy die bloginskrywing skryf, kleur die woord in wat verwys na die persoon wat jou benoem het, regskliek en paste.)
  6. Herhaal die eerste sin in hierdie bloginskrywing, asook die reëls, sodat die volgende persoon ook weet waaroor dit gaan.
  7. Benoem 3 tot 5 bloggers/blogs waar jy graag lees en sê ook hoekom jy graag daar lees. Onthou om elkeen op dieselfde manier te tag. Kliek op ‘n bloginskrywing, kleur URL in …
  8. Jy mag iemand benoem wat alreeds benoem is, maar veral nuwe name is ook altyd welkom.

So waar lees ek graag? Ek lees op so baie plekke en was nog nooit goed met lysies maak nie, so ek benoem graag ‘n paar bloggers waaraan ek op hierdie oomblik dink, in geen spesifieke volgorde nie:

Blikkiesvis – Hier lees ek visvangstories met ‘n twist. Die grote wat weggekom het, die langpad daarheen, die nat en koud en verlang huistoe – alles kan ek mee aanklank vind!

Perdebytjie – Wat skryf oor rondreis in Namibië, met die mooiste fotos. Wat waarneem en diep raakvat met woorde wat die meeste van ons misslaan…en lief is vir grond en nat reēn en goggas en nat olifante en kampstof.

DieWitHasie – As ek die dag effe af is, dan trek ek hierdie hasie nader. Altyd ‘n giggel iewers in soms serious onderwerpe. Sy vat vas en sê ‘n ding sodat dit met mening vasslaan op die borsbeen, dan pluk sy die fopspeen uit en spoeg dit met ‘n sierlike flippen boog!  Ek vat haar net soos sy skryf, uit die hart met die pen.

Imke Rust – Landsgenoot wat met ‘n groot talent inslag maak waar ander soos slak sit en bêkhou.  Sy maak ‘n verskil, is alom bekende kunstenaar, beeldhouer, skilder, natuurliefhebber, natuurkunstenaar (die enigste ene wat ek van weet). By haar gaan loer ek in – altyd inspirerend as ek voel so vaal soos karton is sy soos  vuurwerke!

Rondomtaliedraai – Altyd my lekkerste inloer blog waar ek lank sit en giggel oor Vrydag se inkopies!  Altyd ietsie te sien wat my lank aan die dink het oor mense se eienaardighede en slimmigheid en simpelgeit.  Haar blog maak my week, elke week! Doen so voort….

 

Ai hier is net nie genoeg spasie om almal te lys nie! Daar is sulke ougat inloer plekke, maar reēls is reëls.

Hoop julle geniet die rondloer in my lekker-lees blogs.

 

Ghana Lap op ‘n Boksie

Hier in Akkra is mos by tye heeltemal te veel tyd op hande.

Ek het destyds by ‘n vriendin gaan kuier wat my geleer het om boksies te bou vanuit plat karton, en met bont Ghanalap oor te trek.

My man reis gereeld vir besigheid, en dan spring ek aan die werk en maak boksies.  Wanneer hy tuis is, raak hy verbouereerd met garings en lapseltjies en kartontoiings wat rondlê. So sodra die kat weg is – is die muis baas en mors ek soveel op die etenstafel en ryg ek klaar boksies uit.

Hier is ‘n paar fotos van wat ek aanvang…

buite oorgetrek.JPG

Die buite kant wort met bont lap oorgetrek

 

 

Karton en snymesse.JPG

Ons begin met plat 3mm karton en sny kante, deksels en bodems uit.

rou-boksie

Dis hoe die boksie lyk sodra als aanmekaar geplak is.

buite oorgetrek2.JPG

Dan word binne sye gemeet, gesny en gepas.Dit sal ook oorgetrek word.

gom-lap-vas

Die sye se lap word vasgelym aan die karton

dubbel gewigte.JPG

Ek gebruik ligte gewigte  om seker te maak als lym mooi stewig vas

meer gewigte binnevelle.JPG

Hier kan die extra sye binne-in vas gelym word

oop boksie3 binne.JPG

So lyk die klaar boksie rooi getooi, met ‘n binne verdeling

binne buite rooi boksie.JPG

Siedaar – kant en klaar

bont Afrika lap.JPG

Enter a Een van die vorige bont-boksies

This slideshow requires JavaScript.

 

 

 

Skoenmaker, waar’s jou skoene?

Elke dag sien ek dieselfde ou Omie sy ambag en beoefen onder die boom, in die straat waar-in ek woon.  Die boom is intussen afgesaag om plek te maak vir ontwikkeling. Nou sit die Oompie op die sypaadjie struik se koelte.

Elke dag, sit hy gedweë daar, behalwe Sondae.

Sy naam is Atta.

Atta is nie seker hoe oud hy is nie.  Hy weet hy’s gebore in die reēn seisoen en dat sy ma dertien kinders gahad het, nege daarvan het groot geword vertel hy.  Sy Pa het ‘n tweede vrou getrou en daarna het hy huisverlaat.  Hy’s van die Volta area, sy ouers was vissers in ‘n klein statjie.

Ek skat hy is diep anderkant van vyf-en-sewentig. Hierlangs respekteer mense nog ouderdom. Vyf-en-sewentig in Afrika-son is nie speletjies nie.

In 1965 het die Ghana Goeverment die grootste mensgemaakte meer gemaak, Lake Volta.  Menigte klein vissers gemeenskappe het hulle grond verloor toe die water van die Akasombo dam omtrend 7700 vierkante kilometer se oppervlakte met water vul.

Tans woon Atta by ‘sy halfsuster, se dogter, in Accra, Ghana se hoofstad.  Accra so drie ure se ry van waar hy gebore is, in die Volta dristik.

img_3368Drie weke gelede het Atta nog elke dag op ‘n bankie onder hierdie boom op ons straat gesit en as skoenmaker gewerk.

Vriendelike Oompie, altyd groet hy eerste, ‘n oopbêk eentand glimlag en die rustige swaai groet van die hand.

Hy het menigte paar sandale van my ‘n tweede lewe gegee.

Nou het die lokale munisipale kantoor beslis dat hierdie area gestroop moet word om plek te maak vir goedkoop staatsbehuising.  Die boomstompe is al wat oorgebly het van sy reuse koelteboom en bourommel sal vir twee tot drie maande so rondlê voor die staats bouers rigting kry.

Na elf jaar weet nie nie waarheen om nou te gaan nie. “Sy kliēnte sal hom hiér onder daai boom kom opsoek”, verduidelik hy.

IMG_3372.JPG

Nou staan sy tafeltjie hier, reg vir besigheid in die bloedige Afrika-son.

Ek vermoed hy lei aan een of ander vorm van demensia.  Hy vertel my tot in die fynste detail van jare gelede se gebeure, maak kan nie onthou waar sy suster’s kind woon nie.

IMG_3373.JPG

Hierdie is van sy skoenmaker’s gereedskap…

Hierdie week gaan ek op facebook vra wie kan hier in Akkra vir hom ‘n sonsambreel skenk…

 

atta-skoen-fixerMaar waar is sy skoene?  Ek vra en hy maak asof hy my vraag nie verstaan nie.  Die leer-sandale langs hom is ‘n kliënt sin wat hy regmaak.  Miskien ook self al voetseer? Miskien effe artritis? Wie sal weet.

Hy vergeet ek vertaan nie vlot Ewe nie…en mompel voort oor iets lank gelede…

Teen vyf-dertig kom ‘n jongman hom weglei.

More sal hy terugwees. Gereedskap op die tafeltjie in die son.

Reg vir wegtrek skoensole….

 

** So vandag noem ek vir Martie Steyn, my vriendin ek gaan op bakkiesboek vra vir ‘n sonsambreel vir Atta. Daar en dan bied sy ene aan wat reeds twee jaar rondstaan – nou’s Atta uitgesorteer.  Gaan hom nou net ‘n paar skoene opspoor….

 

IMG_3528.JPG

Atta het vandag sy sonsambreel gekry.

Hy het nie veel woorde nie, maar hy het soos ‘n besige by gefroetel en oor en oor sy goedjies uitgepak.   Die oomblik groot vir hom, môre sal hy kalmer wees, en as hy eers sy sít gekry het, sal ek hom weer op ‘n kiekie vaslê.

 

 

Winkel in die boom…

Verona is die trotse eienaar van die ‘Tree Boutique’ op die straat, vyftig-meter vanwaar ek woon.  Ses dae ‘n week is sy op die sypaadjie onder ‘n reuse koelteboom, besig om haar ware aan die takke van die boom op te hang.  Wat ‘n skouspel van kleur en patroon!  Haar seuntjie van twee, speel heeldag, al om haar rond.

Dis koel – die windjie draai en swaai die bont goete vrolik in sirkels.  Soos ‘n by na ‘n blom, kan mens nie help om te gaan loer wat sy dié week op haar tafeltjie uitstal nie.

Sy verkoop handgemaakte juweliersware, geweefde frokke, gekerfde olifantjies, bont krale en ander fieterjasies.  Daar is helder grasmandjies om van te kies en te keur.

IMG_3358.JPG

Niemand gaps ietsie van haar tafel af, wanneer sy wegstap en vir haar kind gaan kosgee nie.  Sy pak nie eens op as dit so effe motreēn nie.  Die boom is defnitief dig genoeg om te keer dat haar ware deurnat word. As die swaar reën dryg is dit ‘n ander storie – almal hol nader en help Verona om gou als vanaf die hoë takke te haak en vinnig weg te pak.

Almal ken mekaar op ons straat, mense knik vir mekaar ‘n groet, of roep jou naam uit en vra hoe gaan dit met die kinders.

Oorkant haar winkeltjie is ‘n konstruksie span aan die gang.  Afrika-musiek speel kliphard op hulle lorrie se radio.  Hulle is druk besig om ondergrondse kabels te lê.

Kabeltrekkers.JPG

Daar is ‘n geel-gifappel-help wat verbygestap kom…Simeon is sy naam.  Hy dra ‘n klein hout kissie in sy hand, en met die ander kap hy ritmies so in die stap met ‘n plankie – so in die stap.  Klap-klap-klap…

img_3366

Simeon was te skaam dat ek ‘n foto van sy houtkissie se inhoud neem, maar ingestem tot ‘n foto van hom as “he is working”, bedoelende so in die stap wanneer hy sy kliënte laat weet hy stap straat-af…

Almal wat ‘n stukkie leerwerk wat uittorring of stomp messe of skêre het, kan hom nader roep.  Hy stap heeldag rond opsoek na kliënte wat sy dienste kan benodig.

Vir ‘n kleinerige bedraggie sal hy sy houtkissie oopbêk trek en stradig en ritmies messe slyp.

Diep daar-in die kissie is staal naalde met geboē plat punte en nylongare waarmee hy speletjies maak van handgemaakte leergoedere se nate wat los torring.

Baie mense hierlangs besit handgemaakte leer aktetasse, en dra handgemaakte skoene of leersandale.

 

Waar wonder ek,  kan mens nog skoenmakers, leer bewerkers, bakkers, beeldhouers so op straat raakloop?

Die Duiwel met ‘n troffel in die hand …

t

My Moeder het ‘n sê-ding in die huis gehad wat iewers vasgeslaan het. “As die son sak in die Weste is Daniël op haar beste”. Wanneer nagkrieke begin gil ‘die dag is verby’, raak ek kriewelrig. Mens kan nie net so op jou eie spoed aandobber nie. Jy moet iewers ietsie aanvang, waarna jy eendag op die stoep kan verwys – en sê: Dáár, doeikant, het ek ‘n steep in die stof agtergelaat wat iemand se dagplan verander het.

 Screenshot 2016-11-12 13.53.07.png

Kyk onse expat tannies moet mos heeldag handjies gevou sit en huis-huis speel, tot vanaand wanneer manlief tuiskom. Sou ons nou ‘n wettige werkspermit toegestaan word, is dit soos die kossies uit ‘n lokale werker se mond uitpluk. Werkspermitte is so skaars soos hoendertanne – net een per gesin is die standaard. Werk ons iewers vir ‘n geldjie dan gooi immigrasie jou en manlief -sonder fieterjasies landuit! Mense klik graag opmekaar, want die son mog mos nie op almal gelyk skyn nie. Nou vind ons ander maniere van onsself vermaak.

Ons sit gratis en verniet ons vlytige hanne en koppe bymekaar om besig te bly. Enige ietsie wat ‘anders’ is vind aanklank. Naaldwerkgroepe, verfkunsklasse, kaartspel, mahjong, tennis, maratonne, teedrink, Yogaklasse, stapgroepies, vroue aksiegroepe, Bybelstudie – noem maar op; ek ken iemand wat dit aanvang. Ledigheid is immers die Duiwel se oorkussing.

Ook bang ek mis op ietsie uit – rits ek eendag saam diep bos toe. Anderkant drie ure se ry uit Akkra, gaan ons op ‘n uitstappie van een van die vrouegroepe wat ‘n oorslaap in ‘n een-ster-hotel insluit. Ons gaan bekyk die aanbou van ‘n kraamkliniek wat so in die stof staan tussen die gehuggies. Met die intrapslag sien ek iemand smokkel met iemand anders se bougeld. Nie een van die vensters is op dieselfde hoogte nie, skewe mure en nie een van die deure is dieselfde breedte nie. Selfs die boublokke in een muur is verskillende groottes.

Ek sê toe nou so ingedagte vir die vrou wat naaste aan my staan dat die Duiwel mos aan mens verskyn in die vorm van ‘n slimgatbouer met ‘n troffel in die hand. Yak-yak-yak gaat ek aan oor als wat ek verkeerd sien.

So werk dit mos uit dat die tannie wat so aandagtig luister na my wat so oorlams my gedagtegang staan en vertel – ‘n Kanadees is wat geld uitdeel aan die manne wat daar bou. Nou kyk, as jy so dom is soos toffie, dan moet jy gekou word! Mens kan nie net geld vanuit Torronto aanstuur en vertrou mense sal dit mooi spaarsamig en met oorleg op ‘n bouery spandeer nie.

Lang storie kort, het ek nou die Kliniekbouprojek oorgeneem en red wat daar te redde is. Eers moes daar reggestel word met ‘n dun begroting, want die stoute kabouters het diephand in die koekieblik gedêps, blink mouters gekoop en sommer lekker gaan vakansie hou met die projekgeldjies.

Hou nou ingedagte: hierlangs is nog ‘diep donker Afrika’ waar almal nie noodwendig skoolgaan en leer lees en skryf nie. Dit geld beslis nie vir baie vissermanne en lokale boere nie, hulle het wel kinders op strepe, want meer kinders is meer hanne wat kan werk.  (Moet nou nie my kop afbyt nie; ek sê nie alle mense van Ghana is ongeletterd en bar nie, ek sê: in die deel waar ék bou – is dit afgeleë soos Mozambiek twintigjaar gelede…)

Mense in die landelike omgewings besit nie noodwendig ‘n mouterkar nie, en twintig kilometer tot op die naaste dorp is nog steeds ‘n dagreis vêr. Natuurlik is die plek eksponenteel vrugbaar, want in daardie areas is tweelinge en drielinge nogals algemeen. Lokale mense in die landelike gedeeltes, tradisioneel; besoek vrouens nie hospitale en klinieke nie, hulle steun op voedvroue en moeders in hulle eie gemeenskappe en omgewing.

So die noodsaaklikheid van klinieke verder uit die groot dorpe is ‘n lewenslyn vir menigte. Die taak is enorm, iets so onwerklik soos om ‘n olifant op te eet. Maar dit kan ook gedoen word, oor ‘n lang tyd… happie-vir-happie. Dis presies hoe dit nou is: ons bou een-boublok-op-‘n-slag.

Kliek hier om die bouery te bekyk

Wanneer my Namibië-vriende vra wat doen ek heeldag, dan vertel ek gedwee, ek trek stofstrepe in Afrika…

 

** (Op die Storie voorbladfoto is Prince Attah – ‘n trotse bouer  uit ‘n ‘Village’ in Ho, Volta Distrik, Ghana. Hy kan lees of skryf nie.  Maar hy kán bou.  En hy kán self plan maak.  Hy’s toevallig die orrelspeler in die EP Church, met daai einste bouers hande van hom.  My opskrif en foto het vandag niks met mekaar te doene nie…)

(Mense kan op facebook gaan loer en kiekies kyk van die Kliniek se bou: Snuffel na Canadian Friends of Adaklu Waya

https://www.facebook.com/groups/1392167074390195/) ‘

planning and checking meassurements and quotes.JPG

Daar’s niks ‘glamerous’ omtrend die bouery nie – net kophou en kalm bly…

‘n Blom moet weer blom…

 

Elke dag is nie Krismis nie. Daar moet die eenvoudige vaal grys dae wees sodat ons die rêrige spesiale dae kan onthou. As alle dae wa-wa-whoom was, was ek sekerlik in die malhuis! Miskien raak ek dan soos kindertjies wat oormoeg vaak is, mislik en opgeskeep met myself.

Vandag gaan een van my vriendinne weg. Dis maar die lot van ekspat-mense. Sodra jy iemand gevind het wat op dieselfde bladsy as jy inkleur, vat hulle die trekpas. Die laaste ete, tennisspeel en uitkuier. Sy’s so oorweldig met haar reis reëlings en pakkery, dat sy my langlip heelemal miskyk.

Sekerlik gaan ek nou nie soos ‘n lappop ‘n ashoop soek nie, maar ag magtig man! Kan Karma nie effe langer my misgekyk het nie?

As ‘n blom homself kan dwing om volgende somer weer te blom na ‘n mislike winter, dan kan ek sekerlik maar  weer uitkyk vir beter dae!