Tag Archives: Afrika

Sing vir ‘n houtpop

 

Vanoggend, toe ek die wasmasjien laai, merk ek ‘n houtpop uitsteek by die skropvrou se oopbek handsak. Nuuskierigheid vat die oorhand en al my maniere vlieg by die deur uit; so loer ek skelmpies hoe lyk husse met lang ore.

 

Al wat ek raaksien is een moeg opgeleeste Bybel en die houtpop. Dis nie sommer so houtpop nie – dis ‘n handgekerfte, platkop ene met ‘n rooistring kraletjies om die middellyf. Heel oggend is ek doenig in die kombuis en betrap myself loer na die houtpop wat my dophou. Teen voormiddag kan ek myself nie meer inhou nie en vra vir Judith-die-skropvrou wat maak sy met die houtpop wat halflyf uit haar handsak hang.

 

Eers is Judith half skaam maar nadat ons elkeen met teebeker in die hand staan en slurp, kom Judith met die houtpop se storie uit.

 

Judith is anderkant van dertig en sy dink dis tyd om ‘n kind te kry. Nou het sy my volle aandag – want ek weet – sy’s nie verlief, verloof of getroud nie. Soos ek die storie vooruit loop, moet iemand haar die bytjies en blommetjies storie vertel.

 

Maar ek staan haar oopbek en aangaap; sy vertel sy is na haar stat se medisyneman wat ná ‘n ritureel vir haar die fertiliteits pop gegee het.

 

Slaat my met ‘n nat vis! Ek is te bang my baie vrae oor die ritureel skrik haar af van haar popstorie, dat ek omtrend verstik soos ek tee opslurp. My kop loop Kaapse draaie met my soos ek wonder.

 

“Nou wat maak jy met die pop? “ wil ek weet. Judith haal haar bontlap uit en wys my hoe sy die pop op haar rug knus vasdraai sodat sy dit kan abba en in privaatheid saamdra. “Seker maar hoekom die kop so plat is, om beter weg te steek”, sê ek. Nee, dis eintlik spesifiek vir mooigeit – sy wys die hoë voorkop en die rondgeit van die kop beloof ‘n slim baba. Sy beskryf die prag van amandelvorm oë, en die halfmaan wenkbroue en die fyn besnyde neus – elke moeder se droombaba. Judith hou die popkop sag in die holte van haar hand en wys dat die houtpop ook speel-speel gevoed kan word. Teen die tyd staar ek met koue beker tee in die hand en vat-vat aan die koue kombuisblad sodat ek weet ek droom nie.

 

Sy wys dat die pop aan die slaap gesus word en ook gebad word net soos ‘n regte baba. Ek trek my oë op skrefies en vra onoortuig of die houtpop dan ‘n naam het. Natuurlik! Hierdie pop is ‘n eg Ashanti fertiliteitspop, genoem “Akua ‘ba” wat beteken ‘meisie gebore op ‘n Woensdag, se kind’. Gedoriewaar, ek is onseker of sy gatvat met hierdie storie, maar sy bekyk die platkoppop met diepe deernis.

 

Hierdie is die meeste wat ek Judith ooit hoor gesels het – seker iets van hoe ek haar aangaap, besluit sy dis genoeg en woeps, droog haar storie op.

 

Na-middag hoor ek haar neurie en sing terwyl sy in die agterkamer stryk. In die gang merk ek op, die pop is vasgebind op die rug – noudat die popstorie op die lappe is, kan pop-se-kind openlik in lap rondgedra en voor gesing word.

 

Ek verwonder my aan hoe onkundig ek is oor die kultuur van Ghana se mense. Op die internet lees ek die houtpoppe is sedert toet se jare deur vrouens in die familie aan hulle dogters en agtersate aangegee. Soms word ‘n pop rondgedra tydens die swangerskap om ‘n gesonde baba te verseker. Partykeer word die houtpop weer teruggegee aan die medisyneman, of in die huis as dekorasie uitgestal wat die gesondheid van kinders beskerm. Hoe dit ookal sy, hierdie stukkie kultuur het sy oorsprong diep in Afrika, lank voordat die sendelinge die Bybel hierlangs kom versprei het. Hierdie poppe word net in Ghana gevind, maar is nie algemeen in die markte verkrygbaar nie. Toeriste koop ten duurste hierdie Ghana poppe as stukkie egte Afrika kuns.

Screen Shot 2018-02-13 at 16.34.04

foto vanaf internet

Skielik sien ek Judith in ‘n ander lig. Sy het ‘n lang plan vir haar toekoms. In Afrika, as sy na dertig kan bewys dat sy wel vrugbaar is, en kinders baar, is dit heelwat makliker om man te vang.

 

Met haar houtpop knus toegewikkel, is Judith is die ene lipstiek en rooswater oppad huistoe!

 

Miskien het iemand al vir haar die bytjie en blommetjies storie vertel?

Advertisements

Swiets vir Krismis

Tumi voel haar boude word lewendig opgevreet deur ‘n nes vol rooimiere. Twee ure se stilsit maak so met haar spykerskerp boudjies. Sy ruik haar uitpeuloog tante sweet, sien haar swaar asemhaal, en skuifel weer in die harde plêstiek kerkstoel. ‘n Sakdoek of handwaaier help effens teen die sweet, maar haar tante rol haar wit-oog-kyk vir Tumi elke keer wat sy rondskuif.

 

Slaap is nie eens die Engele beskore nie met die vet pastoor wat soos ‘n besetene aangaan, en met sy wysvinger staan en druk-steek in die lug. Pastoor se spoegspatsels tref die stoffies wat in die lang sonstrepe ronddans. Eers as die grond se sonstreep kort word, en by die opslaan orrel se pote skyn, sal Kerktyd verby wees. Die kerktannies sit in hulle beste klere met groot wit sakdoeke en grimering afvee.

 

Tumi wonder of die rooi robynring aan pastoor se pofferhand kan afkom en of dit brand nes die rubberrekkie om haar vinger? Pastoor raak heftiger en skril soos iemand wat ’n slang raakloop op pad om water te gaan skep. Die jonger assistent-pastoor wag; doof soos ‘n waspop, hy wip-staan om die volgende preekbeurt aan te vat. Iedere elke Pastoor wil preek want op Krismis haal hulle die groot kollekte emmers uit, en daar’s ‘n kollekte rondte met elke ander pastoor se prekery. Tussendeur sing die Tannie-koor het nuwe pers koorrokke, groot blomme in hulle hare en pers en blou eye shaddow.

 

In die voorafgaande dae het kinders gehelp om die kerk, hulle hutte en die kraal te versier met bont lap vlaggies. Daar is met grasbesems stof oor die harde rooigrond weggevee in die kraal, en almal het groot potte kos gekook. Haar Tante maak die beste visbredie in die hele dorp en almal weet dit. Dis hoekom daar vanaand in hulle kraal gekuier word. Tumi trek haar knieë onder haar ken in en glimlag warm as sy net aan al die kos dink.

Krismisdiens is ‘n heel ander kerkding, maar Tumi weet dit vat net baie langer en jy moet gaan sit en na die geskree luister al is dit vandag Maandag. Daar is orals Krismis-plêstiekblomme en blink versiersels in die kerk. Sy gaap en strek haar beentjies sodat haar skoolskoene se hakke net-net die grond raak, sy druk haar ken dakwaarts. Sy tel vier silversterre hang vanaf die dak, dan tel sy elf dakligte werk nie, en tel drie waaiers staan stil. Sy tel die plankhorte in die preekstoel, veertien horte; nog net dieselfde as Sondag. Wanneer ‘n boerbok in die oop sydeur kom blêr sit sy kierts regop, sien hoe die koster die bok uitjaag. Al die kinders giggel en Tumi is weer helder wakker. Met swaai beentjies onthou sy eers as al die pastore elkeen ‘n gilbeurt gekry het, en al die kore oor en oor gesing het, en die geldemmers om en om gekom het, sal die kinders se konsert aan die beurt kom.

Dis tyd vir ‘n ander pastoor, almal kan nou staan terwyl hulle sing en bene rek. Vandag sien Tumi mense in die kerk wat sy weet, werk in die groot stad Akkra. Almal kom huistoe vir Krismis, meeste in busse en paar in stowwerige karre en bly tot die eerste week in die nuwe jaar. Sy loer vir die besoekers se snaakse helder klere, en ringe oorbelle, so groot ‘n hoender kan daar deurspring. Die man hier voor haar se pak klere blink en die kleur verander, soos ‘n haan se blous-swart stert.

Tumi hoor haar maag grom, en kyk op of haar Tante ook gehoor het. Dié sit ken-op-die-bors met haar oë bot toe, bid seker? Tumi se mond water en haar maag trek vas aan haar rugstring as sy dink aan die kos wat hulle vandag nog gaan eet. Almal bring groot potte met occra, yam en banku. Vir drie dae reeds kook haar Tante haar beste visbredie, sy raak sommer duiselig as sy indink hoe lekker hulle hut gaan ruik van al die Krismiskos. Vannaand word daar nog Kerkliedere gesing tot vroegmôre, lang stories van gestorwenes wat feesvier met die voorvaders, sal oorvertel word.

Tumi sien die buurkinders bondel by die sydeur. Dis uiteindelik tyd vir die Kinderkerskonsert! Sy weet, Bobby, die buurkind, is die donkie in die Krismiskonsert. Die laaste paar dae loop hy en oefen donkie-wees en bulk soos bees wat kalf. Nana gaan op sy rug rondry want sy’s Jesus se Mammie-Maria en sy het ‘n bondel lappe toegedraai want niemand in hierdie vissers- dorpie het regte poppe nie.

Kiertsregop bekyk Tumi die skouspel, sy staar oopbek na Nana se spierwit Moeder Maria-rok, en helaas kyk sy op na Thomas, een van die wyse manne wat met ‘n bak vol swiets voor haar kom staan. Sy bekyk verwonderd na al die blink papiertjies, rooies en groenes en goues, en hy druk die emmer hier onder haar neus in.

Sy het nog nooit soveel swiets bymekaar gesien nie. Einde van die skooljaar kry elke kind net één pepperment by die skoolmeester. Tumi vat stadig en plegtig ‘n een handjie vol blink swiets. Haar hartjie kop woes vinnig en sy glimlag wyd. Skaampies vou sy sorgvuldig haar swieties toe in haar rok se se plooi. Kan ‘n mens in die kerk swieties eet?

Dis die beste Kerkdiens nog!

Die Duiwel met ‘n troffel in die hand …

t

My Moeder het ‘n sê-ding in die huis gehad wat iewers vasgeslaan het. “As die son sak in die Weste is Daniël op haar beste”. Wanneer nagkrieke begin gil ‘die dag is verby’, raak ek kriewelrig. Mens kan nie net so op jou eie spoed aandobber nie. Jy moet iewers ietsie aanvang, waarna jy eendag op die stoep kan verwys – en sê: Dáár, doeikant, het ek ‘n steep in die stof agtergelaat wat iemand se dagplan verander het.

 Screenshot 2016-11-12 13.53.07.png

Kyk onse expat tannies moet mos heeldag handjies gevou sit en huis-huis speel, tot vanaand wanneer manlief tuiskom. Sou ons nou ‘n wettige werkspermit toegestaan word, is dit soos die kossies uit ‘n lokale werker se mond uitpluk. Werkspermitte is so skaars soos hoendertanne – net een per gesin is die standaard. Werk ons iewers vir ‘n geldjie dan gooi immigrasie jou en manlief -sonder fieterjasies landuit! Mense klik graag opmekaar, want die son mog mos nie op almal gelyk skyn nie. Nou vind ons ander maniere van onsself vermaak.

Ons sit gratis en verniet ons vlytige hanne en koppe bymekaar om besig te bly. Enige ietsie wat ‘anders’ is vind aanklank. Naaldwerkgroepe, verfkunsklasse, kaartspel, mahjong, tennis, maratonne, teedrink, Yogaklasse, stapgroepies, vroue aksiegroepe, Bybelstudie – noem maar op; ek ken iemand wat dit aanvang. Ledigheid is immers die Duiwel se oorkussing.

Ook bang ek mis op ietsie uit – rits ek eendag saam diep bos toe. Anderkant drie ure se ry uit Akkra, gaan ons op ‘n uitstappie van een van die vrouegroepe wat ‘n oorslaap in ‘n een-ster-hotel insluit. Ons gaan bekyk die aanbou van ‘n kraamkliniek wat so in die stof staan tussen die gehuggies. Met die intrapslag sien ek iemand smokkel met iemand anders se bougeld. Nie een van die vensters is op dieselfde hoogte nie, skewe mure en nie een van die deure is dieselfde breedte nie. Selfs die boublokke in een muur is verskillende groottes.

Ek sê toe nou so ingedagte vir die vrou wat naaste aan my staan dat die Duiwel mos aan mens verskyn in die vorm van ‘n slimgatbouer met ‘n troffel in die hand. Yak-yak-yak gaat ek aan oor als wat ek verkeerd sien.

So werk dit mos uit dat die tannie wat so aandagtig luister na my wat so oorlams my gedagtegang staan en vertel – ‘n Kanadees is wat geld uitdeel aan die manne wat daar bou. Nou kyk, as jy so dom is soos toffie, dan moet jy gekou word! Mens kan nie net geld vanuit Torronto aanstuur en vertrou mense sal dit mooi spaarsamig en met oorleg op ‘n bouery spandeer nie.

Lang storie kort, het ek nou die Kliniekbouprojek oorgeneem en red wat daar te redde is. Eers moes daar reggestel word met ‘n dun begroting, want die stoute kabouters het diephand in die koekieblik gedêps, blink mouters gekoop en sommer lekker gaan vakansie hou met die projekgeldjies.

Hou nou ingedagte: hierlangs is nog ‘diep donker Afrika’ waar almal nie noodwendig skoolgaan en leer lees en skryf nie. Dit geld beslis nie vir baie vissermanne en lokale boere nie, hulle het wel kinders op strepe, want meer kinders is meer hanne wat kan werk.  (Moet nou nie my kop afbyt nie; ek sê nie alle mense van Ghana is ongeletterd en bar nie, ek sê: in die deel waar ék bou – is dit afgeleë soos Mozambiek twintigjaar gelede…)

Mense in die landelike omgewings besit nie noodwendig ‘n mouterkar nie, en twintig kilometer tot op die naaste dorp is nog steeds ‘n dagreis vêr. Natuurlik is die plek eksponenteel vrugbaar, want in daardie areas is tweelinge en drielinge nogals algemeen. Lokale mense in die landelike gedeeltes, tradisioneel; besoek vrouens nie hospitale en klinieke nie, hulle steun op voedvroue en moeders in hulle eie gemeenskappe en omgewing.

So die noodsaaklikheid van klinieke verder uit die groot dorpe is ‘n lewenslyn vir menigte. Die taak is enorm, iets so onwerklik soos om ‘n olifant op te eet. Maar dit kan ook gedoen word, oor ‘n lang tyd… happie-vir-happie. Dis presies hoe dit nou is: ons bou een-boublok-op-‘n-slag.

Kliek hier om die bouery te bekyk

Wanneer my Namibië-vriende vra wat doen ek heeldag, dan vertel ek gedwee, ek trek stofstrepe in Afrika…

 

** (Op die Storie voorbladfoto is Prince Attah – ‘n trotse bouer  uit ‘n ‘Village’ in Ho, Volta Distrik, Ghana. Hy kan lees of skryf nie.  Maar hy kán bou.  En hy kán self plan maak.  Hy’s toevallig die orrelspeler in die EP Church, met daai einste bouers hande van hom.  My opskrif en foto het vandag niks met mekaar te doene nie…)

(Mense kan op facebook gaan loer en kiekies kyk van die Kliniek se bou: Snuffel na Canadian Friends of Adaklu Waya

https://www.facebook.com/groups/1392167074390195/) ‘

planning and checking meassurements and quotes.JPG

Daar’s niks ‘glamerous’ omtrend die bouery nie – net kophou en kalm bly…

Haas-en-hond

Ek kry hoenderswak elke keer as iemand my vra:” waar kom jy vandaan”?

 

Wat bedoel hulle? Waar; soos in vanoggend toe ek my deur toetrek, of die land waar ek laaste gewoon het, waar ek residensie het, of waar ek gebore is? My laaste drie-en-twintig-jaar se Afrika-rondtrek het my gevou en gevorm tot net hier in Akkra waar ek huidiglik woon. Ek weet, in my hart is ek Namibiës met Oros koeldrank, Jägermeister, biltong, skaapstertjie, pofadder en Windhoekbier iewers onder my dak.

 

Iemand het my die ander dag vertel hy’s gebore in ‘n kruiwa in die saagmeule waar sy Pa gewerk het. Dis mos nou ‘n ding wat tel. En hoe het sy lewe uitgedraai met so misterieuse begin? Vandag is hy ‘n ondergrondse myner in Rustenburg wat hou van visvang en blokkiesraaisels.

 

Doer in die destydse Oos Transvaal, is ‘n goudmyndorp, Evander – waar ek gebore is. Die spoegseltjie dorp is vernoem na Evelyn, die vrou van doeityd se  Distriks Administreerder – mense wat iets beginne het soos ‘n dorp en myn waar daar destyds niks was nie. In die Nuwe Suid-Afrika is Evander vandag geleë in Mpumalanga, in die Gert Sibande distrik, uitgedeel aan die Govan Mbeki munisipaliteit. Gert Sibande is vernoem omdat hy óók toegesluit is met Mandela. Volgens Wikipedia het Gert deel gehad aan die Aartappel–boikot.  Govan Mbeki het reeds ‘n mediese universiteits gebou in Glasgow vernoem na hom, en hy was ook President Thabo Mbeki se pa. Ek is nooit toegesluit met niemand nie – so my kans op vernoeming is zero.  Niks van my geboorteplek was opwindend nie, ek is daar weg voordat ek tanne gekry het. Daarna trek ek in 1993, as drie-en-twintig-jarige, weg na donker Afrika.

Screenshot 2016-05-11 09.51.39.png

Soos haas-en-hond, trek ons vir die volgende drie-en-twintig jaar, vir werk, orals-oor. Mmmm net miskien is Namibië onse Kanaän…  Ons weet hoe om binne tien dae, ingeburger te wees in ‘n ander land. Adverteer al jou wêreldsbesittings op sosiale media, gooi weg en deel die res uit. Reël ‘n ‘koebaai’ braai en kuier die drankkabinet leeg. Bondel die res in wieletjie reistasse, weeg-in net-net onder die gewigslimiet, wissel Amerikaanse geldeenheid, leer ‘n paar woorde in die nuwe taal, slaap en dut in lughawens terwyl jy wag vir konneksievlugte. Slaap ten spyte van muskiete in bedompige warm nagte op vreemde beddens, snuffel na bekostigbare eetplekke, kry ‘n werkende ATM, open ‘n nuwe bankrekening, soek bekende bestanddele, doen inkopies, toor een-pot-kos, koop basiese meubels soos banke en beddens…oor en oor; dis alles reeds gedoen.

 

Deesdae gesels ek gemaklik in meer as een taal in dieselfde geselskap. In die lokale mark groet en kibbel ek in Twi, ek weet almal in Afrika is nie noodwendig grypsugtig nie. Hierdie is rêrig leeuwêreld en gereeld bevind ek myself in ongemaklike situasies. Ek mis altyd my eie mense, ons troeteldiere, my Ma se huis en die normaliteit van ‘hoe dinge eintlik werk’ in my eie land. Alles is later aanvaarbaar en anders – solank ek nie elke dag met een of ander geloofsgeneser of aspirant politikus hoef te deel nie.

 

Wyse mense weet jy kan so ietsie by almal leer – nou probeer ek oopkop bly. Ons hou ‘n Jägermeistertjie byderhand vir die ‘hoenderswak’…

Nuwejaarsvoornemes…

Volgens Scrappy griffel ons oor Nuwejaarsvoornemes

 

Mense wat my ken, weet ek is die besige soort. Anderdag vra iemand vir my uit die bloute, “wat jaag my so”?

 

Dae lank het die antwoord my kop omgedop.

 

Toe slaat dit my! Op ses-en-veertig, het ek reeds my Pa met vyf jaar oorleef. Ek was maar ‘n jaar uit die skool to hy eendag in die fleur van sy lewe, op een-en-veertig omkap, mossiedood voordat hy die grond tref: hartaanval.

 

My Pa was ‘n interessante ou. Hy het vyf-uur elke oggend opgestaan, moerkoffie bekertjie in die hand gesit op die stoep en wag vir die son om op te kom. Hy het gesit en Bybel lees, in sy kamer of op die stoep. Lang stukke onderstreep en aantekeninge in die kantlyntjies in fynskrif gemaak. In die kombuis was sy eenvoudige potjie ‘puthu-pap’ op die stoofplaat aan die gang. Volgens hom het hy ‘n hele ekstra lewe gelewe, siende dat hy ten minste ‘n uur of drie vroeër as ander mense opgestaan het.

 

Ek het min erg aan verlepte nuwejaarsvoornemes soos gewig verloor, gesonder eet, minder stress – om maar aan ‘n paar floues te dink.

Screenshot 2016-01-11 20.44.34

My voornemes is goeters om te doen. Voordat my uurglas uitloop, moet ek nog baie beleef en sien en doen.

 

Elke jaar wil ek reis, na ‘n plek in Afrika, en een vêr weg. In 2016 wil ek swem in warm see-blou water, eilande rondom Portugal gaan sien, ook reis na Indonesië, Vietnam, miskien Mayanmar, en Australië as daar genoeg verlof tyd is.

 

In die Okawango Delta moet ek honderde olifante gaan beloer, en iewers op ‘n hout kanoe gaan roei op ‘n breë rivier – lekker laag in die koel water. Tiervis moet ek vang en ek het nog nooit probeer laslapwerk doen nie. Fotografie klasse wag op my, en dan is daar nog soveel mooi boeke en digbundels wat ek moet raaklees.

 

Ek wil ‘n olifant bad, in ‘n hangmat op ‘n tropiese eiland wieg, kaalvoet deur ‘n rysland stap, vuurvliegies vang in ‘n glasbottel vang. Daar’s ‘n kraamkliniek wat ek moet klaar bou aan die anderkant van die Voltameer in Ghana.

Screenshot 2016-01-11 20.48.38

My lysie van dinge om te doen is nog veel langer – kan hierdie jaar se plannetjies oorloop in volgende jaar, of tel dit nie?