Tag Archives: Akkra

Veldblom leen ‘n blaadjie

Vanoggend voel ek minder roos en meer veldblommetjie. Net na nege en dis reeds 32 grade selsius, hierdie hitte smelt my grimering en maak dans walms op mouters se bakwerk. Hierdie über moutertjie se lugversorger is lankal kapoet en die vensters hang halfmas oop. In slak verkeer kan ek rustig terugsit en die bont spul van Akkra se strate bekyk.

Screen Shot 2017-10-15 at 8.26.11 AM

Afrika skrik mos nie vir kleur nie, mense se modestyl is die rede vir goeie vermaak. Die jongere geslag se meisiekinners is loshande die voorlopers vir waaghalsigheid. Hulle moor hulle-self deur op absurde hoëhakke en lykra rokke die oneweredige sypaadjies aan te durf. Dit veroorsaak ‘n ketting reaksie van dapper jongmanne op soos wafferse poue te probeer kersvashou. Salmpienk spanbroeke en hemde in helder spatsels van blou en groen, met bygaande punt blink skoene en donkerbrille is algemeen. Die ouer dames dra tradisionele bont Afrika rokke en kopdoeke, en die ouer mans dra vaal formele pakke of netjiese langmouhemde en langbroeke.

Screen Shot 2017-10-15 at 8.34.16 AM

Akkra se ses miljoen plus se mense slaap min. Lank voor sonop, begin die verkeer se druk opbou. Vrouens sit om kospotte op sypaadjies en berei vetkoeke en gebraaide kositems net daar voor. By elke robot, is die gemiddelde 3-minuut wagtyd genoegsame tyd om straatkos, toiletpapier, motorplakkers, Bybels, CD’s, tafeldoeke, kougom, selfoonlugtyd, krafkabels, aan te koop. As dit draagbaar is, kan jy dit sekerlik iewers deur jou venster aankoop. Straatverkopers met ‘n glimlag teen vroegaand verbaas my altyd. Dink jou in hoeveel keer per dag daar vir hulle “nee” gesê word! Daar is honderde van hulle, van voor sonopkoms tot laataand. Elke nou en dan spat en hol hulle dat jy net plakkies sien waai, want dan kom die lokale polisie die smouse verjaag, maar môreoggend is hulle terug, met groot glimlagte.

Screen Shot 2017-10-15 at 8.25.21 AM

Dit neem lank om al die bedelaars gewoont te raak. Blindes word deur jong kinders by verkeersligte rondgelei, hulle klop-klop aan jou venster en prewel ‘n onsamehangende gesanik en druk ‘n bakhand onder jou neus in. Polio is baie algemeen hierlangs, en halwe mense op skaatsplanke rits behendig deur verkeer en klop-klop aan die mouter se bakwerk, bakhand op wiel hoogte. Lammes trek hulleself tussen rye mouters deur met rolstoele wat hulle soos fietstrap voor hulle roei. Na etlike weke herken jy dieselfde Niger-bedelaars. Iewers onder ‘n koeltetjie sal die ouers met skrefie oë sit, terwyl kinders tussen 3 jaar tot so 12-jaar op 4×4 motor’s se opklimtrappe spring en ‘n paar meter saamry. Hulle gryp voetgangers onverwags en slaan hulle arms om hulle bene of hang aan hulle arms. Mense gooi ‘n paar munte en skarrel om weg te kom. Party verskree hulle en ander versnel met ‘n berekende pas en igroneer hulle.

 

Met daaglike druk verkeer sien ek min ernstige ongeluke, mense skraap mekaar se mouters, en soentjie mekaar se buffers. Dan spring die bestuurders uit en gil en skree, soos klokslag vergader ‘n bondel en almal pleid vir vrede, en sodra die bestuurders stoom afgeblaas het, verdwyn die skare en kruip die verkeer weer aan. Groot strate se toestande is beter as wat mens verwag deur die stad, maar die woonbuurte en agterstrate is haglik. Langs elke pad is onooglike diep rioolvore, en hier en daar is daar metaal stawe wooroor mens kan ry. Screen Shot 2017-10-15 at 8.37.07 AM

Dikwels sien jy ‘n lendelam lorrie met ‘n agterwiel vasgeval in so sloot. Daar is geen wetgewing rakende verkeershobbels nie, en elke Jan-Rap-en sy Maat, lê hobbels neer voor sy werksplek, die een hoër en ronder as die vorige ene. Dit verstom my hoe mense Rolls Royse en Ferrari’s rondry want dis verregaande om vinniger as een minuut meer as 70km per uur te ry, of 3km sonder om oor ‘n berg van ‘n hobbel te ry!

 

Praat van mouters, kom na Akkra om uitspattigheid te beleef. As daar ‘n oorvloed van geld iewers is, sal dit gesien wees. Goue glinsterende nuwe modelle is orals te sien. Mouters wat nog net in blink tydskrifte verskyn, sal volgende week in hierdie mal verkeer rondrits.

Mense drapeer hulleself naby en bo-oor en neem kiekies van hulleself by sulke motors. Vir ekstra effek, hoor jy gewoonlik die enjin se gebrul, of die polsende musiek voordat jy die blink motor raakkyk. Aan die ander hand is oorlaaide 1970 lorries met agterbakke van hout gebou en skewe aste wat krap-ry oor twee verkeerslane. My über taxi is in 2015 geregistreer, en ‘n bont plakker dekoreer elke moontlike roeskol, die vere is deurgery maar die radio werk en die drywer sit vroegoggend met die grootste glimlag en groet die bedelaars soos ou vriende.

Screen Shot 2017-10-15 at 9.04.30 AM

Ons kan ietsie leer van verdraagsaamheid en ‘n blaadjie neem uit leef-en-laat-leef se boekie.

Advertisements

Voorvaders, skud wakker!

Aardige goete kom oor jou pad wanneer jy hierlangs in Afrika kerjakker. Tien teen een het die meeste gevalle iets te make met ‘n lokale tradisie wat ons oorbluf en nederig laat. Dis ‘n groot eer om vir ‘n geweide tradisionele begrafnis genooi te word en ‘n erge sosiale blaps om so iets van die hand te wys.

 

Sien, desjare; in Namibië, het ek my brood verdien deur kiste te bou. Sekerlik daar vandaan my beheptheid met begrafnis goete.

 

‘n Goeie vriendin word uitgenooi na die begrafnisdiens van ‘n kollega se afgestorwe moeder. Haar uitnodiging is in boekvorm, ‘n hele agt-en-veertig blaaie boek, gedruk in volkleur! Daar binne is skoolfotos, en name en kontak nommers van haar alumni, studentejare fotos, familiefotos, werksplek-en-kollega fotos, ‘n opsosommende biografie, handgeskrewe finale groetbriewe van haar kinders en kleinkinders, kerkliedere en die drie-daagse begrafnisprogram.

 

Hierdie ter aardestellingbesigheid begin met ‘n huisbesoek van die afgestorwene. Daar is geen parkeerspasie opstraat, menigte sekeuriteitswagte wat almal arms swaai en jou uitbundig welkom heet. Statig met ‘n arm vol blomme hoor jy die musiek voordat jy die huis met kermistente om die draai raaksien. Al die ander besoekers het enorme groetekaartjies, daai ou soort te vinde in onse Ouma se kartonboks op die solder met blinkertjies op. Die gaste is uitgedos in hulle beste vere en Europese leër handsakke.

 

Begrafnisse is nie stil stemmige affêrtes nie. Daar word oorverdowende pols musiek gespeel sodat die voorvaders wakker kan skud en ‘n plekkie regmaak vir nog ‘n familielid. Die grootste ontnugtering is beslis om die bejaarde afgestorwene kierts regop in die sitkamer se hoek aan te tref. Uitgedos in ‘n spierwit klok-uitskop trourok, sit sy; stok styf. Oë bot toe met erge blou eye shadow op die toe-ooglede en bloedrooi lipstiek merkbaar onder ‘n kantsluier. Gansvel-in-die-nek en hand-oor-die-mond kan jy nie help die petalje sylings met swak kieë aan te staar nie. Kennisse en familielede gaan sit langs die afgestorwene, lê ‘n hand sag neer op haar hand in spierwit satyn handskoentjie, en groet met ‘n grappie, sagte piksoentjie of fluister boodskap aan ‘n weggevalle voorvader. Daar word rondgestaan met paierborde, en glase geskink en ys bygegooi. Mens knik en loer piering-oog want die musiek blêr meëndoonloos.

 

Die volgende oggend, hervat die program in ‘n reuse kerk. Kompleet met besige waaiers, en reuse vertoon skerms waarop die fotos flits en liedere vertoon. My vriendin dra haar begrafnisgesig, uitgedos in fraai pienk, en pikante handsakkie vol sneesdoekies. Sy word heel voor as eregas tussen vreemdes in ‘n kerkbank geplaas, en steek uit soos ‘n seer vinger. Tradisie bepaal dat jy swart, rooi of wit, of ‘n kombinasie daarvan aantrek wat gepaard gaan met die afsterwe ouderdom van die afgestorwene.

Screen Shot 2017-07-18 at 12.08.31 PM

Rooi en Swart waks-lap vir begrafnisse

Mense links en regs van haar groet haar vriendelik en vra uit na haar naam en familie se welstand. Tydens die Engelse erediens sing mense uit volle bors. Kore sing, haar skoolkoor, kerkkoor, vriendinne sing-koor, kollegas sing-koor, en na elke optrede kom iemand met ‘n karton dosie om, en kollekteer bydraes vir die begrafnis onkostes.

 

Kindertjies sluip na buite en hol soos goggatjies uitgelate op die grasperk rond. Neffe later word die groetbriewe in die program voorgelees deur die kinders en kleinkinders. My vriendin huil nou onbeskaamd vir die beker, die mense om haar stuur snesies aan, en gee die rukskouertjies elke dan en wan ‘n ondersteunende drukkie. Almal óm haar huil. Mans, vrouens en jongmense blaas en vee almal in reuse spierwit sakdoeke.

 

Daar word ordelik, ry-vir-ry opgestaan en statig verby die oop kis gestap. Die meeste huiwer vir ‘n oomblik, en prewel ‘n laaste seëngroet, sommiges staar, kink en stap aan. Die afgestorwene lê sag en vreedsaam in ‘n groot grys krulpruik, en sagte ligpers kiskleed. My vriendin huil nou oop-ketel en maak op vir al haar vorige woerts warts begrafnisse wat sy bygewoon het. Twee-ure later word die kis voor in die kerk deur die seuns dig gesluit. ‘n Goue sleuteltjie word plegtig aan haar wewenaar oorhandig. Die familie lyn-op en begelei die kis na die wagtende lykswa. Kalm en geweid staan die gaste op en stap ry-vir-ry na waar die kindertjies jillend op en af hol. Uitgehuil is die sonlig die mooiste ding om te sien.

 

Vandaar beweeg net die naaste familie vir die ter aardestelling, terwyl die gaste die boem-boem partytjie begin by die huis met al die krismistente en kreunende kostafels. Hier volg ‘n uitgelate deurnag okkasie, hanne in die lug gegooi, gesing en toesprake gelewer, gedans en gekuier.

Screen Shot 2017-07-18 at 12.10.13 PM

Begrafnis partytjie in wit – vir ‘n 75+ jarige

 

Tradisie gee die meeste mense hierlangs ‘n lang meetstok: soms piets die stok jou katswink maar daardie selfde stok hou andere kierts regop.

Manne van anderse vere

(** fotos vanaf internet afgelaai)

Groot is my verbasing toe ‘n wild vreede man die deur voor my ooppluk en beduie ek moet instap. Ek is nie verbaas oor sy gelante gebaar nie, maar dis ‘n dames poeierkamer in ‘n inkopiesentrum, en ek vermy openbare badkamers soos griep inspuitings.

In Akkra moet mens die ongeskrewe reëls van mans weer van vooraf leer.

Hierso is alle mans bo die ouderdom van elf, totaal en al sokker gek, en ondersteun bekende Europese spanne. Daar is geen verwarring as hulle in groot troppe bymekaarkom en uitbundig rondspring en juig wanneer doele aangeteken word nie. Hulle eie span hoef nie eens te speel nie – enige lewendige sokkeruitsending sal doen. Onmiddelik na afloop van die wedstryd sit hulle die drinkding neer, en skoert huiswaarts want min van hulle het veel alkohol-lus.

 

Die mees effektiewe afpersing is wanneer ‘n vrou in trane uitbars. Ek erken ruiterlik ek het al in krokodiltrane met lopende snot en ‘n bygaande pynende kerm vanuit ‘n verknorsing gekom toe ek van die pad afgetrek is. En ja vroumens goete…enige verwysing na vroumens kwale, teaters en operasies, menstruasie pyne, oorgang jare, bloeddrukpille en jy kan letterlik sien hoe die doeane beampte wegdyns en jou handsak teruggee.

Screenshot 2017-06-06 17.13.56

“Reguit woorde” is eenvoudig die beste raad wat ek enige iemand nuuts kan gee. Ons kompleks se swembadwater is louwarm 24/7, maar die mini-skare wat jou kom aanstaar moes ek gou ontmoedig. Screenshot 2017-06-06 17.25.50Die tuinier kom skielik die plante water gee, die sekeuriteitswagte kom stadig hulle rondtes stap en haak vas. Selfs die skoonmakersspan is skitterend aanwesig die oomblik as ek my handdoek oopgerol het. Dames, moenie skimp dat jy privaatheid benodig nie, moenie raad uitdeel en aanbevelings maak nie, hulle kóp dit nie. . Praat reguit, sê hulle moet weggaan en wegbly tot jy klaar geswem het.

 

“Ja” en “nee” is aanvaarbare antwoorde aan elke Jan-en-sy-maat, vir baie persoonlike vrae vra soos: “hou jy van Ghana?” Is jy getroud? Voer jy jou kat. Maar die ‘stilbly-antwoord’ is ‘n reaksie wat hierdie manne nie mee kan deel nie.

Taxi drywer: “You are looking fine today!” Antwoord: Swyg.

Pakker by Kassiere: “I want to marry your daughter!” Antwoord: Swyg

Assistant by I-shop: “I like a big-brain woman, can you teach me?” Antwoord: Swyg

 

Hierdie mense eet als en ‘banting’ is bewys die duiwel is doenig. Die eerste keer wat ‘n vreemde man my vertel het “you are so fat, and cute” het ek my inkopiewaentjie net daar gelaat en gaan tjank in die kar. Nou is ek ietwat wyser; dra ek wapperende rompe vir inkopies en hang die jeans in my kas vir weke lank. Manne hierlangs reken dis ‘n reuse kompliment om iemand te vertel hoe vet hulle is. Vet mense word gesien as gesond en welvarend, en elke tweede mens vreet hope rys en kos wat dryf in rooi palmolie asof dit hulle laaste ete op aarde sal wees.

Screenshot 2017-06-06 17.20.15

Manne hierlangs is klokslag onthuts as hulle hoor jy het een of ander ingeneursgraad of tegniese kwalifikasie en skroom nie om te vra of jy langer jare as normaal geneem het om dit te bereik.  Hulle stel hulleself voor as “Michael, engineer-Michael” of “Larry, CA-Larry” en wees gereed om bo-oor of doodgepraat word in ‘n geselskap want vroue is mooier toe-bêk op die arm, en nog stiller in die hoek.

 

Krawatknope en rooi satynsakdoeke met snyerspakke is allerdaags. Manne wat soos poue pronk in fyngewaad en duur parfuum is aan die orde van die dag.  Hulle is nie verfyn nie, maar dring aan op die aandag wat hulle toekom. Met duur donker motor, groot oordrewe polshorlosie en goue telefone sal hulle op en af deur die restaurant stap en kliphard die een of ander besigheids transaksie bespreek. Basta met etiket en privaatheid, hy sal gesien word. Ander se status word gemeet aan die dames op 12 sentimeter hakke en aandrokke aan sy tafel, en die konjak wat hy met cola meng. Getroude mense pas bymekaar, presies dieselfde lap is gebruik vir hulle uitrustings, insluitende die 4 kinders se rokke en hemde.

Screenshot 2017-06-06 17.23.30

Manne se hare en hardebaard word so te sê poenskop geskeer. Fênsie golwe en strepies word kunstig tot op ‘n paar millimeter gekap en gestyl. Ekstra wollerigheid op die kop is ‘n teken van swaar tye en die rede dat jy ‘n haarkapper nie kan bekostig nie. Dieselfde geld vir ‘n vuil motor. Jy über eerder as wat jy met ‘n vuil motor rondrits.

 

Ek reken ons kan rebelleer teen die goete wat ons so ‘anders’ vind, maar in die geheim waardeer ons die order van hierdie ongeskrewe reëls.  Maar ek verstaan hoe moeilik dit is om in ‘n ander land en vreemde kultuur nie oopbek te bly staar nie.

 

Nou ja, toe stap ek fluks in daardie openbare badkamer in, sit nuwe lipsel aan en storm onder ‘n minuut weer uit, verlig daar’s geen teken van die gelante heer nie.

Krismis Kersies in Rum…

 

 

So is dit mos – as jy siekerig of mislik of nostalgies voel, verlang jy na jou Ma se huis. Kerstyd in Akkra is soos sonbrandvelle aftrek, seer maar ook lekker. Alles oor Kersvees voel uit plek uit, omgedop en verkeerd.

 

So stap jy ewe vrolik die eerste Oktober in die winkelsentrum in, en daar staan ‘n man op ‘n lendelam trapleer en hang Kersfeesdekorasies op. Jy voel hoe jou hart kommapunt; ‘n ketting trek ‘n beklemming om jou binnegoeters. Dit kan mos nie wees nie, het die jaar reeds so vêr met jou weggehol, maar dan onthou jy dis nou eers vroeg Oktober.

 

In Akkra is daar baie goete wat jou laat kopskud. Als hierlangs kom wat aweregs voor, en ons wonder of die mense om ons se bont varkies nog op hok is. Miskien is hulle net kinderlik erg opgewonde oor die hele Krismis ding, of is dit dat hulle effe langer vat om op te warm oor ‘n gebeurtenis en meer tyd nodig het. In Ghana is dit ‘n GROOT ding om jou Christenskap in die publiek ten toon te stel. Van reuse plakkers op jou mouter tot dik goue kettings en swaar kruise om die nek, T-hemde met reguit boodskappe in swart dik letters en Krismis dekorasies in jou winkel, jou mouter en op jou werkstafel en in en om jou huis.

 

Die uurglas is veronderstel om nóg ‘n hele twee maande uit te loop voordat Bony-M se plastiek musiek ‘Kersfees’ in die winkelsentrums uitbasuin. In die druk verkeer is dit straatverkopers wat verlepte plastiek opblaas Krismisvaders smous. Daar’s klokkies wat klingel op Rudolf die fluweel-takbok se neus, stringe bont kersliggies en sneeuspuit in ‘n albaster-blik is als op offer. Hierdie jaar, is die dogtertjie kopbande met blinkertjie Engeltjies wat soos antennae rondswaai oor jou kop, ‘n groot verkoper.

 

Ek sit heimlik en wonder hoe hulle die Kersboodskap aan die kindertjies glo-waardig maak? Dis plak warm in hierdie tropiese land; sneeu is net ietsie wat mens hierlangs op ‘n swak tv-beeld sien. Nog nooit het ek ‘n enkele skoorsteen in ‘n huis bespeur nie – waar moet Kersvader inglip om geskenke te kom afgee? Verlede jaar het ‘n Hotelgroep ‘n Kersvader-man kompleet met witbaard en ‘n reuse sak lekkergoed gestuur om die kindertjies by die swembad te verras. Dit was pandemodium soos daai kindertjies weggehol het, in die swemwater gespring het, histeries aan die gil gegaan het. Bestuur het gou die booswig verwyder en vir die res van die dag omverskoning gevra op die publieke uitsaai stelsel, en verskrikte verlore kinders en ouers met mekaar herenig.

 

Nou as jy as expat jouself in Akkra bevind oor Kerstyd het jy drie opsies. Die gewildste en voorkeur opsie is om ten duurste huistoe te vlieg en tussen jou eie mense iewers in die Kalahari, sonder sneeu en sonder koorsteen Krismis te vier langs ‘n koolstoof met warm melktert en rum-versuipte-kersies. “en koue bier” sê my Vrystaat-man hier van die kantlyn af.

 

Opsie nommer twee is minder gewild maar ‘n gemoedelike kuier waarheen almal uitsien en honderde fotos oor bakkiesboek heen gestuur word. Almal is nie beskore om verlof te neem in die blinkertjie seisoen nie. Iemand moet ‘n wakker oog hou op die geldkas, die olieboor, die voorraad op die winkelrakke; en daai makkers staan saam en vier Krismis in styl. Al die Springbok ondersteuners kom bymekaar en vier fees. Jy word gevra om ‘n kosding by te dra, iets soos aartappelslaai, gebaktekool weggesteek onder smeltkaas, reuse bak winkelroomys of melktert vir twintig uitgehongerde Springbok ondersteuners. Webers word aangery en skaapboude word gebak. Geskenke word met ‘n speletjie om die tafel aangegee en uitgedeel. Krismisvader kom aangery op ‘n 4×4 motorfiets en deel Kersgeskenke aan die kinders uit. Daar word geswem en gekuier en fees gevier; almal gemoedelik saam.

 

Opsie nommer drie is vir die oningeligtes, wat nuut in die land kom werk het, wat te suinig is om hulle gemoedelikheid te deel, wat soos ‘n rooiby wag om iemand te steek…hulle sit by die huis en versuip hulle self soos kersies-in-rum.

 

As jy iewers in Januarie uitgespaar is, en weer arriveer in Akkra, dan kan jy jou begewe in die Kersfees gemoedelikheid tot diep in Maartmaand wanneer die blink Kerstooisels eers verwyder word. Vrinne wat jou lanklaas gesien het vertel van sonbrand en brandvelle wat afgetrek moes word.

 

As jou kollegas van Ghana jou eers weer in laat Februarie sien, groet hulle jou vrolik “Merry Krismis” and “A prosperous New Year”!

Ghana Lap op ‘n Boksie

Hier in Akkra is mos by tye heeltemal te veel tyd op hande.

Ek het destyds by ‘n vriendin gaan kuier wat my geleer het om boksies te bou vanuit plat karton, en met bont Ghanalap oor te trek.

My man reis gereeld vir besigheid, en dan spring ek aan die werk en maak boksies.  Wanneer hy tuis is, raak hy verbouereerd met garings en lapseltjies en kartontoiings wat rondlê. So sodra die kat weg is – is die muis baas en mors ek soveel op die etenstafel en ryg ek klaar boksies uit.

Hier is ‘n paar fotos van wat ek aanvang…

buite oorgetrek.JPG

Die buite kant wort met bont lap oorgetrek

 

 

Karton en snymesse.JPG

Ons begin met plat 3mm karton en sny kante, deksels en bodems uit.

rou-boksie

Dis hoe die boksie lyk sodra als aanmekaar geplak is.

buite oorgetrek2.JPG

Dan word binne sye gemeet, gesny en gepas.Dit sal ook oorgetrek word.

gom-lap-vas

Die sye se lap word vasgelym aan die karton

dubbel gewigte.JPG

Ek gebruik ligte gewigte  om seker te maak als lym mooi stewig vas

meer gewigte binnevelle.JPG

Hier kan die extra sye binne-in vas gelym word

oop boksie3 binne.JPG

So lyk die klaar boksie rooi getooi, met ‘n binne verdeling

binne buite rooi boksie.JPG

Siedaar – kant en klaar

bont Afrika lap.JPG

Enter a Een van die vorige bont-boksies

This slideshow requires JavaScript.

 

 

 

Wurg die kuiken dood

click here for the English translation of this

 

 

Ons krag in Akkra is soos goedkoop Krismis liggies, aan en af, en daar is dele wat net nie werk nie.  Die president van Ghana is in ‘n wedloop vir herverkiesing in Desember.  Nou sweer hy hoog en laag daar is nie ‘probleme’ met die krag nie.  Ja-wel as dit lyk soos stront en stink soos stront gaan dit seker nie proe soos dit nie, net want hy sê so nie!  Maar vanoggend kom die bestuur van ons kompleks net eenvoudig ‘n stewige rekenig afgee vir additionele brandstof gebruik vir die kragopwekker. Die opsie is maklik – betaal of sit sonder krag en water en internet.

 

Politikuste orals oor is almal glibberigge haaie wat met blink ronde ogies vir jou sê hulle is ‘anders’, want húlle is die eén uitsondering wat jou nie sal byt nie… Ha! Dis in hulle gene om te lieg en te bedrieg – maar dis ‘n kuns om dit te kamofleer met groot woorde en spin-dokters wat die wol oor Jan-alleman se dowwe ogies trek.  Toevallig besef ek Trump met sy President aspirasies en jons teen immigrante staan self agter die deur. Sy moeder is ‘n immigrant vanuit Skotland en sy huidige vrou-nommer-drie is self ‘n immigrant vanuit Slowenië.  En hy gil en skree dat immigrante Amerikaners se werksgeleenthede kom dief.  Ai, sal mense tog ooit vanuit geskiedenis leer?  Trump wil weer mure bou; daar’s ‘n rede hoekom die Berlynsemuur nie meer staan nie.

 

Ek onthou kleintyd die storie van ‘n boer wat ‘n kuiken, ‘n handvol saad en ‘n jakkals oor ‘n rivier moes neem met  ‘n kanoe. Maar hy kan net een oor die rivier roei, anders word daar gevreet of gesink; sien? So hoe gedaan?  Hy neem die kuiken oor, laat die jakkals en saad op die wal.  Dan neem hy die saad oor, laat dit op die wal en bring die kuiken terug.  Roei die jakkals oor en gaan finaal die kuiken haal.

 

Miskien is dit beter om eers die jakkals oor te neem want hy gaan in elkgeval weghol as jy hom alleen los en wegroei met die kuiken.  Dan kom kry jy die kuiken, en doen ‘n ‘Heimlich’-manoever op die kuiken om die gevrete saad terug te kry.  Daar’s geen rede hoekom daai kuiken drie keer oor en weer geroei moet word nie. Dis ‘n kuiken, nie ‘n wittebrood nie. Miskien moet die kuiken eerder gewurg word sodat mens die saad herwin tydens die slagproses?

 

Hoe meer ek daaraan dink – is daai kuiken ‘n politikus. Vreet is in sy natuur, so jy kan net jou verliese terugkry  as jy ken van die ‘Heimlic’-manoever.   Politikuste word soos wittebrood op en af gevlieg tussen Kaapstad en Pretoria se parlementsittings.  Ek sien net blink dikkes in die kiekies.  Uitgevreet as jy my vra.

 

Daai boer is Jan-allerman wat al die werk moet doen en net ‘n handvol saad het om daarvoor te wys. Daai geroeiery op en af is seker maar ‘n spieëlbeeld van ‘n tipiese besoek aan ‘n goeverment of munisipaliteits afdeling. Dié kant en daai kant word mens mos rondgestuur.

 

Maar wie is die jakkals?  Die jakkals is die publiek wat passief staan en alles om hom net bekyk; passief. Jakkals wil rondgeroei word, en saam vreet, maar hol eerder weg as om sy kruisie te gaan trek om ‘n verandering te maak.  Sien nie sommer ‘n jakkals elke dag nie – hoor hulle net kerm, kerm, kerm.  Ek pluk my kuitspiere styf elke keer as iemand net kerm sonder om ‘n oplossing te bied vir ‘n probleem.  En as jy hulle vra of hulle geregistreer het vir die verkiesings op 3 Augustus, is hulle skielik dom.

 

 

Haas-en-hond

Ek kry hoenderswak elke keer as iemand my vra:” waar kom jy vandaan”?

 

Wat bedoel hulle? Waar; soos in vanoggend toe ek my deur toetrek, of die land waar ek laaste gewoon het, waar ek residensie het, of waar ek gebore is? My laaste drie-en-twintig-jaar se Afrika-rondtrek het my gevou en gevorm tot net hier in Akkra waar ek huidiglik woon. Ek weet, in my hart is ek Namibiës met Oros koeldrank, Jägermeister, biltong, skaapstertjie, pofadder en Windhoekbier iewers onder my dak.

 

Iemand het my die ander dag vertel hy’s gebore in ‘n kruiwa in die saagmeule waar sy Pa gewerk het. Dis mos nou ‘n ding wat tel. En hoe het sy lewe uitgedraai met so misterieuse begin? Vandag is hy ‘n ondergrondse myner in Rustenburg wat hou van visvang en blokkiesraaisels.

 

Doer in die destydse Oos Transvaal, is ‘n goudmyndorp, Evander – waar ek gebore is. Die spoegseltjie dorp is vernoem na Evelyn, die vrou van doeityd se  Distriks Administreerder – mense wat iets beginne het soos ‘n dorp en myn waar daar destyds niks was nie. In die Nuwe Suid-Afrika is Evander vandag geleë in Mpumalanga, in die Gert Sibande distrik, uitgedeel aan die Govan Mbeki munisipaliteit. Gert Sibande is vernoem omdat hy óók toegesluit is met Mandela. Volgens Wikipedia het Gert deel gehad aan die Aartappel–boikot.  Govan Mbeki het reeds ‘n mediese universiteits gebou in Glasgow vernoem na hom, en hy was ook President Thabo Mbeki se pa. Ek is nooit toegesluit met niemand nie – so my kans op vernoeming is zero.  Niks van my geboorteplek was opwindend nie, ek is daar weg voordat ek tanne gekry het. Daarna trek ek in 1993, as drie-en-twintig-jarige, weg na donker Afrika.

Screenshot 2016-05-11 09.51.39.png

Soos haas-en-hond, trek ons vir die volgende drie-en-twintig jaar, vir werk, orals-oor. Mmmm net miskien is Namibië onse Kanaän…  Ons weet hoe om binne tien dae, ingeburger te wees in ‘n ander land. Adverteer al jou wêreldsbesittings op sosiale media, gooi weg en deel die res uit. Reël ‘n ‘koebaai’ braai en kuier die drankkabinet leeg. Bondel die res in wieletjie reistasse, weeg-in net-net onder die gewigslimiet, wissel Amerikaanse geldeenheid, leer ‘n paar woorde in die nuwe taal, slaap en dut in lughawens terwyl jy wag vir konneksievlugte. Slaap ten spyte van muskiete in bedompige warm nagte op vreemde beddens, snuffel na bekostigbare eetplekke, kry ‘n werkende ATM, open ‘n nuwe bankrekening, soek bekende bestanddele, doen inkopies, toor een-pot-kos, koop basiese meubels soos banke en beddens…oor en oor; dis alles reeds gedoen.

 

Deesdae gesels ek gemaklik in meer as een taal in dieselfde geselskap. In die lokale mark groet en kibbel ek in Twi, ek weet almal in Afrika is nie noodwendig grypsugtig nie. Hierdie is rêrig leeuwêreld en gereeld bevind ek myself in ongemaklike situasies. Ek mis altyd my eie mense, ons troeteldiere, my Ma se huis en die normaliteit van ‘hoe dinge eintlik werk’ in my eie land. Alles is later aanvaarbaar en anders – solank ek nie elke dag met een of ander geloofsgeneser of aspirant politikus hoef te deel nie.

 

Wyse mense weet jy kan so ietsie by almal leer – nou probeer ek oopkop bly. Ons hou ‘n Jägermeistertjie byderhand vir die ‘hoenderswak’…