In opdrag van Scrapydo: Week 12 – Slaapkamers
Boekwinkels en biblioteke se reuk toor met my. Miskien is dit die mot in my want ek word vasgevang om in dowwe sirkels, in sag lig, my draaie deur hulle te drentel.
So kom ek eendag af, op ‘n koffietafel boek vol kiekies wat op mense se bedkassies rondstaan. Blykbaar kan één kiekie ‘n beeld weergee van jou hele persoon.
Dis so persoonlik. Bed-opmaak doen ek sodra ek opstaan, maar as Carla gou in my kamer wil instap, wonder ek altyd of my slaapkamer geheime om my bedkassie weggegee word.
Op my kassie is ‘n stapel boeke en parfuum. Ek lees gereeld meer as een storie op dieselfde tyd. In die badkamer-terwyl ek wag vir badwater om in te tap, of kombuis-wanneer ek vla omroer; tel ek net ‘n boek op. Onlangs het ek vir Jo Nesbo raakgelees en nou verslint ek al sy skryfsels. Daar is ook ‘n blink tinfoelie pakkie met bloeddrukpille en ‘n glasbottel drinkwater. ‘n Ikea leesliggie met ‘n kameelnek en ‘n LED helder bulpie. ‘n Leesbril en sjokelade.
My Vrystaatman se bedkassie lyk asof hy dit nounet ingeskuif het. Daar staan net sy leesliggie, sy beursie en sy telefoon wat hy herlaai. Niks anders nie. Hy’s verwoed minimalisties.
My Ma se bedkassie is dit net pille, poeiers, parfuum en nagrome. In haar skadu-jare ervaar sy gesondheidsprobleme al is sy nog – in my opinie: die mooiste vrou.
Carla my vriendin se bedkassie vertoon tarrotkaarte, pêrelstringe, bonkige juweliersware, haarrekkies en haarkamme. Telefoon kabels en kougompakkies, simkaarte en ‘n handvol Baht munte. ‘n Malkop wilde sorgvrye reisiger, daardie ene….
Op my seun se bedkassie, in ‘n dik stoflaag is ‘n foto van ‘n meisie, pakkies sigarette, sy pyp, ‘n asbak, beursie, vaal munte en sy telefoon. Niks misterieus omtrend hom nie.
Nou wat sê die slim mense as mens geen bedkassie het nie?
Die huurplek in Akkra se slaapkamer is ruim en prakties. Ek is ‘n regte naguil en hou van laataand lees. My nagliggie se ligstraal pla manlief. Slaap kom oorval die Vrystater met moeite, en ander halfuur beginne hy rusteloos omdraai – dis my teken vir ligafskakel voordat hy steun en kreun, en ek skuldig voel. Hy reken ek is die mens wat die ‘gou-aan-die-slaap-val’ rekord hou. Tussen regopsit en my kop kussing vat, val ek aan die slaap.
‘n Paar jaar gelede het my Vrystaatman een reënmiddag die TV van die muur in die kamer afgehaal en onder die arm mee uitgestap. Dit was die laaste van ‘n TV in die kamer. Elke slim vrou weet watter bekgevegte sy kan wen…
Onlangs het ek my esel en verfkwasse in die kamer kom staanmaak. Die lig is net reg, musiek is altyd aan die speel en die groot vloerteëls hou die kamer lekker koel. Solank die verfpotte en kwaste netjies weggepak word, is daar geen kommentaar van die kamermaat nie.
As ek my sin kry gaan ek ‘n paar slaapkamer veranderings aanbring as ons eers weer in Windhoek se plaashuis woon. Die klerekaste moet ‘n sagte binnelig aanskakel sodra en die kasdeure ooptrek. Daar moet ‘n ekstra ligskakel aangebring word wat ‘n sagte lig agter die bed se kopstuk aanskakel sodat ek voor ligdag met kalmte kan wakkerword. My gordyne gaan ek verander sodat dit pikstikdonker kan wees as dit toegetrek is. Ek smag na ‘n outydse waskom en wastafel en weet presies waar ek moet gaan snuffel om een te koop. Miskien moet ek die muurversierings effe opdateer, ek voel ‘n smeulende Marilyn Monroe hoort ‘n ereplek iewers op ‘n muur.
Ons slaapkamer het ‘n deur wat direk op die werf uitloop. Mos maar ou plaashuis. Daardie oudeur wil ek vervang met ‘n mooie houtdeur met Franse glaspaneeltjies in. In die somer staan die deur oop sodat die koellug kan deurtrek. Op sy tyd sal ek die sekeuriteitslig verder van die kamer skuif om die tarrentale stil te kry. Dis ‘n nuwe streep van ‘n paar tarrentale wat met skrilstemme mekaar beledig die hele aand. Die probleem is die dat dieselfde swaeltjies jaar-vir-jaar daar op daardie sekeuriteitslig kom broei en nesbou. Ons lê vroegoggend en luister die voëltjies. Beste plan is seker om die lig daar te behou en met die koord af te knip. Daar staan ‘n groot boekrak in die kamer. Huidiglik het ons ou teekiskassies, op die sy gedraai, met net plek vir ‘n ronde 40 watt vaalbedliggie. O-ja, ek soek ‘n reuse wit muskietnet wat oor die bed pas… Nie oor muskiete pla nie – ek dink net dis romanties…
Noudat laataand lees uit is, is dit tyd om daai boekrak uit te gooi en meer praktiese bedkassies aan te skaf. Miskien bring die veranderings nuwe geheime en idees… mens weet nooit.