Tag Archives: Begrafnis

Voorvaders, skud wakker!

Aardige goete kom oor jou pad wanneer jy hierlangs in Afrika kerjakker. Tien teen een het die meeste gevalle iets te make met ‘n lokale tradisie wat ons oorbluf en nederig laat. Dis ‘n groot eer om vir ‘n geweide tradisionele begrafnis genooi te word en ‘n erge sosiale blaps om so iets van die hand te wys.

 

Sien, desjare; in Namibië, het ek my brood verdien deur kiste te bou. Sekerlik daar vandaan my beheptheid met begrafnis goete.

 

‘n Goeie vriendin word uitgenooi na die begrafnisdiens van ‘n kollega se afgestorwe moeder. Haar uitnodiging is in boekvorm, ‘n hele agt-en-veertig blaaie boek, gedruk in volkleur! Daar binne is skoolfotos, en name en kontak nommers van haar alumni, studentejare fotos, familiefotos, werksplek-en-kollega fotos, ‘n opsosommende biografie, handgeskrewe finale groetbriewe van haar kinders en kleinkinders, kerkliedere en die drie-daagse begrafnisprogram.

 

Hierdie ter aardestellingbesigheid begin met ‘n huisbesoek van die afgestorwene. Daar is geen parkeerspasie opstraat, menigte sekeuriteitswagte wat almal arms swaai en jou uitbundig welkom heet. Statig met ‘n arm vol blomme hoor jy die musiek voordat jy die huis met kermistente om die draai raaksien. Al die ander besoekers het enorme groetekaartjies, daai ou soort te vinde in onse Ouma se kartonboks op die solder met blinkertjies op. Die gaste is uitgedos in hulle beste vere en Europese leër handsakke.

 

Begrafnisse is nie stil stemmige affêrtes nie. Daar word oorverdowende pols musiek gespeel sodat die voorvaders wakker kan skud en ‘n plekkie regmaak vir nog ‘n familielid. Die grootste ontnugtering is beslis om die bejaarde afgestorwene kierts regop in die sitkamer se hoek aan te tref. Uitgedos in ‘n spierwit klok-uitskop trourok, sit sy; stok styf. Oë bot toe met erge blou eye shadow op die toe-ooglede en bloedrooi lipstiek merkbaar onder ‘n kantsluier. Gansvel-in-die-nek en hand-oor-die-mond kan jy nie help die petalje sylings met swak kieë aan te staar nie. Kennisse en familielede gaan sit langs die afgestorwene, lê ‘n hand sag neer op haar hand in spierwit satyn handskoentjie, en groet met ‘n grappie, sagte piksoentjie of fluister boodskap aan ‘n weggevalle voorvader. Daar word rondgestaan met paierborde, en glase geskink en ys bygegooi. Mens knik en loer piering-oog want die musiek blêr meëndoonloos.

 

Die volgende oggend, hervat die program in ‘n reuse kerk. Kompleet met besige waaiers, en reuse vertoon skerms waarop die fotos flits en liedere vertoon. My vriendin dra haar begrafnisgesig, uitgedos in fraai pienk, en pikante handsakkie vol sneesdoekies. Sy word heel voor as eregas tussen vreemdes in ‘n kerkbank geplaas, en steek uit soos ‘n seer vinger. Tradisie bepaal dat jy swart, rooi of wit, of ‘n kombinasie daarvan aantrek wat gepaard gaan met die afsterwe ouderdom van die afgestorwene.

Screen Shot 2017-07-18 at 12.08.31 PM

Rooi en Swart waks-lap vir begrafnisse

Mense links en regs van haar groet haar vriendelik en vra uit na haar naam en familie se welstand. Tydens die Engelse erediens sing mense uit volle bors. Kore sing, haar skoolkoor, kerkkoor, vriendinne sing-koor, kollegas sing-koor, en na elke optrede kom iemand met ‘n karton dosie om, en kollekteer bydraes vir die begrafnis onkostes.

 

Kindertjies sluip na buite en hol soos goggatjies uitgelate op die grasperk rond. Neffe later word die groetbriewe in die program voorgelees deur die kinders en kleinkinders. My vriendin huil nou onbeskaamd vir die beker, die mense om haar stuur snesies aan, en gee die rukskouertjies elke dan en wan ‘n ondersteunende drukkie. Almal óm haar huil. Mans, vrouens en jongmense blaas en vee almal in reuse spierwit sakdoeke.

 

Daar word ordelik, ry-vir-ry opgestaan en statig verby die oop kis gestap. Die meeste huiwer vir ‘n oomblik, en prewel ‘n laaste seëngroet, sommiges staar, kink en stap aan. Die afgestorwene lê sag en vreedsaam in ‘n groot grys krulpruik, en sagte ligpers kiskleed. My vriendin huil nou oop-ketel en maak op vir al haar vorige woerts warts begrafnisse wat sy bygewoon het. Twee-ure later word die kis voor in die kerk deur die seuns dig gesluit. ‘n Goue sleuteltjie word plegtig aan haar wewenaar oorhandig. Die familie lyn-op en begelei die kis na die wagtende lykswa. Kalm en geweid staan die gaste op en stap ry-vir-ry na waar die kindertjies jillend op en af hol. Uitgehuil is die sonlig die mooiste ding om te sien.

 

Vandaar beweeg net die naaste familie vir die ter aardestelling, terwyl die gaste die boem-boem partytjie begin by die huis met al die krismistente en kreunende kostafels. Hier volg ‘n uitgelate deurnag okkasie, hanne in die lug gegooi, gesing en toesprake gelewer, gedans en gekuier.

Screen Shot 2017-07-18 at 12.10.13 PM

Begrafnis partytjie in wit – vir ‘n 75+ jarige

 

Tradisie gee die meeste mense hierlangs ‘n lang meetstok: soms piets die stok jou katswink maar daardie selfde stok hou andere kierts regop.

Advertisements
Family tree

Sterftekennis en doeityd se doodsfeite…

‘n Wildvreemde skrywer pas my (met epos) die annerdag, in sy familieboom in, ek, met al my manne-familename. Daardie legkaartstukkie het my aan die boombou gekry. Natuurlik nie sommer ‘n plakboek ding nie, maar ‘n rêrige ernstige familiestamboom. Vannerselwe is dit onnodig om die wiel te herontwerp, so snuffel ek net op internet. Daar vind ek die mees fantastiese stroombelyne stamboom en herkoms programme en vul net gaaitjies in soos blokkieraaisels.

Internet is eerlikwaar die grootste uitvindsel van die eeu! In ‘n ommesientjie is daar meer as vierhonderd mense wat iewers inpas. Agter-klein-groot en diepste kleinneef en Oer-Oumas hang soos wafferse krismisversiersels aan die boom. Daar is ‘n ernstige swart lintstreep in die hoek wat aandui of ‘n persoon al blommietjies stoot. Min van onse ouers het epos, en van whatsapp weet hulle niks nie. Met baie gesoebat en langsamer, waar dit moontlik is, las ek fotos, trousertifikate, begrafnisbriewe en grafsteenfotos. Hierdie stamboomding sneeubal en voor ek my oë uitvee stofsuig dit al my leestyd op.

Sommige van die ouer garde van onse familie is heel opgewonde oor die nuwe familieprojek, en daar word ywerig bydraes en argiefmateriaal geoffer. Lanklaas se neefs word geskakel en fotos ward aangestuur. Nou moet ek bieg; dis soos langpad stap oor ‘n hardgebakte pad vol driedoringtjies. Almal is nie ewe ywerig om familiedinge tot op die been oop te vlek nie. Sommiges is uit die staanspoor vyandig en geheimsinnig en snoep met inligting. Feite bly feite; dit blyk dat doei tyd se jonges net so jeukerig was soos vandag se rooihakkie generasie. Daar is geboortes van sewe pond “wittebrood-babas” op ses en ‘n halwe maand, aangenome kinders en half broers en susters, ongehude moeders en troues onder die familie se familie.

Na die Engelse en Boere se bitter oorlog, het neefs en niggies soos nuwejaars klappers ondermekaar ingetrou. Die NG en Herformde Kerke se ou dokumente is volksbesit vir ‘n paar sente. Op die trousertifikate sien ek die eerste bruidspare is oorspronklik almal van dieselfde streek van so veertig kilometer radius. Jonge meisies van vyftienjaar is afgetrou met hardebaardmanne van agt-en-twintig, en elf of sestien kindergeboortes was aan die orde van die na-oorlog generasie. Susters van een familie het in ‘n streep met broers van ‘n ander familie getrou, en die driedubbel naamgee, lê berge vêr van die gegewe byname. Die daaropvolgende generasie se geboortes val merkwaardiglik tussen agt en elf kinders en die huweliksmaats se radius van oorkoms dy – heelwat wyer uit na tagtig kilometer. Ons Oupa en Ouma-generasie se geboorte getalle val drasties na vier tot ses geboortes. Vandag se generasie kindergeboortes eb en dy tussen twee en drie kinders, en huwelksmaats vind mekaar reeds in ander provinsies en kontinente.

Telkemale vind ek myself terugdink aan die onstandighede van toet se tyd. Daar was etlike stilgeboortes gevolg deur aannemings. Iets wat ek, deesdae, niks meer van hoor nie. Ek lees na van moedersterftes tydens kindergeboortes en sien dat wewenaars gereeld ‘n tweede en selfs derde vrou raakgetrou het en dan nog verder kinders gehad het. Vandag se dae is daar etlike egskeidings en dan woon mense eerder saam as om weer te waag trou.

‘n Sterftekennis was ‘n amptelike doodsertifikaat, en ek lees van ‘n ongetroude Oom wat op ses-en-sewentig in sy plaashuis op Stilwater oorle is. Tydens sy meëgaan was sy bloedbroer van die plaas Blinkwater, ook ongetroud, agt-en-sewentig jaar oud, in persoon- aan sy sterfbed. Deesdae sterf meer mense tydens moord, ongelukke en sieklik in hospitale, eerder as tuis. Nou hoekom het hulle nooit vrougevat nie? Dink jou in; die angs van die siekte, asma of dood, alleen in die plaashuis, twee ou broers; alleen. Vier van dieselfe familiebroers en twee susters is ongetroud oorlede, sonder testament, met groot plase. Voorwaar vreemd in daardie dae. Was hulle miskien net harstallig en gereken hulle sal nog baie jare voortleef of was prokureurs en testament te moeisaam en onbenullig? Twee van die vier susters is getroud, binne gemeenskap van goedere, lees ek verder op die sterftekennis, en al die plase en toerusting val tweeledig as erfdeel tussen die getroude susters.

Ou familiekwale loop dik en ‘n hele generasie dood aan ‘n soortgelyke string longkwale, ander weer aan kanker en ‘n ander generasie beswyk almal aan hulle hart. Laat my dink; al hierdie fiksheid gehollery; sal jou nooit vêr of vining genoeg verwyder van jou toekomsdood wat jou reeds toeka uitgelê is, in jou are en gene nie.

In die outyd (veertiger jare), het mense gereken ‘n hoë ouderdom is ag-en-tagtigjaar. Daai tyd is hulle dood “van ouderdom”, hart of lewerkwale. Daar ontdek hulle kanker (sewentiger jare), en verander ‘n hoë ouderdom na in-die-sewentigs. Toe dood hulle onder andere van suikersiekte en in hemelsnaam, moet tog net nie sê alkholisme nie, skryf eerder “nier stuipe”. Vandag se oumense haal net-net anner-sestig, ten spyte van die moderne medikasie en tegnologie. Hulle dood aan snaakse nuwighede soos hipertensie, stress, bloedklonte en moet tog net nie sê HIV nie, skryf eerder longontsteking.

Groot Ouma Poppie se begrafnisbrief aan haar man is met ‘n filtpen, in die mooiste eie-hand sierskrif neegepen. Tot so vyftien jaar terug, is als getik en dui alle begrafnisbriewe aan dat Dominee so-en-so, vanuit Kerk so-en-so begrafnis sal lei. Begrafnisbriefies is in motbolletjies weggebêre. Daarna weet ek nie heelteemal hoe dit is, dat die meeste begrafnisse vanuit Afbob of Rentmeester se “lyksskouings- of gedenklokale” besorg word nie. Deesdae word waar en wanneer iemand begrawe word op (face) bakiesboek of met whatsapp laat weet.

Doei se tyd is almal onder lang koeltebome op ‘n plaas begrawe met ‘n rusnaam soos Stilwater, Blaarritzel, Sielerus of Lentefleur. Vandag word grafte ten duurste; sommer jare vooruit, aangekoop en lê mense soos sardientjies op ‘n ry in die son met net ‘n pleknommerplaatjie. Huweliksmaats was eens saam-saam in ‘n graf begrawe en grafstene is opgerig met beide se name en die langslewende se datums is later aangebring. Deesdae kry eers ontslapende net ‘n nommertjie, ingeval die langslewende op ‘n heel anderdeel van die wêreld tot ‘n einde kom.

Nou besef ek, doodsdinge is slamerhangend aan die verander. Hoe meer ek verandering ervaar, hoe meer begeer ek als moet soos donkiejare gelede, dieselfde bly. Hierdie stamboomding hou my nou kiertsregop. Ek plan en skryf duidelik ‘n testament op; ek eis my lêplek onder langkoeltebome, op onse plaas; op Klipwerf. My troumaat moet saammet my in rus lê, en ‘n blinkkopklip moet langtyd my kinders ‘n plek wys waar om droewig en kalm te wees.