Tag Archives: Bier

Haas-en-hond

Ek kry hoenderswak elke keer as iemand my vra:” waar kom jy vandaan”?

 

Wat bedoel hulle? Waar; soos in vanoggend toe ek my deur toetrek, of die land waar ek laaste gewoon het, waar ek residensie het, of waar ek gebore is? My laaste drie-en-twintig-jaar se Afrika-rondtrek het my gevou en gevorm tot net hier in Akkra waar ek huidiglik woon. Ek weet, in my hart is ek Namibiës met Oros koeldrank, Jägermeister, biltong, skaapstertjie, pofadder en Windhoekbier iewers onder my dak.

 

Iemand het my die ander dag vertel hy’s gebore in ‘n kruiwa in die saagmeule waar sy Pa gewerk het. Dis mos nou ‘n ding wat tel. En hoe het sy lewe uitgedraai met so misterieuse begin? Vandag is hy ‘n ondergrondse myner in Rustenburg wat hou van visvang en blokkiesraaisels.

 

Doer in die destydse Oos Transvaal, is ‘n goudmyndorp, Evander – waar ek gebore is. Die spoegseltjie dorp is vernoem na Evelyn, die vrou van doeityd se  Distriks Administreerder – mense wat iets beginne het soos ‘n dorp en myn waar daar destyds niks was nie. In die Nuwe Suid-Afrika is Evander vandag geleë in Mpumalanga, in die Gert Sibande distrik, uitgedeel aan die Govan Mbeki munisipaliteit. Gert Sibande is vernoem omdat hy óók toegesluit is met Mandela. Volgens Wikipedia het Gert deel gehad aan die Aartappel–boikot.  Govan Mbeki het reeds ‘n mediese universiteits gebou in Glasgow vernoem na hom, en hy was ook President Thabo Mbeki se pa. Ek is nooit toegesluit met niemand nie – so my kans op vernoeming is zero.  Niks van my geboorteplek was opwindend nie, ek is daar weg voordat ek tanne gekry het. Daarna trek ek in 1993, as drie-en-twintig-jarige, weg na donker Afrika.

Screenshot 2016-05-11 09.51.39.png

Soos haas-en-hond, trek ons vir die volgende drie-en-twintig jaar, vir werk, orals-oor. Mmmm net miskien is Namibië onse Kanaän…  Ons weet hoe om binne tien dae, ingeburger te wees in ‘n ander land. Adverteer al jou wêreldsbesittings op sosiale media, gooi weg en deel die res uit. Reël ‘n ‘koebaai’ braai en kuier die drankkabinet leeg. Bondel die res in wieletjie reistasse, weeg-in net-net onder die gewigslimiet, wissel Amerikaanse geldeenheid, leer ‘n paar woorde in die nuwe taal, slaap en dut in lughawens terwyl jy wag vir konneksievlugte. Slaap ten spyte van muskiete in bedompige warm nagte op vreemde beddens, snuffel na bekostigbare eetplekke, kry ‘n werkende ATM, open ‘n nuwe bankrekening, soek bekende bestanddele, doen inkopies, toor een-pot-kos, koop basiese meubels soos banke en beddens…oor en oor; dis alles reeds gedoen.

 

Deesdae gesels ek gemaklik in meer as een taal in dieselfde geselskap. In die lokale mark groet en kibbel ek in Twi, ek weet almal in Afrika is nie noodwendig grypsugtig nie. Hierdie is rêrig leeuwêreld en gereeld bevind ek myself in ongemaklike situasies. Ek mis altyd my eie mense, ons troeteldiere, my Ma se huis en die normaliteit van ‘hoe dinge eintlik werk’ in my eie land. Alles is later aanvaarbaar en anders – solank ek nie elke dag met een of ander geloofsgeneser of aspirant politikus hoef te deel nie.

 

Wyse mense weet jy kan so ietsie by almal leer – nou probeer ek oopkop bly. Ons hou ‘n Jägermeistertjie byderhand vir die ‘hoenderswak’…

Advertisements

‘n Bier, tien uur – in die tuin…

 

 

Skuins duskant tien-uur sit ons tweetjies aan, by ‘n tafel vir agt. Memory werk lank reeds hier, sy ken die instelling en begin reeds nog ‘n tafel met ekstra stoele nader sleep. Afrikaners is mos plesierig en die manne sal honger aankom en die tannies se kooplus sal vêr uithang.

 

Om ons is dit ‘n miernes van bedrywigheid. Half-drom braaiers word gepak met kole en aangesteek en roosters word skoon gebrand.

This slideshow requires JavaScript.

‘n Hele sak uie word geskil en in dik skywe gesny, tamaties lê dikpens hoog gestapel op ‘n houttafel.

 

Helaas die eerste Saterdag van die maand is dit weer basaar markdag by die Goethe Instituut in Akkra. Sodra die manne deur die hek is, stap hulle doelgerig deur die stalletjies tot agter in die verste hoek van die jaart.

This slideshow requires JavaScript.

Onder ‘n toegegroeide afdak met lui waaiers kry jy vir ou-Russel en sy Ghanaian vrou, Memory. Ou Russel is ‘n bleskop Duitse-mannetjie wat jare lank nog geen behoefte gehad het on terug te keer na Duitsland se presisie nie. Hy voer eenvoudig van die beste seleksie Duitse biere in, en bedien dit met egte sauerkraut en bratwürst. Almal knik en ken vir Russel – maar as hy eers aan die gesels gaan is dit soos ‘n gesprek met ‘n kokketiel. Koppie wat skuins draai, maak g’n sin nie; met ‘n skril stemmetjie herhaal Russel oor en oor niks seggende stront, terwyl jou Bradwürst lê en koud word in jou bord.

 

Vir die vrouens is dit nie sommer net vir deurstap om ou Russel se boeppênsie te bewonder in verlede week se vaal-wessie nie. Kyk – Afrika se bont kleurspel betower elkeen in ‘n ander manier. Daar is beslis ietsie vir elke smaak. Die ‘groen’-tannies koop organiese slaaiblare en getapte kokos-olies. Handgemaakte seep met granaatsaad, lyfrome, tuisgebakte brode en konfyt in flesse. Daar is altyd ‘n reeks tweedehandse boeke, leersandale en skouersakke in bont Afrika-lap. Kindertjies loop en slurp lemonade uit plastiekbekers en jaag mekaar uitgelate tussen stalletjies en potplante rond.

Vandag se fonds is ronde plat gebakte kleipotte met deksels. Voorheen het ek al hiervan gekoop, dis soortgelyk aand die Argiela Potte in RSA, teen ‘n fraksie van di koste. Pak jou vleis en groente, bestrooi dit met speserye en minimale vloeistof en bak in die oond. Een uur later smul jy aan iets wat net soos Ouma se kossies proe, asof sy ure lank in jou kombuis kom kook het.

 

Bont lap is my kanniedood. Ek vrek maar stap nie verby mooi bont lap nie. Vanoggend het ek die hele week se broodgeld op lap uitgegee. Nee, ek weet nie waarvoor ek dit gaan gebruik nie maar ek klou dit heimlik onder die arm vas toe ons terugklim in die mouter.

 

Hier sit ek; siels-tevrede, lekker wild en woes gesnuffel en tierlantyntjies gekoop. My Vrystaatman het met die ander harde-baard manne gekuier en Weissbier en Dunkels slurp. Die manne het kalmpies mekaar se sielle uitgetrek, flussies die draakgesteek met mekaar se doen en late. Net voor een is die markdag op sy besigste. Ou Russel het ‘n baie eenvoudige wenresep bymekaar gesit. Sappige hamburgers, hoender sosaties warm vanaf die braai, vinnige vriendelike diens en koue bier teen ‘n wenner prys.

 

Mense begin rondstaan en wag vir stoele en tafels om beskikbaar te word. Dis tyd om te gaan. Ons skuifel en wikkel oppad na die hek tussen die mengelmoes van besoekers en bekendes. Dis ‘n gegroetery en oulaas loer om te kyk of ons nie iets gemis het nie.

 

Die markdag is ‘n versteekte pêrel wat ons deel met al die nuwe mense wat ons teëkom. ‘n Hele sewe-en-twintig dae moet verby gaan voordat ons weer die joligheid van die Duitse Markdag kan geniet.

Nightlife Amsterdam

Daars twee soorte “bitter balle”…

Oplaas is ek en my gesin op vakansie. Kyk Boeta, vir aerie-ry ĺn en óm Afrika gaat jy hóés; so vir dieselfde geldjie in die hand naar huis; fladder ons in grênd styl na Europa! Ná die visa ouens eers góéd met ‘n mens gemors het – moet jy beslis hare op jou tanne hê om die lughawe se sekeuriteit te vergewe vir hulle gevroetel en gesnuffel.

Eerste Stop; Amsterdam. Die sakkerollers is amper weg met my horlosie dáárom klou ek verbete aan my handsak want almal stamp en stoot moedswillig aan jou. Hierso loop almal óf oopbek óf kwylbek, maar almal stáár. My agtienjarige seun het ‘n permanente glimlag op sy bakkies deur die klipstegies van Amsterdam. Hy reken hys beslis in die destydse “Para-dys” (of Parra-wys) want die Eva’s het hoeka so min kleertjies aan.

My man word brom-brom saamgesleep op Boot-toere op en om die kanale. Kastele en Windmeule en Museums, als word ingepas. So belewe ons beide argitektuur en kultuur. Ons ‘Oeh-en Aha’ so knikkend vir die gidse se babbel oor gewels en boustene en steun pilare onder die watervlak. Die een na die ander oudgeid word uitgewys – ‘n huis vanuit 1485! Nog geboue oor die eeue – 16e en 17e eeu en so gaan sy aan. Als is weer perfek gerestoureer. Dit sit my aan die wonder oor wat gaan staan in Afrika vanuit dieselfde tydperk. Daar in Ghana is ‘n paar Forte en Slawe Kastele, maar als is effe muf en vervalle. Daars géén vergelyk tussen onse toerisme in Ghana en die Euro’s wat flink hier in Amsterdam inrol nie. Ek kan net indink dat die Europeers ‘n langplan gehad het. Die grondherwinning proses het reeds in die 17e eeu beginner en hulle bly net aankom met nuwe planne. Daai windkragwaaiers , elektriese motors en fietse is darem erg groen. In watter eeu sal ons óóĺt opvang?

Ek gooi my ge-oefende-wit-oogrol en sidder om te dink presies wát van Ou-Johannesburg oor is vandag. Gaan kyk bietjie in Yeoville die eens spog Hotelle wat vervalle en half afgebreek bewoon word deur plakkers. Als wat eens spiekeries was – sal nog tot op die grond afgebrand word vóórdat iemand van die museum-komissie vanaf die soustrein se diepe slaap wakker skud.

Goed goed – genoeg bitterbal-stories. Daars ook ‘n ander soort wat mens kan éét. Ons leer so ietsie merkwaardig hierso – werk hard en neem elke dag tyd vir jouself én/óf jou vriende en “borrel”. Dít is wanneer julle iewers in die buitelug sit en gesellig wees en lag en kuier…met of sonder sjampanje, dan “borrel” jy. Dáár en dan val ons ĺn met die briljante idee. Daar word elke dan en wan gesit en “bitter balletjies” geëet, of appettert of stroop-wafeltjies- ons “borrel”. Ons bevind onsself in groen parke met elke soort geur en kleur mens. Whoww dars gratis musiek opvoerings, mense op rolskaatse, in skrapse Yoga-broekies, hone van elke sort en daars vrede. Ons ‘borrel’ met wyn in die hand en botter-broodjies in die anderhand.

Ek moet hierde Kaaskoppe bés gee. Ai-ja-jai hulle wéét van hard werk en plesierig wees. Nou-ja voort na Parys en gaan kyk wat ek dáár kan leer…

Accra Floods

Water– Accra se grootste vriend en vyand…

Water– Accra se grootste vriend en vyand…

Hier in Akkra is ‘n algemende sêding WAWA. Dit vertaal in Engels nét so lekker soos in Afrikaans: Wes Afrika Wen Alweer. Inwoners van Akkra praat drifting oor water in diesefde trant as oor rugby. Sien hiersó moet jy water koop vanaf watertenkerverskaffers. Die lokale stadsraadmanne het die Ingelse Inginieurs in die laat sestiger jare hópeloos te vroeg weggejaag na daardie Kolonieseëring ding. In die daaropvolgende sestigjaar het hulle nog nie die waterpype (ou porselynsoort) behoorlik kon opgradeer of vervang nie. So as jy gelukkig is, draai iemand die kraantjie oop wat jou huis se toevoer ‘n lekseltjie gee. Dit gebeur so één keer per week – soms vergeet die siel wat daarvoor verantwoordelik is, sommer vir twee weke aanmekaar. Natuurlik sal jy onvoorwaardelik vrek as jy dit sou waag om die staatswater te drink – dis nét kombuis en stortwater. Nou hoé gemaak as Mammie wil gordyne was, tieners drie stelleklere aan en afskil per dag, vensters gewas moet word en vloere geskrop moet word? Tipies Suid Afrikaner – is daar ma-se-grootte-plastiek-tenks aangekoop en soos batterye langmekaar laat staan. Daai staatstoevoer-water is nie genoeg om een tenk half vol te kry nie – so nou moet mens maar kóóp. Voordat die slinkse boggers jou tenks volpomp moet mens maar eers ‘n lekseltjie daarvan proe, anders vang hulle jou onkant en stort jy ‘n week lank in soutseewater. Jy leer gou om die kleur ook te bekyk. Daai roesbruin water sal maak dat jy jou hele klerekas moet vervang na klerewasdag. Maar Boeta, gló my, klokslag-maandeliks is daardie ou staatsfooitjie op jou water rekening vir water toevoer. En glo my, hulle is nie skaam nie. Dan geld daardie ou Transvaal reël van Kraak en Betaal! WAWA.

Drinkwater is ‘n anderste balspeletjie so op sy eie. Hiers nie ‘n Fruit en Veg waar jy jou eie leë houertjies opvul nie. Jy kóóp trollies vol bokse bottelwater, en elke huis het daardie kantoorgrootte waterkan masjiene met die kouekraantjie. Jy sien die Mammies met so waterbotteltjie op ‘n drafstap aan die inkopies doen. Kinders in veiligheid stoeltjies in warm mouters sit en suig aan hulle waterbottels. Ekself reken mens sal roes van al daai water so vir veiligheid verdun ek al my watergedrinkery met ‘n spatseltjie Wiskey. Onse winkels is nie dom ouens nie, water is duurder as ‘n bottelbier, maar onse Boeremense is slimmer en koop eerder die goedkoper bottel.

Julle wonder seker hoekom ons nie reënwater opgaar nie? Dis omdat die tropiese storms onse dakke vol blare en takke hou. Ons reën kom in emmersvol met meëgaande vallende palmbome en dakplate wat afwaai. Binne minute stoot die water tot teen die kombuistrappie en na veertig minute dryf die kombuismatjie onder die yskas in. Sodra dit reën slaat ons krag af want hulle kry nie die kabels waterdig verbind nie. As jy ‘n kragopwekker het, kan jy darem nou tenkwater met ‘n drukpomp tot in ‘n stort kry. En as die brandstofprop weg of af is – vrek die storie omdat die water die brandstof verdun…WAWA.

Akkra se vier miljoen mense woon reg langs die see en is gewoond aan droogte en tropiese reënstorms. Na ‘n week se oorvloed reëns is die tweejare droogte verlig maar ons water vloed. Vandag is Akkra se koerante, vollop gru fotos van oorstromings. Dis niks soos die Laingsburg vloed nie, maar talle mense het wel verdrink. Niemand het ‘n noodtoestand verklaar nie, die groot-kokkedore vlieg met helikopters heen en weer oor die gebied. Grafte het oopgespoel. Mense sit op hulle dakke en loop heuphoogte in die water. BBP’s hou perskonferensies by die dosyne terwyl hulle wag op fondse en hulp van nuwe Ingelse Inginieurs. Natuurlik was dit nie die eerste groot vloedwaters nie – sal ook nie die laaste wees nie. WAWA