Tag Archives: Body shots

Parlotones lead singer with runny mascara lines

Ek verdien my Parlotone maskarastrepies …

In Akkra is daar net ‘n dun doringdraad tussen en ons en die hel. Daars seker warmer plekke, maar Akkra is heel naaste aan die nul-nul lengte en breedte grade. Hier beleef jy sonskyn en ‘n drup humiditeit.   Sodra jy aanland op die lughawe weet jy hier kom sports sodra die vliegtuig venstertjies toe-wasem. Dan stap jy uit en jou bloes plak vas aan jou lyf en jou maskara loop in fênsie Parlotones strepe.

Jy verwag dat ons soos ou-Boesmans bruingebak is maar ons bly maar sku virri son. As die son jou wel alleen beetkry verskroei jy soos ‘n brandblasie wat op die strand lê.

Vandag by die inkopiesentrum – haai ja, ons het darem nou al drie Malls – sit ek die mense so en kyk. Van die mans het drie stuk blink swart pakke aan, sweet stippels lê blink pêrels oor die voorkop. Hitte of te nôt, hulle bly modebewus. Hier en daar is ‘n auntie met ‘n verlepte sonsambreëltjie, en jong tieners wikkel in sulke optrek skirtjies. Daars nie ‘n windjie wat trek nie, maar slapende kindertjies word met lang lappe oor die rug vasgetrek en op die lamppaal sit die kraaie en gaap. Party Mammies voel seker nie die hitte nie?

Binne die winkelsentrum is daar net meer skadu, maar dis net so bedruk warm. Dink jou in, al daardie honderde warm asems, en nêrens is daar ‘n luggie wat trek nie. Kinders lê sommer so op die teëlvloer om af te koel, en wye Mammies sit op al wat ‘n winkel bankie is met hulle laprokke opgetrek bo-oor die knieë. Waai hulle vlieë of warm poep weg? Die bondels by die betaalpunte staan bankvas, en ai die wreedheid van winkeleienaars: natuurlik is net vyf van die twaalf punte beman.

By die roltrap is dit ‘n ander sirkus. Mense kom spesiaal “stad” toe, om bewegende trappe vir die eerste keer te beleef. Daars ‘n sekeuriteidswag bo en onder die roltrap vir skare beheer en om die wat omval, weer regop te kry. Ouers staan trots reg met elekroniese borde en verewig hulle vrouens en kinders se eerste roltrap-rit op kammera .

Ons wat uitgespaar is, ry met lugversorging in die mouter, maar óm ons is die taxis volgebondel met vensters almal oop. Niks van die verkeersligte werk nie. Die wit (s)helm spietkops staan doer onder die koelte bome. Spietkops het sáák met die verkeer want voordag is hulle sakke reeds volgestop met omkoopgeld. Almal sit geduldig; drupnatgesweet in die taxis en wip-wip so effe sentimeters op ‘n slag vorentoe. Tussendeur die stywe-snaar-lyne van karre loop sonverbrande ouvel aunties en watersakkies vanaf-die-kop, en verkoop. So sakkie kos omtrend dertig sent en van die mense maak hulle deure oop, drink helfte van die water en hang dan halflyf uit die mouter en spuit res van die water oor hulle koppe. Miskien voel party tog die hitte aan?

Hier tussen die mouters kom ‘n man wat sy eie houtkar saamsleep. Met sy kaal-Olimpiese-bolyf trek hy sy houtwa; al singende. Hy is een van vele tweedehandse-metaal-versamelaars wat ‘n paar munte verdien in hierdie Afrikason. Hy is potswart gebrand maar hy hop koelkop soos warmgebakte koggelmander tussen die verkeer rond.

Regs van ons, op ‘n hardgebakte bruin stofveld, hol ‘n klomp bont sokkerspelers rond. Hulle skree en fluit uitbundig agter ‘n bal aan. Daars geen einde aan hulle energie en rondgehollery as die een ‘n doelskop aanteken nie. Die taxis se insittendes om ons blaas toeters en klap aan die karre ter ondersteuning van die sokkerdoel. Met die skielike geharwar vlieg die warm kraaie stadig en laag oor die sokkerveld. Die ouens koes se effe. Dis so warm daar val gaar voëls uit die lug.

Afrika se hitte smelt ons almal in verskillende grade.

Hier is my gunsteling Parlotones liedjie…

Advertisements
Dinner Party

Meng nou saam; goggas en diamante…

Ek reken die vervaardigers van die realiteitsprogram “Come Dine with Me” verdien ‘n Oscar toekenning.

Vir dié wat droogbek uitgemis het tot nou; dis wanneer vier wildvreemdes; in vier aande, oor en weer aansit vir ‘n driegang ete by mekaar, aan huis. Hulle streke word op kamera vasgelê en elkeen gradeer vanuit tien punte die gasheer of -vrou se kuieraand.

Meng nou saam goggas en diamante, en sit terug sodat die vonke spat. Ek beskou die spulletjie letterlik op die nippertjie van my stoel.

Daars altyd ‘n Trish, koningin van kommingeit. Drie woorde moet liewerste nooit in dieselfde sin gesê word nie; vet, oud en nudis – beskryf haar. In my kop hoor ek daai song: sy dra te veel eyeshadow…! (Valiant Swart) met die eerste kyk. Haar aantreksmaak het vasgehaak in die tagtigerjare. Sy lyk soos ‘n opgeblaaste parra…’n papaja ingestop in ‘n piesangskil – ‘n ruspewurm reg om uit te pop. Sy’s moontlik ‘n afgetrede huisagent met ‘n reeks plastiek pruike en ‘n voorliefde vir eina-kleefrokkies, disco balle, frillerige korsette en katelknapies.

Trish - Koningin van kommin

Trish – Koningin van kommin

In daglig verskyn sy in verspotte lapverf hoedjies in haar agterplaas met poepvang gypsie broeke en plakkies. Trish skroom nie om blatant te lieg sodat jy haar effe hoër kan ag nie. Sy vertel jou sy is dol oor “die fyner dinge in die lewe” sodat dit haar meer gesofistikeerd kan laat voorkom.

Trish is gewoonlik ‘n vulgêre vuilbek sonder sprake van ‘n “cut-out-switch” tussen haar pottie-bek en haar denke nie. Haar gedagtegang is permanent op haarself as seksgodin ingestel. Sy is oortuig dat alle mans na haar smag en sy slet – in besonder, meer listig, met chaufinistiese ouens.

Vir meer balans krap hulle klokslag ‘n “voorheen benadeelde” koffie-moffie iewers uit.   Hy’s negentien jaar terug as Tobias gedoop maar sy bynaampie Toby het oor die jare aanklank gevind.

Toby - soos 'n springhaas in die park

Toby – soos ‘n springhaas in die park

Verkieslik ‘n jeukerige ene met optrek skouertjies wat praat soos iemand wat ‘n radio ingesluk het. In sy daglig-snit hop Toby soos ‘n springhaas in ‘n boomryke park iewers rond met ‘n aaklige strikdas en swartraam brilletjie. Hy verklaar oor en oor hy is heteroseksueel terwyl hy oë omdop en die son weghou met slap gewriggies! Mwhahahahaha hy sien himself as ‘n mode bewuste diva wat die rave en klubs era ondersteun. Toby, geen hoeveelheid strikdasse; hoe lelik ook-al, gaan die meisies ooit in troppe oor jou deurdrumpel jaag nie! Ai jinne – in my ou-tannierigheid sien ek op ‘n myl; Toby is nog innie kas.  Hy wil niemand ontsig nie, maar is baie skrikkerig vir Claire-Jane se skerp tong en as Stefan na hom mik moet Tannie Tish seblief kom help.  Hy vind aanklank by als wat Tish doen en sê.  Hy reken na die program se verloop sal hy en Tish vir altyd dik vriende bly.

 

 

Die ander tannie is toevallig nog ‘n huis agent. Sy het ‘n hoitie-toitie naam soos Claire-Jane wat sy noem met ‘n gepaste wenkbrou-lig. Moenie durf waag om haar CJ te noem nie. Miskien is huisagente die vervaardigers se dam waar hulle vis vir die die seleksie van effe aweregse mense? Claire-Jane is opgesmuk in swart, ai jinne, ek ken drama op spykerhakke as ek dit sien.

Mev Hoitie-Toitie

Mev Hoitie-Toitie

Haar hare gesnipper en gestilleer soos ‘n helmet, sy kyk dramaties na die hoeke van die plafon met haar vals besemhaar ooghare en staan hand-in-die-heup. Wanneer sy praat, stress sy daai esse en tee’s, en haar stemtoon gaan onverskillig op en af. Mens wonder heimlik of haar bloomer effe te nommerpas sit. Sy borduur graag voort watse grênd wêreld reisiger sy was maar sy vergeet nou so effe die presiese dorpie se naam waar sy so-en so geëet het. Claire-Jane spog dat haar palet uitgebreid is; nadese al die hoekies van die wêreld se kossies wat oor haar lippies is. Ek reken sy is verward en verwys na haar uitgebreide middellyn. Sy sê reguit sy soek die “whowww”-faktor. Ek ook.

Gedurende Claire-Jane se daglig snit dra sy ‘n skreeu pienk Boutique Batman lapstorie waarin sy beweeg soos ‘n flamingo wat nie kan opstyg nie. Daar kom ‘n tyd in elke Tannie se lewe wanneer sy wonder of sy nog moulose rokkies kan dra, gids dan is dit reeds twee seisoene te laat. Plastiek blink krale-armband verbloem nie die flap-vlermuis bo-arms nie. Haar monoloog is onsamehangend en soeterig en rafel los soos spookasem eet. Iemand moet Claire-Jane op grootmens-ritalin sit. Haar sinne beginner almal met “snaaks genoeg” maar niemand lag nie.

 

 

Stefan is die man met regte borshare wat daagliks met sy boelhond gaan stap. Hy verteenwoordig elke man wat nog sy eie spermselle vervaardig. Hy is ‘n bankier of ‘n aktuaris. Verbasend is hy diep gelowig en reeds donkiejare onder die pantoffel regering. Hy bring onvanpaste geskenke na jou deur soos ‘n plasiek coke-botteltjie vol petrol, of ‘n hardloop-tydskryf. Rêrig?

Stefan wat toe-oog lag

Stefan wat toe-oog lag

Wat insinieur hy? Magtig. Sal ek my nou oppluk as hy by MY deur aanland. Smeer sy gat vol petrol en sien hoe hardloop hy!

Stefan antwoord nooit direk ja of nee op vrae nie. Lag net uit volle bors en sê goete soos “sou jy nie wou weet nie?” As die bogger lag, bol sy rooiwange en kan jy nie deur sy skrefie oë sien of jy gatvat of ernsitg is nie. Afbek vertel hy niemand het hom al ‘n bynaam gegee nie, maar sy vrou noem hom so nou en dan “poepol”. Dan besef hy te veel gedeel en reken hy sý vrou is vol stront! Miskien moet iemand poepol sonder toiletpapier aan hom met prentjies verduidelik.

Die gedagte aan Tish-die-nudis wat in ‘n swembad inglip laat hom stotter en stoot vir woorde terwyl hy bloos totdat sy gesig en wynrooi hemp eners lyk. Sal jy in ‘n nudis se swembad swem? Daar waar Stefan gesit het, is duidelik love-bite merke in die stoelsitvlak. Sy vrou reken hy is ‘n hardekwas met ‘n harstallige streep. Sy is reg. Hy het een erg skewe voortand. Ek kan in niks anders vaskyk nie. Hectig, seker waar iemand sy opinie in sy keel afgedruk het. Maar hy het nie geleer nie. Elke sin uit sy mond het die woorde “jy weet” en “ek sê jou” iewers.   Hy reken hys effe ‘fun loving’ gelowige. Hy wil nie vingers wys nie, maar hy weet van al Miley Cirrus se streke. Eintlik is Engels-praat is nie sy “fing” nie.

Wanneer die kuiers eers in volle gang is, word niemand se nerwe ontsien nie.

Tish-die-nudis boelie Toby maar hy geniet elke sadistiese slet oomblik daarvan. Claire-Jane en Stefan staan saam by tye maar heimlik hoop hulle niks van Tish is aansteeklik of oordraaglik nie.

Claire-Jane is natuurlik ‘n pikkerige eter. Sy raak tegnies oor vis en iodien maar tuna is glo gangbaar en daar gaat wonder ek hoekom is sy nog steeds so mollig. Op die kyk lyk sy slimmerig, maar dan val sy ander mense heeltyd in die rede. Haar redenasie verloor stert soos Hayley se komeet. Ritalin is nie in wyn nie. Op haar eettafel verwag jy Carrol Boys eeterei en als is oversized. Glase wat ‘n hele bottelwyn behou, individuele slaai bak voorgereg vir ses persone, en kossies se prys etikette word toevallig genoem.

Toby is ‘n amateur in die kombuis wat diktjops diep braai in ‘n pot met olie. Hy kerf groente met stomp bottermesse, en raap gereeld ietsie vanaf die vloer of wanneer dit uit die bak spring terwyl hy meng. As ysbrekertjie, wys hy die ander gaste wat is twerking-, dis soos iemand wat gatlangs ‘n elektriese skok kry. Almal besluit kook is nie eintlik sy ding nie, maar op ‘n brose negentien het hy darem ‘n fatsoenlike ball.

Tish vat loshande die koek. (Letterlik).  Sy skoffel kos in haar mond in – in slow-motion. Eeeek en gee weer geboorte aan die leë vurk. Dis nie sexy nie! Ga! Sys ‘n wille kat, met byt. Ek beter my hondsdolheid spuite opdateer. Enige groterige glas vol rond in kleur moet skielik ge-down-down word, as ‘n “dare”. Wie val nog vir sulke slenters? Sy drink soos ‘n geoefende tiener met haar eie hand om die ken geklem om nie op haar wit tabblert te mors nie. Jy glo haar as sy se sy gaat iemand uitvat vannaand. “La-te-uhrr” purr sy en in jou agterkop bid jy dis nie jy nie.

Lekkerbekkig… kos innie bolwange waggel sy haar hiepiedans in haar stoel. Slaat my met ‘n nat vis. Sy kla oor die grootte van die hoender in haar bord terwyl sy die ding verontwaardig steek-steek met haar mespunt. Haar ma het haar sekerlik met ‘n stuk suurpap uit ‘n dryn gelok. Waar kry sy haar maniere?

Tish blik of bloos nie om mense te vra of hulle g-stings dra nie, sommer so aantafel! As jy te oorbluf, nie antwoord nie, bied Tish aan of jou vas te druk en selfondersoek in te stel. Stefan sien ek wil hol virrie berge! Tish ruk hand uit as sy eers op dreef kom. Sy skroom nie om skoor te soek en haar poffer vingers in Stefan te gesig te druk en hom as chauvinisties te beledig nie. Stefan stik verleë en as dit darem nie vir daai kameras was nie, het hy Tish darem diep in haar peetjie ingestuur. Maar die kammeras draai, en teen die einde van die episode smyt Tish poeding oor haar bors en skree “body shots”! Toby suig asof hy slangbyt moet uitkry en ek wip van die bank af soos ek lag.

Deesdae moet mens maar jou giggels vat waar jy dit kry.