Tag Archives: Boer

Hand na tand

Natuurlik is daar hope plekke waar mens kan uiteet in Akkra, ‘n reuse verskeidenheid van Nasionaliteite en pryse en als kom neer op hoe vêr mens wil rondrits as jou lus uithang vir aartappel-visballetjies. Met tannie Google byderhand is daar ‘n makliker opsie: vind die resep en oorreed my Vrystaatman hy is ongelooflik sexy in die kombuis. My oorle skoonmoeder het wraggies beide haar seuns handigheid in die kombuis geleer. Iets waarvoor ek haar lewenslank innig dankbaar sal wees. Haar Vrystaatseuns staan g’n treë terug vir ‘n properste kombuis uitdaging nie.

 

Ek is geen bobaas kok nie – maar ek weet hoe om myself met diegene te omring wat ken van bontstaan in die kombuis. Een kyk na my ronde vorm, weet jy sommer ek ken wel van lekker eet. Met hoërskool huishoudkunde en my Ouma se ure se geduld, kán ek gangbare etes opdis en bak wanneer familie kom kuier maar my kobuiskaskenades is beslis uitlewing van verwagting en nie ‘n hartsaak nie.

 

Terug by die aartappel-visballetjies; ek duik in die groenterak rond tussen uie wat weer begin groei het en aartappels met witooguitgroeisels. “Pas gekoop en reeds oud”, sê ek. Maar niks bring my van stryk af nie – ek snipper die skille weg en gee aan sodat als in die resep verwerk kan word. Haal wit seevis uit die vrieskas sodat die vis nuwe lewe kry en rondwip in die pan terwyl dit gaar stoom in melk en botter.

 

Rooiwynglas in die hand, en resep wat vorm aanneem, staan ons en herkou aan die gedagte van Ghanese vrouens wat aartappels en mielies plant word ook Boere genoem? In ‘n olie en goud verrykte land word 50% van hierdie Ghanese ekonomie deur substansie boere aan die gang gehou. Net 5% van al die landbou word kommersieel benut, die res is ‘n hartseer sukkel bestaan vir oorlewing en ‘n vloekskoot as hulle iets kan verkoop wat inkomste genererend is. Menigtal vrouens wat een tot twee akker bewerk, hoop om ten minste 5 sakke per akker, as oes te lewer.

 

Ek steek mos my neus in almal se sake en knoop geselsies aan met vreemdes wat oor my pad kom. Dit is so dat elke tweede persoon buite die groot stede soos Akkra, Kumasie en Tamale, is ‘n bestaansboer.

Screen Shot 2018-03-17 at 16.44.51Deur die bank is almal van hulle iewers met ‘n radiotjie laatmiddag in die sonnetjie besig om aandagtig te luister na Farm Radio, ‘n Internasionale radioprogram wat in lokale tale, jou als leer oor boerdery. Adjoa Kumoa is ‘n so lokale boerin wat na Agro Forum se lokale radioprogram luister. Adjoa vertel sy het aanvanklik ‘sommer orals geplant’, maar dat sy nou in rye plant , minder sade in die grond druk en meer mielies kan oes nadat sy bemesting begin gebruik het. Hierdie jaar het sy dubbel die oes vanuit een akker waar sy voorheen drie akker bewerk het. Sy lag en trek met growwe vinger so swiep-swiep op haar slimfoon; wys haar plaasfotos. Trots staan sy tussen skouerhoogte mielies – en hou een reuse kokoavrug omhoog. Screen Shot 2018-03-17 at 15.40.21Sy het haar foon gekoop met verlede jaar se oes, hospitaalkostes gedek en stuur twee van haar drie kinders skooltoe.

 

Op ons Akkra woonstelstoep het ek ‘n paar pampoenpitte en tamatiepitte in ‘n potplant gedruk. Binne enkele dae het ek behoorlik die reëndans uitgevoer toe ek die groen tweeblaar nekkies deur die potgrond sien druk. Trots het ek fotos geneem en gedroom van my stoep oes en hoe die pampoen en tamaties sou smaak.

Screen Shot 2018-03-17 at 17.22.32Enkele dae later het die pampoen wild en wakker blare gevorm en die rankertjies het orals aan die balkon prieël vasgeklou. Die tamatieplant se blare het in die son geskroei en die plant is na die skadukant geskuif toe die geel blommetjies bod. Ek het sekerlik honderde fotos geneem, en kon nie glo teen watter tempo die plante woeker nie.

Vaderland, wat ‘n terleurstelling toe ek na net een naweek van braai en kuier nie my stoepboerdery onder oë gehad het nie!

 

Een reuse springkaan het homself verlustig in my pampoene, sy makker genooi en die hele karnaval het verwoesting gesaai – en binne drie dae het die pampoenplant swart verkleur en begin vrek.

Screen Shot 2018-03-17 at 17.24.24

Nodeloos om te noem, vermoed ek my Pa se groen vingers is saammet hom graf toe en ek het niks van sy groenigheid geeërf nie. Daar is twee treurige albaster grootte tamaties wat reeds geel verkleur het, en ek oorweeg om die plant uit te pluk as vorm van genade dood.

 

Deesdae probeer ek eerder vars groente en vrugte vanaf straatsmouse en stalletjies aankoop, en sodanig die middelman uitsny. Ek het ‘n heilige respek vir enige boer wat ‘n oes kan lewer, en meesterlike waardering vir sexy kokke wat aartappel-visbolletjies kan optower.

 

** Fotos is vanaf Internet afgelaai

Wurg die kuiken dood

click here for the English translation of this

 

 

Ons krag in Akkra is soos goedkoop Krismis liggies, aan en af, en daar is dele wat net nie werk nie.  Die president van Ghana is in ‘n wedloop vir herverkiesing in Desember.  Nou sweer hy hoog en laag daar is nie ‘probleme’ met die krag nie.  Ja-wel as dit lyk soos stront en stink soos stront gaan dit seker nie proe soos dit nie, net want hy sê so nie!  Maar vanoggend kom die bestuur van ons kompleks net eenvoudig ‘n stewige rekenig afgee vir additionele brandstof gebruik vir die kragopwekker. Die opsie is maklik – betaal of sit sonder krag en water en internet.

 

Politikuste orals oor is almal glibberigge haaie wat met blink ronde ogies vir jou sê hulle is ‘anders’, want húlle is die eén uitsondering wat jou nie sal byt nie… Ha! Dis in hulle gene om te lieg en te bedrieg – maar dis ‘n kuns om dit te kamofleer met groot woorde en spin-dokters wat die wol oor Jan-alleman se dowwe ogies trek.  Toevallig besef ek Trump met sy President aspirasies en jons teen immigrante staan self agter die deur. Sy moeder is ‘n immigrant vanuit Skotland en sy huidige vrou-nommer-drie is self ‘n immigrant vanuit Slowenië.  En hy gil en skree dat immigrante Amerikaners se werksgeleenthede kom dief.  Ai, sal mense tog ooit vanuit geskiedenis leer?  Trump wil weer mure bou; daar’s ‘n rede hoekom die Berlynsemuur nie meer staan nie.

 

Ek onthou kleintyd die storie van ‘n boer wat ‘n kuiken, ‘n handvol saad en ‘n jakkals oor ‘n rivier moes neem met  ‘n kanoe. Maar hy kan net een oor die rivier roei, anders word daar gevreet of gesink; sien? So hoe gedaan?  Hy neem die kuiken oor, laat die jakkals en saad op die wal.  Dan neem hy die saad oor, laat dit op die wal en bring die kuiken terug.  Roei die jakkals oor en gaan finaal die kuiken haal.

 

Miskien is dit beter om eers die jakkals oor te neem want hy gaan in elkgeval weghol as jy hom alleen los en wegroei met die kuiken.  Dan kom kry jy die kuiken, en doen ‘n ‘Heimlich’-manoever op die kuiken om die gevrete saad terug te kry.  Daar’s geen rede hoekom daai kuiken drie keer oor en weer geroei moet word nie. Dis ‘n kuiken, nie ‘n wittebrood nie. Miskien moet die kuiken eerder gewurg word sodat mens die saad herwin tydens die slagproses?

 

Hoe meer ek daaraan dink – is daai kuiken ‘n politikus. Vreet is in sy natuur, so jy kan net jou verliese terugkry  as jy ken van die ‘Heimlic’-manoever.   Politikuste word soos wittebrood op en af gevlieg tussen Kaapstad en Pretoria se parlementsittings.  Ek sien net blink dikkes in die kiekies.  Uitgevreet as jy my vra.

 

Daai boer is Jan-allerman wat al die werk moet doen en net ‘n handvol saad het om daarvoor te wys. Daai geroeiery op en af is seker maar ‘n spieëlbeeld van ‘n tipiese besoek aan ‘n goeverment of munisipaliteits afdeling. Dié kant en daai kant word mens mos rondgestuur.

 

Maar wie is die jakkals?  Die jakkals is die publiek wat passief staan en alles om hom net bekyk; passief. Jakkals wil rondgeroei word, en saam vreet, maar hol eerder weg as om sy kruisie te gaan trek om ‘n verandering te maak.  Sien nie sommer ‘n jakkals elke dag nie – hoor hulle net kerm, kerm, kerm.  Ek pluk my kuitspiere styf elke keer as iemand net kerm sonder om ‘n oplossing te bied vir ‘n probleem.  En as jy hulle vra of hulle geregistreer het vir die verkiesings op 3 Augustus, is hulle skielik dom.