Tag Archives: Boerevolk

Haas-en-hond

Ek kry hoenderswak elke keer as iemand my vra:” waar kom jy vandaan”?

 

Wat bedoel hulle? Waar; soos in vanoggend toe ek my deur toetrek, of die land waar ek laaste gewoon het, waar ek residensie het, of waar ek gebore is? My laaste drie-en-twintig-jaar se Afrika-rondtrek het my gevou en gevorm tot net hier in Akkra waar ek huidiglik woon. Ek weet, in my hart is ek Namibiës met Oros koeldrank, Jägermeister, biltong, skaapstertjie, pofadder en Windhoekbier iewers onder my dak.

 

Iemand het my die ander dag vertel hy’s gebore in ‘n kruiwa in die saagmeule waar sy Pa gewerk het. Dis mos nou ‘n ding wat tel. En hoe het sy lewe uitgedraai met so misterieuse begin? Vandag is hy ‘n ondergrondse myner in Rustenburg wat hou van visvang en blokkiesraaisels.

 

Doer in die destydse Oos Transvaal, is ‘n goudmyndorp, Evander – waar ek gebore is. Die spoegseltjie dorp is vernoem na Evelyn, die vrou van doeityd se  Distriks Administreerder – mense wat iets beginne het soos ‘n dorp en myn waar daar destyds niks was nie. In die Nuwe Suid-Afrika is Evander vandag geleë in Mpumalanga, in die Gert Sibande distrik, uitgedeel aan die Govan Mbeki munisipaliteit. Gert Sibande is vernoem omdat hy óók toegesluit is met Mandela. Volgens Wikipedia het Gert deel gehad aan die Aartappel–boikot.  Govan Mbeki het reeds ‘n mediese universiteits gebou in Glasgow vernoem na hom, en hy was ook President Thabo Mbeki se pa. Ek is nooit toegesluit met niemand nie – so my kans op vernoeming is zero.  Niks van my geboorteplek was opwindend nie, ek is daar weg voordat ek tanne gekry het. Daarna trek ek in 1993, as drie-en-twintig-jarige, weg na donker Afrika.

Screenshot 2016-05-11 09.51.39.png

Soos haas-en-hond, trek ons vir die volgende drie-en-twintig jaar, vir werk, orals-oor. Mmmm net miskien is Namibië onse Kanaän…  Ons weet hoe om binne tien dae, ingeburger te wees in ‘n ander land. Adverteer al jou wêreldsbesittings op sosiale media, gooi weg en deel die res uit. Reël ‘n ‘koebaai’ braai en kuier die drankkabinet leeg. Bondel die res in wieletjie reistasse, weeg-in net-net onder die gewigslimiet, wissel Amerikaanse geldeenheid, leer ‘n paar woorde in die nuwe taal, slaap en dut in lughawens terwyl jy wag vir konneksievlugte. Slaap ten spyte van muskiete in bedompige warm nagte op vreemde beddens, snuffel na bekostigbare eetplekke, kry ‘n werkende ATM, open ‘n nuwe bankrekening, soek bekende bestanddele, doen inkopies, toor een-pot-kos, koop basiese meubels soos banke en beddens…oor en oor; dis alles reeds gedoen.

 

Deesdae gesels ek gemaklik in meer as een taal in dieselfde geselskap. In die lokale mark groet en kibbel ek in Twi, ek weet almal in Afrika is nie noodwendig grypsugtig nie. Hierdie is rêrig leeuwêreld en gereeld bevind ek myself in ongemaklike situasies. Ek mis altyd my eie mense, ons troeteldiere, my Ma se huis en die normaliteit van ‘hoe dinge eintlik werk’ in my eie land. Alles is later aanvaarbaar en anders – solank ek nie elke dag met een of ander geloofsgeneser of aspirant politikus hoef te deel nie.

 

Wyse mense weet jy kan so ietsie by almal leer – nou probeer ek oopkop bly. Ons hou ‘n Jägermeistertjie byderhand vir die ‘hoenderswak’…

Advertisements
Handevashou

Silverkoppies vier Kersfees met hannevashou.

Een daggie voor Kersfees, maar vandag vier die Duitsers van Windhoek hulle Kersfees. In ‘n supermarkkoffiewinkel wyl ek my tyd totdat my kind klaarmaak met sy werkery. Darem net halfdag vandag.

 

Besig soos ‘n miernes is Windhoek net ‘n klein dorpie. Dis een lewendige TV-sepie, diedselfde mense oor en oor, ander plek, dieselfde plek, ander tyd, oor en oor. Probeer jy nou incognito rondsluip in jou plakkies en muisneshare; sál jy in ou skoolonnies, skoonheidtitelhouers en jou afdelingshoof vasloop. Hierso lê Namlish in[1]Volksmond. Ek verluister my in die skaterlag van die Nama, Duits en Afrikaners om my. Dié wat in Ingels aangaan is almal toeriste. Toeriste vra vir WiFi toegangswoorde en staar vir Windhoek in die weerkaatsing van hulle telefone.

 

Lekkerder as pepperminttjoklits is mensebekyk. Meer as die vissesoorte van die see, snuffel die laaste winskopiejagters deur die winkel. Almal is hier; slapgewriggies met haarsproei in die kuifie en dubbelslagroom en neute in die hande. Manne wat eerder in ‘n tannedokter se stoel wil wees, as om te deel met die lysie-in-die-hand. Boere Omies met teruggekamde hare; bossleutels aan die beld en mammie op ‘n drafstap met ‘n versadigde trollie agterna. Kinders is hier nie veel van te sien nie, Ouma kyk seker na hulle terwyl die ouers gou die laaste karnaatjie kom opraap.

 

Deesdae werk en woon ons in Wes-Afrika, en al die vriendelike mense wat sonder druk en stoot, kalmpies hulle gang gaan, het my skoon van koers af. Ek staar oopbek hoe mense mekaar spontaan omhels. Soengroet nog vol oppie pruilmondjie, gee drukkies en ‘n vryfie oor die rug. Niemand hierso skrik vir die Ebola ding nie.

 

Ou Silverkoppies groet mekaar by die kaasrak en maak geselsies terwyl hulle kromgetrek handevashou. Daar is baie geknikkery en winkeltanne-glimlaggies. Hulle kuier en gesels by die wagry vir brood en kouevleise. Hulle swaai met die armpies en beduie met knoetsvingers en lewervlekke op die hande. Brilletjies word om die beurt op die neus en in die silverhaartjies geskuif.

 

Almal is so besadig en beleef, manne trek nog stoele uit vir die aunties en meisies. Brilletjie op die neus en warm boeretroos word so slurp-slurp opsuig. Brödchens[2] mors krummels oor die boepies en steek harstallig in die snorre vas. Party sit en koerantlees oor groot visvangste kuslangs, bekyk fotos van mouterongelukke en skudkop oor staatsamptenare se kaskenades. Ander sit ook mense en kyk en knik en groet so in die sit. Die winkelbaas loop rond en taaisels op die vloer word uitgewys en opgemop. Winkelbaas groet kliënte met die hand en knik vir die ander in soortgelyke rooihemde met naamplaatjies op die bors. Al tien kasregisters se liggies en klokkies gaan te kere soos dit hoort in ‘n propperste casino.

 

By die kouevleisglaskas groet mense vir Brümelde op haar noemnaam. Etlike jare reeds dekoreer sy self haar afdeling sorgvuldig met haar eie Kersversierings. Pragtig, sowaar iets om te bekyk, so vrolik. Daars verskeie sertifikate in vergulde gouerame met die woorde Urkunde[3]wat verklaar hoekom mense die een na die ander worsstapel wegraap. Gegeurde kase, geurige slaaie, gestopte salamies, gerookte vleise is maar net van die uitsoekkossies wat sorgvuldig in wakspapier toegedraai word. In ‘n oomblik van asemskep deel die raakvatdames agter die kouevleisglaskas ‘n grappie en trek die een die ander se rooi frilletjie voorskoot reg. Dis kopkrap en ‘n gevroetel met die kruisbande vir die Omie wat voor my in sy sokkies en sandale staan. In hoog Duits vra hy wat vandag spesiale prys het, en stap weg met ‘n ham gestop met kersies en ‘n brandseltjie chilly.

 

Die ry by die broodkas word langer, niemand elmboog ‘n ander uit die ry nie. Warm brood word in bruinkardoessakkies oor die glasvertoonkas aangee. Die reuk is hemels, daars nie ‘n enkele stoeletjie oop in die koffiehuis nie.

 

In die supermark is verskeie bont jongmense in sloffies met hanne in die sake en sonbrille in die hare. Jy hoor hulle sleepvoet redekabel oor onbenullighede soos watter soorte saaie om te koop, hoeveel ystee hulle moei inlaai en vra waars die papierborde. Duidelik het hulle geen tyd vir koffiedrink nie, daar is geen vooruitbeplanning gedoen vir Kersdag nie. Papierborde gaan beslis nie bydra tot die Kerstafelversierings nie. Hulle moet nog van A na B rits om ys en ‘n voggie te kry voor toemaaktyd.

 

Hier is jongmense met ‘n baba, hulle eerste Kersfees saam. Hulle bly goete van die rak afhaal, prysbekyk en weer terugsit. Die jongmannetjie is sekerlik handig met sy hande hy is sonverbrand en sy nuwe vroutjie bleekvaalwit. Later staan sy by die kasregister, wip ingedagte ‘n reuse bottel krismisrooikersies op die heup, terwyl haar baba so in die slaap langspoegstepe kwyl oor sy Pa se skouer.

 

“n Yl bleskop omie streel met ‘n dikvinger oor die baba se saghandjie. Daai babahandjie vou instinktief styf om die omie se jigvinger en klou. Die silverhaar-omie staan met die grootste pienktandvleisglimlag; hy vier vandag Kersfees terwyl hy handevashou.

 

 

[1] Namlish-‘n Kombinasie van Namibiese sêgoed vanuit Engels, Afrikaans, Duits , Nama en Wambo.

[2] Brödchen-Duitse brood bolletjie – krakerige buitekant en sagte broodpênsie.

[3] Urkunde-Sertifikaat van verdienste

Planting

Majazaan. Die een wat ‘n jas dra.

My Pa se eerste taal was nie Afrikaans nie dit was Zulu.  Hy het dit sommer so terloops aangeleer terwyl Memme hom geabba het, op die plaas in Witrivier.  Wanneer iemand Zulu praat so gemaklik sonder ‘n aksent, is ‘n gepaste Zulubynaam; ‘n groot eer.

Sodra ‘n motreën (Kiza) die grond se nat in die neusvluels stoot, het my Pa so roering in hom gekry.  Geen geselsskap kon hom verder interesseer nie.  Hy het bly uitkyk by die venster en die jasse op die kapstok opgeweeg met die oog.  Sommer so in die middel van ‘n sin het hy sonder sokkies; sy vellies aangeglip.  Hy het ‘n handvol gedroogte saad in koerantpapierkoevertjie van die kombuisvensterbank gaan uitkies.  Die eerste beste jas is aangeglip en die kraag opgeslaan.  Vandaar sy bynaam, Ma-jazáán. Die een wat ‘n jas dra.  Daai jasse was meestal te groot, sy Pa se jas, of een van sy broers se jasse. Enige jas het gewerk vir hom wat sy plant-lus nie kon inhou nie.

Mense wat plant belê in ‘n belofte van môre.

Daar in die reën het jy my Pa gekry, op sy knieë, en vroetel-skoffel-druk-en-steek in die grond. Plant was sy ding.  Niks kon daarmee vergelyk nie.  Elke jaar het hy iewers ‘n boom geplant, in Maart, sodat die wortels in Mei-verjaarsdagmaand stewig kon vasstaan.  So in die ry deur die Laeveld het hy eendag vir my gesê: “Daar staan drie-en-dertig-jaar se boom”.  Daai tyd was ek net ‘n kind, en vandag kan ek nie onthou waar al sy verjaarsdagbome staan nie.

Ek het nie groenvingers nie.  Inteendeel, my varings staan nie boskop soos my Ouma sin nie, my Malvas lyk steeds soos stiggies en my Viooltjies kry te veel water.  Daar is sade wat droog op koerant in my kombuisvensterbank maar ek plant, en vroetel in nat grond, skoffel grond óm en krap blare bymekaar.

Wanneer dit Kiza (motreën) kan ek op geen geselsskap konsentreer nie; ek soek daai een wat altyd jas dra; iewerste  grou hy in ‘n bedding.

Steve Hofmeyr

Ek ken ‘n tweegatjakkals op ‘n myl…

http://www.timeslive.co.za/entertainment/2014/10/28/blacks-were-the-architects-of-apartheid-hofmeyr

Ek is heel gemaklik in my witvel, dankie. Party sluk nou hulle kleintongetjies in, dis reg, ons móét met trots kan praat van witmense en mý witvel en mý witgevoelens. Dis nié rasisties nie, rasisme is; om jouself of jou volk of tradisie as superieur te vergelyk met ‘n ander ene sin.

Sestig jaar later gaan ons reënboognasie nog steeds modder gooi – kyk maar na oningeligte sotte in Amerika wat defnitief meer rasisties as die alleman in RSA is. Op die oomblik gryp party van onse mense na strooihalms en ander na stront en hoop die stink stick nie. Steve, was jy nie daardie selfde ou wat gaan braai het saammet Zuma toe jy ‘n social status triek wou trek nie? Het jy nie op News24 op 27 Maart 2007 die hele wereld ingelig het dat :Hofmeyr said: “Zuma is one of the few leaders with whom I would sit around a fire. He’s an honest man and speaks like an Afrikaner – a straight forward person.” Nou pas die skoen nie meer nie.

http://www.news24.com/SouthAfrica/Politics/Zuma-Afrikaners-bond-at-braai-20070327-2

My oorle Ouma Henna het gesê, ‘n ou word aan sy vriende geken en jy swaer is nie my vriend nie. Jy was ougat in Agter elke man en jy sing met ‘n rasperstem wat my lam in die knieë het, maar ek sien ‘n tweegatjakkals op ‘n myl. Smaak my, jy dans op verskillende soorte musiek, net wanneer dit jou pas.

Kan reëboogmense nie maar plan maak om te leer uit die geskiedenis voordat ons besef geskiedenis herhaal homself net oor en oor. Die spelers verander maar dieselfde storie oor en oor herhaal homself.

In Namibië het die staatshoof eendag besluit “almal hier is Namibian” en daar word nie meer in die nuus verwys na ‘insittendes’ in ‘n taxi nie. Dis soveel ‘Namibiese mense’ wat beseer is, en basta met die res van die sugar coating. In Namibië sien mense nie kleur soos in RSA nie. Die enkele plaasmoorde daarso word almal opgelos. Lees hierso: http://www.sun.com.na/crime/police-hot-heels-farm-killer.59388http://www.namibian.com.na/indexx.php?archive_id=116325&page_type=archive_story_detail&page=1http://allafrica.com/stories/200912040129.html.

Die hele land jag letterlik die gemors totdat hulle gevang word.  Nou wat gaan dáár anders aan as in RSA? Maklik, hulle sit jou op jou plek sodra jy haatspraak of rassistiese opmerkings maak. Die mense werk saam en verdra mekaar se plekke in die son.  Almal giggel oor mekaar se eienaardighede. By ‘n vulstasie hoor ek ‘n joggie koggel “Hey Boer, gooi ek vol? Jys mos ‘n boer met ‘n dikbeursie!”…die boer antwoord “Wambo, ons almal se geld is ewe dun en ry dieselfde plaaspad huistoe” so in die wegstap.  Toe hy terugklim is al die bakkie se ruite skoongepoets en die Wambo staan met ‘n varsgebakte caffee-bruinbrood onder die blad en kleingeld en uittel. Niemand pluk ‘n 9mm uit nie, niemand spring aanmekaar soos kapokhaantjies nie.   Ons maak ‘n grappie en koggel mekaar goedswillg uit. Verdra en vergewe en ‘n goeie dosis humor werk elke keer. Sal so iets vandag in RSA gebeur…jinne ek glo nie.

Die media in RSA het almal ‘n propper bekklap nodig. Verdraagsaamheid en respek vir mekaar moet weer van vooraf aangeleer word. Totdat die media en idiote op hulle soapboxies leer om 100% meer verdraagsaam en met respek teenoor mekaar op te tree, gaan ons daai skippie ry met gate in. En die water stroom is, net ‘n paar ‘insittendes’ skep water uit.

Sien die hele ding begin met opvoeding. Ons word ge-‘brainwash’, elke dag deur die media. Nou moet ons van voor af geleer word, ons is almal Suid-Afrikaners, ons almal behoort en niemand gaan sy pie vat en waai nie, almal bloei dieselfde en elkeen soek sy pozzie in die son. Solank as wat hulle heeltyd mekaar se verskille beklemtoon, gaan ons mekaar as verskillend sien. Lees en leer oor mekaar se gedeelde skandes en verdriet en dan begin jy eers empatie en verstanding en aanvaarding skep.

Solank as wat daar na rasse wat een meer verhewe (Zuma) en onaantasbaar ( Malema) as ander verwys word, gaan ons mekaar so sien. Ai toggie, die Afrikaners kan hulleself tog so Martie-martelgat-gedra! Waar is die boerevolk wat konsentrasiekampe oorleef het? Iewers moet daardie sterkwil en hardegatgeit nog in onse are pomp! Solank as wat die media en politikuste brownie-punte bymekaarmaak en kakaanjaag en die rassehaat vuurtjie aanblaas sal daar nooit aanvaarding en vergewing kom nie.

Ons is mekaar se grootste vyand. Leer tog dink vir jouself en besluit self wanneer jy nie saamstem met dit wat teen jou grein skuur. Dis voor die handliggend dat die (stort)kop van RSA vrot is; tot op die been verrot. Sy skelmstreke was al onder die soeklig voordat hy president geword het. Nou kom hy weg met blatante diefstal van miljoene en die media vryf sout in onse wonde. In plaas daarvan dat die media konsentreer op die diefstal en opcover daarvan en die absolute minagting van die wet, blaas hulle weer die rassevlammetjie aan. Waarom so baie verkragtings en brutale moorde, gaan terug na ons voorbeeldige Zuma-leier-se eskepades wat kwytgeskeld is. As hy dit kan doen, doen die res van ons so voort.

Ek pluk my so op, elkekeer as iemand kerm en kla, maar vra tog wat hulleself daaraan doen. Moenie saamstem met die kermderms nie. Dit verander niks nie. Laat jou net negatief voel. Gaan vee voor jou eie agterdeur en doen ‘n selfondersoek in jou eie dade van vandag. Het jy daadwerklik iemand naby jou probeer leerken as mens? Het jy ooit gestem in die laaste verkiesing. Indien nie – hou jou bek of doen beter, of kom op met ‘n oplossing of voorstel. Maar trek tog net vinger en doen tog net iets anders as kerm en klim van daai soapboxie af.

As stemreg iets daadwerkliks kon verander, sou ons nie toegelaat word om te stem nie. Al daai kermgatte wil nie ‘n oplossing vind nie, want dan moet hulle iets anders kry om te haat of om oor te kla. Kap dit (rassehaat en kerm) af, sny die res van die vrot uit (vlek die vrot oop) en steriliseer (verbind, verdra, vergewe) dit wat oorbly.

Skuif nader, ek hou vir jou ‘n plekkie in die son.