Tag Archives: Braai

GPS of Jesus?

Die taxi drywer sit waaksaam met piering-oë en loer vir my in die truspieëltjie. Hier sit ek in die mouter en kan nie ophou giggel nie. Mens moet verby die rommel kyk. En jou oë oophou vir die handgeverfte slimmigheid op borde langs die pad. Akkra sal ‘n glimlag op jou gesig plak – heeldag; hou net jou oë oop.

‘n Bord met rooi, swart en blou hoofletters adverteer ‘n boom-afkap-diens. Dieselfde mense adverteer besnydings, en offer ‘n beter lewe en ‘n fantastiese tyd in ‘Heven’ daarby. Is nie seker of jy vinniger in ‘Heven’ sal beland omdat ‘n boomkapper jou beetgekry het nie. Iewers in my geestesoog probeer ek die elektrieseboomsaagprentjie uit my kop kry.

Mens hoef glad nie honger of dors te ly op straat nie. Hou net jou oë oop vir ‘n advertensiebord wat ietsie interesants adverteer. Na ‘n paar maande leer jy van die verskil van drie eetplekke op straat. Al wat benodig word is ‘n koelteboom, blou plastiekstoele en ‘n paar lendelam tafeltjies en jy is in besigheid. ‘n Kantien bedien elke dag dieselfde mense en is gerieflik naby ‘n kantoor, bank of bouperseel, ‘n restaurant het veskiende daaglikse kliënte. Kantiens het miskien net so drie verskillende lokale disse beskikbaar, maar ‘n ‘spot’ is waar die koue wingerdsappies met strooitjies aangebied word. Hierlangs drink inwoners die biertjie teen kamertemperatuur en die strooitjie sorg dat die effektiviteit reguit kop toe gaan. Dan sink hulle behaaglik terug in ‘n leunstoel en wag dat die warm biertjie ‘hom nou kom vat’!

Gewoonlik is daar agterlangs ‘n halfdrom-braai wat vet vark kaiings uitbraai en die braaivleisgeur smokkel met jou brein sodat jou bêk water.

Duidelik het detydse sendelinge gesorg dat die deursnit Ghanees oor die kop geslaan is met Christenskap, goete soos ‘God is Great’-plakkers op motors, Jesus Loves Cocktails, en ‘n groot handegeverfte ‘Jesus’ kompleet met groen-eksotiese-glasie-in-die-hand, laat my wonder hoe presies weet hulle Hy verkies ietsie anders as wyn? “God’s way” Tyre Shop repairs, laat my wonder of al die ander dit verkeerd doen. “Jesus is the way” Meubelmaker se Sondag-werkery en dubbel standaarde het my heel week aan die dink.

Maar lees die tekens: mens moet uitkyk want orals dui Ghanese aan met prentjies en so stukkie oorgeerfde Ingelse-kultuur. Straatkant se middelmannetjie is dor en droog sonder ‘n grassie, plant of bossie, maar daar is ‘n publieke inligtingsbord wat die publieke waarskuwing uitbasuin: Bly van die grass af!

Screenshot 2017-04-14 15.03.23

Miskien het die tekenaar iewers in Engeland gaan reis en so bietjie aaptwakkies gerook en tot die slotsom gekom dat hy oor eendag se groen grassies kan droom. Weet nou nie wie die groen grassies plant, bemis en water nie, maar intussen is die dromer se teken op.

Ek reken omdat soveel mense ongeletterd is, berus die onus op die kun

Screenshot 2017-04-14 15.39.58

stenaar om met die tekenprent sommer die hele boodskap oor te dra.

Om rede daar nie veel publieke toilette is nie, herinner huiseienaars mense met inligtings borde om nie teen hulle mure te urineer nie. Sommiges met prentjies en en ander met woorde soos “Moet nie weer hier piepie nie”. Nou wonder ek – sit iemand daar en piepie monsters neem om te weet wie is tweede oortreerders, siende dat jy darem een kansie kry maar die tweede plassie is onwettig.

Jy kan ‘n plastiek harepruik nie rondswa

ai sonder om een of ander salon te tref nie.

Hande en voete sweef soos afgekapte liggamsdele met monsteragtige naels en die foto’s van haarstyle dui die nuutste kapsels aan.

Die mees skrikwekkende tekens is by verreweg dié van bos-dokters. Erge grafiese prente van naakte mense met bloed wat uit verwronge privaatdele spuit, en kru tonele van breuke en vergroeisels en abnormaliteite kan maak dat jy padlangs jou mouter omgooi. Hulle belowe wonders waarvan ons nog in die Bybel lees.

Screenshot 2017-04-14 15.57.48

Daar is al koffietafel boeke bymekaar gesit oor die aardige sketse en skryfsels in Ghana. Soms mik ek met my foonkammeratijie in ‘n rigting van iets aardigs, maar andersins wonder ek of die diep gelowige Über taximan die gps volg, want die plakker op sy paneelbord lees: “Jesus shows the way”.

Screenshot 2017-04-14 16.11.27

Lover boys?

Advertisements

‘n Bier, tien uur – in die tuin…

 

 

Skuins duskant tien-uur sit ons tweetjies aan, by ‘n tafel vir agt. Memory werk lank reeds hier, sy ken die instelling en begin reeds nog ‘n tafel met ekstra stoele nader sleep. Afrikaners is mos plesierig en die manne sal honger aankom en die tannies se kooplus sal vêr uithang.

 

Om ons is dit ‘n miernes van bedrywigheid. Half-drom braaiers word gepak met kole en aangesteek en roosters word skoon gebrand.

This slideshow requires JavaScript.

‘n Hele sak uie word geskil en in dik skywe gesny, tamaties lê dikpens hoog gestapel op ‘n houttafel.

 

Helaas die eerste Saterdag van die maand is dit weer basaar markdag by die Goethe Instituut in Akkra. Sodra die manne deur die hek is, stap hulle doelgerig deur die stalletjies tot agter in die verste hoek van die jaart.

This slideshow requires JavaScript.

Onder ‘n toegegroeide afdak met lui waaiers kry jy vir ou-Russel en sy Ghanaian vrou, Memory. Ou Russel is ‘n bleskop Duitse-mannetjie wat jare lank nog geen behoefte gehad het on terug te keer na Duitsland se presisie nie. Hy voer eenvoudig van die beste seleksie Duitse biere in, en bedien dit met egte sauerkraut en bratwürst. Almal knik en ken vir Russel – maar as hy eers aan die gesels gaan is dit soos ‘n gesprek met ‘n kokketiel. Koppie wat skuins draai, maak g’n sin nie; met ‘n skril stemmetjie herhaal Russel oor en oor niks seggende stront, terwyl jou Bradwürst lê en koud word in jou bord.

 

Vir die vrouens is dit nie sommer net vir deurstap om ou Russel se boeppênsie te bewonder in verlede week se vaal-wessie nie. Kyk – Afrika se bont kleurspel betower elkeen in ‘n ander manier. Daar is beslis ietsie vir elke smaak. Die ‘groen’-tannies koop organiese slaaiblare en getapte kokos-olies. Handgemaakte seep met granaatsaad, lyfrome, tuisgebakte brode en konfyt in flesse. Daar is altyd ‘n reeks tweedehandse boeke, leersandale en skouersakke in bont Afrika-lap. Kindertjies loop en slurp lemonade uit plastiekbekers en jaag mekaar uitgelate tussen stalletjies en potplante rond.

Vandag se fonds is ronde plat gebakte kleipotte met deksels. Voorheen het ek al hiervan gekoop, dis soortgelyk aand die Argiela Potte in RSA, teen ‘n fraksie van di koste. Pak jou vleis en groente, bestrooi dit met speserye en minimale vloeistof en bak in die oond. Een uur later smul jy aan iets wat net soos Ouma se kossies proe, asof sy ure lank in jou kombuis kom kook het.

 

Bont lap is my kanniedood. Ek vrek maar stap nie verby mooi bont lap nie. Vanoggend het ek die hele week se broodgeld op lap uitgegee. Nee, ek weet nie waarvoor ek dit gaan gebruik nie maar ek klou dit heimlik onder die arm vas toe ons terugklim in die mouter.

 

Hier sit ek; siels-tevrede, lekker wild en woes gesnuffel en tierlantyntjies gekoop. My Vrystaatman het met die ander harde-baard manne gekuier en Weissbier en Dunkels slurp. Die manne het kalmpies mekaar se sielle uitgetrek, flussies die draakgesteek met mekaar se doen en late. Net voor een is die markdag op sy besigste. Ou Russel het ‘n baie eenvoudige wenresep bymekaar gesit. Sappige hamburgers, hoender sosaties warm vanaf die braai, vinnige vriendelike diens en koue bier teen ‘n wenner prys.

 

Mense begin rondstaan en wag vir stoele en tafels om beskikbaar te word. Dis tyd om te gaan. Ons skuifel en wikkel oppad na die hek tussen die mengelmoes van besoekers en bekendes. Dis ‘n gegroetery en oulaas loer om te kyk of ons nie iets gemis het nie.

 

Die markdag is ‘n versteekte pêrel wat ons deel met al die nuwe mense wat ons teëkom. ‘n Hele sewe-en-twintig dae moet verby gaan voordat ons weer die joligheid van die Duitse Markdag kan geniet.