Tag Archives: Brandstof

Water orals

Tien-jaar se reën

Vir dae reeds reën dit onophoudellik- gemiddeld vyf ure se reën per dag. Die groot tien-jaar-se-reën is hier.

Elke tien-jaar reën dit hier in Akkra, soveel so; dat mense vir ‘n dekade later vir hulle kinders daarvan vertel. In die loop van ‘n paar dae is die totale reënval meer as twee jaar se gesamentlike reënval. Dis tien-jaar later en weer sulke tyd. Laas toe dit so was, het my nat wasgoed gemuf. My kinnertjies was soos groot honne in ‘n krat; opgeskeep met hulleself en wou net heeltyd uit!

Water wat vloed

Water wat vloed

Wanneer dit so woes reën, kan jy nie anders as om aan die Ark en Noag te dink nie. Wanneer jy sien hoe minibusse en vier-by-vier voertuie soos kurkproppies in waterslote afdryf, besef jy hoe sterk is water.

Mouters lê in slote

Mouters lê in slote

Noag moes sy storie geken het. Dae lank, aaneen, stort reën dit vanuit die hemel. Swaar wolke hang net bô die huisdak, verskemerde daglig en en emmersvol water orals. Die grondwatervlak is versadig. Water stroom bo-oor die stoepie tot teenaan die glasdeure, die voordeur se matjie dryf soos water by die voordeur instoot. My kat Misca lê op die hoogste stoelleuning en loer na buite. Waar gaan die voëls om droog te bly? Almal het tog nie waterdigte neste nie. Hoe maak die derduisende vrugtevlêrmuise as hulle nie elke aand kan wegvlie om vrugte boorde te gaan plunder nie?

Vlermuis se kind innie reën

Vlermuis se kind innie reën

Vrek hulle maar van honger of versuip hulle so onderstebo waar hulle in bome hang?

Die elende is orals op die nuus. Mense soek skuiling onder ‘n vulstasie se afdak en honderd plus siele ontkom in ‘n ernstige ontploffing.

Vulstasie se ontploffing

Vulstasie se ontploffing

Ons nuuslesers rapporteer van drenkelinge en eiendomskade.

Voertuie wat skuiling gaan soek het onder dak van 'n vulstasie

Voertuie wat skuiling gaan soek het onder dak van ‘n vulstasie

Die hele stad is sonder krag en diesel vir opwekkers is skaars soos hoendertanne. Akkra is gebou met Franse oop rioolslote wat met goeie reënval veronderstel is om oop te spoel. Die ligging van Akkra; plat langs die see – beplan vir vierhonderd-duisend-inwoners maar met meer as vier miljoen bewoners; se sommetjies werk nie. Iedere inwoner dra by tot die plastiek besoedeling probleem.

Gister het ek pannekoek gebak, maar dis nie dieselfde nie want die temperatuur kwik haak op twee-en-dertig vas. Reën of te nôt! Met een-honderd present humiditeit is dit beknop en plak-warm. Reënkyk is net soos vuur-kyk in die aand. Ons het diep-sit kampstoele staan gemaak op die stoep, en reën gekyk met rooiwyn innie hand. Te mooi. Vannaand maak ek vetkoek en kerrievulsel; en beplan reën-kyk.

In Namibië loop ek gereeld uit in die reën, staan sopnat, arms uitgestrek, gesig na bô, tong uit, en proe. Daarso proe vars reënwater na stof, soetwater met ‘n sout na-smaak.

Reën proe

Reën proe

Hier is dit heel anders, die reën is bedompig, ruik na brandskaap en proe soos droog bokkems en biltong sonder sout en lawwe asyn. In Namibië wag jy die reën in, vir dae lank bondel en pak die wolke saam – hier in Akkra is die geboue op ‘n knop ingeryg, jy hoor die reën lank voorday jy dit sien of ruik.

Die meeste skole is toe vandag. Mense sukkel om betyds by die werk te wees, daar’s orals waterstrome, padskade en bome oor die pad. Ek hoor kindertjies se uitgelate gille en gaan kyk wat aangaan. Hulle is kaalvoet, deurnat, malkop besig om rond te hol en speel in die straat voor ons huis – hulle voel sekerlik soos honne vasgevang in ‘n krat.

Deurnat kinners in die reën

Deurnat kinners in die reën

Die voëls gaan te kere asof hulle weet waar Noag se ark geparkeer is. Daar is ‘n vendusie van kraaie langs die watervoor – ‘n bok dryf in die watersloot, dik pens en pote in die lug. Dit reën nog – net sag, maar daai bok dryf fluks see se kant toe.

Advertisements

Die kleur van vraag en aanbod is GEEL…

Verlede week, vroeg oggend- stap my kombuisfeëtjie moedeloos die kombuis in. Die taxi ouens het haar amper dubbel gevra vir haar pendelrit want die héle Ghana het oornag opgedroog. Die “go-go-juice” bedoelende brandstof is skielik nie beskikbaar nie. By die inkopie sentrum is dit duidelik – die klomp op straat het reeds verder gedink en ‘n geldmaakfoefie bedink. Sodra dit voorkom of jy parkeer kom hol die ouens geelkannetjie-in-die-hand na jou mouter toe. Hulle béste prys wissel van so R49 na R110 per liter. In RSA staan die venster verkopers net lui-lui rond. Hierso is hulle ywerig en rats tussen die lang stadige verkeer soos miertjies tussen die mouters deur. Jy kan jou huisinkopies oppad huistoe so vanuit die moutervenster doen. In die stadige verkeer hol die ouens op en af en bied jou elke moontlike slenter so in die ry-stop, aan.

Nou, as expat, het jy twéé opsies; laat die drywer in die tou staan en sy petrolkoopbeurt afwag, óf koop op straat van die swartmark. As jy die laasgenoemde wenner idee oorweeg, wéét maar iewers het ‘n slim Piet die ou kannetjie opgetop met kraanwater of seewater.

‘n Leë geel olie plastiekhouer is gewoonlik so ietsie wat die mense van Ghana iewers onder die kombuistafel wegsteek. Oor die algemeen stoor hulle water daarin en menigte kombuis bekgevegte het al ontstaan as iemand waag die ding wegdra of verkwansel aan ‘n plastiekkoper op straat. In die volksmond noem hulle dit “gallons”. Geel houers is slimkoop, van oliekoop in twintig liters nét voor Krismis wanneer olie so skaars is soos hoendertande.

Geel houers is ‘n teken dat een of ander oorbetaalde politieke vark aangejaag het. In President John Agyekum se tyd was Ghana waterloos en is kosbare water daarin gestoor. Gedurende President Kufour se tyd was daar ‘n tekort aan olie en rys, en nou met President Mahama is Ghana sonder brandstof. Smaak my elke President moet verkiesingstyd sy vlaggies en t-hempies hou en eerder “gallons” uitdeel.

Ons brandstof se pryse, anders as in RSA word nie gereguleer deur die staat nie. Elke handelaar kan self sy prys vasmaak soos hy wil. Drywers en taxi ouens twiet en sms mekaar waar, wie die beste prys aanbied. My drywer is heeltyd op die foon. Hy hou sy ore oop en network met sy kollegas. Ons Mammies wat weekliks teedrink, kinders op-en-aflaai, en nodige inkopies doen reël saamry geleenthede en gee inkopielysies aan vir mekaar.

Die verkeer is meer gek as gewoonlik met mouters wat orals van droogte so in die ry vrek. Hierso word ‘n mouter nié uit die pad getrek wanneer jy gaat staan nie – almal wip so koes-koes om die wrak.

By die brandstofstasies is die situasie naby aan keel-afsny. Daar is drywers wat vir twee dae in hulle mouters oornag in die wagtou wat kronkel al om die vulstasies. Een ry is vir motoriste – en ‘n ander tou is vir klein swartmark handelaars wat so sit-sit op hulle geel plastiek dromme wag. As die petroljoggies nie soos wafferse kapokhaantjies mekaar aansê nie – dan is dit die humeure van die arme sotte in die kronkel wagtou wat meëgee. Party handelaars verkoop nét 20 liter per klient, maar dan sit daar nog drie insittendes, elkeen met ‘n twintig-liter geel plastiek oliekan, op die skoot!

Die koerante is vol aaklige berigte van brandstof ongelukke wat met vlamme en mense te make het. Nog berigte lui van petroljoggies wat brandstof skelmpies sypel en wegsteek vir eie gewin in beter swartmark pryse. Politiek se ape gooi mekaar in die koerante met modder en Ministeries laat weet die plastiek kanne is onveilig. Die President vra op die nuuslesing vir gedult en kalmte… Smaak my dit gaat nog baie erger word voordat dit beter sal word.

Lees hierso wat die gowerment seg van die brandstof situasie: http://www.theafricareport.com/West-Africa/fuel-shortage-hits-ghanas-capital-city.html