Tag Archives: Culture

Ek vat my Groen Mamba op ‘n uitstappie

 Die dag wanneer jy beginne rondreis, is die dag wat jy die eerste bladsy in jou lewensboek omblaai. Ek snoep gereeld op die internet rond vir plekke waar ek en my ‘Groen Mamba’ (SA Paspoort) visa-vry; kan besoek. Die enigste EU lid-land sonder ‘n Shengen noodsaaklikheid is Ierland! Wonderlik, ek kan ook die Rooi-taal gooi wanneer dit my pas, en met elke Guinness word hulle aksente mos makliker op die oor.

 

Sodra jy aanland op die lughawe, word jy woerts-warts met ‘n 3-maande geldige visa verwelkom. Dublin se publieke vervoer is iets om oor te kwyl, met een klein plastiek ‘liep’-kaartjie, rits jy die hele dag rond per bus, trein of trem. Ons gaan aan huis by lokale inwoners met ‘n spaar slaapkamer want dis sommer baie goedkoper as hotelle. Kyk dit neem nie veel om hierdie mense luidrugtig te kry nie, so dan wil jy nie naby ‘n hotel se watergat probeer slaap nie.

 

Dublin het mooi mense, van vêr af; maar die nonsêns wat uit daai vuilbekkies borrel is dreinwaardig. Jou ore tuit bloedrooi want vloekwoorde val uit hulle monde soos handevol sente uit ‘n ou auntie se beursie val. Mens, jy byt gereeld jou tong vas, want die ander ding wat my hare laat regop staan het, is die Here se naam, en dié van Sy moeder, wat stadig met klem, oor en oor kliphard herhaal word. Dis nie iets wat die deursnit Afrikaner sommer mak kan raak nie. Aikôna, sies! My Ma sal heeldag, iemand se bek met seep uitgeborsel het.

 

Daar is definitief Viking DNA wat nog warm tap in die Iere se bloed. As jy nou daai manne rooi onder die kraag wil hê, verwys na hulle as Britte, of noem dat “Dublin die beste Britse hoofstad moet wees”. Hulle verstik sommer in hulle bier en sal jou daar en dan; op straat uitgooi. Mense, leer hierdie puntjie voor jy aanland; Ierland het in 1922 indepensie gekry vanaf die Britse Kroon, maar Noord-Ierland is nog deel van die Engelse-koningkryk. Die manne is veglustig en sterk; elk met ‘n gemiddelde dorstigheid van ten minste 4x groot biere agter die blad. Hulle praat daar nog van “pints”.

hoor hier: goete om NIE te sê nie

In die kroeë is daar soveel verskeidenheid biere, dat jou drie-maande visa te kort is om almal te proe. Vroeg vanaf 8-uur sit die nagskof manne al reeds en slurp ‘n koue langglas bier. Manne in verf besmeerde oorpakke en hardehoed in die hand, stap gedurende middagete in die kroeg in vir ‘n koue bier. As jy na son-onder nie sitplek kry nie, moet jy maar staan en kuier. Moenie verwag om deurnag ‘n biertjie te slurp nie! Die meeste watergate se laaste rondte is 11;30pm op weeksaande, en 1-uur oor naweke. Kammatig probeer die owerhede dronkenskap op straat verminder.

 

Almal kan sing, in ‘n piepklein ‘Pub’ trek ‘n ou hier neffens jou stoel los en sing uit volle bors, ‘n ander tokkel met lepeltjies ‘n ritme, en almal luister aandagtig sy storielied. Sodra hy sit, trek ‘n ander ou los en almal sit en knik-‘n-ritme, terwyl daar agter iewers iemand op ‘n bekfluitjie begelei. Op straat staan jonges en vergete ‘rockers’ en speel en sing vir ‘n handvol munte. Orals is vroulike tokkel musiek in die wind.

 

In strate en op publieke vervoer staar ons openlik vir bloed jong Ierse meisies met lang voshare tot laag by die yogabroeke. Dis verbysterend allerdaags om tussen twee Poppies, ‘n dag ouer as 19-jaar, het hulle lag-lag sewe kinders tussen hulle. Na dag-twee het ons geweet hoe om ‘n tafel en bus sitplek te kies, vêr van die jongetjies met stootwaentjies. In jou lewe het jy nog nooit sulke onhebbelike stoutgat kindertjies gesien rondhol en skree in publieke plekke nie. Mens jeuk om jou belt los te maak, maar daarlangs is dit teen die wet om die wettertjies maniere te leer ‘op die ou manier’.

 

Oeh die kos is my dood, as dit effe reënerig is en die Noordseë se wind pluk aan jou jaspunte, beloon ek myself met ‘n Guinnesspastei. Mens kan kies en keur tussen vars vet pienk salmvis, vleis pasteie, bredies en fênsie Internasionale menu opsies met o.a. organies en vegetariese disse. Dankie tog daar is ‘n lang lys interessante plekke wat baie stap behels en die belt weer intrek.

 

Praat van stap, jy moet wakker wees, want tussen trems en fietse en busse en mense, moet mens maar bly rondkyk sonder om hakke te breek en enkels te swik. Dublin lê dik in die geskiedenis met kastele, museums, soldate, skrywers, standbeelde en uitstallings om elke hoek en draai. Enige iets ‘Nasionaal’ is heeltemal gratis om te besoek en selfs met die beste beplanning gaan jy nooit als gesien en gedoen kry nie. Die groot pobleem is tussen punt-A en punt-B is daar iewers ‘n kroeg oppad, met varsgebakte broodreuk en musiek wat jou van plan laat verander.

 

Ek kyk nou net, daar is nog vier bladsye in my Groen Mamba oop, ons kan altyd weer die Mamba vat vir ‘n ontdekkingsreis na Ierland…

Advertisements

Lewe na ‘n taxirit

Screenshot 2017-03-11 16.22.03

Ghana se warm strate, mense beweeg per voet vinniger as dié in mouters

In elke groot stad, sal jy baie tyd spandeer in slak-verkeer. In Akkra is meer as 4,5 miljoen mense, en spandeer ons baie sit-sit tyd in ‘n mouter. My oog vang die blink weerkaatsing van ‘n ou wat langs my stop maar sy wieldoppe met kaktus steeksels spin nog verwoed voort. Sy elmboog hang so laag vanuit die venster, ek reken hy kan sy elmboog afskuur om ‘n draai.

Hy’s in ‘n 10-jaar oue taxi, die drywer langs my streel liefderyk oor die blou-wol oortreksel van sy stuurwiel. Hy het moerasgras onder sy vooruit geplak, spoedstrepe op die sypaneel deure, ‘n blomding sonder blare op die lugdraad en ‘n vensterplakker op die agteruit belowe: “lewe na die dood”.

‘n Opge-suupte Corolla in Wes-Afrika kompeteer met enige BMW in Lanasia! Spoed en robot-tot-robot gejaery is nie hierdie petrolkoppe se ding nie, maar hulle kan kersvashou by enige Indiër-taxi of Benoni-boertjie se mouterdekorasie. Hulle kry hulle giggels deur wip-wip in te druk, skoor te soek en lanie 4×4 manne te irriteer met hulle rem-aksie wanneer hulle voor hulle indruk. Blink chroomknoppe op die rathefboom, rooi kunsleer tossels flikvlooi voor die windfiltreerder en wys hulle status. Bont plakkers en kerklike seëninge is beslis die gewildste dekorasies op ou skraap en stampmerke.

Screenshot 2017-03-11 16.22.56.png

Enige iets om uit te staan – hierdie mouter totaal en al met Ghana lap ‘versier’

Taxi ry is goedkoop, so beskikbaar soos sonlig, en vreesaanjaend as jy nie die ding oopkop benader nie. Voordat ek my lewensdraadjie oorlewer aan ‘n taxibestuurder hierlangs, is daar ‘n paar praktiese goete wat ek oorweeg. Alle taxi’s het; volgens wet, kanarie geel geverfde hoekpanele. Hulle sluip stadig op en af in die strate, en toet-toet vir potensieële passasiers. Om ‘n taxi te stop, verbeel jou jy tik ‘n kind op die kop, handpalm na onder, so heuphoogte. As die taxi se remme skree, of die ding eers gestop kry 10-meter verder as waar jy staan, neem die volgende ene! Voordat jy inklouter, loer gou binne-in, of die sitplekke nie vervang is met houtbankies nie, en of jy nie deur die vloerpanele sien nie. Onderhandel met ‘n stywe lip oor die prys, en as jy nie van die man se houding hou, of sy Engels verstaan nie, of vermoed hy het weke laas gestort; sê eenvoudig jy het van plan verander. Hulle buffelagtigheid en minagtige proes deur tuit lippe skrik my lankal nie meer nie. ‘n Volgende taxi sal gou genoeg verbykom.

As jy eers sit, groet die drywer en vind iets in die mouter om hom oor te komplimenteer. Of hy dit nou verdien of nie, daai mouter is sy hele lewe en die inkomste van ‘n huis vol honger bêkkies. Al sweer hy dat hy weet waarheen jy wil gaan, hou maar ‘google maps‘ oop op jou slimfoontjie, en stel voor watter kant toe hy moet afdraai. Sodra die taxidrywer sien jy ken van watter rigting jy in wil gaan, sal hy nie probeer om weer oor die prys te onderhandel nie. Ek weier dat hy enige ander passasiers padlangs optel, en sluit self my eie deure langs my. As jy oppad lus vir ‘n koue bottel water, lugtyd of eetgoed wil koop van die straatsmouse af, vra vir taxidrywer om vir jou te koop, sodoende kry jy dit nog goedkoper.

Screenshot 2017-03-11 16.21.31

Almal ry met seëninge al oor die mouter vasgeplak

Die meeste taxi drywers is baie nuuskierig oor onse “Obruni’s” (beskrywende naam vir witmense in Ghana). Hulle het respek vir familie, ander se huwelike, en mense met kinders, so vertel ek in ‘n geoefende drie sinne hoe lekker ons hier woon, en erg ons na Namibië terugverlang, en hoe hard my kinners op universiteit swot. Dan vra ek of hy kinders het en hoe lank hy al taxi ry, en voor ek my oë uitvee is ek by my bestemming. Moenie uitklim voor jy jou kleingeld in die hand het nie, hy ry dalk net weg en “vergeet van jou kleingeld”. Ek groet altyd met “hoop jy kry baie besigheid vandag…”.

In die begin dae het ek in ‘n taxi sonder sleutel beland wat die ou eers blousel draad onder die stuurwiel moes ‘hotwire’ om mee te ry. Ek was ‘n in tonnelbrug toe die een taxi ‘n spogmotor stamp, en almal uitspring en gelyk aan die skree gaan. ‘n Mede passasier het my ‘n lewendige hoender aangegee “om vas te hou” en ene het selfs ‘n dag later my selfoon teruggebring wat op die sitplek uitgeval het.

Screenshot 2017-03-11 16.08.59

Vir diegene wat nog steeds skrikkerig is, daar is nou die opsie van vroulike taxidrywers in Accra. Een só spoggerige vrou is: Esenam Nyador aka Miss Taxi. Vir die wat na haar soek: +(233)55 505 0950 – Skype: misstaxi13 …lees hier oor haar

Screenshot 2017-03-11 15.57.32

Essenam staan trots by haar Taxi

Met die regte benadering, kan daar waarheid steek in die vensterplakker: “lewe na die dood”, of ‘n lewe na jou eerste taxirit.

Ridders van die Koeltebome

Die Ridders van die Koeltebome

Om self mouterkar te bestuur – dit mis ek die meeste.

Net gou sleutels gryp en windgat winkel toe wip is maar ‘n drama. Natuurlik kan en mag vrouens hier in Akkra mouterkarre bestuur. Twee van my goeie vriendinne besit en bestuur sulke klein goggakarretjies; orals oor. Maar ons ry een grootte vier-by-vier- lewensgroot, jy sien my op ‘n myl aankom.  Die ridders van die koeltebome, en ek (die bestuurder) is soos magnete vir mekaar.

Dis onverklaarbaar. Ek weet nie of dit is omdat daar net meer stoppunte in ons omgewing is; of dat ek nooit geleer het om hulle te vermy nie. Miskien is die grootte van die kar en die geleentheid vir ‘n vinnige beursie verdikking in ekwilibrium? My man en drywer word nooit ooit afgetrek nie. Vrouens is maar ‘sagte’ teikens.

Die manne in uniform kom op met fiktiewe benullighede soos ek het kamantig nie ‘genoeg’ toegegee vir aankomende verkeer nie.   Ek het kwansuis te vinnig gery.  (Hulle het géén spoedmeetapperaat nie). Dan ‘arresteer’ hulle my bestuurslisensie, maar dis meer soos ontvoer en vasklou totdat ‘n losprys/ omkoopgeldjie betaal is.

Strikrowers

Strikrowers

Week vir week is dit dieselfde storie oor en oor. Die proses laat my so skuins befoeterd, maar ek staan magteloos om teen die vorm van korrupsie te staan en baklei. Dis so effektief soos poep teen ‘n windstorm. Die ouens bly roteer en blykbaar is hulle salaris so karig dat hulle ‘n slim manier gevind het om hulle eie gatsake mee te vul. Hulle vorm van intimidasie is seepglad uitgestyk. Jy kan selfs tot ‘n mate onderhandel oor die bedrag wat jy bereid is om te betaal. Om te weet wat is redelik  en nie te veel nie; dit is die kuns. Hulle beginner sommer deur direk te vra vir selfoon krediet.

"spot fines"

“spot fines”

Eendag het ek nét ‘n vyf cedi- en ‘n een cedi-noot in my beursie. (Dis so ZAR 42.00 ) Nadat die een ou die ander spietkop nader geroep het, kon hulle nie ophou lag oor die onwerklikheid dat ‘n ekspat dan so min geld kan hê nie. Hulle kry my toe jammer, neem die vyf cedi-noot en sê ek moet solank bylas met die orige een cedi-noot; vir volgende keer wanneer hulle my aftrek.  As jy ‘n groterige noot het sal hulle rondvroetel en jou nog kleingeld ook gee.  Voordat jy wegry groet hulle so ewe en mompel iets soos hulle is hier “to be at ‘service’ for you”!  Die ene breëbek glimlag. Blerrie skelms…

Boeta, hier geld die ou wet van Transvaal; jy sál k@k en betáál!  Dié wat nie betaal nie word na ‘n polisiesel vergesel, waar ‘n persoon vir ‘n daglank opgesluit word, en formeel voor die hofgedaag word. Die hofstelsel is ‘n beslommernis en mors van tyd.  Daardie hofboete is veel hoër as die glipgeldjie langs die pad.

Slim mense beweer ek moet hierdie dagrowers  met ‘n selfoon afneem. Ja wel, probeer jy ‘n selfoon skelmpies in iemand se gesig druk as hy langs jou venster staan en skree dat die spoeg spat! Ander stel voor jy moet met ‘n kopie van jou lisensie rondrits, maar jy besef onmiddelik dit sal nie waterdra wanneer jy afgetrek word nie. Nou moet mens maar noodgedwonge deur ‘n drywer rondgerits word.

Enige iemand wat reken dit klink grênd om so rondgerits te word is hoog op iets onsmaakliks. Daar sit heeldag aldag iemand hier buite iewers en wag om my iewers heen te neem. Wat van die dae wat ek in Jan Tuisbly se karretjie rondrits? As ek lekker sit en giggel in my vriendin se sitkamer, is ek bewus daarvan daar’s iemand in die kar se hitte en bloedige son wat vir my sit en wag. Daar is iemand wat altyd, ALTYD weet van AL my doen en late. Waar ek gaan en wie ek sien en wat ek waar en hoeveel ek koop.

Mens gee soveel van jouself en jou privaatheid meë dat die kool nie die sous werd is nie. Intussen sit ek maar in boosaardige stilte en gluur die Ridders van die Skaduwee aan en wens hulle allerhande onsmaaklikhede toe in my gedagtegang.

Hierdie video wys hoe ‘n lokale man deur die polisie gestop word. Die ou sê hy het nie geld nie en die polisieman stel voor hulle ry saam tot by ‘n ATM. Dan maak hulle grappies en die polisieman en bestuurder onderhandel oor die prys. Die motorbestuurder noem hy het ‘expenses’ en die polisieman dring aan hy moet vergoed word…dan wys die bestuurder ‘n foto van sy familie waarvoor hy moet sorg, maar die polisieman noem dat al ses van die ander om hom die vergoeding moet deel…na nog effe vriendelike draaksteek, betaal die bestuurder en die polisieman noem dat hy sy veiligheidsband moet dra.

Handevashou

Silverkoppies vier Kersfees met hannevashou.

Een daggie voor Kersfees, maar vandag vier die Duitsers van Windhoek hulle Kersfees. In ‘n supermarkkoffiewinkel wyl ek my tyd totdat my kind klaarmaak met sy werkery. Darem net halfdag vandag.

 

Besig soos ‘n miernes is Windhoek net ‘n klein dorpie. Dis een lewendige TV-sepie, diedselfde mense oor en oor, ander plek, dieselfde plek, ander tyd, oor en oor. Probeer jy nou incognito rondsluip in jou plakkies en muisneshare; sál jy in ou skoolonnies, skoonheidtitelhouers en jou afdelingshoof vasloop. Hierso lê Namlish in[1]Volksmond. Ek verluister my in die skaterlag van die Nama, Duits en Afrikaners om my. Dié wat in Ingels aangaan is almal toeriste. Toeriste vra vir WiFi toegangswoorde en staar vir Windhoek in die weerkaatsing van hulle telefone.

 

Lekkerder as pepperminttjoklits is mensebekyk. Meer as die vissesoorte van die see, snuffel die laaste winskopiejagters deur die winkel. Almal is hier; slapgewriggies met haarsproei in die kuifie en dubbelslagroom en neute in die hande. Manne wat eerder in ‘n tannedokter se stoel wil wees, as om te deel met die lysie-in-die-hand. Boere Omies met teruggekamde hare; bossleutels aan die beld en mammie op ‘n drafstap met ‘n versadigde trollie agterna. Kinders is hier nie veel van te sien nie, Ouma kyk seker na hulle terwyl die ouers gou die laaste karnaatjie kom opraap.

 

Deesdae werk en woon ons in Wes-Afrika, en al die vriendelike mense wat sonder druk en stoot, kalmpies hulle gang gaan, het my skoon van koers af. Ek staar oopbek hoe mense mekaar spontaan omhels. Soengroet nog vol oppie pruilmondjie, gee drukkies en ‘n vryfie oor die rug. Niemand hierso skrik vir die Ebola ding nie.

 

Ou Silverkoppies groet mekaar by die kaasrak en maak geselsies terwyl hulle kromgetrek handevashou. Daar is baie geknikkery en winkeltanne-glimlaggies. Hulle kuier en gesels by die wagry vir brood en kouevleise. Hulle swaai met die armpies en beduie met knoetsvingers en lewervlekke op die hande. Brilletjies word om die beurt op die neus en in die silverhaartjies geskuif.

 

Almal is so besadig en beleef, manne trek nog stoele uit vir die aunties en meisies. Brilletjie op die neus en warm boeretroos word so slurp-slurp opsuig. Brödchens[2] mors krummels oor die boepies en steek harstallig in die snorre vas. Party sit en koerantlees oor groot visvangste kuslangs, bekyk fotos van mouterongelukke en skudkop oor staatsamptenare se kaskenades. Ander sit ook mense en kyk en knik en groet so in die sit. Die winkelbaas loop rond en taaisels op die vloer word uitgewys en opgemop. Winkelbaas groet kliënte met die hand en knik vir die ander in soortgelyke rooihemde met naamplaatjies op die bors. Al tien kasregisters se liggies en klokkies gaan te kere soos dit hoort in ‘n propperste casino.

 

By die kouevleisglaskas groet mense vir Brümelde op haar noemnaam. Etlike jare reeds dekoreer sy self haar afdeling sorgvuldig met haar eie Kersversierings. Pragtig, sowaar iets om te bekyk, so vrolik. Daars verskeie sertifikate in vergulde gouerame met die woorde Urkunde[3]wat verklaar hoekom mense die een na die ander worsstapel wegraap. Gegeurde kase, geurige slaaie, gestopte salamies, gerookte vleise is maar net van die uitsoekkossies wat sorgvuldig in wakspapier toegedraai word. In ‘n oomblik van asemskep deel die raakvatdames agter die kouevleisglaskas ‘n grappie en trek die een die ander se rooi frilletjie voorskoot reg. Dis kopkrap en ‘n gevroetel met die kruisbande vir die Omie wat voor my in sy sokkies en sandale staan. In hoog Duits vra hy wat vandag spesiale prys het, en stap weg met ‘n ham gestop met kersies en ‘n brandseltjie chilly.

 

Die ry by die broodkas word langer, niemand elmboog ‘n ander uit die ry nie. Warm brood word in bruinkardoessakkies oor die glasvertoonkas aangee. Die reuk is hemels, daars nie ‘n enkele stoeletjie oop in die koffiehuis nie.

 

In die supermark is verskeie bont jongmense in sloffies met hanne in die sake en sonbrille in die hare. Jy hoor hulle sleepvoet redekabel oor onbenullighede soos watter soorte saaie om te koop, hoeveel ystee hulle moei inlaai en vra waars die papierborde. Duidelik het hulle geen tyd vir koffiedrink nie, daar is geen vooruitbeplanning gedoen vir Kersdag nie. Papierborde gaan beslis nie bydra tot die Kerstafelversierings nie. Hulle moet nog van A na B rits om ys en ‘n voggie te kry voor toemaaktyd.

 

Hier is jongmense met ‘n baba, hulle eerste Kersfees saam. Hulle bly goete van die rak afhaal, prysbekyk en weer terugsit. Die jongmannetjie is sekerlik handig met sy hande hy is sonverbrand en sy nuwe vroutjie bleekvaalwit. Later staan sy by die kasregister, wip ingedagte ‘n reuse bottel krismisrooikersies op die heup, terwyl haar baba so in die slaap langspoegstepe kwyl oor sy Pa se skouer.

 

“n Yl bleskop omie streel met ‘n dikvinger oor die baba se saghandjie. Daai babahandjie vou instinktief styf om die omie se jigvinger en klou. Die silverhaar-omie staan met die grootste pienktandvleisglimlag; hy vier vandag Kersfees terwyl hy handevashou.

 

 

[1] Namlish-‘n Kombinasie van Namibiese sêgoed vanuit Engels, Afrikaans, Duits , Nama en Wambo.

[2] Brödchen-Duitse brood bolletjie – krakerige buitekant en sagte broodpênsie.

[3] Urkunde-Sertifikaat van verdienste

Beautiful beaches of Zanzibar

Karma het nie ‘n spyskaart nie…

My loskop kinders is oornag uit Ghana terug na Namibië om verder te gaan studeer; nou sit ek en die leë-nes sindroom en inwag. Niks dêrgliks het verander nie. Daars beslis meer lekkernye in die yskas en die stroom van tieners deur ons voordeur het oornag opgedroog. Ons verdryf die gekke stilte met onse-tyd musiek wat ons sonder tiener kommentaar; speel todat die vensters vibreer. Ons wys ons ouderdom wanneer ons die stowwerige goue oue liedjies hoor, en al die woorde malkop, saamsing. Tyd vlieg en ‘n maand later vergesel ek so flussies my man op sy besigheidsbesoek na Oos Afrika.

Reis bly maar ‘n bekende bogger. Karma deel my slegte speelkaarte en als loop opdraand. Oplaas is my voorneme om nie ‘n asynskyter te wees nie. Mens sien die wêreld om jou heel oopkop met ‘n vrolike, gesindheid.

Ons vlug vertrek een dag laat en ons bagasie arriveer op die volgende vlug, maar ek pluk my op: niks gaan my eilandbesoek bederf nie. Afrika kan jou op aan die anderkant van veertig lekker laat giggel as jy besef mense kan als oordryf. Hierdie lughawens se sekeuriteits maatreëls is verregaande. Heeltyd ‘n aan-en-uittrekery van skoene, belde, horlosies en armbande, elke 30 meter. Paspoorte word oor en oor bekyk, en handbagasie word weer en weer deur skandeerders gestoot. Tussendeur blêr dieselfde pynlike liedjie vir ‘n halfuur lank, klink soos iemand wat aan iets geboorte gee. Die vlugkelner gee my manlief een kyk en deel twee biere gelyktydig uit.

Aangeland is die Wes Afrika besoekers ‘n rede vir baie papierwerk met die een vorm oor Ebola na die ander. Witmasker handskoen-mense vat jou vorms en skanddeer jou voorkop temperatuur. ‘n Hele 23 grade! Weet hulle nie hoe om die instrumente te gebruik nie? Geen mens kan oorleef met ‘n temperatuur lesing van 23 grade nie! Daar gaat ek weer aan die giggel.

Ek hou my lyf Dellilah op Zanzibar se wit strande. In een dag loop ek ‘n oordentlike paar sandale vlenters in Stone town.

Stone town - Zanzibar

Stone town – Zanzibar

Dis ‘n wegraakplek met sterk koffie geure, ou antieke vindsels en ‘n paar kakkie-winkeltjies vol bont mooigoed.

Ons eet die lekkerste Indiese kerrie in ‘n Restaurant Silk Road en ek raak van vooraf verlief in ‘n restaurant genoem 6 Degrees South.

Romantiese sonssak tye, warm see wind, snorkelduik op die koraalriwwe en warmbak in die son. Saligheid wat niemand kan bottel nie.

 

 

Mens kan duidelik sien die Suid Afrikaners is in troppe hier. By knap tefeltjies, slurp hulle koffie onder die bome op die strand. Soos apies in ‘n kas, hoor jy hulle kliphard aangaan oor besigheidsplanne en agendas.

Zanzibar Sunsets

Zanzibar Sunsets

 

 

Jy weet daars ‘n voltydse stroom van hulle want die strandloper smouse karring aan jou in glad-olie-Afrikaans.

 

 

 

Karma het nie ‘n spyskaart nie, jy word uitgedeel dit wat jy verdien.

 

Ons volgende vlug is propvol Witlapgewade wat terugkeer uit Mecca vanaf hulle Hajj.

Hajj

Hajj

Dit druk en stoot en stamp om eerste op die muggie vliegtuig te kom. Tydens die Hajj moet hulle sewe keer om die Kabaa stap. Daars gereeld ‘n massa vertrapping, en hierdie mense is seker nog in hulle heilige trans vasgevang? Wanneer iemand iets so onbeskof doen, moet jy net kalm voorkom, maar in my eie gedagtes het ek hulle reeds met ‘n stomp panga opgekap.

Giggel besef ek nou is soos toordery, die witgewade staar my aan en maak pad. Eers later besef ek hulle vrees ‘n aanraking van ‘n “infidel”, dink jou in, ‘n gek-infidel moet soveel erger wees.

Nou ja, my wens was om die gekke stilte te verdryf en my te omring met vele mense.

Nightlife Amsterdam

Daars twee soorte “bitter balle”…

Oplaas is ek en my gesin op vakansie. Kyk Boeta, vir aerie-ry ĺn en óm Afrika gaat jy hóés; so vir dieselfde geldjie in die hand naar huis; fladder ons in grênd styl na Europa! Ná die visa ouens eers góéd met ‘n mens gemors het – moet jy beslis hare op jou tanne hê om die lughawe se sekeuriteit te vergewe vir hulle gevroetel en gesnuffel.

Eerste Stop; Amsterdam. Die sakkerollers is amper weg met my horlosie dáárom klou ek verbete aan my handsak want almal stamp en stoot moedswillig aan jou. Hierso loop almal óf oopbek óf kwylbek, maar almal stáár. My agtienjarige seun het ‘n permanente glimlag op sy bakkies deur die klipstegies van Amsterdam. Hy reken hys beslis in die destydse “Para-dys” (of Parra-wys) want die Eva’s het hoeka so min kleertjies aan.

My man word brom-brom saamgesleep op Boot-toere op en om die kanale. Kastele en Windmeule en Museums, als word ingepas. So belewe ons beide argitektuur en kultuur. Ons ‘Oeh-en Aha’ so knikkend vir die gidse se babbel oor gewels en boustene en steun pilare onder die watervlak. Die een na die ander oudgeid word uitgewys – ‘n huis vanuit 1485! Nog geboue oor die eeue – 16e en 17e eeu en so gaan sy aan. Als is weer perfek gerestoureer. Dit sit my aan die wonder oor wat gaan staan in Afrika vanuit dieselfde tydperk. Daar in Ghana is ‘n paar Forte en Slawe Kastele, maar als is effe muf en vervalle. Daars géén vergelyk tussen onse toerisme in Ghana en die Euro’s wat flink hier in Amsterdam inrol nie. Ek kan net indink dat die Europeers ‘n langplan gehad het. Die grondherwinning proses het reeds in die 17e eeu beginner en hulle bly net aankom met nuwe planne. Daai windkragwaaiers , elektriese motors en fietse is darem erg groen. In watter eeu sal ons óóĺt opvang?

Ek gooi my ge-oefende-wit-oogrol en sidder om te dink presies wát van Ou-Johannesburg oor is vandag. Gaan kyk bietjie in Yeoville die eens spog Hotelle wat vervalle en half afgebreek bewoon word deur plakkers. Als wat eens spiekeries was – sal nog tot op die grond afgebrand word vóórdat iemand van die museum-komissie vanaf die soustrein se diepe slaap wakker skud.

Goed goed – genoeg bitterbal-stories. Daars ook ‘n ander soort wat mens kan éét. Ons leer so ietsie merkwaardig hierso – werk hard en neem elke dag tyd vir jouself én/óf jou vriende en “borrel”. Dít is wanneer julle iewers in die buitelug sit en gesellig wees en lag en kuier…met of sonder sjampanje, dan “borrel” jy. Dáár en dan val ons ĺn met die briljante idee. Daar word elke dan en wan gesit en “bitter balletjies” geëet, of appettert of stroop-wafeltjies- ons “borrel”. Ons bevind onsself in groen parke met elke soort geur en kleur mens. Whoww dars gratis musiek opvoerings, mense op rolskaatse, in skrapse Yoga-broekies, hone van elke sort en daars vrede. Ons ‘borrel’ met wyn in die hand en botter-broodjies in die anderhand.

Ek moet hierde Kaaskoppe bés gee. Ai-ja-jai hulle wéét van hard werk en plesierig wees. Nou-ja voort na Parys en gaan kyk wat ek dáár kan leer…

farmers tomatoes

African Traditions are all Different

Ghana is a country with more than a thousand Chiefs, Princes, Princesses, Kings and Queens. They are traditional African Royalty; adorned with beautiful clothing and jewellery. Nothing else can leave you in genuine awe like attending an authentic royal wedding or burial. That is when you realise African traditions are as old as the mountains themselves.

In Accra you meet expats from all over the world, as they all try and find their own spot in the sun. Holding onto your own traditions can be difficult when nobody celebrates your countries’ National Holidays. Celebrating in traditional clothes while eating traditional food dishes is trickier. So we are left to celebrate local traditional days.

Farmers Day is an upcoming National Holiday in which farmers that excel in Ghana are recognised on a National scale. The day is celebrated close to Ghana’s late president’s Kwame Nkruma’s Birthday, and celebrated on the first weekend of December.

Imagine lots of grandiose speeches, colourful dancing and lavish traditional food dishes being served. This year the theme is “Grow more food”. As you can imagine, the party each and every year is bigger and better than the previous year. As it is done every year, many companies and banks have donated cars, cash, farming implements and various equipment to the government to be used as prizes for various positions. There are numerous categories, cocoa, foodstuff, animal breeding and poultry. An overall best farmer is then chosen from each category. The national best farmer is awarded with a car, cash cheque, farming equipment and even a four bedroom house.

Some traditions are upheld in the way people do things. The way they marry, the way they bury, and the way they do business. I am not sure that we will ever eradicate the corruption system in Africa. Each person knows that politicians all over enrich themselves and assist each other in covering up their pilfering. Certain African traditions will be upheld forever.

Read here about Farmers Day.. http://www.myjoyonline.com/news/2014/October-27th/accra-brewery-donates-towards-2014-national-farmers-day.php

Watch here the talented Barbara van Rijn’s short film in Cashew nut farming in Ghana: https://www.youtube.com/watch?v=mL5PkeBjqPQ&list=UUUQNXwF5N6eJgi401Cf9FAg