Tag Archives: Dublin

Ek vat my Groen Mamba op ‘n uitstappie

 Die dag wanneer jy beginne rondreis, is die dag wat jy die eerste bladsy in jou lewensboek omblaai. Ek snoep gereeld op die internet rond vir plekke waar ek en my ‘Groen Mamba’ (SA Paspoort) visa-vry; kan besoek. Die enigste EU lid-land sonder ‘n Shengen noodsaaklikheid is Ierland! Wonderlik, ek kan ook die Rooi-taal gooi wanneer dit my pas, en met elke Guinness word hulle aksente mos makliker op die oor.

 

Sodra jy aanland op die lughawe, word jy woerts-warts met ‘n 3-maande geldige visa verwelkom. Dublin se publieke vervoer is iets om oor te kwyl, met een klein plastiek ‘liep’-kaartjie, rits jy die hele dag rond per bus, trein of trem. Ons gaan aan huis by lokale inwoners met ‘n spaar slaapkamer want dis sommer baie goedkoper as hotelle. Kyk dit neem nie veel om hierdie mense luidrugtig te kry nie, so dan wil jy nie naby ‘n hotel se watergat probeer slaap nie.

 

Dublin het mooi mense, van vêr af; maar die nonsêns wat uit daai vuilbekkies borrel is dreinwaardig. Jou ore tuit bloedrooi want vloekwoorde val uit hulle monde soos handevol sente uit ‘n ou auntie se beursie val. Mens, jy byt gereeld jou tong vas, want die ander ding wat my hare laat regop staan het, is die Here se naam, en dié van Sy moeder, wat stadig met klem, oor en oor kliphard herhaal word. Dis nie iets wat die deursnit Afrikaner sommer mak kan raak nie. Aikôna, sies! My Ma sal heeldag, iemand se bek met seep uitgeborsel het.

 

Daar is definitief Viking DNA wat nog warm tap in die Iere se bloed. As jy nou daai manne rooi onder die kraag wil hê, verwys na hulle as Britte, of noem dat “Dublin die beste Britse hoofstad moet wees”. Hulle verstik sommer in hulle bier en sal jou daar en dan; op straat uitgooi. Mense, leer hierdie puntjie voor jy aanland; Ierland het in 1922 indepensie gekry vanaf die Britse Kroon, maar Noord-Ierland is nog deel van die Engelse-koningkryk. Die manne is veglustig en sterk; elk met ‘n gemiddelde dorstigheid van ten minste 4x groot biere agter die blad. Hulle praat daar nog van “pints”.

hoor hier: goete om NIE te sê nie

In die kroeë is daar soveel verskeidenheid biere, dat jou drie-maande visa te kort is om almal te proe. Vroeg vanaf 8-uur sit die nagskof manne al reeds en slurp ‘n koue langglas bier. Manne in verf besmeerde oorpakke en hardehoed in die hand, stap gedurende middagete in die kroeg in vir ‘n koue bier. As jy na son-onder nie sitplek kry nie, moet jy maar staan en kuier. Moenie verwag om deurnag ‘n biertjie te slurp nie! Die meeste watergate se laaste rondte is 11;30pm op weeksaande, en 1-uur oor naweke. Kammatig probeer die owerhede dronkenskap op straat verminder.

 

Almal kan sing, in ‘n piepklein ‘Pub’ trek ‘n ou hier neffens jou stoel los en sing uit volle bors, ‘n ander tokkel met lepeltjies ‘n ritme, en almal luister aandagtig sy storielied. Sodra hy sit, trek ‘n ander ou los en almal sit en knik-‘n-ritme, terwyl daar agter iewers iemand op ‘n bekfluitjie begelei. Op straat staan jonges en vergete ‘rockers’ en speel en sing vir ‘n handvol munte. Orals is vroulike tokkel musiek in die wind.

 

In strate en op publieke vervoer staar ons openlik vir bloed jong Ierse meisies met lang voshare tot laag by die yogabroeke. Dis verbysterend allerdaags om tussen twee Poppies, ‘n dag ouer as 19-jaar, het hulle lag-lag sewe kinders tussen hulle. Na dag-twee het ons geweet hoe om ‘n tafel en bus sitplek te kies, vêr van die jongetjies met stootwaentjies. In jou lewe het jy nog nooit sulke onhebbelike stoutgat kindertjies gesien rondhol en skree in publieke plekke nie. Mens jeuk om jou belt los te maak, maar daarlangs is dit teen die wet om die wettertjies maniere te leer ‘op die ou manier’.

 

Oeh die kos is my dood, as dit effe reënerig is en die Noordseë se wind pluk aan jou jaspunte, beloon ek myself met ‘n Guinnesspastei. Mens kan kies en keur tussen vars vet pienk salmvis, vleis pasteie, bredies en fênsie Internasionale menu opsies met o.a. organies en vegetariese disse. Dankie tog daar is ‘n lang lys interessante plekke wat baie stap behels en die belt weer intrek.

 

Praat van stap, jy moet wakker wees, want tussen trems en fietse en busse en mense, moet mens maar bly rondkyk sonder om hakke te breek en enkels te swik. Dublin lê dik in die geskiedenis met kastele, museums, soldate, skrywers, standbeelde en uitstallings om elke hoek en draai. Enige iets ‘Nasionaal’ is heeltemal gratis om te besoek en selfs met die beste beplanning gaan jy nooit als gesien en gedoen kry nie. Die groot pobleem is tussen punt-A en punt-B is daar iewers ‘n kroeg oppad, met varsgebakte broodreuk en musiek wat jou van plan laat verander.

 

Ek kyk nou net, daar is nog vier bladsye in my Groen Mamba oop, ons kan altyd weer die Mamba vat vir ‘n ontdekkingsreis na Ierland…

Grootmens-skoene

 

Die dag het gekom dat ek eendag my eie oë uitvee en daar sit ek met ‘n man en my eie twee kinders. “Goeie gom!”, om my kinders groot te kry was ‘n 18-jaar gebedssaak. Soos vele ander het dit so bekoorlik gelyk om tog net groot te wil wees. Daar was dae wat ek my kroos vol groei en uit die huis gewens het. Ek staan verstom; hoe ouers deesdae soos slawe rondspring om die grille en giere van hulle bloedjies te verwesenlik.

 

Natuurlik lyk dit koelgat om kredietkaarte te swiep en konstabels af te skrik met motorliksense, nagmaalwyn te slurp; grootmense mog mos doen nét wat hulle wil! My meisiekind het self ook klak-klak my hoëhakskoene en sykouse getoetsloop in die gang af, my ou lipstiffie opgesnuif en haar poppe daarmee besmeer. Maar daar was duidelike grenslyne want op my beste het ek soos ‘n swanger varksog wat in ‘n pendoring getrap het aan die skree gegaan. Selfs in hierdie dag, weet my kinders ek kan enige vloermoer van hulle oordoen.

 

Ek het geen bloedkind van my in ‘n restaurant gesmeek om ‘n pienk worsie te eet nie. Hulle het gou besef, eet wat voorkom om te oorleef of dood van die honger totdat dit tyd vir aandete is. Grootmense eet die soet waatlemoen krone, en ons kinders moes die waterige skywe eet. Pa mag eerste kies watter stukkie hoender hy wil hê, en kinders mag nie hulle monde opblaas oor die benerige vlerkie waaraan daar partykeer nog haartjies vassit nie.

 

Om jou kinderjare te oorleef, moes jy as kind altyd maak soos grootmense sê. Al is jy nie vaak nie, moet jy gaan slaap as jou ma so sê, dit geld ook vir Sondagmiddag slaap. Kool moes jy eet omdat jou pa sê jy kry geen poeding met eiervla voordat jou kool nie opgeëet is nie. Ma het darem die kool op-ge-soop met witsous en weggesteek onder gesmelte rasperkaas. Nooit as te nimmer mog jy waag om in grootmens geselskap tande te tel nie, dan sê jou Ma jy moet op die daad klavierspeel vir die mense of jou splits wys.

 

En niks kan jou naarder maak as ‘n groot lepel vol Brannewyn nie. Behoed jou as jy kla van koppyn, maagseer of naargeid nie. Dan moet jy dit drink, want jou ma sê jy gaan wurms kry van speel in die sand waarin jy modderkoekies bak en sandpaaie stoot. Almal weet die werfkatte grou hulle gaatjies in die sand waarin kinders om die huis speel.

 

Die dag het gekom dat my spriete hulleself in Dublin as studente uitwoed en Namibië se rooisand agterlaat. Twee ure se vlugtyd vanaf Windhoek na RSA was effe te gewaag, toe kies hulle Dublin, ‘n hele 16-ure se vlug verder. Ons het die langpad vanuit Windhoek kom kuier by die kinders. Ons monde hang oop soos twee snoekvisse wat op die kalaharierooisand uitgespoel het.

 

Die studentekinders besef nou dis nie altyd lekker om ‘n grootmens te wees nie, inteendeel dis baie moeilik. Hulle moet self betaal vir selfone se lugtyd, die internet betalings, hoesmedisyne, fliekgeld om niks van yogabroeke en fietsslotte te noem nie.

 

My Vrystaatman en ek sit en loer en knik onderlangs vir mekaar en glimlag agter die hand oor die mond geslaan. Hulle bestel water saammet hulle etes, gaskoeldrank is boosaardig duur, pienkworsies is gif, brannewyn is bedoel vir laataand studietyd om op te warm, en hulle maak dubbeld seker die fietse is behoorlik vasgesluit. ‘n Fietsslot is immers goedkoper as om die fiets te vervang.

Dit voel iemand lees die nuwe rookwet vir my voor: my student-kinners maak ons attent op sakkerollers, vra of ons warm jasse saamdra, weier dat ons oor rooiligte die pad kruis en skud kop vir ander ouers in Dublin wat geen paplepelwet mag toepas nie.

 

Die beste tyd van jou lewe is die tyd wat jy in jou Pa se huis bly en hy vir als betaal en jou Moeder als vir jou doen uit liefde en instink. My seun luister aandagtig na sy Pa se voorstelle rakende mediese eise en die meisiekind het sopas haar eerste kredietkaart opgesnipper. Ek sluk die knop in my keel weg en wonder waar het die modderkoekietyd verbygeglip.

 

Wat makeer ons gemeenskap dat almal kinders soos puisies wil rypdruk? Ek sal dit als net so weer oordoen, met ‘n plakkie in die hand, vrywillige slaaf vir my skielik gróót kinders.