Tag Archives: Duiwel

Die Duiwel met ‘n troffel in die hand …

t

My Moeder het ‘n sê-ding in die huis gehad wat iewers vasgeslaan het. “As die son sak in die Weste is Daniël op haar beste”. Wanneer nagkrieke begin gil ‘die dag is verby’, raak ek kriewelrig. Mens kan nie net so op jou eie spoed aandobber nie. Jy moet iewers ietsie aanvang, waarna jy eendag op die stoep kan verwys – en sê: Dáár, doeikant, het ek ‘n steep in die stof agtergelaat wat iemand se dagplan verander het.

 Screenshot 2016-11-12 13.53.07.png

Kyk onse expat tannies moet mos heeldag handjies gevou sit en huis-huis speel, tot vanaand wanneer manlief tuiskom. Sou ons nou ‘n wettige werkspermit toegestaan word, is dit soos die kossies uit ‘n lokale werker se mond uitpluk. Werkspermitte is so skaars soos hoendertanne – net een per gesin is die standaard. Werk ons iewers vir ‘n geldjie dan gooi immigrasie jou en manlief -sonder fieterjasies landuit! Mense klik graag opmekaar, want die son mog mos nie op almal gelyk skyn nie. Nou vind ons ander maniere van onsself vermaak.

Ons sit gratis en verniet ons vlytige hanne en koppe bymekaar om besig te bly. Enige ietsie wat ‘anders’ is vind aanklank. Naaldwerkgroepe, verfkunsklasse, kaartspel, mahjong, tennis, maratonne, teedrink, Yogaklasse, stapgroepies, vroue aksiegroepe, Bybelstudie – noem maar op; ek ken iemand wat dit aanvang. Ledigheid is immers die Duiwel se oorkussing.

Ook bang ek mis op ietsie uit – rits ek eendag saam diep bos toe. Anderkant drie ure se ry uit Akkra, gaan ons op ‘n uitstappie van een van die vrouegroepe wat ‘n oorslaap in ‘n een-ster-hotel insluit. Ons gaan bekyk die aanbou van ‘n kraamkliniek wat so in die stof staan tussen die gehuggies. Met die intrapslag sien ek iemand smokkel met iemand anders se bougeld. Nie een van die vensters is op dieselfde hoogte nie, skewe mure en nie een van die deure is dieselfde breedte nie. Selfs die boublokke in een muur is verskillende groottes.

Ek sê toe nou so ingedagte vir die vrou wat naaste aan my staan dat die Duiwel mos aan mens verskyn in die vorm van ‘n slimgatbouer met ‘n troffel in die hand. Yak-yak-yak gaat ek aan oor als wat ek verkeerd sien.

So werk dit mos uit dat die tannie wat so aandagtig luister na my wat so oorlams my gedagtegang staan en vertel – ‘n Kanadees is wat geld uitdeel aan die manne wat daar bou. Nou kyk, as jy so dom is soos toffie, dan moet jy gekou word! Mens kan nie net geld vanuit Torronto aanstuur en vertrou mense sal dit mooi spaarsamig en met oorleg op ‘n bouery spandeer nie.

Lang storie kort, het ek nou die Kliniekbouprojek oorgeneem en red wat daar te redde is. Eers moes daar reggestel word met ‘n dun begroting, want die stoute kabouters het diephand in die koekieblik gedêps, blink mouters gekoop en sommer lekker gaan vakansie hou met die projekgeldjies.

Hou nou ingedagte: hierlangs is nog ‘diep donker Afrika’ waar almal nie noodwendig skoolgaan en leer lees en skryf nie. Dit geld beslis nie vir baie vissermanne en lokale boere nie, hulle het wel kinders op strepe, want meer kinders is meer hanne wat kan werk.  (Moet nou nie my kop afbyt nie; ek sê nie alle mense van Ghana is ongeletterd en bar nie, ek sê: in die deel waar ék bou – is dit afgeleë soos Mozambiek twintigjaar gelede…)

Mense in die landelike omgewings besit nie noodwendig ‘n mouterkar nie, en twintig kilometer tot op die naaste dorp is nog steeds ‘n dagreis vêr. Natuurlik is die plek eksponenteel vrugbaar, want in daardie areas is tweelinge en drielinge nogals algemeen. Lokale mense in die landelike gedeeltes, tradisioneel; besoek vrouens nie hospitale en klinieke nie, hulle steun op voedvroue en moeders in hulle eie gemeenskappe en omgewing.

So die noodsaaklikheid van klinieke verder uit die groot dorpe is ‘n lewenslyn vir menigte. Die taak is enorm, iets so onwerklik soos om ‘n olifant op te eet. Maar dit kan ook gedoen word, oor ‘n lang tyd… happie-vir-happie. Dis presies hoe dit nou is: ons bou een-boublok-op-‘n-slag.

Kliek hier om die bouery te bekyk

Wanneer my Namibië-vriende vra wat doen ek heeldag, dan vertel ek gedwee, ek trek stofstrepe in Afrika…

 

** (Op die Storie voorbladfoto is Prince Attah – ‘n trotse bouer  uit ‘n ‘Village’ in Ho, Volta Distrik, Ghana. Hy kan lees of skryf nie.  Maar hy kán bou.  En hy kán self plan maak.  Hy’s toevallig die orrelspeler in die EP Church, met daai einste bouers hande van hom.  My opskrif en foto het vandag niks met mekaar te doene nie…)

(Mense kan op facebook gaan loer en kiekies kyk van die Kliniek se bou: Snuffel na Canadian Friends of Adaklu Waya

https://www.facebook.com/groups/1392167074390195/) ‘

planning and checking meassurements and quotes.JPG

Daar’s niks ‘glamerous’ omtrend die bouery nie – net kophou en kalm bly…

Honne wat pokerkaartspeel

Duiwel is so listig

Soms dink ek die lewe is ‘n pokerpotspel. Jou hand word gedeël, en daarmee moet jy speel. Is geluk aan jou kant, kry jy nog ‘n kans met nog ‘n kaart, anders is jou opsies, vou of bluf. So bekyk ek van die spelers om my. Die beste kaarte dink ek is die met die fietse agterop, maar ander sit met lewenskaarte soos slimmigheid, kunstigheid, kookkuns, sporttalent, beeldskoonheid, smoustalent en sponaïteit.

‘n Buurman van my het die blinkste blês en meëgaande bierpêns, maar as daai ou straat-afstap; reken hy, hy’s meer sexy as George Clooney. So suksesvol is sy bluf, hy het teruggekom vanuit Dubai met ‘n langbeen Russiese-bom. Sy het haar beeldskone-lewenskaart uit. Buurman se extra speelkaart arriveer volgende maand as haar moeder se visa geprosesseer is.

Internet foto: Buurman se bluf

Internet foto: ‘George Clooney’ Buurman se bluf

Praat van iemand met ‘n meestersgraad in blufspel: Rachel Dolezal wat voorgee sy is van gemengde bloed, maar in haar hand is twee spierwit ouers! Daar’s nie pille vir domgeid nie, miskien speel sy haar smoustalent?

Van die Ghana spelers het sommer van speltafel verander en oorsee gaan sokkerspeel. Dis sekerlik nie kroek nie, mens wil tog sekerlik betaal word vir jou sokkertalent! In pokerpot word die deler ontstig as enige speler se skelmstreke ontbloot word- ons leer nou maar eers van FIFA se honderd-en-vyftig-miljoen se skelmstreep. Maak dit hulle nou “All of a Kind”, wat “Flush” willekeurig bakhandgestaan het vir die laaste vier-en-twintigjaar? Seker maar fluit-fluit hulle storie is uit, of het slim nou sy baas gevang? Anders as RSA se toesmeerdery; in die ‘Vee-eS-en-Ah’ sal als oopgevlek word, tyd dat die spelers hulle “hande-wys, ook die ‘onder die tafel’-stelery.

Hierdie week sit Akkra se burgermeester kiertsregop agter sy pokergesig. Hy is ‘n ou gesoute speler wat sy politieke medespelers in die media kaalgat uittrek. Dis ‘n erge vingerwysery en laai van die dobbelpot oor wie moet blaam neem en betaal vir al die vloedskade en lewensverlies van die reënoorstromings. My man vertel my: ‘n Ware leier moet na homself in die spieël kyk in taai tye, nie by die venster uit en soek na iemand om te blameer nie. Hierdie burgermeester is ‘n ou grootbek wat poep teen ‘n donderstorm want dit reën erger as twee jaar gelede. Al wat intussen gebeur het, is hy het ‘n onbenullige toekenning as “beste burgermeerster in Afrika” in ontvangs geneem.

Burgermeester: Alfred Oko Vanderpuije

Alfred Oko Vanderpuije
Alfred Vanderpuije. Alfred Oko Vanderpuije (born 4 November 1955) is a Ghanaian politician. A Jamestown native, he is the current Mayor of Accra, installed in that office by President John Atta Mills in 2009.

Bid jou dit aan, nogals die beste ene. Ha! Wat is daai ou sêding van elke brommer is koning van sy eie mishoop? Duiwel se streke die stelery…

‘n Mens kan party om jou flous vir ‘n wyle maar aan die tafel kan jy almal nie vir altyd flous nie. Mense ‘lees’ jou lyftaal, veral as jy jouself verkleurmannetjie hou.  Miskien staar burgermeesters- en politieke varke hulleself vas in die prentjies op die pokerkaarte? Eers kruip hulle in die harte van mense, mooiste suikersoet beloftes in media persverklarings, dan grawe hulle hulself in hoeke nadat hulle die diamant-waarde van staatsbesteding ontdek het. Dan sit hulle en pruim sodra hulle ‘hand’ gewys is en almal besef hulle is die ene ‘blufspel’.

Poker Joker

Poker Joker

Seker nooit te laat om te besluit wie is die ‘Jokers’ en wildekaarte, en of hulle met die res van die kaartepak ingesluit moet word nie. Almal speel mos nie met ‘n volpak kaarte nie.

Miskien moet alle politiekehonde en burgermeesters ‘n hondestert bykry die oomblik as hulle ‘n setel wen. Honde lieg nie. Daai stert kan mos soos ‘n spieël in daai ou se mensesiel wees. Niks gebluffery of sielkunde nie. Waai-stert is ons almal op die regte pad, maar smaak my almal om ons hol stert-tussen-die-bene rond! Ha-ha , sien hoe speel ek my slimmigheid lewenskaart.

Hoesê van slim van sy baas?

Ketel se fluit

Die ketel se sing…

Die talente ding pla my. Om my is daar damesgroepe wat Ghanalap versnipper met rolsnyers en weer behendig in patrone aanmekaar werk vir laslaphandsakke. Ek staar oopbêk – te mooi vir woorde. Ander ontmoet voormiddae, tel, plan, ryg en toor die allermooiste Ghanakralewerk aanmekaar. Nog ‘n groep is besig om ‘n kookboek aanmekaar te spoeg en plak. Sê-nou net ek is veronderstel om hierdie wa-wa-woom talent te laat blom – en ek sit en broei ‘n dooi-eier se talent uit?

Sien die ding dat expat-vrouens hier in Wes Afrika se kant nie kan werk nie, frustreer die blou wax uit my uit. Dis reeds so groot vergunning dat een werkspermit vir manlief uitgereik is, dis so dat ‘n tweede werkspermit vir Mammie letterlik die kossies uit ‘n arme lokale mensie se mond sal pluk. Onse vrou-liefies is die outydse plus een. Saamgenooi om manlief se pad na waansinnigheid se spoed te breek, want ons gaan eerste daar uitkom! Nou slaan ons maar onse hande aan lappies en kralewerk en kookkuns.

Nou hoe dan as jy ‘n ernstige gekwalifiseerde trauma verpleegsuster-, of remidieërende skooljuffrou met sakke vol talente en geleerdheid is? As mens nou die reëls wou breek en jou dienste aanbied – selfs sonder vergoeding kan jy woeps-waps in warm water beland. Jy word summier aangekla, gearresteer, verskree, in ‘n klein kamertjie toegesluit totdat jou man om jou vryheid kom onderhandel met verskonings en mooipraatjies en daai krom-goed wat regmaak dit wat stom is. Ten spyte daarvan, word die man se werkspermit gekanselleer en ‘n kort briefie van immigrasie laat weet jou; julle moet die land verlaat binne twee-en-sewentig-uur.

Mens vra maar rond, oor hoe gemaak want ydele hande is die Duiwel se kopkussing. Dit help om te luister met oop ore na goeie advies. As Stinatjie en Magriet nou mooi rondkyk sal hulle besef al die vrouens sit en roei dieselfde bootjie.

Hier is waar die drie soorte Eva’s van mekaar geskei word. Die eerste soort het gewoonlik ‘n naam soos “Mari-zelle” wat in RSA iewers in ‘n Kloof, op ‘n Rif of in ‘n Vallei gewoon het. Hulle vereenselwig hulle-se-soort nooit met dit wat hulle in Akkra teëkom nie. Hoe weet jy hulle ry ‘n Mercedes terug by die huis? Hulle vertel jou. Hulle praat onophoudelik van hulle beplande tuisbesoek, en verveel jou met straaltjies van hulle mees onlangse golf-landgoed-vakansie. Die ‘Mari-zelle”-soort bly eersteklas-vlug-besoekers wat nooit inpas nie, en heeltyd die dae en ure aftel wanneer hulle kan wegfladder en stink bloukaas op tannestokkies kan afsuig.

Die tweede soort is besige bytjies wat weet waar die nuutste restaurant in Akkra oopmaak, hulle word gesien by talle funksies in moderne skemerkelk-rokkies en wip kapsels. Hulle het uitspreekbare name, ougat sportiewe kinders, reis binne Ghana se landsgrense na eksotiese strande en fotografeer skilpaaie se nagterlike eierlê sessies. Hulle gryp die kultuur uitruil-ding aan die keel beet, en leer die kombuisfeëtjie om Bobotie en Boerewors te bemeester.

Die derde soort het name soos “Harmonie” of “Duifie” en vir haar sien jy net een keer. Dis genoeg om vir altyd ‘n gebreekte spieëltjie-prent vas te lê. “Duifie” is laas gesien toe hulle by die kultuur-aand ‘n tromvertoning aangebied het, sy was derde van links met die grootste trom tussen haar groottone en knieë. Harmonie-hulle tip te veel na die lokale kant, hulle assimileer en eet lokale brandbêk-kos, rol hulle hare in vlegsel-stringe en dra dieselfde klere as laas week. Immigrasie soek nie na hulle nie, Duifie-hulle praat lankal ‘n lokale dialek en immigrasie is skrikkerig vir hulle.

Nou waar pas ek en my talente in? Onthou, ‘n ketel is meestal tot by sy nek in warm kookwater, tog sing die ketel altyd! Oor ons Mu’sadi-Benz innie oprit swyg ek, ek parradeer my skemerkelkie rokkie elke kans wat ek kry, en bekyk die tromvertoning van annerkant die draad…