Tag Archives: Familie

Krismis Kersies in Rum…

 

 

So is dit mos – as jy siekerig of mislik of nostalgies voel, verlang jy na jou Ma se huis. Kerstyd in Akkra is soos sonbrandvelle aftrek, seer maar ook lekker. Alles oor Kersvees voel uit plek uit, omgedop en verkeerd.

 

So stap jy ewe vrolik die eerste Oktober in die winkelsentrum in, en daar staan ‘n man op ‘n lendelam trapleer en hang Kersfeesdekorasies op. Jy voel hoe jou hart kommapunt; ‘n ketting trek ‘n beklemming om jou binnegoeters. Dit kan mos nie wees nie, het die jaar reeds so vêr met jou weggehol, maar dan onthou jy dis nou eers vroeg Oktober.

 

In Akkra is daar baie goete wat jou laat kopskud. Als hierlangs kom wat aweregs voor, en ons wonder of die mense om ons se bont varkies nog op hok is. Miskien is hulle net kinderlik erg opgewonde oor die hele Krismis ding, of is dit dat hulle effe langer vat om op te warm oor ‘n gebeurtenis en meer tyd nodig het. In Ghana is dit ‘n GROOT ding om jou Christenskap in die publiek ten toon te stel. Van reuse plakkers op jou mouter tot dik goue kettings en swaar kruise om die nek, T-hemde met reguit boodskappe in swart dik letters en Krismis dekorasies in jou winkel, jou mouter en op jou werkstafel en in en om jou huis.

 

Die uurglas is veronderstel om nóg ‘n hele twee maande uit te loop voordat Bony-M se plastiek musiek ‘Kersfees’ in die winkelsentrums uitbasuin. In die druk verkeer is dit straatverkopers wat verlepte plastiek opblaas Krismisvaders smous. Daar’s klokkies wat klingel op Rudolf die fluweel-takbok se neus, stringe bont kersliggies en sneeuspuit in ‘n albaster-blik is als op offer. Hierdie jaar, is die dogtertjie kopbande met blinkertjie Engeltjies wat soos antennae rondswaai oor jou kop, ‘n groot verkoper.

 

Ek sit heimlik en wonder hoe hulle die Kersboodskap aan die kindertjies glo-waardig maak? Dis plak warm in hierdie tropiese land; sneeu is net ietsie wat mens hierlangs op ‘n swak tv-beeld sien. Nog nooit het ek ‘n enkele skoorsteen in ‘n huis bespeur nie – waar moet Kersvader inglip om geskenke te kom afgee? Verlede jaar het ‘n Hotelgroep ‘n Kersvader-man kompleet met witbaard en ‘n reuse sak lekkergoed gestuur om die kindertjies by die swembad te verras. Dit was pandemodium soos daai kindertjies weggehol het, in die swemwater gespring het, histeries aan die gil gegaan het. Bestuur het gou die booswig verwyder en vir die res van die dag omverskoning gevra op die publieke uitsaai stelsel, en verskrikte verlore kinders en ouers met mekaar herenig.

 

Nou as jy as expat jouself in Akkra bevind oor Kerstyd het jy drie opsies. Die gewildste en voorkeur opsie is om ten duurste huistoe te vlieg en tussen jou eie mense iewers in die Kalahari, sonder sneeu en sonder koorsteen Krismis te vier langs ‘n koolstoof met warm melktert en rum-versuipte-kersies. “en koue bier” sê my Vrystaat-man hier van die kantlyn af.

 

Opsie nommer twee is minder gewild maar ‘n gemoedelike kuier waarheen almal uitsien en honderde fotos oor bakkiesboek heen gestuur word. Almal is nie beskore om verlof te neem in die blinkertjie seisoen nie. Iemand moet ‘n wakker oog hou op die geldkas, die olieboor, die voorraad op die winkelrakke; en daai makkers staan saam en vier Krismis in styl. Al die Springbok ondersteuners kom bymekaar en vier fees. Jy word gevra om ‘n kosding by te dra, iets soos aartappelslaai, gebaktekool weggesteek onder smeltkaas, reuse bak winkelroomys of melktert vir twintig uitgehongerde Springbok ondersteuners. Webers word aangery en skaapboude word gebak. Geskenke word met ‘n speletjie om die tafel aangegee en uitgedeel. Krismisvader kom aangery op ‘n 4×4 motorfiets en deel Kersgeskenke aan die kinders uit. Daar word geswem en gekuier en fees gevier; almal gemoedelik saam.

 

Opsie nommer drie is vir die oningeligtes, wat nuut in die land kom werk het, wat te suinig is om hulle gemoedelikheid te deel, wat soos ‘n rooiby wag om iemand te steek…hulle sit by die huis en versuip hulle self soos kersies-in-rum.

 

As jy iewers in Januarie uitgespaar is, en weer arriveer in Akkra, dan kan jy jou begewe in die Kersfees gemoedelikheid tot diep in Maartmaand wanneer die blink Kerstooisels eers verwyder word. Vrinne wat jou lanklaas gesien het vertel van sonbrand en brandvelle wat afgetrek moes word.

 

As jou kollegas van Ghana jou eers weer in laat Februarie sien, groet hulle jou vrolik “Merry Krismis” and “A prosperous New Year”!

Advertisements

‘n Nes of Holte?

Die oorspronklike artikel foto kom vanaf: Camping – WebEcoist 

 

Share your World Week 1 – Hierdie gedelery is oorspronklik in Engels, maar ons kan mos die Rooitaal omdop!

 

 

As kind, wie onthou jy as jou gunsteling familielid?

Loshande wen my Tannie Lollo hierdie ene.  My Pa se jongste en enigste sussie was ook my Peetma en moeder van my twee jongste niggies.  Ek was dankbaar dat sy my nie eners as my Engelse niggies aangetrek het wat altyd soos Vinkel en Koljander getooi was nie.  Tannie Lollo het klapperolie deur my hare gekam en die haredos met ‘n tulband toegesool.  Dan het ek soos ‘n wafferse Turkse prinses in die appelkoosboom gaan klouter en my verbeel ek vlieg op ‘n tapyt bo die grond rond.  Nadat my ouers geskei is, het ons familie kontak verloor en ek het vir baie jare skuldig gevoel dat ek iets verkeerd gedoen het.

Verlede jaar, na twee-en-dertigjaar spoor sy my op met Bakkiesboek.  Nou kuier ek elke paar maande vir haar en bederf haar wanneer die geleentheid hom voordoen.

 

Sou jy ‘n boom of plant wees, wat sou jy wees?

Mmmm hierdie ene is moeilik. ‘n Namib se Kokerboom in die Namib woestyn, dít wil ek wees nie.  So alleen rondstaan in dorre wind en weer is sekerlik nie vir my nie.

Screenshot 2016-03-08 22.10.25.png

Namibiese Kokerboom

Miskien ‘n Lourierboom, met lekkerruik swier takke wat waai in die wind.

Wag, nou weet ek, ‘n Kremetartboom! Ene wat stewig en reusagtig staan, met kalmte oor jare kalm en gedwee wortelskied en skadu gooi. Maar ‘n lower groen Bamboesbos vol voëls kan ook aangenaam wees.

Sou ek ‘n plant wees wil ek ‘n Wilde Kaapse klim-op wees. Lowergroen winter en somer, wat uitklouter teen vaal mure.Screenshot 2016-03-08 22.19.56

 

Die idee van ‘n Lelie in ‘n dam of Orgideē klink mooi idillies. Maar om paddas te hê wat heeldag oor jou klouter of om net te leef vanaf lug en steenkool moet maar ‘n saai bestaan wees.

 

Wat verkies jy, om wakker te word voor sonopkoms, of om wakker te word laat middag? 

Ek is gewoonlik lank voor sonop wakker en aan die gang. Sekerlik een van daardie goete van my Pa. Hy reken hy het ‘n hele leeftyd langer geleef as die standaard man, omdat hy elke oggend ‘n paar ure voor hulle op en aan die gang was.  Nou sit ek vroeg oggend op my stoep en luister na die voëls en slurp koffie.

Natuurlik was dit ‘n heel ander saak toe ek student was, laataand gekuier het en heeldag in die kooi wou bly.

Screenshot 2016-03-08 23.02.48.png

Sou jy daarvan hou om te slaap in ‘n mensgrootte nes in ‘n boom, of eerder in ‘n mensgrootte holte knus in die grond?

Rondomtaliedraai se Sondagkopies het die oulikste Knoffelhuis tentjie waarin ek maklik kan nesskop. Klink my maar net soos ‘n knus idee van ‘n luukse boomhuis.  Maar in die grond, nee dankie.  Daar kan hulle my toeskoffel as dit my tyd is om blommetjies op te stoot.

 

Bonus vraag: Wat van verlede week is jy dankbaar voor? In die komende week, waarna sien jy uit?

Verlede week het die Dep. van Binnelandesake my paspoort binne net vier dae hernu.  Dit is mos nou diens reken ek – iets waarvoor ek innig dankbaar is.

KobusDanielbf1Hierdie week vier my man sy halfeeu verjaarsdag en ook is ons een-en-twintig-jaar gelede met mekaar getroud!  ‘n Deugsame en hardwerkende man is waarvoor ek dankbaar is hierdie week, en die res van my lewe.

Volgens Toeka-tokkel no2: Skryf ons oor vakansie

 

Meer kosbaar as diamante is vakansie herinneringe.

 

In my eerste foto van my as baba, sit ek op Durban se strand en sand eet. Op die kiekie dra Ouma ‘n swemkappie met bont rubberblommetjies, my Ma in ‘n sexy bikini en my ouboet staan ongeduldig met ‘n drup –roomys onder die sambreel.

 

Op ‘n volgende kiekie staan ek met ‘n skoothondjie in die arms by die Taalmonument. My Ma en ouboet is ook in die foto, en ‘n kleinboet is ook nou in die prentjie. Ek onthou ‘n kampvakansie met ‘n vaal groen tent langs ‘n vlak breë rivier. Ons wat in die koel water speel en ‘n waterslang wat kalmpies tussen ons deurswem. My Ma se ontsteltenis toe die apies van die kosvoorraad wegdra. Kleintyd onthou ek my Pa se uitbundigheid toe hy, ons met ‘n helder geel “Beech buggy” teen ‘n duin uitjaag. Ek onthou die hitte om oop kampvure op die strand en ons Doberman se nat swem lyf, saam op vakansie.

 

Kampvure, “Beech buggies” en honde is deesdae verbode op strande.

Screenshot 2016-01-23 17.43.30

So onthou ek ook, twee nagmerrie vakansies. Een daarvan ry drie gesinne al die pad na Mosambiek. Die voorafbetaalde woonplek is niks soos dit op die Internet geadverteer is nie. Geen lugversorging, geen krag, muskiete en sandvlieë wat ons lewendig opvreet, bamboes-beddens sonder matrasse en dronk studente met net een cd die hele vakansie. Daar word in die bakkies ingebreek en kontant gesteel, genadiglik los die boggers die paspoorte uit. Die kersie op die koek is ‘n man en vrou van verskillende gesinne wat sonder sweempie van skaamte ‘n verhouding aangaan en almal skielik op eierdoppe rondstap. Wat ‘n gemors van ‘n vakansie!

Die ander goor vakansie was in Swakopmund toe frats-weer ‘n hele tien dae opklits. Ons ouers en my broers met beide se families kom al die pad van die Republiek af deurgery, en skielik reën dit in millimeters in Swakop. Daai plek kry maar gemiddeld 3mm reën per jaar en in twee dae kry die kus dorpie skielik 10mm!

 

Almal sak winkels toe vir iets warms om aan te trek want die seestorms se winde woed in die strate. Geen visvang kans nie, almal bibber en beef en sit soos nat hoenders in ‘n bondel. Die gemoedere loop hoog en almal is vies en byterig. Niemand kan sonbruin of raak-rugby op die strand speel nie. Die fênsie blink mouters uit die Republiek gly en sit vas in die sout-strate wat oornag in modder en snot verander het. ‘n Ongeluk met 4×4 duine motorfietse in die duine het ‘n duur hospitaal besoek op hande. Almal vra heeltyd wanneer sal die weer draai en tien dae later is die familie druipstert en mislik weer terug na die Republiek.

 

Jy kan nie by die huis vakansie hou nie. Na twintig-jaar moes my man volgens sy firma se personeel reëls op ‘n ‘sabatsbreuk’ gaan vir 12 weke.   Die kinders moes skooltoe gaan en ek moes werk, daarom het hy nie weggegaan nie. Op die 4de week het hy vir die eerste keer effe later geslaap. Hy het elke dag die kinders skooltoe geneem en koerant gelees in koffiewinkels. Meestal het hy lostakies op die dorp verrig vir my en sy ma. Na drie weke is sy verveeldheid op breekpunt en is hy terug werk toe, en hy ‘bank’ toe die verdere drie weke.

 

Vakansies hoef nie duur te wees nie. Net anders. As jy in die stad woon, gaan kuier in die Karoo op ‘n plaas. As jy op die Rigtersveld woon, gaan ry die Gautrein en gaan ysskaats.

 

Elke ander reisagentskap offer gedurig spesiale aanbiedings. Ek reken ‘n mens moet uitvind wat is die goedkoopste manier om die verste te reis. Reis na vreemde plekke, klim, klouter, skie, grou, swem, duik, snorkel, vang, fotografeer skryf en onthou, maar gaan. Dis brood soos vars gebakte brood vir jou siel.