Tag Archives: geboorte

Family tree

Sterftekennis en doeityd se doodsfeite…

‘n Wildvreemde skrywer pas my (met epos) die annerdag, in sy familieboom in, ek, met al my manne-familename. Daardie legkaartstukkie het my aan die boombou gekry. Natuurlik nie sommer ‘n plakboek ding nie, maar ‘n rêrige ernstige familiestamboom. Vannerselwe is dit onnodig om die wiel te herontwerp, so snuffel ek net op internet. Daar vind ek die mees fantastiese stroombelyne stamboom en herkoms programme en vul net gaaitjies in soos blokkieraaisels.

Internet is eerlikwaar die grootste uitvindsel van die eeu! In ‘n ommesientjie is daar meer as vierhonderd mense wat iewers inpas. Agter-klein-groot en diepste kleinneef en Oer-Oumas hang soos wafferse krismisversiersels aan die boom. Daar is ‘n ernstige swart lintstreep in die hoek wat aandui of ‘n persoon al blommietjies stoot. Min van onse ouers het epos, en van whatsapp weet hulle niks nie. Met baie gesoebat en langsamer, waar dit moontlik is, las ek fotos, trousertifikate, begrafnisbriewe en grafsteenfotos. Hierdie stamboomding sneeubal en voor ek my oë uitvee stofsuig dit al my leestyd op.

Sommige van die ouer garde van onse familie is heel opgewonde oor die nuwe familieprojek, en daar word ywerig bydraes en argiefmateriaal geoffer. Lanklaas se neefs word geskakel en fotos ward aangestuur. Nou moet ek bieg; dis soos langpad stap oor ‘n hardgebakte pad vol driedoringtjies. Almal is nie ewe ywerig om familiedinge tot op die been oop te vlek nie. Sommiges is uit die staanspoor vyandig en geheimsinnig en snoep met inligting. Feite bly feite; dit blyk dat doei tyd se jonges net so jeukerig was soos vandag se rooihakkie generasie. Daar is geboortes van sewe pond “wittebrood-babas” op ses en ‘n halwe maand, aangenome kinders en half broers en susters, ongehude moeders en troues onder die familie se familie.

Na die Engelse en Boere se bitter oorlog, het neefs en niggies soos nuwejaars klappers ondermekaar ingetrou. Die NG en Herformde Kerke se ou dokumente is volksbesit vir ‘n paar sente. Op die trousertifikate sien ek die eerste bruidspare is oorspronklik almal van dieselfde streek van so veertig kilometer radius. Jonge meisies van vyftienjaar is afgetrou met hardebaardmanne van agt-en-twintig, en elf of sestien kindergeboortes was aan die orde van die na-oorlog generasie. Susters van een familie het in ‘n streep met broers van ‘n ander familie getrou, en die driedubbel naamgee, lê berge vêr van die gegewe byname. Die daaropvolgende generasie se geboortes val merkwaardiglik tussen agt en elf kinders en die huweliksmaats se radius van oorkoms dy – heelwat wyer uit na tagtig kilometer. Ons Oupa en Ouma-generasie se geboorte getalle val drasties na vier tot ses geboortes. Vandag se generasie kindergeboortes eb en dy tussen twee en drie kinders, en huwelksmaats vind mekaar reeds in ander provinsies en kontinente.

Telkemale vind ek myself terugdink aan die onstandighede van toet se tyd. Daar was etlike stilgeboortes gevolg deur aannemings. Iets wat ek, deesdae, niks meer van hoor nie. Ek lees na van moedersterftes tydens kindergeboortes en sien dat wewenaars gereeld ‘n tweede en selfs derde vrou raakgetrou het en dan nog verder kinders gehad het. Vandag se dae is daar etlike egskeidings en dan woon mense eerder saam as om weer te waag trou.

‘n Sterftekennis was ‘n amptelike doodsertifikaat, en ek lees van ‘n ongetroude Oom wat op ses-en-sewentig in sy plaashuis op Stilwater oorle is. Tydens sy meëgaan was sy bloedbroer van die plaas Blinkwater, ook ongetroud, agt-en-sewentig jaar oud, in persoon- aan sy sterfbed. Deesdae sterf meer mense tydens moord, ongelukke en sieklik in hospitale, eerder as tuis. Nou hoekom het hulle nooit vrougevat nie? Dink jou in; die angs van die siekte, asma of dood, alleen in die plaashuis, twee ou broers; alleen. Vier van dieselfe familiebroers en twee susters is ongetroud oorlede, sonder testament, met groot plase. Voorwaar vreemd in daardie dae. Was hulle miskien net harstallig en gereken hulle sal nog baie jare voortleef of was prokureurs en testament te moeisaam en onbenullig? Twee van die vier susters is getroud, binne gemeenskap van goedere, lees ek verder op die sterftekennis, en al die plase en toerusting val tweeledig as erfdeel tussen die getroude susters.

Ou familiekwale loop dik en ‘n hele generasie dood aan ‘n soortgelyke string longkwale, ander weer aan kanker en ‘n ander generasie beswyk almal aan hulle hart. Laat my dink; al hierdie fiksheid gehollery; sal jou nooit vêr of vining genoeg verwyder van jou toekomsdood wat jou reeds toeka uitgelê is, in jou are en gene nie.

In die outyd (veertiger jare), het mense gereken ‘n hoë ouderdom is ag-en-tagtigjaar. Daai tyd is hulle dood “van ouderdom”, hart of lewerkwale. Daar ontdek hulle kanker (sewentiger jare), en verander ‘n hoë ouderdom na in-die-sewentigs. Toe dood hulle onder andere van suikersiekte en in hemelsnaam, moet tog net nie sê alkholisme nie, skryf eerder “nier stuipe”. Vandag se oumense haal net-net anner-sestig, ten spyte van die moderne medikasie en tegnologie. Hulle dood aan snaakse nuwighede soos hipertensie, stress, bloedklonte en moet tog net nie sê HIV nie, skryf eerder longontsteking.

Groot Ouma Poppie se begrafnisbrief aan haar man is met ‘n filtpen, in die mooiste eie-hand sierskrif neegepen. Tot so vyftien jaar terug, is als getik en dui alle begrafnisbriewe aan dat Dominee so-en-so, vanuit Kerk so-en-so begrafnis sal lei. Begrafnisbriefies is in motbolletjies weggebêre. Daarna weet ek nie heelteemal hoe dit is, dat die meeste begrafnisse vanuit Afbob of Rentmeester se “lyksskouings- of gedenklokale” besorg word nie. Deesdae word waar en wanneer iemand begrawe word op (face) bakiesboek of met whatsapp laat weet.

Doei se tyd is almal onder lang koeltebome op ‘n plaas begrawe met ‘n rusnaam soos Stilwater, Blaarritzel, Sielerus of Lentefleur. Vandag word grafte ten duurste; sommer jare vooruit, aangekoop en lê mense soos sardientjies op ‘n ry in die son met net ‘n pleknommerplaatjie. Huweliksmaats was eens saam-saam in ‘n graf begrawe en grafstene is opgerig met beide se name en die langslewende se datums is later aangebring. Deesdae kry eers ontslapende net ‘n nommertjie, ingeval die langslewende op ‘n heel anderdeel van die wêreld tot ‘n einde kom.

Nou besef ek, doodsdinge is slamerhangend aan die verander. Hoe meer ek verandering ervaar, hoe meer begeer ek als moet soos donkiejare gelede, dieselfde bly. Hierdie stamboomding hou my nou kiertsregop. Ek plan en skryf duidelik ‘n testament op; ek eis my lêplek onder langkoeltebome, op onse plaas; op Klipwerf. My troumaat moet saammet my in rus lê, en ‘n blinkkopklip moet langtyd my kinders ‘n plek wys waar om droewig en kalm te wees.

Advertisements
Sonder 'n stingel

Ek is ‘n belofte aan ‘n sterwende man

Hoe kan ‘n “sonder die stingel gebore” met mansname geseën word?

Sonder-'n-stingel

Sonder-‘n-stingel

Op my tyd het ek self al ‘n vroumens Pieter, Peet, Jake’s en Ossewania ontmoet.  Sekerlik het die oorlogtyd en konsentrasiekampe die oumense na uiterste naamgee gedryf.  Destyds, in die maerjare van die neëntien-sestigs op Standerton, het ek ook my aardige naam gedêps.

Ontbyt is waar al die famlie aangesit het en skaapvet op varsbrood smeer. Biltongskyfies sny bo-oor mieliepap …My Moeder was hoog-swanger met my – toe haar houtbeen-rooikop Pa so al sukkel-sukel om die ontbyttafel stap. Suikersiekte en hartkwale loop harstallig dik in onse familie.  Uit die bloute merk hy teenoor my Moeder op, dat híerdie kind wat sy dra- sý name moet kry. “Ja-Paaaa, ek belowe” was my Moeder se ongeêrgde antwoord.

Daai tyd, op die plaas, het niemand ‘n kind naam gegee totdat die geboorte oorleef is nie. Eers ses maande later is daar geplan aan doop – wat móés saamval met nagmaal. Enkele dae later is die houtbeen Vader so stilletjies in sy slaap oorle. Tussen al die hartseer kom ek as troos- al skreeuend twee of drie aande later – nes my oorle Oupa – bos krul rooi hare. My Moeder voel toe só skuldig dat sy “’n belofte gemaak het aan ‘n sterwende man”. Die grond nog vars bo-op die houtbeen-Vader; is ek op ‘n brose vyf dae oud gedoop as Diederick Daniël Janse van Rensburg. Daar was geen nagmaal nie, net ék met my rooi-Oupa se name en Ma se trouvan. Almal noem my Daniël, op skool het ek gou geleer om my min te skeel aan dié wat wou spot. Dit was uniek, vreemd en ‘n geselssie met elke nuwe ontmoeting. “Hoeveel ander Daniëls kên jy “sonder ‘n stingel?” Só het ek nooit eers oorweeg om ooit my naam te verander nie. Daar was vele verwarring en giggels deur die jare met mense wat dit tog te aardig vind. Die bankmense en binnelandesake ouens krap vandag nog hulle kop daaroor.

Afrikaners vind humor in ráák beskrywings en deel byname uit wat kleef vir áltyd. Noem my Karel, word “Meraai se Matewis kat” en voordat jy jou oë uitvee noem almal op die dorp jou Karelkat en later Matkat. In Suidwes ruil die Wambo’s die r en die l om. Só lees daar op die Id document Lasalus en nie Lazarus nie In die Richtersveld en Suide van Namibië gee die Nama’s ook hul kinders soms snaakse name. Ons hoor van Badprop, Tjotterjot, Keesbene, Koekhaar, Doringdraad, Vierietjie, Koeka, Draadkar, Poena, Nonnies, ‘n paar Colgates, Omo ens.

Suidwes se Basters van Rehboth maak laslap name. Shandré, Chess-Lynn, Rhozelda, Quéritha, Haybre Shernice, Lucresia om net ‘n paar te noem. Die reël is as jy dit nie kan spel of eerste keer uitspreek nie, vra wáárvandaan.

Snaakse Vanne gee duidelik ook probleme. Al gehoor van Mnre Nis wat hulle Van wou verander? 
Be-ampte by Binnelandse sake vra hoekom? Lees gou bietjie hier sê Mr. Nis, en dan sê jy vir ons hoekom níé, antwoord die broers en hou koeverte geadresseer aan hulle uit. Mnr. A. Nis en Mnr. P. Nis. Nóg snaakser is die skeeloog onderwyser met die Van Wijdkijk. Op skool was ‘n paar Hol-langse (níé Hollandse) vanne woes snaaks soos ene Snotgras, Buffelbout, Trantaal (níé Tarrentaal) Keteldas, Papenfoes, Drollapper, Fokkens, Mr Moerse, Mr Klinker en Mev. Trill. Probeer Koekemoer en Bezuidenhout verduidelik aan Engelse mense. (Choc –hen –mur en Bes-wiet-hen-hut.)

Byname dra jy trots tot jou dood toe. Kyk jy krieket of rugby dan ken jy nie Bernardus Lambertus en Willem Jacobus maar wel Dagga en Spinnekop Hulle sou nie droom om op hulle geboortename genoem te word nie. Daar was Viervoet (Liebenberg), Bok (Markram), Haas (van Zyl), Hakkies (Husselman), Duimpie (The-ron), Scholla (Scholtz), Makwas (van der Walt), Chappy (van Vliet), Slang (Roux), Stompie (Fourie), Kraai (van Niekerk), Kriek (Erasmus), Wommers (Brown), Muis (Viviers), Biltong (Grobbelaar) en Vlakhaas (Ross).Ek self het al van Piet-Piston, Daantjie-Dik, Gerrie-Vlerrie, Jannie-Blomoor, Arlie-Alsverniet, Charmaine-Wyn, Gert-Jakkals, Piet-Paashaas en Molla-Muis gehoor. Aan Spiekeries, Mannetjies, Piston, Waslap, Vleis, en Bakkies gaan ek nie eens karring nie.  Dit kan net te lank aangaan.

Die atlas wys my plekke het ook giggels in. Dorpsname, of plaasname, hoe klink: Vlermuisvlakte, Sonstraal, Houmoed, Granaatboskolk, Spoegrivier, Platbakkies – die gevolg van ‘n kroeg-geveg? Waarvandaan is Grootmis (naby Kleinsee) en die mooiste ene tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein.