Tag Archives: Google

Hel ja!

Hier op die klipvloer markplein in die middel van Helsinki; sit my Vrystaatman en ek in die oggend sonnetjie. Waar ons soos uile sit en rondkyk; is Finland so vreemd soos Lapland vir ons.

Rustig sit ons en slurp aan Salmvissop, groot stukke pienkvis in ‘n romerige sous met suurlemoen bedrup. Hemels! Ons drink lekker sterk koffie uit pikante koppies met houtlepeltjies. Almal is groen-bewus en ruim self agter hulleself op. Nêrens is ‘n rondlê papiertjie te bespeur nie. Dis hoogsomer dié kant net 6-grade, ‘n geniepsige wind wat pluk en die flou sonnetjie kry niks uitgerig nie, voel soos 2 grade!

 

Die Shengenvisastelsel in Windhoek is heeltemal mank. Die Duitse Ambasade hanteer die afsprake vir verskeie lande; en hulle wagperiode vir afsprake is gemiddeld 6 na 7-weke. ‘n Lys van dokumente is so lank soos my arm, absurd! Hulle maak geen voorsiening vir gereelde reisigers nie, en hap kortaf soos Dobermans dat almal in persoon moet aansoek doen. Verregaande, siende dat ons 4-ure weg woon in ‘n klein kusdorpie. Verder ly die Duitsers aan zero-vriendelikheid sindroom en laat die hele affêre laat Jan-alleman met ‘n frank na smaak.

 

Alternatiewelik bied die vrolike Finse Ambasade ‘n Schengenvisa, op voorwaarde dat ons as reisigers in een van die Baltiese lande sal tuisgaan. Siende dat nie ek of my Vrystaatman voorheen na Finland gereis het nie – gryp ons toe die geleentheid aan. Die ondervinding laat ons in verwondering en effe afgunstig van hoe gemaklik ‘n Europees se lewe is.

 

Ons grootste vrees was dat niemand ons sal verstaan met ons Namib Engels en swaar Suidelike aksente nie. Ha, iedere persoon het ons in duidelike Engels, kalm en vriendelik gehelp. Een van die eerste dinge wat ons onder die knie kry, is ‘hou regs’! Of jy deur ‘n ingang stap, roltrap ry, op die trein klouter, of op die sypaadjie stap, ‘hou regs’! Finne bied sommer aan om te help as hulle besef jy en Google-padkaart staan vir mekaar en staar. Finse-mense se taal is loshande die moeilikste Skandinawiese taal om aan te leer. Dit klink soos iemand wat in die kamer langsaan gesels, sonder om die letter ‘g’ te gebruik.

 

Ons ontdek die ontwerp konsep ‘wit op wit’. Sekerlik het 9-maande se wit winter sneeu heelwat te doen daarmee. In hulle vlag is die enigste ander kleur blou wat hulle fjords, mere, riviere en seë verteenwoordig. Die Finne is oor die kop geslaat met ontwerp en kuns. In elke hotel, stasie, restaurant, deurloop, brug, herberg en winkel is ‘n geraamde foto van ‘n ontwerper wat die ‘inspirasie’ vir die keuse vir kleur, styl en uitleg beskryf. Gegewe in elke Europese land is kuns en musiek in een of ander vorm op elke hoek en draai. Duidelik het die Russe se 109-jaar se inval ‘n impak op die boustyl gehad. Lelike rooi baksteen geboue lyk soos puisies tussen die minimalistiese lyne en art deco glas, marmer en porselein geboue.

 

Finland is deur die Swede, Duitsers en Russe regeer totdat hulle vuisvoos; heel diplomaties in 1917 as demokratiese land verklaar is. In 2002 word Finland deel van die Europese Unie, maar is trots om nie deel te wees van NATO nie. Ons soektog na Vikings het niks opgelewer nie. Die Finne was baie moeilik om teen oorlog te voer omdat hulle afgeleë en wyd verspreid was. Die enkele kere wat die Vikings hulle wel aangeval het, het hulle die moerasboere ‘te wreed’ en armsalig gevind!

 

Onse eerste besoek aan ‘n Skandinawiese land blaas alle voor opgestelde idees uit die water uit. Finne is bekend as ‘stil’ mense. Hulle fluister of praat gedemp op treine, trems en busse. Hel ja, Helsinki is beslis ‘n GROOT geheim wat ontdek moet word. Met die eerste oogopval is die mense pragtig, met hulle romerige gelaat en ligte lang hare. Modieuse jongmense in jogaspanbroeke en leerbaadjies is besig oppad iewers heen, menigte op fietse of skaatsplanke.  Beleefd word deure oopgehou vir ouer mense en vrouens, hulle knik ‘n vriendelike groet as mens oogkontak maak, en lyk vrolik. Dis opmerklik dat dit meestal toeriste is wat na fone se skerms staar. In restaurante gesels hulle vrolik onder mekaar, en eet wilde bosvark, rendier, takbok of salm. Ons eet waar die Finne eet. Ander toeriste sit in vegetariese straat kafees en slurp sjampanje. My Vrystaatman glimlag besadig net aan die gedagte dat hierdie Finne so onbeskaamd vrek oor vleis.

 

Helsinki se naam doen die plek ‘n onreg aan. Dink daaraan, die eerste deel is hel en die tweede deel is sink. Alles wat ek beleef is dramaties. Die naaste aan die hel gedeelte is beslis die aantrekkamers van die publieke sauna, en die sink gedeelte is die malkop Finne wat sauna en dan in die see spring om af te koel. Heel gek, hel ja, ons het net een week in hierdie paradys!

 

 

 

 

** Nie al die Fotos is deur my geneem nie – van hulle is vanaf die internet afgelaai

 

Advertisements

Hand na tand

Natuurlik is daar hope plekke waar mens kan uiteet in Akkra, ‘n reuse verskeidenheid van Nasionaliteite en pryse en als kom neer op hoe vêr mens wil rondrits as jou lus uithang vir aartappel-visballetjies. Met tannie Google byderhand is daar ‘n makliker opsie: vind die resep en oorreed my Vrystaatman hy is ongelooflik sexy in die kombuis. My oorle skoonmoeder het wraggies beide haar seuns handigheid in die kombuis geleer. Iets waarvoor ek haar lewenslank innig dankbaar sal wees. Haar Vrystaatseuns staan g’n treë terug vir ‘n properste kombuis uitdaging nie.

 

Ek is geen bobaas kok nie – maar ek weet hoe om myself met diegene te omring wat ken van bontstaan in die kombuis. Een kyk na my ronde vorm, weet jy sommer ek ken wel van lekker eet. Met hoërskool huishoudkunde en my Ouma se ure se geduld, kán ek gangbare etes opdis en bak wanneer familie kom kuier maar my kobuiskaskenades is beslis uitlewing van verwagting en nie ‘n hartsaak nie.

 

Terug by die aartappel-visballetjies; ek duik in die groenterak rond tussen uie wat weer begin groei het en aartappels met witooguitgroeisels. “Pas gekoop en reeds oud”, sê ek. Maar niks bring my van stryk af nie – ek snipper die skille weg en gee aan sodat als in die resep verwerk kan word. Haal wit seevis uit die vrieskas sodat die vis nuwe lewe kry en rondwip in die pan terwyl dit gaar stoom in melk en botter.

 

Rooiwynglas in die hand, en resep wat vorm aanneem, staan ons en herkou aan die gedagte van Ghanese vrouens wat aartappels en mielies plant word ook Boere genoem? In ‘n olie en goud verrykte land word 50% van hierdie Ghanese ekonomie deur substansie boere aan die gang gehou. Net 5% van al die landbou word kommersieel benut, die res is ‘n hartseer sukkel bestaan vir oorlewing en ‘n vloekskoot as hulle iets kan verkoop wat inkomste genererend is. Menigtal vrouens wat een tot twee akker bewerk, hoop om ten minste 5 sakke per akker, as oes te lewer.

 

Ek steek mos my neus in almal se sake en knoop geselsies aan met vreemdes wat oor my pad kom. Dit is so dat elke tweede persoon buite die groot stede soos Akkra, Kumasie en Tamale, is ‘n bestaansboer.

Screen Shot 2018-03-17 at 16.44.51Deur die bank is almal van hulle iewers met ‘n radiotjie laatmiddag in die sonnetjie besig om aandagtig te luister na Farm Radio, ‘n Internasionale radioprogram wat in lokale tale, jou als leer oor boerdery. Adjoa Kumoa is ‘n so lokale boerin wat na Agro Forum se lokale radioprogram luister. Adjoa vertel sy het aanvanklik ‘sommer orals geplant’, maar dat sy nou in rye plant , minder sade in die grond druk en meer mielies kan oes nadat sy bemesting begin gebruik het. Hierdie jaar het sy dubbel die oes vanuit een akker waar sy voorheen drie akker bewerk het. Sy lag en trek met growwe vinger so swiep-swiep op haar slimfoon; wys haar plaasfotos. Trots staan sy tussen skouerhoogte mielies – en hou een reuse kokoavrug omhoog. Screen Shot 2018-03-17 at 15.40.21Sy het haar foon gekoop met verlede jaar se oes, hospitaalkostes gedek en stuur twee van haar drie kinders skooltoe.

 

Op ons Akkra woonstelstoep het ek ‘n paar pampoenpitte en tamatiepitte in ‘n potplant gedruk. Binne enkele dae het ek behoorlik die reëndans uitgevoer toe ek die groen tweeblaar nekkies deur die potgrond sien druk. Trots het ek fotos geneem en gedroom van my stoep oes en hoe die pampoen en tamaties sou smaak.

Screen Shot 2018-03-17 at 17.22.32Enkele dae later het die pampoen wild en wakker blare gevorm en die rankertjies het orals aan die balkon prieël vasgeklou. Die tamatieplant se blare het in die son geskroei en die plant is na die skadukant geskuif toe die geel blommetjies bod. Ek het sekerlik honderde fotos geneem, en kon nie glo teen watter tempo die plante woeker nie.

Vaderland, wat ‘n terleurstelling toe ek na net een naweek van braai en kuier nie my stoepboerdery onder oë gehad het nie!

 

Een reuse springkaan het homself verlustig in my pampoene, sy makker genooi en die hele karnaval het verwoesting gesaai – en binne drie dae het die pampoenplant swart verkleur en begin vrek.

Screen Shot 2018-03-17 at 17.24.24

Nodeloos om te noem, vermoed ek my Pa se groen vingers is saammet hom graf toe en ek het niks van sy groenigheid geeërf nie. Daar is twee treurige albaster grootte tamaties wat reeds geel verkleur het, en ek oorweeg om die plant uit te pluk as vorm van genade dood.

 

Deesdae probeer ek eerder vars groente en vrugte vanaf straatsmouse en stalletjies aankoop, en sodanig die middelman uitsny. Ek het ‘n heilige respek vir enige boer wat ‘n oes kan lewer, en meesterlike waardering vir sexy kokke wat aartappel-visbolletjies kan optower.

 

** Fotos is vanaf Internet afgelaai

Gaaie In die bome

‘n Handvol krummels en bekvol fluit…

Ons is vars terug van ‘n twee weke besoek in Namibië. In my hart voel ek weer rustig want terwyl ek weg was, het ek tog my Ghana huisie gemis. Natuurlik sal ek nie waag om so iets aan iemand te noem nie. Hulle dink reeds my bont varkie is nie meer op hok nie. Almal het maar hulle week se roetine. Myne sluit in koffiedrink op die stoep en fluit vir die pappegaaie. Hulle fluit terug vir my…rêrig!

Ligdag is net na vyf in die oggend. Slaap is my nie meer beskore nie, want ‘n swart voël tik met sy geelbek aan my venster. Dis nie omdat hy sy weerkaatsing bewonder nie – hy’s lekkerbekkig! Vroegoggend vroetel ek in die kombuis vir ‘n ‘n handvol krummels, voëlsaad en pap vrugte. Met my bedkop, pienk japon en tossel pantoffels sluip ek koffie in die een hand na die stoep. Voor my stoep is die ‘peanut gallery’ reeds besig om op en af te stap en wip van ongeduld. Twee dik duiwe, ‘n paar windgat mossies, en verbouereërde vinkies hop rond in agwagting vir hulle buffet. Ek wonder of hulle elke dag gewag toe ek landuit was? Dis die eerste oggend terug en hulle wag my in – stuur hulle ‘n bosboodskap vir mekaar “hoop-hoop sy’s terug?” Hoe weet daai swartvoëltjie waars my slaapkamer venster?

Die pappegaaie kry hierdie week se vrugte wat aan die afgaan is. Hulle is neus optrekkerig, want hier is honderde mangobome watse takke swaar dra onder hulle vruglading. Drie jaar reeds bekyk ons met verwondering die African Grey rooistert wilde pappegaaie wat broei in die dak. Google sê hulle vrek wanneer hulle advokado’s eet en kan tussen sestig en tagtig jaar oud word. Daars reeds agt pare gaaie wat konstant om ons draai en ons koggel. Wanneer ons in die swembad is, fluit hulle hoog vanaf die dak en vlieg lae draaie oor ons koppe wanneer ons nie genoeg na hulle sin deelneem aan die gefluitey nie. Hulle herken jou op ‘n lang afstand en skree opgewonde as jy uistap na jou mouter toe. Dan rol jy maar die venster af, en ruil ‘n paar fluite deur die venster voor jy wegtrek. Dis maklik om tred te hou want hulle bly bymekaarkom in ‘n groep. Onder hulle is ene wat definitief uit ‘n Suid Afrikaner se huis ontvlug het- want hy fluit Jan Pierrewiet en vloek soos ‘n matroos. Hulle en daardie groen Love Bird-gaaie is inheemse spesies hierlangs.

In slak-verkeer kom swaai straathandelaars verskrikte African Greys in piep klein draadhokkies voor jou mouter se vensters. Dit verg wil van staal om nie als te wil opkoop en vrylaat nie, maar soms is hulle so jonk dat hulle pas eerste vere wys.

Blerrie Voeltjie Mafia

Blerrie Voeltjie Mafia

Baie expats koop wel die pappegaai-kinners, sonder om te besef: ‘n lang verhouding is hulle nie beskore nie. Cameroons –die soort donker grys, rooi stert Wes-Afrika se pappegaaie is beskerm onder die CITES wetgewing wat bepaal dat hulle onder geen omstandighde oor landgrense verhandel of mag reis nie.

Hier naby woon ‘n Indiese vrou, sy “tsk-tsk” hoorbaar – elke keer wanneer ek voëls voer. Dis nie asof ek al ‘n verhongerde duif hierlangs sien nie, en daars zero risiko dat hulle my vinger gaan afbyt. Miskien weet sy dat dit wat opgaan, moet afkom, en pla die spatsels op haar stoep haar?

Dit wat opgaan moet afkom

Dit wat opgaan moet afkom

Ek het ‘n spelerige geel streepkat sonder voëlvang talent. Sy boer op my stoep en die voëltjies so op haar voorstoep verskaf ure se vermaaklikheid. Die bonus is daars geen voëlmis spatsels op mý stoep nie.

Kattie in voëlvang 'mode'

Kattie in voëlvang ‘mode’