Tag Archives: Heuning

Pannekoek vanaf Tsumeb…

 

 

Net hier neffens die Akwarium staan ‘n wit karavaantjie, Tsumeb-registrasie, soos ‘n tor wat bak in die sonnetjie. Warm pannekoek, kaneel en heuning hang dik in die seelug om ons. Dit ruik hemels, soos Kerkbasaar, maar strand langs.

Pannekoek uit Tsumem2

Hy is handig, vat hier los daar. Sy hanne ken die elke sentimeter van die binnekant van sy karavaan. Daar’s ‘n kalmte om die man – ‘n rustigheid in sy ritme.

“Tsjisk – tsjisk – tsjisk”, strooi hy kaneelsuiker, en vou dit toe in ‘n papierbordjie.

 

Ek vrek van nuuskierigheid, waar pas die Tsumebboer se wit karavaantjie hier langs die Akwarium op Swakop in?

 

“Veertig jaar lank het ek in Tsumeb doodgebrand” sê die man. Ek kyk waar hy bedrewe staan en twee pannekoekpanne flip.

 

Mens ken nie jou paadjie nie, maar hy’s vir jou uitgelê met ‘n lang slimplan.

 

Hy onthou nie wat het hom besiel nie? Hoe op dees aarde het hy daai hartseer karavaantjie onder ‘n doringboom raakgesien? Die dak het ingegee onder ‘n swaar afgebreekte tak; die reën en droogte het die karavaantjie se paneelwerk en verf verniel en afgetrek. Een duisend Namibiese dollar later, sleep hy die vaal dingetjie na sy werf toe. Hy droom van ‘n tydsame restorasie, miskien kan hy en Mammie eendag met die ding gaan uitkamp langs die koele water van die Okavango; en net miskien kan hulle Tsumeb se son ontvlug.

 

Oubaas daarbo het ‘n ander plan.

 

As die dood gulsig kom wegraap, klop armoede aan die weduwee se deur. Oornag sit sy vriend se weduwee sonder inkomste, en daar’s honger kinners wat nog moet skool. Die gedagte word soos saadpit hier in hom geplant. Die kalf is in die put; wit karavaantjie moet die weduwee se lewensbehoud word.

Laat nag plan hy, lig-dag meet hy. Restourasie loop volspoed. Dertig meter se aluminium plaat word by die sjinese wat sinkplaat buig, oorgekoop en ‘n nuwe boogvorm dak laat die karavaantjie se toekoms hoop gee. ‘n Kosstalletjie word beplan – Mammie help met die kombuis-ding se plan. Gasoond, yskas, ysie-masjien, warm pan vir hamburgers, paneelkassie vir voorraad en servette word ingebou.

 

Mens voel iemand slaat jou wind uit – Tsumeb se stadsraad weier sowaar ‘n smousliksensie! Tsumeb se stadsraad se fynskrif verklaar niemand mag blykbaar smous vanuit ‘n ding op wiele nie. Nou hoe nou gemaak? Weduwee word nou genoop on soos ‘n wafferse skelm haar brood te verdien. Die wit koswaentjie word van bakboord na stuurboord gesleep al oor Tsumeb. Maar die stadsraad en polisie verjaag haar telkens en dreig met ernstige boetes.

 

Sien jy, Oubaas daarbo, se hand?   Daai Kosstalletjie was toe ook nie vir die weduwee geplan nie. Noodweer druk, so vind weduwee haarself met een fantastiese badkamer opknapper’s oog. Soveel so; dat Tsumeb se mense haar kospotte volhou met aanvraag vir mooi badkamers, en sy die kinders geskool kry.

 

Tsumeb se boer, het ses maande gelede die wit karavaantjie na Swakop se koeler seelug getrek.

Swakop se koelseelug

Langs die see waar jy die golwe hoor breek, waar die seemeeue hang in die wind en hulle skree soos musiek klink. Swakop se munisipaliteit het niks drama met smousliksensie vir ‘n koswaentjie op wiele nie. Hulle verstaan van toeriste wat lus vir roomys en pannekoek, en voorsien selfs kragpunte waar jy jou yskasgoete kan inprop.

 

Besigheid loop mooi. Dis toeriste seisoen en mens moet skep. Tuis is ‘n hoenderbraaier wat veertig heel hoenders goudbruin toor, en Mammie bring vooraf gebraaide hoenders en ‘n grootemmer met nuwe pannekoekdeegmengsel.

 

Elke dan en wan kry die Tsumebboer ‘n asemskep kansie, dan sit hy in die koelte van die seildakkie in sy seilstoel. Bene uitgeskop, gesig in die seewind, en luister hy die seemeeue se skree.

 

Wie sou ooit die Grootbaas se lang plan kon raak raai? Na veertig jaar beland ‘n verbrande Tsumeb-boer, in die land van Kanaän. Hier in Swakopmund se seelugweer, voer hy ons met melk en heuning; pannekoek uit Tsumeb se vaal karavaantjie.

Tsumeb se pannekoek

Advertisements
Byeneste in die bome

Oumense se slegte oë…

Hier in ons huis se nok, bondel ‘n swerm bye en trek in.  Hulle is hoog op en pla niemand nie.  Ek sit vir ure en kyk na al die bedrywigheid.  Laatmiddag sien ek klomp dooie bye op die grond lê onder die nok waar hulle nog bondel.  Snaakse swartlyf bytjies, sonder daardie bekende dik geelgatte.

Duskant Warmbad, op ‘n plaashuis naby ‘n Bloekombos het ek kleintyd geleer van heuningkoeke, kleilat gooi, Lister enjins, perde en anner plaasdinge.  Mens kop mos eers jare later, almal weet nie van miskoeke en warmwaterdonkies nie, ken nie broodknie nie, en weet nie hoe om botter te karring of om heuning uit byewakskoeke te kry nie.

Ons was op Warmbad op skool en die skoolbus het ons laatmiddae kom aflaai langs die stofpad. Dan het ons die laaste vier kilometer huistoe gestap.  Tussen die busstop en plaashuis was daar net te veel dinge wat jou aandag afgelei het van huistoestap en huiswerk gaan doen.

Daar was die stroom langs die pad, vinkneste in die riete en rooiklei vir kleilatgooi. Ouboet Nico het die beste latte kon sny en my vroegtyd geleer nét waar om die klei op die lat vas te knyp, hoe vêr terug te swaai en oor die bô-skouer te gooi.  My Ma en het ons gatte geslaat oor die was-aunties wat droogklere op die rotse moes oorwas.  Miena het ‘n hele blok wasseep weggeskrop aan die witskoolhemde se kleilatstrepe en ons het later sommer so in onderbroeke en panties gespeel vir veiligheid.  Ouboet Nico het gesê oumense is jaloers oor speel want hulle het jig in die lyf, hulle mik was uit; met slegte oë kan jy nooit meer kleilat gooi nie. Daar was niks fout met Ouboet Nico se oë nie, hy het al die byeneste in die Bloekoms raakgekyk oppad huistoe.

My Pa het als geweet van bye se neste en die uithaal van hulle heuning.  Met die Bloekombos, grondbone en tamaties op die lande, was daar geen tekort aan bye nie.  Eintlik mog ek kamtig nie saam nie; allergies vir bysteke en dies meer- so heuningoes was vir ouboet Nico beskore. Kleinboet Pietie-piet was pieperig en donker-bang, en hy het gou geklik oor die bysteekding by Ma.  As ek wakkeroog was kon ek reeds voormiddag al die tekens gelees het van ‘n heuningoes van my Pa en ouboet.

Eers is Prins my Pa sy ryperd met die langryteuls gespan, en kalmpies geroskam sonder dat hy terug gesit is op stal.   Miena het bly hoes en kug totdat Wilhelm die uitgooi parrafien by die kombuis se halfdeur kom kry het.  Dan het Wilhellm die parrafien rokers opgevul, wind-af en doer onder die eerste Bloekoms waar Ma hom nie sal raakkyk nie.  Die melkemmer van na-middag is effens naby Prins geplaas en Miena het ou melkdoeke in Prins se saalsakke kom bêre.

Na aandete het my Pa vir ouboet herinner dat Prins nog nie opstal gebêre is nie.  As ouboet Nico dan wegbly gaan kyk Pa so ewe onskuldig waar bly Nico-kind dan. Skielik verskyn Wilhelm en dan bly hulle net weg. As jy fyn luister, kon jy hoor hulle ly die perde oor die werf, en klim op by die hek.  ‘n Uur of wat later staan hulle vol taaisel met rooi-rook oë, groot selfvoldaan op die stoep, melkemmer vol drupheuningkoeke toegedraai in melkdoeke.

Natuurlik is warm heuningkoeke lekkerder wanneer dit laatnag tussen rookwalms uitgehaal word. Lekkerder as dit op die asyngat-buurman se grond is, en beste as hy nooit uitvind nie.  Maar die taaisel om die emmer se rante plak aan als vas, en as jou Ma uitvind jy het die melkemmer gebruik vir iets anders as melk, Boeta, dan skaats jy op dun ys.  Laatmiddag hol ons woeps waps huistoe om die heuning uit te draai. Ons het so houtemmer ding gehad met ‘n draadgleuf waar jy die heuningkoek inpas, met so draai-arm karring jy dan sirkels en die heuning waai in die draaislag teen die emmer se kante en drup na die onderkant.  My Ma het die byewaks vir kersmaak gebruik en een jaar ‘n fênsie batik gemaak met orige byewaks.  Die heuning is gebottel en uitgedeel. Wintertyd het my Ma hoesstroop van die heuning gekook en my Pa het lepelsvol in die koffie ingeroer.

Ek weet nie waar en hoe hy sulke slimmighede bekom het nie, want in onse kleintyd was daar nie Google nie, en hy het niks van Engelse ensiklopidië gehou nie.  Hy het van baie ander goete ook als geweet soos waarheen die stroom in die Bloekombos vloei. Van watterkant die reën gaan uitsak en wanneer die swaar donker stromwolke deur die Ooswind weggewaai sou word. Toe die tamatieoes weg hael het my Pa in Pretoria gaan moueters verkoop en net naweke huistoe gekom.

Oeh die opgewondengeit en lang wag vir my Pa om huistoe te kom en stories te vertel van die groot Stad onthou ek soos gister.  Daar was sommer baie goeters wat oor naweke ingepas moes word en die heuning uithaal was maklike geldjie in die sak.  As jy heeldag karring aan daai listermasjien wat iewers windsluk, is heuning uithaal ‘n defnitiewe beloningtjie.

My ouboet Nico werk heelweek in Kroonstad en pendel elke naweek na sy bosveld huisie in Pretoria.  Hy karring heeldag aan geelgrondverskuiwings masjiene.  Ek gun hom ‘n beloningtjie.

Ek wonder of hy nog goeie oë het, ek wonder of sy kleilat mik nog ín is,  en ek wonder of ouboet Nico byeneste oppad huistoe raakkyk.