Tag Archives: hoender

Houdini die Hoender

 

Klara lyk nie vanoggend baie vars met kringe om die oë en skouers wat effe verlep hang.  Ek vra versigtig uit oor die kind, hy’s gelukkig by die skool maar Houdini het weer sy aller beste gelewer.  Haar sewejarige is eers ná Aspoestertjietyd bed toe want die Houdini-hoender het in ‘n geut opgekruip, kop eerste, en verdrietig gelê en piep.  Al wat jy kon sien uitsteek was sy twee pienk pootjies en nat klossie verebondel.  Die geut is losgewikkel, geskud en gekap maar die piep geluide het na varkslag geskrou verhoog en moes gestaak word ter wille van die bure.  Haar kind wou nie bed toe totdat die vervlakste hoender gered is nie.  Jackson die Ghanese tuinier se besemstok poging het die nat vere bondel dieper laat verdwyn, maar die buurman se advies het die koek gevat. Hy reken druk die geut plat, dan kan hy in stilte verder slaap en môre eet almal geroosterde hoender!  Klara se man het einde laas op die dak geklouter, wou ‘n emmer water in die geut gooi en die hoender uitspoel, maar toe gee die geut meë. Klara was heelnag by die kliniek, haar man se gips om die enkel sal in ses weke moontlik verwyder word.

Sien Klara se hoender moleste het so paar maande terug begin.  Klara is oorspronkik vanaf London, sy besluit toe in Afrika moet jy ‘n paar hoenders kry as troeteldiere.  Waar sy vandaan kom is daar soveel wetgewings wat jou verhoed om hoenders aan te hou in ‘n stedelike gebied, dat sy nooit weer die kans sal kry nie.

Na ure se navorsing op ‘Pinterest’ besluit sy om eers ‘n hoenderhok te laat bou.   Sy het besluit op kwaliteit hout  – dit reën immers heeltyd en hout vrot sommer in een seisoen.  Na drie weke se hokbou gaan betaal sy en neem dit agt manne wat sukkel om daardie hok op ‘n bakkie te laai.  Ek het die fotos van haar ‘koep’ gesien; sit ‘n sinkdak op en ‘n jong Ghanese familie kan gemaklik daarin gaan woon!

Die drywer is die taak opgelê om twee troetel hoenders padlangs te gaan koop.  Binne die bestek van ‘n uur was hy terug met twee geveerde jong hoenders so ewe in ‘n plastiek inkopiesak- met die twee hoenderkoppies wat uitsteek!  Die swart hoender is Emily genoem en die een met ‘n blerts vaal in die kuif is Rosy gedoop.

Moenie die kuiken ‘n naam gee nie, anders sal hy nooit op jou bord beland nie!  Dit is loshande die beste hoender-advies wat ek nog ooit ontvang het. Maar hierdie was immers tiemand anders se roetel kuikens…

Die eerste was ook die laaste aand wat daardie twee kuikens naby daardie hok geslaap het.  Emily het opgegroei en ‘n astrante haan geword en moes weggegee word vanweë al daardie gekraaiery.  Rosy is ‘n kat in ‘n hoenderlyf; dié is intussen hernoem as Houdini want daardie hoendertjie is blitsvinnig en hol al om daai koep maar weier om binne-in te gaan.  Houdini slaap sommer in bome en in geute en as dit koel is buite, sommer bo-op die mouter se warm enjinkap. Houdini eet nie gekoopte hoenderkos nie, maar verkies om vlieë oor die agterstoep rond te jaag met so lang uitgestrekte nek, en skrop bedrewe nuwe saailinge uit die beddings.

Die hoender kolonie is intussen aangevul, met Henny-Penny so lekker vet hen wat elke dan en wan almal verras en ‘n enkele eier lê.  ‘n Nuwe geel hoender is weer Emily vernoem en  Emily-hoender is heimlik jaloers op Henny-Penny se eierlê vernuf. Sy boelie haar deur haar veerkop bles te pik elke kans wat sy kry.

Klara drink graag tee in die laat middag se sonnetjie op die agterstoep in hoor afstand waar haar seun binne-in die koep sit tussen sy hoenderkolonie.  Die nuwe Emily hoender hou hy kalm op sy skoot, en Henny-Penny oefen nog aan die eierlê ding.  Houdini inspekteer die swembad se wateruitlaatgat.  Daar’s vanmiddag vrede op die werf en haar seun begeer geen ander dier as sy Afrika hoenderkolonie nie.  Sy verluister haar terwyl haar seun sy hoenders maan om nie in geute op te kruip nie, en nooit ooit per ongeluk oor die buurman se heining te vlieg nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Oop-oog en spoegbek

Tradisie is iets wat soveel jonngelinge deesdae vanaf wegskroom. Hulle is net te besig om  uit te staan en koelgat voor te kom.  Miskien het al daardie vakansietye by my Ouma my anders gesnaar.   Ons het elke oggend elf-uur deur Warmbad se strate gestap en Ouma het van winkel na winkel gestap. Dan het sy geselsies aangeknoop en teegedrink by almal. As kind het tyd dan gaan stilstaan.  Kalm en gedweë het ek net myself iewers op ‘n trappie tuisgemaak en die wêreld bekyk.  Dit was die tyd waarin kinders gesien en nie gehoor was nie. Vandag – snoep ek gereeld fotos van oumense op straat wat handevashou, oefen of elegant aantrek of saamkuier.

In Akkra het die Suid-Afrikaanse Dames ‘n baie spesiale tradisie wat reeds vir ses jaar die rondte doen. Jaarliks haal die tannies van hulle fyn breekgoedjies en fynste linne tussen die motbolletjies uit en poets die silver tee-vurkies blink.  Die eerste week in Oktober is dit weer tyd vir die jaarlikse  SA Dames Hoog Tee.  Dis nie sommer só tee nie, daar word tema’s uitgedink, opgedollie, kaartjies verkoop en die klomp expat vrouens val oor hulle voete om kaartjies te bekom.

Hilda het vir 5 jaar, met skooljuffrou se presisie die spulletjie seepglad behartig, maar hulle het nou gaan aftreë en sit iewers op ‘n skadu stoep in Paarl. Mense, my senuwees is nerf-af want hierdie jaar is dit ek in die oliepot want ekke, slaat my hand aan die reëlings.  Hilda het die merk aan die kerfstok hoog gekap – ons sal moet fyntrap om kersvas te hou.

Ons 130 kaartjies is binne vier dae uitverkoop.  Die teetafels is beperk tot die grootte van die saal en beskikbare parkeerplek.  Hierdie jaar se gasvrouens het elk nege gaste aan ‘n tafel.  Haar tafel sal iets uniek-Suid-Afrikaans aan die Internationale expat-dames voorstel, en as bonus moet sy ‘n taal element iewers op ‘n manier inweef.  Ons gaste moet elk één Suid-Afrikaanse nuwe woord aanleer, hoe gering ookal.

As jy nou ‘n oggend van oop-oog en spoegbek wil beleef, dan moes jy lank reeds ‘n kaartjie bekom het.  Dink jou in, tema’s soos Sjebeen, Labôla, Kaaps Maleis, ens. gaan as Suid-Afrikaans voorgestel word.  Blikbekers, biltong, krale, mampoer, skonsie en kerrievis en ‘bunny-chows’ is alles iewers op ‘n belaaide tee-tafel.  As bonus gaan die SA-gasvrouens ‘n tradisionele “gum-boot” dans uitskoffel – hulle is almal hard aan die oefen.

My 2016-tema is “Chicken Republic” – eintlik steek ek so effe draak met SA se goeverment, maar dis omdat ek reken ons is almal hoenderkop oor ons geveerde tjommies. As Ouma en die kleintjies nie die slopemmer uitgooi en hulle voer nie, lê die hoender bruingebak Sondag op die tafel, en tand ons hulle.  Dink Nando’s, Chicken Lickein, Rainbow Chicken, KFC, The Rooster, ens.  Kyk, mens moet jou nou nie doodwerk nie.  Die eetgoete moet natuurlik ook inpas by my hoender-tema. Ek bedien klein byt-grootte kerrie vetkoekies,   mieliekoekies, bruin gebraaide hoendervlerkies en boudjies en delikate hoender handpasteitjies.

Op die oomblik reis ek en my Vrystaat-man in Viëtnam. Geduldig stap ons deur Hanoi se strate en snuffel na interessante goete.  Viëtnamese mense eet die heeldag – sekerlik sal Oom Noakes reken dis hoekom hier nie oorgewig mense te vinde is nie.  Wanneer hulle nie eet nie, drink hulle erge suiker-soet tee en koffie.  Tee-winkeltjies is ingeryg soos pêrels, maar mens sit op baksteenhoogte houtstoeltjies met knieëknoppe wat stamp aan mekaar.

Die mense se koffie-lus verbaas my.  Dink jou in “Weasel”-koffie is ‘n koffieboon wat eers deur ‘n soort wasbeertjie se dermsysteem getoer het – vir smaak, en dan word die derm-‘verwerkte’ bone gerooster en ten duurste in piepklein porselynkoppies opgeslurp.  Die tweede groot gunsteling is eier-koffie en waar die mees oorspronklikste resep is – is konstante debat onder die Viëtnamese.

Gister het ek ‘n pragtige opgestopte hoender raakgeloop toe ons ‘n sy-weef gehuggie gaan beleef het.  Ek moes daar en dan die bont ding myne maak – amper handhandig geraak met die winkelier want hierlangs is Engels onverstaanbaar. Pluk my humeurtjie op soos ‘n wafferse kapokhaantjie, druk ‘n geldnoot in haar nat handpalm en stap kordaat weg met stywe beentjies.

IMG_1569.JPG

My rooi-veer-stoffer – perfek vir my tafel se middel vesiering…

Die onderhandeling het my man effe broos gelaat, (geswaai van handgebare) nou het ons eers hier in ‘n koffiewinkeltjie lokale Hanoí-biere kom opslurp.  Hy lyk nou weer effe begeesterd so voorwaarts…