Volgens Toeka-tokkel 3 skryf ons oor Eerste Soen
Hier in Ghana is almal gretig om hande vas te hou, jong meisies en jong manne sommer so vriendskap ding. Jammer maar ekke val nie oor my voete om soos in Rome te maak soos die Romeïne nie. Maar publieke gevryery is defnitief taboe.
Wie onthou nie hulle eerste soen nie? Alles daarvan, die vlinders in die maag, die spoegstreep oor die wang, die doem-doem in jou borskas en die krul van jou kleintoontjies.
Dankie tog ek hoef nie neuse te vryf of voorkoppe vas te druk nie.
Op sy tyd en plek kan die endorfiene van ‘n soen my knieë laat wankel. Party het ‘n voorkeur vir snor-soene, ander vrek vir die krap vir ‘n baard, of die meegaande hand in die nek – wat ookal, dit bly lekker!
As my soene toets-lopies moes wees vir werksonderhoude, was ek lewenslank werkloos! (My man het ‘n heel ander opinie hieroor )
Ek is definitief iemand wat die volks-soengroet soos hondemis op die sypaadjie vermy. Miskien het ek net ‘n groter persoonlike sirkel om my, maar aanraking deur vreemdes laat my fisies gril … hoendervleis oor my hele lyf. Smaak my ‘n nat slang glip oor my pênsvelle.
Almal het iewers ‘n grillerige familielid wat drie treë se aanloop reeds lippe aflek, jy steek jou hand uit vir ‘n langafstand groet; dan gryp hulle die hand en pluk jou nader en seekat oor jou gesig. Yuck…yuck sies, ga, pure vampier.
Op skool was daar die vaal skooljuffrou; eendag in die weerkaatsing van die klaskamervenster sit sy lipstiffie aan voordat sy ons klaskamer instap – skielik kon jy nie anders as om te wonder hoe soen daai lippe nie.
Oe-oe en daar’s die kerktannies wat sulke stywelippie droog-soene soos vlindervlerkies pik op die lippe. “Hulle sluk jou blykbaar heel in as die lig afgaan”, het Jaco Wesstraat op skool altyd gesê!
Intussen het ek die kuns aangeleer om blitsvinnig die wang te draai en gou sommer reguit te sê – askuus, “ek is nie die soenerige- en druk-soort nie”. Meeste mense is so oordentlik oorbluf hulle vra onverskoning maar dit steek iewers vas in die brein. Ek is ‘n groot aanhanger van die ‘in-die-lug-verby-blaas-groet-soentjies’.
Onder my aller gunsteling soene, tel my kinders se taai en slaperige soene wat ek koester as goo-goo-gah-gah herinneringe. Hoog op my lys is my honde se natneus-soene vroeg oggend, sodat ek kan opstaan en met hulle gaan stap. Tog is ek maar vieserig oor mense wat honde sommer so in die bek soen.
Dis kostelik as bejaarde mense soentjies steel wanneer hulle piekniek en dink niemand sien hulle nie. Jong mense wat slurp aan mekaar en vroetel laat my wonder oor teater-lose long-oorplantings.
Filmsterre se wha-wa-whoom en byklanke word gegradeer volgens hulle silwerdoek-soene. Ek het ‘n baie skewe prentjie van Nicholas Cage in Face Off wat aandring daarop dat sy likewaantong gesuig moet word..Bleghhhhh, hoendervleis-grillerig. Dink maar aan al die 007-spelers, sjoe van hulle was wit-warm. Ek weet darem nie of ek veel daarvan sal hou om so voor die hele wêreld iemand te soen nie.
In ‘n besige inkopiesentrum in Windhoek het ons, ons eendag verstaar aan jonges in ‘n soen-kompetisie. Na ‘n ander halfuur is die wenners bekend gemaak – hulle was skoon uitasem en duislig. Ek weet nie wie was meer verheug ons of hulle, of die beoordeelaars toe die kompetisie verby is nie.
Elke Woensdag gaan kyk ons ‘n Franse film (Engelse byskrifte) by die Franse Kultuur sentrum in Akkra. Gewoonlik is daar meer as ‘n handvol Ghanese studente wat in giggels skielik hulle rokke oor hulle koppe pluk en hande oor die oë slaan met elke driftige soen toneel. Ek noem nie eens die pandomonieum van skaamte uitbarsting, wanneer ‘n driftige vrysessie op die silwerdoek wys nie…
So ‘n soen-kompetisie sal nie sommer hierlangs in Ghana gebeur nie. Dis darem net te preuts en stram teen hulle kultuur.
Kliek hier vir ‘n visuele klassifikasie van verskillende soene…