Tag Archives: Huis

Kombers huis

‘n Muntflip om Huis–huis te speel.

In ‘n eetplek, sit ek ‘n huilmammie en haar twee kleuters en beloer. Mammie snik in die foon en Ousus sit grootoog en omkyk wie stap by die ingang in en uit. Kleinsus pluk koponderstebô haar pop se geelplastiek hare uit. Heimlik wonder ek of sy ‘n bokspophuis het, en of sy ook huis-huis kan speel.

Ek onthou goed hoe ons huis-huis gespeel het. Ons het Ma se beddeken oor die eettafel getrek, en soos ‘n wafferse tent ingekruip. Dit was nie net sommer so affêre nie, daar moes eers geplan word. Net soos met Kroeks en Pote was daar vooraf beplan word; presies wie is wie. Niemand wou Oupa met sy seekat arms en spoegsoene; wees nie. Ons het muntstukke geflip om regverdig te kies wie was Oom Slinger.  Ons wou almal sy dronkman trieks na-aap. Dink jou in: skelmpies direk uit bottels drink, musiek harder draai op die platespeler, plate krap, stry oor krummels op die tafel, opgooi oor die agterdeur en sy oopbek snork, op die naat van die rug!

Tannie Ralie skinnerbek oorkant die straat was ‘n gunsteling muntflip.  Sy was vol groenkrullers en kon gereeld haar rondloopman uit die huisgesluit het; sy klere op die straatgestrooi het en sy bakkie vol duike geskop het.

In ons huis-huis spel het Oom Piet se wip-wip dogter met rooi lipstiek grootoog aanhang en bewondering afgedwing. Sy het saammet bikers rondgery en laatnag geklouter oor hulle voorhekkie. Sy was ‘n gunsteling karakter wat nou en dan met ‘n baba van die hospital afgekom het. Sy het kamtig oorsee gaan werk en was opslag ‘n lugwaardin en ‘n gawe skooljuffrou wat poppekinders goeie raporte gegee het. Sy het oor en oor getrou met ‘n vlieënier, ‘n boer, ‘n brandweerman ‘n seerower en Sol Kersner. Sy was dolgelukkig en het Juffrou Wêreld gewen en Sol gelos vir Prins Charles.

Ma- en Pa-speel was moeiliker, want dit was te beperk. Eers jaag hulle ons kamertoe. (al die poppe word in ‘n kartonboks neergelê). Dan kom die groot bekgeveg. (Ons jaag mekaar skree-skree deur en om die huis; partykeer met ‘n baksteen of bottermes in die hand; vir ekstra effek.) Dan slaat SY die kamerdeur toe, (ek duik onder die tafel se beddeken in)… en HY spring in sy sportsmouter en vat die pad… (my boet vlie weg op sy tjopper fiets dat die stof en spoeg spat). ..Sien, hopeloos te oninteressant.

Maar dán kom my boet terug met blomme uit die kerk se tuin, en die verbeterde Mammie bak sommer tjoklitkoek vir aandete. Die popkinders sit almal rustig en Heidie op TV en kyk. Pa roep die popkinders nader en speel bôl met hulle; sommer in die huis. Die popkinders mag soveel badwater intap as wat hulle lekkerkry en sjampoe-borrels tot by hulle nekke opklits. Almal piekniek onder die moerbyboom en die popkinders mag twee keer poeding eet; môre kan hulle skool ‘n mis gee.

Sondag middae as Ma-hulle gaan rus het, het ons op wolkouse in die houtgang op- en af-geskaats. Dan is “Klaarpraat”- paplepel uitgepluk. In ons huis-huis speletjie was daai paplepel gebruik om die braaivleisvuur mee aan te steek.

Kort voor vyf-uur moes ons klaar huis-huis gespeel wees; ons moes klaargebad met pajamas aan wees; huiswerk moes klaar wees of “Klaargepraat” is uitgepluk. Ons sluip op wolsokkies in die gang rond en wag om te sien wie begin die bekgeveg vannaand. Die volgende dag ‘brand’ ek weer daai blêrrie paplepel so terwyl ons huis-huis speel en ons hele gesin gaan weer saam op een lang strandvakansie. Almal is dan kalm en laggend gelukkig, en vir altyd saam.

Miskien kruip grootoog Ousus en Kleinsus vannaand onder ‘n kombers in, en speel met die kaalkop pop.

Advertisements
Accra City Centre

As jou kompas se punt skuif.

 ‘n Mede Suid-Afrikaner vertel my, hulle is nou na twee jaar, kláár met kontrakwerk in Afrika – vir áltyd. In enkele dae, vertrek hulle na die Ooste. Volgens haar sal sy níks van Accra mis nie. Ek gooi my geoefende oogrol. Sy besef nog nie hóé Accra aan jou grille skuur nie. Elke plek wat ons “huis” noem, – hoe tydelik ookal, trek ‘n hartsnaar. Vra enige Expat, kontrakwerk is soos diensplig doen. Hulle woon noodgedwonge in vreemde plekke vir ‘n bepaalde tyd. Jy is daar om iets gedoen te kry, die plek en mense om jou is wat jy self daarvan maak. Almal beleef en ervaar dieselfde plek in dieselfde tyd anders.

Net soos die weermag het Accra jou ten minse tweekeer in trane. Die dag as jy hier aanland, en die dag wanneer jy weer weggaan. Jy leer nuwe vaardighede soos om eiers in water te dompel om die vrottes en vars eiers te skei. Jy woon vir ‘n bepaale tyd in ‘n plek wat jy nie noodwendig van hou of veel keuse het nie. Jou tuisbesoeke is min – en vlugte huistoe is soos “op pas gaan.” Grootoog vertel jy vir familie en vriende hoe rof die lewe in Accra is. Niemand in RSA glo jou nie – hulle maak grappies oor die Oskar-saak en inbrake en motorkapings. Met die terugkomslag is jou bagasie volgestop met Ma se beskuit en nat biltong.

Mense móét maar net aanpas in Accra. Na ‘n paar maande ruik of sien ons nie meer die oop rioolslote nie. Vrot eiers wat pas gekoop is word normaal. Skoonmakers wat rustig slaap op marmerblaaie van publieke badkamers word normaal. Ruik aan vleis voordat jy dit koop word normaal. Omdop van kaas in die winkel en soek na mufgroeisels word normaal. Miet in “vars” meel uit die winkel word normaal. Rondry na vyf of ses plekke vir vier items op jou inkopielys word normaal. Wanneer iemand meer as twee ure opdaag vir ‘n afspraak, noem hulle dit Afrika-tyd. Tog, agter jou, lê hulle op die toeter binne ‘n splitsekonde wanneer die robot verander van rooi na groen.

Grootoog lees ons die RSA nuus. In Accra dans niemand voor winkels en staatskantore in protes oor verhogings nie. Hulle dans wel in die strate wanneer sokkerdoele aangeteken word. Niemand breek bestaande skole af in opstand oor swak fasiliteite nie. Motorkapings is hier geen sprake van nie. Bandiete en myners gaan nie op stakings nie. Die President blameer nie die land se verswakte geldeenheid op die vorige regering nie. Niemand brand hier die nuut geboude gratis goeverment huise af nie.

Als is ook nie perfek nie. Slakdiens, goor Wifi konneksies, swak selfoon verbindings, konstante kragonderbrekings en verkeersknope laat jou voel jys terug in RSA. As jy effe onseker is van jouself sal jy gou leer waarvan jy nié hou nie. Troepe leer gou om so in die middel van die bondel te hardloop. Jy vermy oogkontak in publiek, of stel jouself bloot aan ongevraagde aandag. Sakkiepakkers vra sommer reguit of jy met hulle kan trou – al staan jy met jou kind op die heup en trouring wat skitter aan die hand. Niemand poets en diens niks hier nie – als roes, breek en val uitmekaar.

‘n Mens sal Accra se aardighede mis. Vra enige troepie, al het hulle die weermag hóé gehaat, gesels hulle met heimweë oor “die goeie ou dae”.