Tag Archives: Internet

Die Soet en Suur van Ghana

Verandering is die mees konstante ding in onse lewens. In Akkra het ons kontrak uurglas dan nou ook leeggeloop. Na ses en ‘n half jaar weg uit Namibië, staan ek en my Vrystaatman met drie koffertjies op die lughawe. Voor ek op die aerie klim huistoe, besin ek oor ‘n paar goete van Akkra wat ek sal mis, en ander wat ek geensins weer wil beleef nie.

Goete wat kan verby hou

Muskiete

Langenhoven en ek, het ons muskiete-haat in gemeen. In Ghana vreet muskiete jou letterlik lewendig op, jy spuit en smeer anti-muskiet goete, en dae later stress jy jou vrek oor Malaria. Malaria is so algemeen soos witbrood, uiters gevaarlik, self dodellik. Hierlangs lyk die muskiete asof hulle WP-streepsokkies dra; hulle vlie soos hommeltuie, stadig en lui, en laat ‘n teelepel se bloedvlek as jy hom platklap. Gee my die muggie muskiete tuis wat so dan en wan; hier en daar ‘n bloedmonstertjie vat.

Koebaai sê

Oor die algemeen kom werk die meeste uitgewekene kontrakwerkers in Akkra vir twee- tot drie-jaar. Die gevolg is dat sodra jy iemand goed leer ken, vat hulle weer die pad en ‘n mens bly vasgeval in hallo-sê en koebaai-sê. Vir ‘n paar maande beloer jy hulle op sosiale media, en dan stap die lewe aan en torring die vriendskap draadjie los. Die al ewige Koebaai-sê, dít sal ek nie mis nie.

Burokrasie

Burokrasie is oorgeërf in Ghana vanaf die Britse Koloniale, maar Ghanese het dit verfyn en is vasgespinneweb daarin. Ons staatsdiens se rompslomp lyk soos ‘n 10-stuk legkaart as jy dit wil vergelyk met Ghanese-werksvisas, Ghana id-kaarte en bestuurslisensie aansoeke.

Bakhande

Vyf-minute vanaf die lughawe klop-klop die eerste bakhandjie reeds aan jou venster. Aanvanklik sien jy die wesentjie nie raak as jy uit jou venster kyk nie, maar tjokkertjies net groter as wielgroote, lames op skaatsplanke en halwe mense in rolstoele bedel tussen die voertuie. Trosse en bondels bedelaars kom na Akkra, voel my nuwes land aan, elke naweek. Mens se hart word later klip, en dit gaan baie lank neem om van die dowwe kyke en behoeftigheid te vergeet.

Wisselvallige internet

My Vrystaatman weet as hy tuiskom en ‘n swartwolk hang oor my gemoed, dat die internet konneksie gedood het. Ons mis uit op nuus van babageboortes en laataand skakel my dogter met ‘n piepstemmetjie en vra hoekom ons nie haar studente noodkrete antwoord nie. Jy betaal peperduur vir meer as een internet verskaffer, want almal se kwaliteitdiens is ewe wisselvallig.

 

Goete wat ek sal mis

Smousgoed koop deur die venster

Menigte middae sit jy in sweet vasgeplak aan die moutersitplek, vasgevang met honderde ander in verkeer. Die voordeel is dat jy sommer so deur die moutervenster inkopies kan doen. Toiletpapier, vars gebakte brood, geroosterde grondbone, vars vrugte en groente, wasgoedseep … noem dit maar op, en iewers sal ‘n straatsmous dit aanbied.

Vriendelikheid

Die deursnit Ghaneen kom min in aanraking met uitlanders so wanneer jy skielik by ‘n verlate boswinkeltjie stilhou, is hulle oorval met skok en agterdog. Ons Engels val hulle vreemd op die oor, en mens moet jouself herhaal, arms swaai en beduie wat jy wil aankoop. Wees geduldig en werk ‘n grappie iewers in, dan word jy beloon met die grootste wittandglimlag, die items word met sorg verpak en selfs na jou mouterkar aangedra. Wanneer jy daar wegry, staan die smous lank so in die middel van die pad en waai koebaai tot jy oor die bult of in die niet verdwyn.

Skatte in die mark

Akkra se middestad is een kookpot van straatsmouse met stalletjies ingeryg soos krale, hier koop jy van ‘n garedraad tot ‘n dooie polisieman. As buiteperd kan jy maklik verdwaal, tussen-in kibbel jy oor pryse, dis bloediglik warm en almal stamp en stoot aanmekaar. Maar Boeta; as jy tydsaam en geduldig jou oë oophou kan jy letterlik skatte uitkrap! Van egte silwerteepotjies tot MAC grimeerstelle, leerstewels, kosbare Singer naaimasjiene, reuse visnette, ragfyn geborduurde tafeldoeke, en die nuutste klankstelsels. Met ‘n goeie kopie voel jy die Heelal se weegskaal het effe na jou kant getiep.

Afrika se Kleure

Kyk, Afrika is nie bang vir kleur nie. Die helder wax-kleurlap is die mooiste bont kleur en patrone – waarvan ek koop-en-koop. ‘n Ewige somer, ses-uur saans se vlermuisvlugte, sonsaktyd se helder kleure van soet pynappel en ryp mangoes maak my dol gelukkig.

 

Natuurlik is daar soveel meer goeie herinneringe wat ons sal koester, goeie vriende wat ons agterlaat, Ghana is vir ewig in my hart ingeëts. Vir eers roep Namibië soos Jakkals laataand na sy maat…

Sing vir ‘n houtpop

 

Vanoggend, toe ek die wasmasjien laai, merk ek ‘n houtpop uitsteek by die skropvrou se oopbek handsak. Nuuskierigheid vat die oorhand en al my maniere vlieg by die deur uit; so loer ek skelmpies hoe lyk husse met lang ore.

 

Al wat ek raaksien is een moeg opgeleeste Bybel en die houtpop. Dis nie sommer so houtpop nie – dis ‘n handgekerfte, platkop ene met ‘n rooistring kraletjies om die middellyf. Heel oggend is ek doenig in die kombuis en betrap myself loer na die houtpop wat my dophou. Teen voormiddag kan ek myself nie meer inhou nie en vra vir Judith-die-skropvrou wat maak sy met die houtpop wat halflyf uit haar handsak hang.

 

Eers is Judith half skaam maar nadat ons elkeen met teebeker in die hand staan en slurp, kom Judith met die houtpop se storie uit.

 

Judith is anderkant van dertig en sy dink dis tyd om ‘n kind te kry. Nou het sy my volle aandag – want ek weet – sy’s nie verlief, verloof of getroud nie. Soos ek die storie vooruit loop, moet iemand haar die bytjies en blommetjies storie vertel.

 

Maar ek staan haar oopbek en aangaap; sy vertel sy is na haar stat se medisyneman wat ná ‘n ritureel vir haar die fertiliteits pop gegee het.

 

Slaat my met ‘n nat vis! Ek is te bang my baie vrae oor die ritureel skrik haar af van haar popstorie, dat ek omtrend verstik soos ek tee opslurp. My kop loop Kaapse draaie met my soos ek wonder.

 

“Nou wat maak jy met die pop? “ wil ek weet. Judith haal haar bontlap uit en wys my hoe sy die pop op haar rug knus vasdraai sodat sy dit kan abba en in privaatheid saamdra. “Seker maar hoekom die kop so plat is, om beter weg te steek”, sê ek. Nee, dis eintlik spesifiek vir mooigeit – sy wys die hoë voorkop en die rondgeit van die kop beloof ‘n slim baba. Sy beskryf die prag van amandelvorm oë, en die halfmaan wenkbroue en die fyn besnyde neus – elke moeder se droombaba. Judith hou die popkop sag in die holte van haar hand en wys dat die houtpop ook speel-speel gevoed kan word. Teen die tyd staar ek met koue beker tee in die hand en vat-vat aan die koue kombuisblad sodat ek weet ek droom nie.

 

Sy wys dat die pop aan die slaap gesus word en ook gebad word net soos ‘n regte baba. Ek trek my oë op skrefies en vra onoortuig of die houtpop dan ‘n naam het. Natuurlik! Hierdie pop is ‘n eg Ashanti fertiliteitspop, genoem “Akua ‘ba” wat beteken ‘meisie gebore op ‘n Woensdag, se kind’. Gedoriewaar, ek is onseker of sy gatvat met hierdie storie, maar sy bekyk die platkoppop met diepe deernis.

 

Hierdie is die meeste wat ek Judith ooit hoor gesels het – seker iets van hoe ek haar aangaap, besluit sy dis genoeg en woeps, droog haar storie op.

 

Na-middag hoor ek haar neurie en sing terwyl sy in die agterkamer stryk. In die gang merk ek op, die pop is vasgebind op die rug – noudat die popstorie op die lappe is, kan pop-se-kind openlik in lap rondgedra en voor gesing word.

 

Ek verwonder my aan hoe onkundig ek is oor die kultuur van Ghana se mense. Op die internet lees ek die houtpoppe is sedert toet se jare deur vrouens in die familie aan hulle dogters en agtersate aangegee. Soms word ‘n pop rondgedra tydens die swangerskap om ‘n gesonde baba te verseker. Partykeer word die houtpop weer teruggegee aan die medisyneman, of in die huis as dekorasie uitgestal wat die gesondheid van kinders beskerm. Hoe dit ookal sy, hierdie stukkie kultuur het sy oorsprong diep in Afrika, lank voordat die sendelinge die Bybel hierlangs kom versprei het. Hierdie poppe word net in Ghana gevind, maar is nie algemeen in die markte verkrygbaar nie. Toeriste koop ten duurste hierdie Ghana poppe as stukkie egte Afrika kuns.

Screen Shot 2018-02-13 at 16.34.04

foto vanaf internet

Skielik sien ek Judith in ‘n ander lig. Sy het ‘n lang plan vir haar toekoms. In Afrika, as sy na dertig kan bewys dat sy wel vrugbaar is, en kinders baar, is dit heelwat makliker om man te vang.

 

Met haar houtpop knus toegewikkel, is Judith is die ene lipstiek en rooswater oppad huistoe!

 

Miskien het iemand al vir haar die bytjie en blommetjies storie vertel?

Ougat Kietiekat

Dank die Vader vir Internet Katties…

My man is dankbaar vir die internet. Dit is die EEN ding in ons huis wat hy seker maak NOOIT in ons huis uithardloop nie.  (Wyse man wat met die hand vir my uitgesoek is…)  As ons internet leeggetap is, verkrummel my ‘normaal’-geen net daar en dan.

Daarsonder sou ek serkerlik ‘n grillerige ou-tannie wees met honderde katte. Matigheid.  Alles in matigheid.

Cat into trouble againSodra ek voel ‘n gemoeds befloking kom bederf my dag – gryp ek my rekenaarmuis om gou beheer te kry.  Dan kliek, kliek, kliek ek soos ‘n mal ding op my gunsteling loer plekke.

As ek nou daaraan dink, is ek sekerlik die blyste vir Google, en Google se slim foto prentjies.  Kyk daar is net geen einde aan die wollerigge oorvloed van ougatgeit nie.  Tumbler en Pinterest is van my anner gereelde loerplekke.

Wie kan dit nou weerstaan?

Wie kan dit nou weerstaan?

Sien, ek het ‘n vasdruk-kat hier in Akkra. Een is genoeg sê my Vrystaat Boerseun. Iets te make met die grootte van ons wooneenheid en twee wat sal vermeerder…blah-blah-blah.  Terug in Namibië is daar ‘n hele spul diere op die plaas.  Honne, hoenders, gaanse, koeie, skape en natuurlik drie katte.  Miskien mis ek net die samesyn en interaksie van al die diere?

Misca is ons Akkra geelstreep kat.  Hierdie katte is van die klein soort – sys amper drie en ‘n half jaar oud, maar piepklein soos ‘n nege maarde oue katjie.  Destyds het ek haar by ‘n lokale veearts gaan haal, maar ai. Sy was so klein dat sy nog nie eens self kon eet nie. Dit sê natuurlik sommer baie van onse lokale veeartse se kennis oor katte!  Seker ‘n wille ding iewers in ‘n bos gevang. Uitgespaar sou ek sê want hierdie ouens van die Noorde eet kat en hond.  Ek vertel vir almal lokaal wat ore het sy’s vol chemiese veearts inspuitings en die een wat aan haar vleis hap sal sekerlik vrek van vergiftiging.  Hulle vra gereeld of ek haar voer! En wat ek haar voer… Dink jou aan, dis ondenkbaar vir hulle dat ‘n dier jou moet geld kos. Wat nog van tyd wat jy aan haar afstaan met speel, troetel en versorging?  My kombuisfeëtjie trap deesdae lig al om my kat. Sy is met die besem bygekom omdat sy Miska ongeêrg met ‘n besem vanaf die kombuismat ‘vee’.  Bliksem – mors met my kat en ek krap jou oë uit.

Misca is gesnip – Boerseun se ding van een is genoeg, en daars reeds te veel weggooi katte innie wêreld…blah-blah-blah.  Sy het haar eie grille en dinge. Sy’s nie ‘n op die skoot en in jou arms en bed, kat nie.  Soggens wag sy my in, by my kamerdeur en kap-kap so effe aan my enkels soos ek my pad navigeer tot in die kombuis. Sy vryf gedurig deur, om my bene soos daai swart Dulux-verf katadvertensie van destyds.  Deesdae klim sy suutjies op besoekers se skote en sit kalmpies soos ‘n swinks by hulle.  Solank hulle nie te veel aan haar vroetel en vryf nie – sit sy toe ogies en verbeel haar sys Koningin Sheeba.

Ek kop dit. Daar is derduisende van hulle op die internet; internetkatte wat ek nie kan aandra nie. Net bekyk en oeh-en-aah, en sien Boerseun loer oor sy bril, my kant toe. Wyse man sprag geen woord nie. Loer net so nou en dan my kant toe.

Nuuskierigheid het jou ingekry - en nou?

Nuuskierigheid het jou ingekry – en nou?

Dis ‘n groot bonus dat hy gek is na katte. Nie die internet soort nie – hy is die een wat regte peek-a-boo speletjies met Misca-kat speel. Hy bekruip en bespring haar en karring met haar al is sy lui en nie lus vir speel nie.  Hy koop speel muise en veer-stokkie speelgoed vir haar en het altyd tyd om haar deurmekaar te vroetel. Basta of sy nou daarvan hou of nie.  Sy deel gedurig dieselfde rusbank met hom – net so ampertjies soortvan bo-op hom.

Mag ek eendag op my ou-dag omring wees met diere se onbaatsugtige liefde.  Die beste ding wat ek nog gehoor het is van die ouetehuis wat losloop diere inneem en versorg. Dis mos nou ‘n wen-wen situasie.

Onbaatsugtige liefde

Onbaatsugtige liefde

'n Wollerigge vasdruk-ding

‘n Wollerigge vasdruk-ding

Net vir die snaaksigheid: hie’d ‘n snaakse video van wipgat katte.