Tag Archives: Jagseisoen

Windhoek

My hart lê in twee plekke …

Gister sit ek en werk deur ‘n paar fotos van ons onlangse tuisbesoek. Ek is tuis in my Akkra huis en my kat Misca is verheug oor my terugkoms. Maar my ander huis wag in Windhoek en daar sit my mal maltees heeltyd by die deur en wag vir my terugkoms. Party mense het geen huis, ek het sommer twee, in twee verskillende lande. Waar ookal ek my bevind, mis ek die ander huis, mense en dinge.

Tammy-Lee die Mal maltees, My hart se punt

Tammy-Lee die Mal maltees, My hart se punt

Ons was met vakansie in Namibië maar almal óm ons kap net aan soos altyd. Dis ‘n ontnugtering dat die lewe tuis so normaal sonder ons kan voortgaan. Selfs Namibië se jagseisoen het gekom en gegaan sonder ons insette. Elke dag bied Akkra vir ons ‘n ander uitdaging. Kragonderbrekings, korrupsie, vreemde tradisies, immigrasie drama en moeilike werksomstndighede laat jou wonder, wat soek ons eintlik hier? Inkopies bly ‘n uitdaging, lekker vleis is iets waarvan mens altyd bly droom, en harde blêr musiek raak ons nooit gewoond nie. Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd mymer ek oor al die goete tuis wat ek na verlang en op uitmis.

Stap met diere  op die plaas - goete wat ek mis.

Stap met diere op die plaas – goete wat ek mis.

Mense is maar nuuskierig oor ons doen en late in die vreemde. Mens moet versigtig wees om nie soos tweegatjakkalse te klink nie. Daar is ‘n fyn balans tussen een wat weet waar hy vandaan kom, en een wat weet watter kant sy brood gebotter is. Natuurlik werk ons in Akkra vir finansiële redes, maar my hart trek met ‘n langpunt terug na Windhoek.

Elke land het sy eie drama. Suid-Afrika se kriminele, korrupsie, werkloosheid, politieke eskapades en regstellende aksie laat mense vuisvoos. Dis ‘n fout om te dink alle ander Afrikalande is dieselfde. Elke keer as iemand reken ek is kamatig so braaf om in ‘n stad van meer as vier miljoen ander Afrikane te woon, dop my oë om. Hier in Akkra is ek baie veilig. Hier is geen motorkapings, geweldadige misdade, moorde en gruwelike motorongelukke nie.

Ek het na baie jare ‘n fyn balans gevind oor my belangstelling in die tropiese woude, historiese kastele en vreemde tradrisies. Interesante mense in Akkra vanoor die hele wêreld kom en gaan en mens maak nuwe vriende en groet bekendes soos wat hulle kontrakte beginner en eindig. Dis hartseer om afskeid te neem van nuwe vriende, maar hartverskeurend as geliefdes tuis ernstig siek word en soveel erger as hulle onverwags dood en ons sit hier in die stokkies.

Dit gebeur dat vriende van vriende, hier in Akkra kom besigheid doen. Hulle vra uit na die beste restaurante, besienswaardighede en waar om so ietsie van Afrika te koop teen ‘n redelike prys. Ha! Daar is geen rede om iets nié te vind nie. Ek is geen spermsel nie, ek vra sommer padlangs rigting en advies vir vreemdes en gedra my soos ‘n toeris. Ek kan nie ophou praat nie, hoeveel tyd het hulle? Dit wil voorkom asof ek meer weet van Akkra as die mense wat hulle hele lewe reeds hier woon.

Die reuk van braaivleis, kaneel, nat reën, swembad chloor…sommige dinge in Akkra maak my heeltemal nostalgies oor my ander huis in Namibië. Die wêreld is klein, en die afstand huis toe word gemeet in vlug-ure. Alles wat ek nodig het dra ek rond in ‘n enkele reistassie. Met die klik van ‘n Skype-knoppie gesels ek met my moeder in haar eie sitkamer. Ons sit met biltong voor die televisie, koue biertjie in die hand en kyk krieket. Dis nie dieselfde as braai langs die veld nie, maar dit moet maar doen vir eers.

Misca speelkat

Misca speelkat

Huiskat in haar element

Huiskat in haar element