Tag Archives: Karma

Stokstyf…

Om ‘n expat te wees in enige ander land as jou geboorteland klink misterieus, en dramaties eksoties vir my familie en vriende. Vir die een of ander rede het hulle hierdie verwronge idee dat ek vliegtuie nader wink soos taxi’s, en vlinderagtig gaat net waar en wanneer my gemoedsbevlieging my neem? Miskien omdat ons nooit ooit met ’n ander vorm van reis tuis aanland nie? Daar is min wat ons hier in Akkra in gemeen het met die leefwyse in Windhoek. My hartklop verloor sommer ritme wanneer ek besef hoeveel ons uitmis op goete soos Kermis, vleisfees, filmteaters, boeremarkte, kunstefeeste, straatoptogte, bierfeeste, reënruik, rugby en krieket ondersteun langs die veld en sterre tel vanaf die stoep.

 

Nou in Desember-vakansie snuffel Lena en ek, in dieselfde supermark, vir sonbrandroom. “Haai sjoe” koer Lena, “jy’s my mees exotic-maaitjie wat ek ken.” Slaat my met ‘n nat vis, stokstyf! My Vrystaat-man bloos hom roos-rooi as ek hom vertel sy vrou is ‘eksoties’ gereken. Lena en ek het in die laaste ses jaar een keer kontak gehad; toe sy ‘n teks gestuur het om haar seun se skoolkermis kaartjies wou smous. Daai einste seun gaan nou graad vang, as die Universiteit nog nie afgebrand is nie. Ek besef almal van my vriende het aanbeweeg, verjaardae en Kersfees gevier en gebraai en kinders groot gemaak en kontak verloor met ons. Vriendskappe se hande – het vashou verloor. Uit die oog en uit die hart. Iewers lê ‘n groot verlies waarmee ek moet somme maak.

 

Geen mens kom na Akkra vir ‘n jollietyd of vakansie nie. Jy’s hier want daar is nie werk in RSA vir jou nie, of jy beskik oor ‘n talent wat hier te kort skiet. Al daai bloedjong ronde Amerikaners met hulle loop-kieries, wat bulder soos oumense met gehoor probleme –kom om hulle ‘African roots’ te soek. Dit tel nie vir toerisme in Akkra nie. Dis net domgeit, hulle word behendig verlig van hulle dik dollar rolle, elke keer as hulle driekeer meer betaal sonder om te kibbel oor pryse. Mens bly nuwe gesinne ontmoet en gou kuier almal oor en weer. Die enigste konstant hier langs is verandering. Ons het nou opgehou tel hoeveel keer ons vriende moes groet wanneer ‘n kontrak klaarmaak, en hulle na ‘n ander land verhuis.

Screenshot 2016-03-07 23.05.30

Ek maak dit nie ‘n gewoonte om met Karma te lol nie, maar Akkra het so bekruip manier om jou wieletjies af te blaas. Vanoggend is ek is so boos ek kan ‘n krokodil oopbek soen! My Vrystaat-seun se nuwe spierwit hemp is nou vaal grys, met ‘n tint van kots-groen. Onse Kombuis-feëtjie wys my trots sy het onthou om die kraag en voorarms met ‘n blik stysel by te kom. Dis juis hoe sy die geen-stryk hemp se kreukels permanent stokstyf gekry het. Hier is nie ‘n Trappers Trading of Cape Union winkel waar ek sy splinternuwe hemp kan vervang nie. Ek byt my onderlip tot ek bloed proe. Enige iets om die trane te keer. Laat aand vra Vrystaat-lief of dit trane van hartseer of woede was. Ek onthou nie nou nie; deesdae is dit meer gereeld dat ek bars om groot emosie wat my oorweldig, terug te hou van vreemdes.

 

Ouma Henna se wyse woorde steek laatnag iewers in die newels vas. Mens mog nooit iemand ignoreer wat jou lief het, vir jou omgee of na jou verlang nie. Eendag skrik jy wakker en besef jy het jou hele Maan verloor terwyl jy tyd gemors het om sterre te tel.  Maar tel iemand jou ster?  Dit voel al hoe meer soos igroneer…

 

Slaap is my nie beskore nie. Ek lê stokstyf en tel my seëninge op die koue badkamervloer. Dis die koelste deel van die huis want vanaand is die krag weer af. Dis donker Afrika, misterieus – niemand het voorsiening gemaak vir diesel vir die kragopwekker nie. Eksoties…

Mangat se inval

Demmit-polisterien is belangrike goeters!

Hier in Ghana is my man soos elke ander ou wat werk toe gaan, druk besig. Hy is in vergaderings en gedurig weg met aller belangrike sakereise na vreemde plekke. ‘n Blink nuwerwetse streeppak Mr. Juppie besoek Akkra. By ‘n besigheidsete vertel hy hoe erg besig is hy en sy dokters vroutjie. Uit so misterieuse hoogte vra my met ‘n mondvol slaaiblare, wat doen ek heeldag? Dis maar min dat ek sonder woorde uitgevang word – maar daar sit ek met ‘n bek vol tanne. Sprakeloos. In een vraag is ek geweeg en te lig gevind. Praat van binnegoed uitpluk in ‘n arena. – daar bloed ek dood nog voordat ek die man kan antwoord; bestel hy nog ‘n koue waterbotteltjie en verander die geselskaplyn.

Bloed ek dood in die arena

Bloed ek dood in die arena

In die strokiesprente sien jy gereeld ‘n mannetjie in ‘n oop mangat inval. Ooit gewonder wat hulle inval? Nee, maar ek weet nou hoe daai mannetjie voel. Mangat-mannetjie voel soos daai polistereen snippers van delikate verpakking of die wit verpakking van ‘n Ma-se-grootte plat TV-skerm. Heeltyd doen jy jou ding waarvoor jy so delikaat met die hand geskape is. Demmit – polistereen is baie belangrike goeters! Manlief se wêreld versplinter nie. Kinders word geskool. Die huisgesin verhonger nie, almal se sosiale kalenders word in ag geneem en die lewe kap aan sonder ‘n hik. Dan vra vreemdeling jou of jy die waarde van ‘n stoffie beskik! Dis wanneer iemand die polistereen verpakking uit die boks uitpluk en sommer net so weggooi. Al wat bly staan en raakgesien word is die indrukwekkende plat fênsie TV skerm. Miskien is polistereen maar so lig innie broek. So waardeloos…

Polisterien

Polisterien – Is dit regtis so waardeloos?

Laat nag lê ek in my bed en omdop. Manlief weet nie watter sweisdraad om uit toets nie want Mammie is opgewerk met die hele ganse wêreld. Slaap is my nie gegun nie, ek droom van polistereen snippers wat dryf in Akkra se wateroorstromings. Dae lank loop my kop stadige dikwiel draaie innie sand met my. My man is met min woorde en baie wysheid geseën; hy dra tjoklits en goeie wyn aan. Had ek maar ‘n ander keuse – het ek beslis gewerk. Mense lieg nie as hulle reken die lewe is onregverdig nie. Om my is daar onderwyseresse, ‘n regsgeleerde, ‘n akte sekretaresse, ‘n projek bestuurder, ‘n labratorium tegnikus en hulle almal is ekspat-manlief se plus een. Werkspermitte vir ekspats is so skaars soos hoendertanne. Akkra se immigrasie deel net een per gesin uit. As ek die ding in woorde moet vasvang: is ek huidiglik maar net nog ‘n oulike Akkra-huisvrou met ‘n besige kalender en ‘n swartbeld in inkopie- en uitsnuffeltalent. Haha in woorde klink dit so wha-wha-woom! Ouma sou sê: “fênsie”.

Fênsie huisvrou

Fênsie huisvrou…

Intussen leun ons op vriendinne – met tennis- en kaartspel, koffiedrink en naaldwerkklasse. Ons snuffel vir winskopies en goeie kaas, vars groente en sappige vleissnitte. Poep en betaal is die ou “wet van Transvaal”. Maar verbeel jou ‘n skolerugbyspan vat ‘n Springbokspan aan, onregverdig né, wel, dis hoe inkopies hier in Akkra vergelyk met opsies in RSA. Mens moet netwerk en winskopies najaag. Naweke word daar oor en weer gebraai en potjies opgekook. Ons karring aan met gewone elke-dag se dinge. Feestelikheid is ‘n ding eie aan onse mense, selfs in Ghana soek ons net rede vir samesyn.

In poeierblou, streep en lint het ‘n hele bondel van ons saamgekom vir ‘n ooievaarstee. Vrouens het ge-ooh en ge-aah oor die mooie kleertjies en babastreepsokkies . Daar is nie veel verskil tussen hier en tuis se huisvrouens nie.

Hierdie week hoor ek Mr. Juppie is tuis van sy Akkra besoek, terug in Johannesburg, weer veilig en knus. Sy dokters-vroutjie is swanger met ‘n tweeling. Hy is ‘n reuse bevordering aangebied, in Nairobi, Kenya. Karma slaan soos ‘n blinde sambok. Nou gaan hy sommer eerstehands uitvind wat is die waarde van liggewig-polistereen.

Karma

Karma – jou gedienstige hond…

Beautiful beaches of Zanzibar

Karma het nie ‘n spyskaart nie…

My loskop kinders is oornag uit Ghana terug na Namibië om verder te gaan studeer; nou sit ek en die leë-nes sindroom en inwag. Niks dêrgliks het verander nie. Daars beslis meer lekkernye in die yskas en die stroom van tieners deur ons voordeur het oornag opgedroog. Ons verdryf die gekke stilte met onse-tyd musiek wat ons sonder tiener kommentaar; speel todat die vensters vibreer. Ons wys ons ouderdom wanneer ons die stowwerige goue oue liedjies hoor, en al die woorde malkop, saamsing. Tyd vlieg en ‘n maand later vergesel ek so flussies my man op sy besigheidsbesoek na Oos Afrika.

Reis bly maar ‘n bekende bogger. Karma deel my slegte speelkaarte en als loop opdraand. Oplaas is my voorneme om nie ‘n asynskyter te wees nie. Mens sien die wêreld om jou heel oopkop met ‘n vrolike, gesindheid.

Ons vlug vertrek een dag laat en ons bagasie arriveer op die volgende vlug, maar ek pluk my op: niks gaan my eilandbesoek bederf nie. Afrika kan jou op aan die anderkant van veertig lekker laat giggel as jy besef mense kan als oordryf. Hierdie lughawens se sekeuriteits maatreëls is verregaande. Heeltyd ‘n aan-en-uittrekery van skoene, belde, horlosies en armbande, elke 30 meter. Paspoorte word oor en oor bekyk, en handbagasie word weer en weer deur skandeerders gestoot. Tussendeur blêr dieselfde pynlike liedjie vir ‘n halfuur lank, klink soos iemand wat aan iets geboorte gee. Die vlugkelner gee my manlief een kyk en deel twee biere gelyktydig uit.

Aangeland is die Wes Afrika besoekers ‘n rede vir baie papierwerk met die een vorm oor Ebola na die ander. Witmasker handskoen-mense vat jou vorms en skanddeer jou voorkop temperatuur. ‘n Hele 23 grade! Weet hulle nie hoe om die instrumente te gebruik nie? Geen mens kan oorleef met ‘n temperatuur lesing van 23 grade nie! Daar gaat ek weer aan die giggel.

Ek hou my lyf Dellilah op Zanzibar se wit strande. In een dag loop ek ‘n oordentlike paar sandale vlenters in Stone town.

Stone town - Zanzibar

Stone town – Zanzibar

Dis ‘n wegraakplek met sterk koffie geure, ou antieke vindsels en ‘n paar kakkie-winkeltjies vol bont mooigoed.

Ons eet die lekkerste Indiese kerrie in ‘n Restaurant Silk Road en ek raak van vooraf verlief in ‘n restaurant genoem 6 Degrees South.

Romantiese sonssak tye, warm see wind, snorkelduik op die koraalriwwe en warmbak in die son. Saligheid wat niemand kan bottel nie.

 

 

Mens kan duidelik sien die Suid Afrikaners is in troppe hier. By knap tefeltjies, slurp hulle koffie onder die bome op die strand. Soos apies in ‘n kas, hoor jy hulle kliphard aangaan oor besigheidsplanne en agendas.

Zanzibar Sunsets

Zanzibar Sunsets

 

 

Jy weet daars ‘n voltydse stroom van hulle want die strandloper smouse karring aan jou in glad-olie-Afrikaans.

 

 

 

Karma het nie ‘n spyskaart nie, jy word uitgedeel dit wat jy verdien.

 

Ons volgende vlug is propvol Witlapgewade wat terugkeer uit Mecca vanaf hulle Hajj.

Hajj

Hajj

Dit druk en stoot en stamp om eerste op die muggie vliegtuig te kom. Tydens die Hajj moet hulle sewe keer om die Kabaa stap. Daars gereeld ‘n massa vertrapping, en hierdie mense is seker nog in hulle heilige trans vasgevang? Wanneer iemand iets so onbeskof doen, moet jy net kalm voorkom, maar in my eie gedagtes het ek hulle reeds met ‘n stomp panga opgekap.

Giggel besef ek nou is soos toordery, die witgewade staar my aan en maak pad. Eers later besef ek hulle vrees ‘n aanraking van ‘n “infidel”, dink jou in, ‘n gek-infidel moet soveel erger wees.

Nou ja, my wens was om die gekke stilte te verdryf en my te omring met vele mense.