Tag Archives: Kat

Houdini die Hoender

 

Klara lyk nie vanoggend baie vars met kringe om die oë en skouers wat effe verlep hang.  Ek vra versigtig uit oor die kind, hy’s gelukkig by die skool maar Houdini het weer sy aller beste gelewer.  Haar sewejarige is eers ná Aspoestertjietyd bed toe want die Houdini-hoender het in ‘n geut opgekruip, kop eerste, en verdrietig gelê en piep.  Al wat jy kon sien uitsteek was sy twee pienk pootjies en nat klossie verebondel.  Die geut is losgewikkel, geskud en gekap maar die piep geluide het na varkslag geskrou verhoog en moes gestaak word ter wille van die bure.  Haar kind wou nie bed toe totdat die vervlakste hoender gered is nie.  Jackson die Ghanese tuinier se besemstok poging het die nat vere bondel dieper laat verdwyn, maar die buurman se advies het die koek gevat. Hy reken druk die geut plat, dan kan hy in stilte verder slaap en môre eet almal geroosterde hoender!  Klara se man het einde laas op die dak geklouter, wou ‘n emmer water in die geut gooi en die hoender uitspoel, maar toe gee die geut meë. Klara was heelnag by die kliniek, haar man se gips om die enkel sal in ses weke moontlik verwyder word.

Sien Klara se hoender moleste het so paar maande terug begin.  Klara is oorspronkik vanaf London, sy besluit toe in Afrika moet jy ‘n paar hoenders kry as troeteldiere.  Waar sy vandaan kom is daar soveel wetgewings wat jou verhoed om hoenders aan te hou in ‘n stedelike gebied, dat sy nooit weer die kans sal kry nie.

Na ure se navorsing op ‘Pinterest’ besluit sy om eers ‘n hoenderhok te laat bou.   Sy het besluit op kwaliteit hout  – dit reën immers heeltyd en hout vrot sommer in een seisoen.  Na drie weke se hokbou gaan betaal sy en neem dit agt manne wat sukkel om daardie hok op ‘n bakkie te laai.  Ek het die fotos van haar ‘koep’ gesien; sit ‘n sinkdak op en ‘n jong Ghanese familie kan gemaklik daarin gaan woon!

Die drywer is die taak opgelê om twee troetel hoenders padlangs te gaan koop.  Binne die bestek van ‘n uur was hy terug met twee geveerde jong hoenders so ewe in ‘n plastiek inkopiesak- met die twee hoenderkoppies wat uitsteek!  Die swart hoender is Emily genoem en die een met ‘n blerts vaal in die kuif is Rosy gedoop.

Moenie die kuiken ‘n naam gee nie, anders sal hy nooit op jou bord beland nie!  Dit is loshande die beste hoender-advies wat ek nog ooit ontvang het. Maar hierdie was immers tiemand anders se roetel kuikens…

Die eerste was ook die laaste aand wat daardie twee kuikens naby daardie hok geslaap het.  Emily het opgegroei en ‘n astrante haan geword en moes weggegee word vanweë al daardie gekraaiery.  Rosy is ‘n kat in ‘n hoenderlyf; dié is intussen hernoem as Houdini want daardie hoendertjie is blitsvinnig en hol al om daai koep maar weier om binne-in te gaan.  Houdini slaap sommer in bome en in geute en as dit koel is buite, sommer bo-op die mouter se warm enjinkap. Houdini eet nie gekoopte hoenderkos nie, maar verkies om vlieë oor die agterstoep rond te jaag met so lang uitgestrekte nek, en skrop bedrewe nuwe saailinge uit die beddings.

Die hoender kolonie is intussen aangevul, met Henny-Penny so lekker vet hen wat elke dan en wan almal verras en ‘n enkele eier lê.  ‘n Nuwe geel hoender is weer Emily vernoem en  Emily-hoender is heimlik jaloers op Henny-Penny se eierlê vernuf. Sy boelie haar deur haar veerkop bles te pik elke kans wat sy kry.

Klara drink graag tee in die laat middag se sonnetjie op die agterstoep in hoor afstand waar haar seun binne-in die koep sit tussen sy hoenderkolonie.  Die nuwe Emily hoender hou hy kalm op sy skoot, en Henny-Penny oefen nog aan die eierlê ding.  Houdini inspekteer die swembad se wateruitlaatgat.  Daar’s vanmiddag vrede op die werf en haar seun begeer geen ander dier as sy Afrika hoenderkolonie nie.  Sy verluister haar terwyl haar seun sy hoenders maan om nie in geute op te kruip nie, en nooit ooit per ongeluk oor die buurman se heining te vlieg nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gaaie In die bome

‘n Handvol krummels en bekvol fluit…

Ons is vars terug van ‘n twee weke besoek in Namibië. In my hart voel ek weer rustig want terwyl ek weg was, het ek tog my Ghana huisie gemis. Natuurlik sal ek nie waag om so iets aan iemand te noem nie. Hulle dink reeds my bont varkie is nie meer op hok nie. Almal het maar hulle week se roetine. Myne sluit in koffiedrink op die stoep en fluit vir die pappegaaie. Hulle fluit terug vir my…rêrig!

Ligdag is net na vyf in die oggend. Slaap is my nie meer beskore nie, want ‘n swart voël tik met sy geelbek aan my venster. Dis nie omdat hy sy weerkaatsing bewonder nie – hy’s lekkerbekkig! Vroegoggend vroetel ek in die kombuis vir ‘n ‘n handvol krummels, voëlsaad en pap vrugte. Met my bedkop, pienk japon en tossel pantoffels sluip ek koffie in die een hand na die stoep. Voor my stoep is die ‘peanut gallery’ reeds besig om op en af te stap en wip van ongeduld. Twee dik duiwe, ‘n paar windgat mossies, en verbouereërde vinkies hop rond in agwagting vir hulle buffet. Ek wonder of hulle elke dag gewag toe ek landuit was? Dis die eerste oggend terug en hulle wag my in – stuur hulle ‘n bosboodskap vir mekaar “hoop-hoop sy’s terug?” Hoe weet daai swartvoëltjie waars my slaapkamer venster?

Die pappegaaie kry hierdie week se vrugte wat aan die afgaan is. Hulle is neus optrekkerig, want hier is honderde mangobome watse takke swaar dra onder hulle vruglading. Drie jaar reeds bekyk ons met verwondering die African Grey rooistert wilde pappegaaie wat broei in die dak. Google sê hulle vrek wanneer hulle advokado’s eet en kan tussen sestig en tagtig jaar oud word. Daars reeds agt pare gaaie wat konstant om ons draai en ons koggel. Wanneer ons in die swembad is, fluit hulle hoog vanaf die dak en vlieg lae draaie oor ons koppe wanneer ons nie genoeg na hulle sin deelneem aan die gefluitey nie. Hulle herken jou op ‘n lang afstand en skree opgewonde as jy uistap na jou mouter toe. Dan rol jy maar die venster af, en ruil ‘n paar fluite deur die venster voor jy wegtrek. Dis maklik om tred te hou want hulle bly bymekaarkom in ‘n groep. Onder hulle is ene wat definitief uit ‘n Suid Afrikaner se huis ontvlug het- want hy fluit Jan Pierrewiet en vloek soos ‘n matroos. Hulle en daardie groen Love Bird-gaaie is inheemse spesies hierlangs.

In slak-verkeer kom swaai straathandelaars verskrikte African Greys in piep klein draadhokkies voor jou mouter se vensters. Dit verg wil van staal om nie als te wil opkoop en vrylaat nie, maar soms is hulle so jonk dat hulle pas eerste vere wys.

Blerrie Voeltjie Mafia

Blerrie Voeltjie Mafia

Baie expats koop wel die pappegaai-kinners, sonder om te besef: ‘n lang verhouding is hulle nie beskore nie. Cameroons –die soort donker grys, rooi stert Wes-Afrika se pappegaaie is beskerm onder die CITES wetgewing wat bepaal dat hulle onder geen omstandighde oor landgrense verhandel of mag reis nie.

Hier naby woon ‘n Indiese vrou, sy “tsk-tsk” hoorbaar – elke keer wanneer ek voëls voer. Dis nie asof ek al ‘n verhongerde duif hierlangs sien nie, en daars zero risiko dat hulle my vinger gaan afbyt. Miskien weet sy dat dit wat opgaan, moet afkom, en pla die spatsels op haar stoep haar?

Dit wat opgaan moet afkom

Dit wat opgaan moet afkom

Ek het ‘n spelerige geel streepkat sonder voëlvang talent. Sy boer op my stoep en die voëltjies so op haar voorstoep verskaf ure se vermaaklikheid. Die bonus is daars geen voëlmis spatsels op mý stoep nie.

Kattie in voëlvang 'mode'

Kattie in voëlvang ‘mode’

Kat in 'n sak

Duur Katkoop

Outyd in my Ouma kombuis, het sy ‘n wysheid kwytgeraak terwyl ons ertjies sit en uitdop. Vandag deel ek dit sonder die nodige ertjie-uitdop-proses. Sy vertel; moet nooit ooit ‘n klein katjie verniet aanvaar van iemand nie. Al betaal jy nét vyf sent, betaal tog net ietsie alvorens daai kat jou nog op die ou end platsak trek.

Op 13 Desember verlede jaar koop ons as ‘Kersgeskenk” ‘n sofa-lê-stel vanaf @Home (The Grove Tak in Windhoek) en betaal kontant dáár en dan die gedoente. Om rede die fabriek in Die Republiek reeds gesluit is, sal hulle die sofas bestel in die eerste week van Januarie en binne 3 weke van daai datum sal dit gelewer word in Windhoek. So is ons vol verwagting terug na skoonma se huis en gee haar vir eers net ‘n fototjie en van die belowe sofaset. Die opgewondengeit en afwagting loop dik en soet soos stroop. Skoonma het dit moeilik – sy sleep ‘n suurstofmasjien soos ‘n hond op ‘n leiband saam en al plesiertjie is sit en TV-kyk in die gesinskamer. Nou kan die Asempie in koningklike gemak rondlê so tussen mense van die huis.

Ons sit hier in die stokkies en stof van diep Afrika en Ouma wil nie rooimierneste met stokkies oopkrap nie.

Drie maande tot op die dag tik verby, en by navraag oor die nuwe gemak lê-sofa; stik ek van ontsteltenis toe ek hoor geen bank is nog afgelewer nie.

Het ek myself ‘n kat-in-die-sak gekoop?

Hoe is dit dan dat ek nié die sofa-stel-beloftes aansien vir ‘n gratis katjie nie?

Miskien ly ek ook aan kort-mannetjie–sindroom? Als moontlik het opeenvolglik verkeerd gegaan. Een sot het vergeet om te bestel. ‘n Ander sot het nie opgevolg nie. Nog ‘n sot het dit nie in Die Republiek opgelaai nie. So volg die volgende sot weer niks op nie. My kort humeur kry die opperhand wanneer ek met onnooslikheid te doene kry. My mooi maniere en kalmte het verdwyn die oomblik toe juffroutjie my meëdeel dis nie eintlik haar skuld nie. Dink jou dit aan! Is dit dan my skuld? Sy werk daar nie ek nie.

Is die wêreld nou so afhanklik van tegnologie dat ons selwers nie meer kan dink nie? Moet mens iemand wat ‘n salaris trek eers ‘n fooitjie gee om sy eintlike werk te doen?

Verbasend genoeg het ‘n enkele smeerbrief op bakkiesboek die fôkapie afgehandel en in die bed gesit. My telefoon is witwarm geskakel. Almal wou en kon skielik help. Binne ‘n rekord tyd van net twee daggies is die herrie oor want skielik is die lê-sofastel afgelewer in Windhoek!

Ek kan nou bevestig ou-Moeder-Asempie lê heerlik in koningklike gemak in die gesinskamer en TV-kyk of haar sofa-splinternuut “uit-Die Republiek”.

Nou sit ek dink aan daai gratis kat, miskien is my skoolgeld nou betaal?