Tag Archives: kerk

Swiets vir Krismis

Tumi voel haar boude word lewendig opgevreet deur ‘n nes vol rooimiere. Twee ure se stilsit maak so met haar spykerskerp boudjies. Sy ruik haar uitpeuloog tante sweet, sien haar swaar asemhaal, en skuifel weer in die harde plêstiek kerkstoel. ‘n Sakdoek of handwaaier help effens teen die sweet, maar haar tante rol haar wit-oog-kyk vir Tumi elke keer wat sy rondskuif.

 

Slaap is nie eens die Engele beskore nie met die vet pastoor wat soos ‘n besetene aangaan, en met sy wysvinger staan en druk-steek in die lug. Pastoor se spoegspatsels tref die stoffies wat in die lang sonstrepe ronddans. Eers as die grond se sonstreep kort word, en by die opslaan orrel se pote skyn, sal Kerktyd verby wees. Die kerktannies sit in hulle beste klere met groot wit sakdoeke en grimering afvee.

 

Tumi wonder of die rooi robynring aan pastoor se pofferhand kan afkom en of dit brand nes die rubberrekkie om haar vinger? Pastoor raak heftiger en skril soos iemand wat ’n slang raakloop op pad om water te gaan skep. Die jonger assistent-pastoor wag; doof soos ‘n waspop, hy wip-staan om die volgende preekbeurt aan te vat. Iedere elke Pastoor wil preek want op Krismis haal hulle die groot kollekte emmers uit, en daar’s ‘n kollekte rondte met elke ander pastoor se prekery. Tussendeur sing die Tannie-koor het nuwe pers koorrokke, groot blomme in hulle hare en pers en blou eye shaddow.

 

In die voorafgaande dae het kinders gehelp om die kerk, hulle hutte en die kraal te versier met bont lap vlaggies. Daar is met grasbesems stof oor die harde rooigrond weggevee in die kraal, en almal het groot potte kos gekook. Haar Tante maak die beste visbredie in die hele dorp en almal weet dit. Dis hoekom daar vanaand in hulle kraal gekuier word. Tumi trek haar knieë onder haar ken in en glimlag warm as sy net aan al die kos dink.

Krismisdiens is ‘n heel ander kerkding, maar Tumi weet dit vat net baie langer en jy moet gaan sit en na die geskree luister al is dit vandag Maandag. Daar is orals Krismis-plêstiekblomme en blink versiersels in die kerk. Sy gaap en strek haar beentjies sodat haar skoolskoene se hakke net-net die grond raak, sy druk haar ken dakwaarts. Sy tel vier silversterre hang vanaf die dak, dan tel sy elf dakligte werk nie, en tel drie waaiers staan stil. Sy tel die plankhorte in die preekstoel, veertien horte; nog net dieselfde as Sondag. Wanneer ‘n boerbok in die oop sydeur kom blêr sit sy kierts regop, sien hoe die koster die bok uitjaag. Al die kinders giggel en Tumi is weer helder wakker. Met swaai beentjies onthou sy eers as al die pastore elkeen ‘n gilbeurt gekry het, en al die kore oor en oor gesing het, en die geldemmers om en om gekom het, sal die kinders se konsert aan die beurt kom.

Dis tyd vir ‘n ander pastoor, almal kan nou staan terwyl hulle sing en bene rek. Vandag sien Tumi mense in die kerk wat sy weet, werk in die groot stad Akkra. Almal kom huistoe vir Krismis, meeste in busse en paar in stowwerige karre en bly tot die eerste week in die nuwe jaar. Sy loer vir die besoekers se snaakse helder klere, en ringe oorbelle, so groot ‘n hoender kan daar deurspring. Die man hier voor haar se pak klere blink en die kleur verander, soos ‘n haan se blous-swart stert.

Tumi hoor haar maag grom, en kyk op of haar Tante ook gehoor het. Dié sit ken-op-die-bors met haar oë bot toe, bid seker? Tumi se mond water en haar maag trek vas aan haar rugstring as sy dink aan die kos wat hulle vandag nog gaan eet. Almal bring groot potte met occra, yam en banku. Vir drie dae reeds kook haar Tante haar beste visbredie, sy raak sommer duiselig as sy indink hoe lekker hulle hut gaan ruik van al die Krismiskos. Vannaand word daar nog Kerkliedere gesing tot vroegmôre, lang stories van gestorwenes wat feesvier met die voorvaders, sal oorvertel word.

Tumi sien die buurkinders bondel by die sydeur. Dis uiteindelik tyd vir die Kinderkerskonsert! Sy weet, Bobby, die buurkind, is die donkie in die Krismiskonsert. Die laaste paar dae loop hy en oefen donkie-wees en bulk soos bees wat kalf. Nana gaan op sy rug rondry want sy’s Jesus se Mammie-Maria en sy het ‘n bondel lappe toegedraai want niemand in hierdie vissers- dorpie het regte poppe nie.

Kiertsregop bekyk Tumi die skouspel, sy staar oopbek na Nana se spierwit Moeder Maria-rok, en helaas kyk sy op na Thomas, een van die wyse manne wat met ‘n bak vol swiets voor haar kom staan. Sy bekyk verwonderd na al die blink papiertjies, rooies en groenes en goues, en hy druk die emmer hier onder haar neus in.

Sy het nog nooit soveel swiets bymekaar gesien nie. Einde van die skooljaar kry elke kind net één pepperment by die skoolmeester. Tumi vat stadig en plegtig ‘n een handjie vol blink swiets. Haar hartjie kop woes vinnig en sy glimlag wyd. Skaampies vou sy sorgvuldig haar swieties toe in haar rok se se plooi. Kan ‘n mens in die kerk swieties eet?

Dis die beste Kerkdiens nog!

Luiaard gaan na die mier

click here to translate..

In opdrag van SHARE YOUR WORLD – 2016 WEEK 9

Hierdie gedelery is oorspronklik in Engels, maar ons kan mos die Rooitaal omdop! 


Het jy vandag iets gedoen wat jy vreeslik graag wou doen?

Vanoggend het ek tuisgebakte sjokelade muffins gaan afgee by my Indiese buurvrou.  Sy is soos ‘n besige miertjie, oppad werk toe of besig om haar seuntjie rond te karwei.  Tog maak sy altyd tyd om hallo te sê, altyd vriendelik en tegemoedkomend.

Screenshot 2016-04-10 20.36.34.png

 

Wat kan jy die Wêreld mee help?

As ek iets kon verander sou ek mense meer verdraagsaam wou maak teenoor andere.

Klink simpel en eenvoudig maar ons oordeel so gou.

Onlangs is ons na Thailand waar ek eerstehands met Boedisme te doen gekry het.  Mense se absolute aanvaarding van almal om hulle- het my verstom.  Hulle het ‘n leef en laat leef houding teenoor almal.  Of jy nou ‘n homoseksueel, transvestiet, lesbeen of doodgewoon is, hulle aanvaar almal.

Almal is perfek-God maak nie ‘n fout nie!  Ek verloor dit soms uit die oogpunt. Ek gaan hierop probeer verbeter.

Is dít nou nie ‘n wonderlike uitgangspunt nie?  Almal is perfek geskape.

In onse Kerk voel ek mens spandeer soveel tyd om te besin oor die verlede, vergifnis vir wat ons reeds aangevang en gedink en begeer het.  Boediste spandeer baie tyd in die hede en toekoms. Probeer vandág beter doen as gister, doen vandág iets vir jou medemens, streef, beplan en bid vir ‘n beter môre. Iets wat ek na kan streef… sien – vandág sjokelade muffins gebak en uitgedeel.

Mens moet iewers begin.

 

As die lewe ‘maar net ‘n bak vol kersies was’… watter soort vrug sou jy wees..?

Moerbye, daardie sappige pers soort wat net vir omtrend drie weke in die jaar in seisoen is.

 

Aanhalingslys: Lys drie van jou gunsteling aanhalings?

Om af te breek is geen kuns nie. ‘n Klein babetjie kan ‘n blommetjie verniel wat dit ‘n God gekos het om te maak.~ C.J. Langenhoven

As jy nie kan positief wees nie – wees dan stil – Joel Osteen

Screenshot 2016-04-10 20.38.39.png

Die doel van die lewe is om jou geskenk aan die Wêreld te besef, die sin van die lewe  is om daardie geskenk met die Wêreld te deel – William Shakespear

my gunsteling: Luiaard gaan na die mier – Die Bybel

 

Bonus vraag: Wat van verlede week is jy dankbaar voor?

 Gesondheid – ek neem waar; my Moeder se brose ou-mens lyf. Osteoperose en daaglikse pyn – ek voel so hulpeloos.  Kan ek nie van diepyn help dra nie?
Ek is innig dankbaar vir my eie gesondheid en oefen hard om fiks te bly.
In die komende week, waarna sien jy uit?
My man gaan vir besigheid reis – ek sien uit na sy laat aand gesels-oproepe…
Screenshot 2016-04-10 20.43.46